Redakteursbrief: Maroela se lesers sit sewe Loftusse vol – en dis die etiese waarheid

statistiek 1

Grafika: jcvalda.wordpress.com

Vir Maroela Media is die huidige onstuimige media-omgewing nie minder uitdagend as vir ander media nie. As ʼn nuweling in die baie geslote Afrikaanse media-omgewing is die kompetisie straf, en die gemoedelikheid uit kompetisiegeledere maar skraal. Ons het wortel geskiet in ʼn tyd toe tradisionele media met die uitdagende oorgang na digitale media gekonfronteer is, en toe digitale media moes begin soek na ʼn volhoubare besigheidsmodel.

Natuurlik hou ons, nes al die ander media, in hierdie onstuimige tye ʼn oor op die grond om te hoor wat ons lesers vir en oor ons sê op ons eie webblad en op sosiale media ter wille van kwalitatiewe terugvoer, maar uiteindelik bly syfers maar die media se belangrikste meetinstrument; waarskynlik juis omdat dit so meetbaar, vergelykbaar en deursigtig is.

Om met jou lesers eerlik te wees oor hoe dié syfers daar uitsien, is natuurlik ʼn perd van ʼn ander kleur. Want met statistiek kan mens mos enigiets regkry.

Só maak ons, nes ander media, elke maand somme om te sien waar ons trek. Sommige maande hou ons asem op en slaap min. Ander maande vier ons fees.

Vir Januarie 2015 is die somme pas gemaak. Dis alombekend dat Desembers vir die media ʼn swak maand is, en dat vergelykings tussen Desember en Januarie-syfers onbetroubaar en onakkuraat is. Om dus vir ons lesers te vertel dat ons besoekers van Desember 2014 na Januarie 2015 met 27% gegroei het, is die waarheid… maar oneties.

ʼn Meer akkurate prentjie sou wees om te kyk na ons groei oor die afgelope vyf maande; dus van September verlede jaar na Januarie. In dié vergelyking spog Maroela Media met 22% groei in unieke besoekers, en 29% groei in totale besoeke.

Om dit in getalle uit te druk: In Januarie vanjaar het 375 136 mense Maroela besoek, en was die totale aantal besoeke (as een besoeker getel word elke keer as hy die webblad besoek) 928 665. Dit beteken ons maandelikse besoekers kan Loftus Versfeld, met sy kapasiteit van sowat 51 000, sewe keer volmaak. In September was ons besoekers ses Loftusse vol. Dis ʼn hele ekstra Loftus-vol lesers in vier maande.

Ons groei vinnig, maar seker.

In Augustus 2011, Maroela Media se eerste maand as digitale mediahuis, het ʼn skamele 11 800 mense Maroela besoek. Dis ʼn persentasie groei van 3 079% van tóé na Januarie vanjaar.

Ons is uiters trots op wat ons reggekry het, en boonop trots daarop dat ons nie met syfers en statistiek hoef te speel om ons lesers te oortuig dat dit goed gaan met ons nie. Dit gaan góéd met ons, en dis die reine, etiese waarheid.

En die beste van alles? Dis gratis.

Groetnis

Susan Lombaard

Redakteur: Maroela Media

  • Nota: 2014/2015-syfers vir Maroela Media se plaaslike en internasionale verkeer op die domeins maroelamedia.co.za en rugby.maroelamedia.co.za, soos gemeet deur Effective Measure; 2011-syfers soos gemeet deur Google Analytics.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

willem ·

baie geluk, ek hoop die groei raak nog beter hierdie jaar!

Nico ·

Baie geluk, maar is dit verseker vir my nie onverwags nie. Ek wil my verstout om te sê daar gaan nog baie meer lesers bykom.

Die koers wat Netwerk24 inslaan het al vir my die ligte laat flikker. AB het ook bygedra.

Joe64 ·

Knap gedaan. Mens moet net nie uit die oog verloor dat gedurende die laaste maande het alle Media 24 se Afrikaanse webwerwe betaal werwe geword. Grotes soos Raport en Beeld is nie meer beskikbaar vir die gewone publiek nie, dit kan groot bydraende faktor wees vir Maroela se groei.

Maar welgedaan eweneens.

Herman ·

Wel gedaan en ek word by die dag n groter Herman Torien aanhanger met sy baie goed gebalanseerde artikels.
Dalk sal n artikel oor ” hoekom news 24 gratis is en die Afrikaanse lesers moet betaal vir Netwerk 24????
Baie dankie Maroela vir eerlike gratis Afrikaanse nuus!!!

Asjas ·

Baie geluk. Jul nuus is soms beter en meer omvattent as bv News24 en julle het darem altyd die regte foto by die berig.

Nell Weyer ·

Baie geluk en mag julle gou die grootste afrikaanse mediahuis word.

HEVW ·

Het n paar lesers lede gewerf. Kom ons praat positief en propageer maroelamedia by elke geleentheid.

Jerrie Roux ·

Hoera vir Maroela Media.
Nouja. Knap gedaan .
Die gratis biltong smaak lekker.
Saamstaan sorg dat n driedubbele lyn n ie maklik gebreek word nie.
Vriendelike Groete.
Jerrie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.