Redakteursbrief: “Mislukte” kaping – dis nie toevallig nie

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media Foto: Noeleen Foster

Gister is ʼn vriendin van my amper gekaap.

As dit nie vir groot genade was nie, het haar drie blondekopseuntjies nie Sondag saam met hulle ma Moedersdag gevier nie.

Gistermiddag, kort ná die voorval, stuur sy ʼn boodskap aan ons vriendekring: “Ek is nou net amper gekaap. Toe ek my vinger druk om by ons hek in te gaan, kap ʼn man met sy vuurwapen teen my ruit en rig dit op my. Ek het net my kop ingetrek, die pedaal platgetrap en gejaag… Die Here het my vandag styf vasgehou en beskerm. Dank Vader my kinders was nie by my in die kar nie. ʼn Bruin Audi het agter my gestop en twee mans het uitgespring met wapens. Ons God is groot!”

Ek weet klaar watter kommentaar mense onderaan hierdie redakteursbrief gaan lewer. Hoekom het dit enigsins gebeur? Hoekom is my vriendin beskerm, en ander mense word nié beskerm in soortgelyke voorvalle nie? Waar was die genade en beskerming toe hierdie of daardie persoon ʼn slagoffer van ʼn plaasaanval, ʼn kaping, ʼn rooftog op ʼn Sondagmiddag by hulle huis was?

Ek weet nie. Ek het nie antwoorde nie. Maar ek weet, gister was daar ʼn skare engele wat my vriendin beskerm het.

Op die beeldmateriaal van die sekuriteitskamera by die hek kan ʼn mens sien dat die een kaper sy pistool op haar gesig rig en ʼn skoot aftrek. My vriendin het nie eens dadelik besef daar is op haar geskiet nie. Eers later, toe sy die merk op die ruit sien waar die koeël weggeskram het en na die beeldmateriaal kyk, het sy twee en twee by mekaar gesit. Jare gelede het haar man ekstra beskerming op die ruite van haar motor laat sit. Gister het dit haar lewe gered.

Dis nie toevallig nie.

By die verkeerslig voor sy indraai by die sekuriteitsarea waarin hulle woon, het die mans ʼn eerste poging aangewend om haar te kaap. ʼn Veiligheidskamera by dié verkeerslig wys hoe sy stop, en hoe twee mans dan uit die motor agter haar spring met ʼn vuurwapen, en nader hardloop. Sy het hulle nie gesien nie, vertel sy. Al wat sy onthou, is dat iets vir haar gesê het om oor die rooi lig te ry – iets wat sy nooit doen nie. Sy het nie die mans in haar truspieëltjie gesien nie; sy het doodeenvoudig weggetrek en oor die lig gery. Die mans het omgedraai en teruggespring in die motor, en agter haar aangery tot by die ingang van haar woonbuurt.

Dis nie toevallig nie.

ʼn Uur of wat voor die voorval het sy ʼn draai by ʼn supermark gemaak, en die plan was dat sy direk van daar af haar kinders by die skool gaan oplaai. Maar op die ingewing van die oomblik het sy besluit om eers huis toe te ry en haar pakkies af te laai voor sy die kinders gaan haal. Te danke daaraan was haar drie klein seuntjies nie by haar in die motor nie, en nie blootgestel aan ʼn traumatiese ervaring wat allerlei vrese by hulle sou veroorsaak het nie. Wie weet wat alles kon gebeur het as daar ʼn kind in die kar was.

Dis nie toevallig nie.

Die sekuriteitswagte by die woonbuurt se hek was nie gewapen nie. Op die video kan ʼn mens sien hoe die een sekuriteitswag die hasepad kies toe die eerste skoot afgevuur word. ʼn Mens word warm onder die kraag – maar dan wonder jy wat jou eie instinktiewe reaksie sou gewees het as jy ongewapen ʼn hek moet oppas, en skielik bars hier ʼn skietery om jou los. Wat sou jy in elk geval kon doen sonder ʼn vuurwapen? As die wag ʼn vuurwapen gehad het, en kon terugvuur, kon soveel ander dinge skeefgeloop het.

Dis nie toevallig nie.

Môre bring dalk ʼn ander storie, oor iemand anders wat nie so “gelukkig” was soos my vriendin nie.

Maar vandag is ek saam met haar, haar man en hulle drie blondekoppies dankbaar.

Groetnis

Susan Lombaard
Uitvoerende hoof: Maroela Media

*Lees Maroela Media se artikel oor die mislukte kaping hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Jackie Visagie ·

Ja, dis waar, almal sal hul eiertjie wil le, maar ek glo God praat met ons in ons gedagtes met idees of denke wat onverwags in jou kop kom, ons moet net leer om te luister en gehoorsaam te wees. Sy het dinge buite haar gewone verband gedoen soos die rooi robot verontagsaam, iets, n gedagte en gevoel moes haar gelei het, sy was gehoorsaam, ook toe sy eers alleen huis toe gery het. So het ek ook myself n grusame ongeluk vrygespring omdat ek 5 minute (kan nie die rede onthou nie) later gery het as elke dag, en plek van ek in my voertuig was daar n ander persoon deur n vragmotor teen n ander voertuig vasgepen, dieselfde tyd wat ek gewoonlik deur daai cruising gaan soggens. Se vir jou vriendin ek is soooo dankbaar en mag God haar en al sy kinders behoed in hierdie tye wat ons in leef!

JC ·

Joh-joh! Susan! Dit is skrikwekkend hoe hierdie land nou vinning aan’t gly is in die afgrond in…

Die Here behoed ons, Hy is, en sal, met ons wees, net soos ons voorouers van ouds!

Lena Jonk ·

Dank aan ons Almagtige God dat jou vriendin veilig is Susan. Ons besef nie altyd hoe dankbaar ons moet wees nie. Ons seun en sy vrou het ook oggend sy dogtertjie by ons kom aflaai want sy sou glo dit nie kon uithou daar waar hy aan n voertuig moes gaan werk het nie, daardie selfde aand het ons seun verongeluk. God weet die beste, ons is deur baie hartseer maar sy dogter is vandag n groot getroude vrou wie ons net plesier gee, asook n groot Christen sy en haar man. Al ons lof eer en dank aan ons Almagtige Vader.

Jerry ·

Dalk is dit n voortydige waarskuwing, dalk n voorbode, dalk nie. Sal interresant wees om te hoor of jou vriendin agv die insident gaan bly of gly en wat vorentoe gaan gebeur indien sy bly!

Petro ·

Al wat ek kan se is God is GROOT…en Hy beantwoord nog gebede…prys di Here dat Hy hul veilig gehou het ..weereens leer dit ons dat niks gebeur met toeval ni…

Jacoo ·

Ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die bose geeste in die lug. (Ef6:12). As jy ‘n gelowige is en jy bid nie baie ernstig vir Suid Afrika nie, dan moet jy jouself nou begin regruk en bid. Ons bid nie genoeg nie. Ons kritiseer en kla oor hoe erg alles is. Ons moet ‘n verskil maak. Al is dit net op jou kniee, jy moet ‘n verskil maak. Jy is geroep om jou lig te laat skyn.

Ek dink dit is wonderlik hoe God die dame beskerm het en gelei het. Dit help nie om te kla dat so iets nie moes gebeur het, of dat dinge handuit ruk nie. Hierdie is ‘n geestelike oorlog. Ons gaan dit net op ons kniee wen.

Ann ·

Dis reg ons sal hierdie oorlog wen op ons knieë.
Dankie Liewe Heer vir hierdie vrou se kosbare lewe. Beskerm al die Governed mense in ons land teen hierdie moordenaars en boosdoeners

AmY ·

Jy is reg Susan, dit was nie toevallig nie, dit was genade van die Here. Hy het haar beskerm.

Jerry ·

Stef jy verstaan “gly” verkeerd in die konteks soos ek dit bedoel. Bly in SA of emigreer na die buiteland is die bedoeling. Daar is mense wat minder aangename gebeure beleef en emigreer soos die man wat twee rowers doodgeskiet het en sy gesin oorsee gestuur het agv dreigemente en intimidasie. Wat met Susan se vriendin gebeur het kon maklik anders uitgedraai het, maar dit het nie omrede dit nie so bestem was nie, al het sy gebly of gegly! Die bly of gly term was gebruik en redelik goed deurgetrap die afgelope week deur meningsvormers en deur diegene soos ons wat kommentaar lewer. Ek het as gevolg daarvan nie verwag dat daar iemand sou wees wat die term “gly” nie in die konteks sou verstaan nie. Dit het egter gebeur en nou hoop ek jy verstaan die konteks waarin ek “gly” gebruik en hoekom ek “gly” gebruik en nie “emigreer” nie.

Oom Kalahari ·

Susan, dit is wonderbaarlik dat sy dit ontkom het en God werk op wonderbaarlike maniere. Deur alles soos verloop van gebeure was sy beslis beskerm en glo ek ook dat daar Engele is wat jou beskerm. Geloof in Hom sal jou beskerm.

Riana ·

Nee nie omdat SAPS nie opvolg of lank vat, word dit nie aangemeld nie: van die sekuriteits komplekse én sekere winkelsentrums meld nie hierdie voorvalle aan nie : Rede : omdat hulle slegte publisiteit wil vermy.

Lukie Carelsen ·

Natuurlik verstaan ons nie hoekom sekere goed gebeur en sommige mense so “gelukkig” is en ander weer nie.

Maar wat ek weet is dat God in beheer is al verstaan ons nie alles nie. Ons hoef nie. Alles, ja ALLES werk ten goede vir hulle wat God liefhe.

Ek glo met my hele hart dat die Here hierdie vrou en haar gesin beskerm het.
Alles wat so mooi “uitgewerk” het kan nie toevallig wees nie.

Alle eer aan God!

Didi ·

mense die skrif is aan die muur, al lankal! As jy kan verlaat SA. Ek was die grootste patriot ooit. In 2003 het ons besluit genoeg is genoeg. Ons bure op die aangrensende plase is wild en wakker vermoor. Om te boer het n omoontlike saak begin word. Om elke dag dorp toe te ry om die kinders skooltoe te neem het gevaarlik geword. Twee keer moes ek agv transito rooftogte omdraai en n ander pad ry. Ek dank die Liewe Vader dat ons vroegtydig kon omdraai. Dit was nie maklik om van vooraf te begin in n nuwe land nie. Maar na 15 jaar hier in NZ is ek dankbaar ons het dit gedoen. Ons lewe n vredevolle lewe. Materiele dinge is bysaak. My kinders floreer. Van my en my man se kollegas is Afrikaans. Ons het Afrikaanse vriende en ook wonderlike nuwe Kiwi vriende. Daar gaan nie n dag verby dat ek Afrikaans in winkels hoor nie. Dis n groot stap om te pak, maar oor en oor die moeite werd. Jy LEWE weer, sonder angs.

Hannes Grobler ·

Die groot les wat ons hieruit leer is om ten alle tye bewus te wees wat om ins aangaan, en dis waar die woord “paraat” in kom…. Paraatheid is net dit, wees bewus van wat om jou aangaan, verwag dat die “vyand” elke sekonde reg is om jou leed aan te doen. So dankbaar sy is veilig

Mimi ·

Prediker se’ vir ons : nood en lotgeval tref alle mense…so enige tyd, enige dag kan iets oor enige iemand se pad kom. Dit lyk my ons moet meer oplettend wees watter voertuie agter ons ry en dalk vir n lang ent agter ons is, dat n mens by n winkelsentrum kan inry en iemand kontak om saam met jou huistoe te ry? Ons moet ook vinnig in ons truspieel kyk by n stop, wat agter ons aangaan. Ekt gelees dat daar deesdae “spotters” in groot sentrums is…wat jou na inkopies, na jou kar volg, en iemand volg jou dan huistoe. Hul kyk seker waar en watter inkopies n mens doen en beplan om jou te beroof by jou huis se hek. Ek dink ook die smash+ grab beveiliging op motorruite is n noodsaaklikheid. Laat ons maar gewoond raak om oor ons skouer te loer, terwyl ons God vra om ons te lei. Ek is baie bly die dame het veilig weg gekom!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.