Redakteursbrief: My driestap-oorlewingsplan vir die chaos in ons land

Hlaudi Motsoeneng. Foto: Skermskoot/eNuus-video

Hlaudi Motsoeneng. Foto: Skermskoot/eNuus-video

Ons moet onsself deesdae soms knyp om seker te maak ons is wakker wanneer ons na die nuus kyk. Dis regtig bisar.

Tussen Hlaudi Motsoeneng (met sy hoed) wat reken skoolopleiding is nie belangrik nie, die totale chaos (by gebrek aan ʼn sterker uitdrukking wat ek hier mag gebruik) op kampusse landswyd, die Black Land First-beweging wat dreig om grond te vat soos dit in Zimbabwe gedoen is, die Amerikaanse presidentsverkiesing wat in ʼn sirkus ontaard het en orkaan Matthew in Haiti wat reeds meer as 300 lewens geëis het, voel ʼn mens soms of jy in ʼn einde-van-die-wêreld-soos-ons-dit-ken-riller vasgevang is. Elke keer as jy dink nou kan dit nie nog erger nie, raak dit nóg erger. Maar met dié een gaan ons nie na twee ure die springmielies van ons skote af skud en verlig uit die teater stap met die wete dat dit net ʼn storie was nie.

Daar is niks wat nog nié gesê is nie. Gemoedere loop hoog. Ons lesers braak gal sonder om doekies om te draai, op sosiale media en op Maroela Media self. Hulle kies nie meer hul woorde mooi nie; hulle dreig om te skiet en te moor om te beskerm waarvoor hulle hard gewerk het. So vinnig soos ons kommentare sit en uitvee (want ons kan self in die moeilikheid beland as ons die k-woord en allerlei haatspraak een aanhitsing tot geweld toelaat), so goed verstaan ons: mense is keelvol. Nie net witmense of Afrikaanssprekendes nie. Almal. Óns almal. Dit kan nie meer so aangaan nie.

Maar wat doen ʼn mens?

Ek het ʼn totaal onwetenskaplike, onbeproefde en baie sukjektiewe driestapstrategie wat ek vir myself neergeskryf het om seker te maak ek verloor nie my varkies in die volgende maand of twee voor Kersfees nie. Dis wat ek gaan doen, en dit werk gewoonlik. As jy dit saam met my wil probeer, is jy welkom:

  • Stap 1: Ek sê vir myself “Dis nie net ons nie”
Die vrou wat 'n krokodil met haar plakkie verjaag het.

Die vrou wat ‘n krokodil met haar plakkie verjaag het.

Ons dink maklik dis net hier in SA waar dinge hand-uit ruk. Net soos jy by kinderpartytjies die idee kry dis net jou tweejarige wat vloermoere gooi en net jou baba wat nie deurslaap nie, want al die ander mammas sit dan blinkoog-glimlaggend met gestrykte rokkies daar. Maar as jy bietjie krap, is die meeste van daai mammas se histerie net ʼn goeie lagbui ver. Hulle grimeer net beter as jy, dis al. Die res van die wêreld grimeer ook maar soms net ʼn bietjie beter as SA.

As ek sukkel om myself te glo, soos vandag, gaan soek ek doelbewus vir dinge wat nie melk-en-heuning is in ander lande nie; veral dié lande waar soveel van ons geliefdes en landgenote al die afgelope klompie jaar al ʼn heenkome gevind het. Dié bisarre en vreemde nuusstories uit ander lande het dikwels die voordeel dat dit ʼn mens sommer ʼn bietjie laat lag ook; en ons Suid-Afrikaners kan hoeka so lekker lag.

So is daar byvoorbeeld die storie en video van die weeraanbieder op Fox News wat gister so sterk gevoel het oor orkaan Matthew wat op pad is dat hy vir kykers gesê het: “You’re going to die. And your kids are going to die too.” En nog ene van ʼn vrou in Australië wat ʼn volgroeide krokodil op die oewer van die East Alligator-rivier wat aan haar tone wil snuffel, sommer met haar plakkie verjaag. Daar is ook ʼn vreemde vlieënde voorwerp in Rusland wat die nuus gehaal het. (Hier in SA is klippe en bakstene die enigste vlieënde voorwerpe wat die nuus haal, en dis niks vreemds nie.)

Vir my was een van die snaaksste Britse stories die afgelope week die een oor polisie wat tussen Manchester en Liverpool na ʼn toneel ontbied is waar ʼn man glo besig was om ʼn vrou in ʼn motor te byt en aan te rand. Toe hulle die motor van die pad af trek, ontdek hulle twee akteurs wat soos zombies aangetrek en met nagemaakte bloed gegrimeer is, op pad na ʼn toneelstuk waarin hulle dié aand as ekstras optree. Ag, jinne tog, en daar is ʼn selfs meer bisarre storie én video van ʼn man in Indië wat dit goed gedink het om ʼn selfie saam met ʼn luislang te neem nadat hy gehelp het om dié slang uit ʼn skool te verwyder. Toe byt die slang hom. Dis een selfie wat gedruk en geraam sal moet word.

Die kersie op die koek is dalk stories oor die hoeveelheid items wat jy nou kan aanskaf met die gesigte van die twee Amerikaanse presidentskandidate, Hillary Clinton en Donald Trump, op. Buiten die gewone T-hemde en wikkelkop-poppies is daar Trump-kussings wat ongeskikte geluide maak as jy daarop gaan sit (“whoopee cushions”), koekies met die kandidate se gesigte op, Halloween-maskers (wat glo, volgens versamelaars, waardevol gaan wees oor ʼn paar jaar van nou af) en, les bes, toiletpapier met die twee se gesigte op teen $7.95 per rolletjie.

Gaan lees gerus dié stories as die Suid-Afrikaanse nuus jou moedeloos maak, snak na jou asem en lag ʼn bietjie.

  • Stap 2: Doen iets

Dit help my altyd om iets te doen. Die oomblik as jy voel jy pak die bul by die horings, voel jy sommer ʼn bietjie beter. Dit laat my dink aan die storie van die dominee wat ʼn tannie gehad het wat elke week by hom kom sit en trane afvee het oor sy depressief en nutteloos voel. Uit pure moedeloosheid steek hy haar toe in die werk om vir die plaaslike kinderhuis te begin koekies bak. Die volgende week daag die tannie nie op vir hul afspraak nie, en die week daarna ook nie. Hy dog sy het haar seker maar vererg vir hom. Toe hy haar bel om te hoor wat aangaan, sê sy: “Dominee, ek het nie tyd om by jou tee te drink nie, ek is heeltemal te besig om koekies te bak.”

koekDie koekies wat jy bak, gaan dalk nie die betogings op kampusse tot ʼn stilstand bring of orkaan Matthew in sy spore laat stuit of vir ons land broodnodige reën bring nie. Maar iewers gaan dit in iemand se lewe ʼn verskil maak, en elke klein verskilletjie maak die groter prentjie beter. Dis soos om saam met ʼn klomp ander mense ʼn groot legkaart te bou – elkeen hoef net een stukkie in plek te sit, en dié stukkie op sy eie hoef nie sin te maak nie. As mens van Bo af kyk, maak dit wel sin. Gaan soek jou koekiebak-projek – ondersteun ʼn skoolkind wat geld spaar om vir ʼn jaar oorsee te gaan werk omdat hy nie volgende jaar sal kan gaan studeer nie, of raak betrokke by jou plaaslike Helpende Hand-tak of een van hul projekte, of neem jou kind se maat wat hartseer huislike omstandighede het, onder jou vlerk. Ry met nie-bederfbare kos in jou motor rond wat jy kan uitdeel as jy nie geld wil gee nie, maar steeds skuldig voel, of gesels sommer net met die kassiere in die winkel wat moedeloos lyk ná ʼn lang dag. Een van die voordele in ʼn land met so baie uitdagings soos ons sʼn is dat ons regtig nie ʼn gebrek aan geleenthede het om ʼn verskil te maak nie. Jy kan élke dag ʼn verskil in ʼn nuwe mens se lewe maak en die geleenthede sal nooit opraak nie.

  • Stap 3: Moenie ophou vertrou nie

Ek is maar te bewus daarvan dat baie van ons lesers nie dié sentiment deel nie. Ek het begrip daarvoor. Maar vir my was God nog altyd die Een wat my anker is in moeilike tye soos dié. Ek dink vanoggend aan Habakuk (dis ʼn bietjie voorspelbaar, ek weet), en aan al die liedjies en variasies daarvan wat op die bekende Habakuk-teksgedeelte gebaseer is:

Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my redder. Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van ʼn ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop. (Habakuk 3:17 tot 19)

Ek is oortuig dat die vrolike wysies van die liedjies wat op grond van dié teksverse geskryf is, die pot heeltemal mis sit. Habakuk was nie vrolik en huppelend toe hy hierdie lied neergeskryf het nie. Inteendeel – in die teks net voor dit sê hy: Toe ek hierdie dinge hoor, het ek gesidder, my lippe het gebewe, my hele liggaam het lam geword, my bene het aan die ruk gegaan. (Habakuk 3:16)

Habakuk was bang. Net soos ons nou bang is.

Die hoofstuk begin met dié woorde: ʼn Gebed van die profeet Habakuk. Op die wysie van ʼn klaaglied. Nie ʼn vrolike lied nie, ʼn klaaglied.

Maar te midde van Habakuk se vrees en hartseer oor wat besig is om om hom te gebeur, en sy ontsetting oor dinge wat heeltemal hand-uit ruk, skryf hy:

Die hemelruim is vol van sy majesteit, die aarde vol van sy roem. Hy kom met die glans van die lig, weerligte blits uit sy hand, sy hand so vol mag… Wanneer Hy staan, skud die aarde; wanneer Hy kyk, bewe die nasies. Die eeue-oue berge verkrummel, die ou-ou heuwels val inmekaar, die berge waaroor Hy van ouds af gewandel het! … Toe die berge U sien, het hulle gebewe, stormwaters het verbygespoel, die diep water het gedreun en sy golwe hoog laat opslaan. Toe u vlieënde pyle blits en u blink spies flikker, het die son en die maan gaan stilstaan op hulle plek. (Habakuk 3:3(b), 4, 6, 10 en 11)

Habakuk se God is dieselfde God wat ons dien, en sy mag en heerskappy het nie verander nie.

My stap 3 in my persoonlike oorlewingsplan is om nie op te hou om op God te vertrou nie.

Here, ek het gehoor wat van U vertel is en ek is vervul met ontsag vir wat U gedoen het. Doen dit tog ook in ons tyd, laat u dade ook in ons tyd ervaar word, ontferm U selfs in u toorn. (Habakuk 3:2)

Groetnis
Susan Lombaard
Redakteur: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

A ·

Dankie – sal probeer. Ek voel ook die wiele het afgeval en soms wil jy sommer weghardloop. Waarheen was nog my grootste probleem.

Bly ·

Moenie weghardloop nie A, maak die beste van jou omstandighede waar jy is. Daar is net soveel moeilikheid oral om ons in die wereld. Ten minste is jy in jou eie land in staat om ‘n lewe vir jouself te maak. Begin om jou denke positief te hou.

Theuns ·

Baie dankie Susan. Die manne en dames by Maroela het my al ‘n paar keer my teen my self beskerm omdat ek lelike dinge kwytgeraak het! Dankie Daarvoor. Julle het ook uitstekende kommentators en joernaliste. Party van hulle is so vlymskerp dat van die dinge wat hulle se oor die lesers se koppe vlieg! Maar Maroela is my ” Dagga” vir die dag! Miskien moet ons net meer te lees kry oor sterre en planete, uitvindings en wetenskaplikes van ons tyd, veral van Suid Afrika. Ons het weer iets nodig om ons mense trots te maak. Nogmaals baie dankie aan al die mooi mense daar by julle. En vir julle wat so lelik is soos ek, dit is ook OK!! Groete.

Patrys ·

Dankie Susan, mens het soms net nodig dat iemand dit weer sê!

Will i am ·

Baie mooi. Maak staat op ons Heer. Hy is in beheer. Sonder Hom is ons niks

chrisp ·

Susan.
Baie waar. Dankie.
Net die werk gedeelte ,nie vandag nie .
Ek vat die dag af,

JC ·

Werklik baie dankie vir alles wat julle doen by Maroela, Susan.
Ek kan maar net beaam wat Theuns hier bo gese het. Partykeer is ons warmbloedige, testosteroon gevulde mans maar vinning om ons te vererg en lelike goed te se, maar soos Theuns se, darem is julle daar om ons te “modereer”.

Kaufman ·

Alhoewel elke land uitdagings het is sekere lande baie erger en gevaarlike ras ander, glo my, ek weet en so ook enige ander mense wat baie toer. SA is ongewoon gevaarlik relatief tot meeste ander lande, ek wil dit net duidelik stel. Ek stem ten volle saam met punt 2, en punt 3 ook maar slegs solank dit gepaard gaan saam met punt 2 want God verwag van ons om nie net passief te sit nie.

LeonR ·

Hallo Susan,
dit is alles goed en wel. Maar, jy sukkel soms om met jou lewe voort te gaan, ek sit nou al vyf maande by die huis, ek is te bang om uit te gaan. Ek het in Mei van hierdie jaar ‘n inbreker in my woonstel doodgeskiet, daarvoor verguis die polisie my. Die eerste respondent op die toneel was vier swart beamptes, hulle het my meegedeel dit is goed ek het hom doodgeskiet en niemand sal verder onder sy aanslae deusloop nie. Die wit beampte het my egter toe sy daar opdaag verguis en die aller grootste straf my toegedig.

Ek is onder behandeling, maar, hoekom moet ek verguis word. Dit is hoekom baie mense te bang is om hulle self te verdedig, ons almal vrees die gevolge. In hierdie geval was dit hy of en. En ja, ek is jammer, dit was toe hy. Ek het op die 5de van die maand my 30ste verjaarsdag gevier, nee, ek het nie verjaar nie, was deur die bors geskiet en sukkel nog steed met my gesondheid en sielkundige letsels.

Hoekom word ons aangevat as ons onsself beskerm, ek is nou al 51, en ek droom nog steeds hiervan, noudat ek opgetree het is ek die beskuldigde. Hoe werk dit, ek is deesdae bang vir die samelewing!

Theuns ·

Dankie JC vir jou ondersteuning. Leon R. moet jou nie steur aan die wit geregsbeampte nie. Die meeste van die lesers van Maroela is trots op jou vir die aksie wat jy geneem het om die inbreker die ewigheid in te stuur! My seun is ook voor my geskiet by ons huis se voordeur. Gelukkig het hy sy wapen by hom gehad en die moordenaar met 12 skote bokveld toe gestuur. Tot vandag is ek so trots op hom soos ek op jou is. Jy het jou staal gewys en jy gaan niks oorkom nie! So gaan uit jou huis uit en loop kop omhoog Suid Afrika het ouens soos jy nodig! Sterkte.

rudi ·

Mense sal seker lag as ek se ek dink jare se kritiek en rowwe kommentaar teen ANC op ander webtuistes het die wiel laat draai. Dit het gemaak dat die ANC daardie webtuistes se kommentaar gedeeltes gesluit het. Dit het mense geskuif na Maroela media en ander plekke en selfs mense teen ANC laat stem

De Villiers Hauptfleisch ·

Hierdie ANC -regering van die afgelope 22 jaar maak my moedeloos. Susan noem sommige van die dinge in haar inleidende paragraaf en ek hoef dit nie te herhaal nie. Maar was die vorige regering ook nie maar so nie, net op `n ander manier sodat meeste wit mense dit nie aan hulle lyf gevoel het nie. Ek was baie verlig toe apartheid tot `n einde gekom het alhoewel ek deurgaans vir die NP gestem het en selfs een of twee keer vir die KP. Maar nou gaan die nonsens net weer voort en dit sal nooit ophou nie. Ek het Susan se skrywe baie vlugtig gelees en sal dit weer aandagtig moet lees. Miskien sal ek dan beter voel en nie so moedeloos wees nie!

Wern ·

Moord, misdaad, korrupsie, alles is baie baie slegter nou. Jy sukkel seker so bietjie met geheu, maar gaan kyk maar na die statistieke.

Bell ·

Susan
Welgedaan
Net om alles van n ander hoek te bekyk gee jou ander perspektief!
Stuur asb ook dié brief aan ons ander koerante
Groetnis

Ina ·

Dankie Susan vir die bemoedigende woorde. Dis lekker om te weet ons roei saam in hierdie boot. Mag jy nog vele sulke optimistiese boodskappe vir ons doen. “We must never let go of God’s Hand”.

De Villiers Hauptfleisch ·

Wern. Jy sê ek sukkel seker met my geheue, maar het ek gesê dit gaan nou beter as destyds? Alle regerings en politici is maar meestal vrot en die huidige ANC-regering vat natuurlik die koek.

Dirk Coetzee ·

Baie bemoedigende redakteursbrief. Ek onderskryf dit ten volle. Stap 3 is uiteindelik, wanneer alles inplof, die enigste hoop op redding. Onthou net, by Bloedrivier was ons mense in 1838 met die rug teen die muur. En ons weet dat Habakuk se God, die God van Abraham, Isak en Jacob en van die Voortrekkers, daardie dag geskiedenisskrywend ingegryp het.

JC ·

Dankie Dirk!!
Bloedrivier se herinneringe is met ons!!
Die Here is met ons, niks kan ons Afrikaners raak nie!! met Sy Hulp!!

Lewies ·

Daar is drie sake wat die leuen nog altyd beskerm. Gister vandag en more. Dit is politiekekorrektheid, kompromiee en valse gerustheid. Eersgenoemde spruit voort uit die vrees vir mense se reaksie en my verleentheid daarna. Kompromiee vind sy oorsprong uit vrees dat ek alles kan verloor as ek nie saamstem nie en valse gerustheid ontstaan, omdat ek nie die waarheid wil hoor nie en probeer weghardloop vir die realiteite. Hierdie drie sake is instrumente in die hand van die vader van die leuen. Dink ‘n bietjie na oor hierdie sake en pas dit toe op dit wat in ons land aan die gebeur is.

Babs Brouwer ·

Susan, jou redakteursbrief is ‘n inspirasie vir almal en hou skryfstyl is pragtig. Baie dankie!

Dit-is-hoe-dit-is. ·

Susan, ek troos my altyd aan die belofte wat aan ons gemaak is dat Hy ons nie meer sal beproef as wat ons kan hanteer nie. So wanneer dinge rof raak en ek as mens mismoedig raak vra ek dat Hy die las moet help dra. Dit werk elke keer. Wat selfs beter werk is om te vra dat die beker jou moet verbygaan. Vrede vir julle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.