Redakteursbrief: ‘n Afrikaanse Wikipedia, te danke aan die oom op Koekenaap

wiki-afrikaans

Foto: Maroela Media

Ons almal stry die stryd om Afrikaans op ons eie manier.

Sommige van ons betoog by universiteite om Afrikaans as onderrigtaal te behou. Sommige teken petisies vir die behoud van Afrikaans in staatsdepartemente. Skrywers skryf briewe aan universiteitsowerhede, akademici lewer toesprake, sangers skryf protesmusiek, lesers lewer uitgesproke en vurige kommentaar op platforms soos Maroela Media.

Die trant van die kommentaar is grootliks dieselfde:
“Dis tyd dat ons iets doen!”
“Wat kan ons dóén?”
“Ons moet ophou kla en iets doen!”

Tog hou die klagtes nie op nie en die briewe word nie minder nie. Die petisies word geteken, die liedjies word gesing en die briefwisseling word gelees en op sosiale media gedeel.

En as ons saans besin na al ons gesingery, geskrywery, gelesery, gestryery en geklaery oor almal wat niks doen vir Afrikaans nie, wonder ons almal stilletjies: Wat doen ék om Afrikaans te help red?

Wat doen jy, daar in Koekenaap, saans na werk, om Afrikaans te red? Of jy, in Witrivier se aftreeoord? Of jy, vurige jong student in Stellenbosch met die wêreld aan jou voete?

Uit hierdie heimlike gewonder is daar die afgelope paar maande ʼn groot en grootse projek gebore. Ons noem hom “Wikipedia in Afrikaans”.

Die Afrikaanse Wikipedia is die tweede grootste Wikipedia in Afrikatale, met sowat 39 000 artikels wat in Afrikaans op Wikipedia  gepubliseer is. Maar voordat jy opgewonde raak: ʼn Taal soos Chinees spog met 875 000 artikels op Wikipedia, Spaans met meer as 1 miljoen artikels en Russies met 1.3 miljoen. Engels is natuurlik loshande voor, met meer as 5 miljoen artikels. Dit beteken Afrikaans se skamele 39 000 maak maar 0.000156% van die artikels op Wikipedia uit. As ʼn skoolkind of student dus op soek is na inligting en Wikipedia as bron gebruik, is ʼn Engelse taak of werkstuk sy voorland – dis bloot makliker as om alles te vertaal. En as ons Afrikaans as akademiese taal wil behou, sal dit mos nou nie deug nie.

Gelukkig skrik ons Afrikaanssprekendes mos nie vir koue pampoen nie. Dié dat ʼn klompie instansies sonder huiwering hand opgesteek het toe ons sê: “Ons gaan ʼn projek begin om die Afrikaanse Wikipedia uit te brei. Wie’s in?”

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, VivA (Virtuele Instituut vir Afrikaans), die Dagbreek Trust en Unisa het dadelik nadergestaan en ʼn span het aan die werk gespring om die projek te beplan en skrywers, vertalers en ander vrywilligers aan boord te kry. Opleidingsessies is gehou en skoolkurrikulums is in detail deurgewerk om te bepaal watter onderwerpe eerste aangepak moet word. Die artikels is geskryf of vertaal en opgelaai – eers een-een, toe so ʼn dun stroompie.

Nadat die eerste klompie werk gedoen is, breek die tyd toe hierdie week aan om die publiek te nooi om betrokke te raak. Dis immers die aard van Wikipedia: ʼn Gemeenskap moet self verantwoordelikheid neem om sy kollektiewe kennis op dié platform neer te pen. Ons kan momentum gee, maar die res moet uit die Afrikaanssprekende gemeenskap gebeur. Met afwagting (en vlinders op die maag) publiseer ons toe gister ʼn artikel op Maroela en vra ons lesers om te laat weet as hulle wil help skryf. Dalk kry ons so vyf of ses, reken ons.

Binne minute begin die e-posse instroom. Die tannie op Koekenaap, die oupa op Witrivier en die student op Stellenbosch stuur entoesiastiese briewe: Wat kan ek doen? Wanneer kan ek begin skryf? Hoe maak ek? Teen vanoggend sit ons met ʼn ellelange databasis vrywilligers, kundiges uit ʼn verskeidenheid kennisvelde en professies, wat gereed sit om Afrikaanse artikels vir Wikipedia te help skryf.

Ons is oorbluf. Maar eintlik nie verras nie. Dis mos onse mense wat so saamstaan as daar werk is wat gedoen moet word.

ʼn Groot dankie, solank, as jy aangebied het om te help skryf aan die Afrikaanse Wikipedia. Hier by Maroela Media klop ons harte baie opreg Afrikaans en ons pak net projekte aan wat goed is vir Afrikaans. Maar ene soos hierdie, weet ons, maak regtig ʼn verskil, vir ons kinders wat sal kan grootword en opleiding kry in Afrikaans, te danke aan kennis wat gedokumenteer is.

As jy wil betrokke raak, stuur gerus vir ons ʼn e-pos na [email protected]. Laat weet wat jou area van kundigheid is en waaroor jy graag sal help skryf. As jy wil vertaal of artikels redigeer, is jy ook welkom om ons te kontak. Ons sal met jou in verbinding tree vir die nodige hulp en opleiding sodat jy so gou moontlik jou eerste Afrikaanse Wikipedia-artikel kan oplaai.

Ons harte klop trots Afrikaans vandag.

Groetnis
Susan Lombaard
Redakteur: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

De Villiers Hauptfleisch ·

Ek is nie `n skrywer nie (behalwe vir briewe wat ek somtyds aan Die Burger skryf en wat hulle selde plaas, seker omdat ek te moerig raak oor die wyse waarop Universiteite soos US en UV uit hul pad gaan om Afrikaans af te skaal en uit te rangeer) en kan dus nie juis `n bydrae as `skrywer` lewer nie. Ek hoop egter dat ons bekende Afrikaanse skrywers en joernaliste hierdie geleentheid sal aangryp om Afrikaans te bevorder en uit te bou. Miskien is dit `n goeie ding dat bogenoemde Universiteite Afrikaans wil uitwerk want daarmee bereik hulle net die teenoorgestelde. Alhoemeer Afrikaanssprekendes staan deesdae op vir hulle taal. Niemand sal ons onder kry nie!

Julius ·

Wonderlike nuus. Ek is klaar met skool, maar sal beslis daarvan gebruik maak.

Sarie ·

Baie dankie vir hierdie inisiatief. Ek was lank betrokke by skoolbiblioteke en Afrikaanse feitemateriaal het drasties afgeneem. Aan die begin van die bestaan van Wikipedia in die algemeen was daar dikwels growwe foute soos bv. Die statistieke oor VIGS in SA wat verander is om ‘n beter prentjie te skep, maar dit het oor die algemeen verbeter. Moontlik sal julle ‘n waghondstelsel met kenners oor verskillende vakrigtings kan saamstel om kwaliteitsbeheer toe te pas. Iemand het genoem dat ons eerder die Nederlandse Wiki kan gebruik. Ongelukkig is dit so dat Nederlands nie meer in ons skole aangebied word nie en die kinders en onderwysers dit nie sal lees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.