Beste Maroela-leser
ʼn Onlangse episode van die reisprogram Voetspore waartydens die Voetspore-span die Noord-Kaapse dorpie Orania besoek het, het groot emosie wakker gemaak en vuurwarm gesprekke op sosiale media ontlok. Orania was nog altyd omstrede, en skielik is dié dorpie weer op almal se lippe.
Natuurlik het ek self na die episode gaan kyk, want ek moet darem weet waaroor die bohaai gaan. Hier moet ek so ʼn klein bietjie opkom vir die Voetspore-span: Die program is ʼn reisprogram, nie ʼn dokumentêr nie. Dis nie noodwendig bedoel om ʼn gebalanseerde, volledige prentjie van die dorp te gee nie, maar eerder ʼn gevoel van hoe dit is om deur die dorp te ry, hier en daar in te loer en iewers te oornag. (ʼn Vraag van die aanbieder, Johan Badenhorst, aan die res van sy span, oor of hulle dink al die Afrikaners wat te arm was om te emigreer, het Orania toe getrek, was myns insiens bitsig en onnodig, en dis jammer dat daar nie eers tydens die redigering raakgesien is dat hierdie opmerking ernstig gaan aanstoot gee nie. Maar dit daar gelaat.)
Maar ek wil nie kommentaar lewer oor Voetspore nie – ek wil liewer vertel van my eie ervaring toe ek onlangs in Orania besoek afgelê het. Dit was meer as ʼn deurry en oorslaap. Ek wou verstaan waaroor dié dorp gaan, hoe die mense dink, hoe die ekonomie werk, wat die maatskaplike uitdagings is, hoe dit lyk, wat werk en nie werk nie. Ek is gul ontvang, met egte Karoo-hartlikheid, en kort voor lank was ek op ʼn bussie om ʼn toer deur die dorp en omgewing te doen – dieselfde toer waarop die Voetspore-span geneem is. Ek en my reisgenote het onophoudelik vrae gevra en notas geneem.
Ek moet erken, en saamstem: As ʼn mens die eerste keer ʼn draai deur Orania ry, lyk dit soos ʼn doodgewone dorp iewers op die platteland. Daar is mooi huise, minder mooi huise en armoedige huise. Sommige tuine is mooi, ander is verwaarloos. Met die eerste oogopslag slaan Orania nie jou asem weg nie.
Maar soos jy by plekke in die dorp stilhou, een ná die ander, begin jy verstaan: dié dorp moenie op sy baadjie getakseer word nie.
Die hospitaal, byvoorbeeld, is ʼn klein privaat hospitaal wat dwarsdeur die Covid-pandemie dié gemeenskap bedien het met uitstekende mediese sorg. Die dokter, dr. Phillip Nothnagel, wat aan die stuur van sake is, het self aangemeld vir diens omdat hy die potensiaal vir goeie mediese sorg in dié dorp raakgesien het, vertel Pieter Bisschoff, ons toergids vir die dag en die hoof van die Bo-Karoo Opleidingsentrum.
Die dorp se sonplaas, nog ʼn besoekpunt, beslaan ʼn indrukwekkende 1 890 sonpanele wat op 841 KW piek en vir sowat 200 huishoudings elektrisiteit kan lewer. Dit is slegs fase 1, vertel Riaan Jacobs, ʼn entrepreneur en projekbestuurder van die Ora-Sol-projek, wat die sonplaas bestuur. Uiteindelik is die beplanning om Orania volkome onafhanklik van derdepartykragvoorsiening te laat funksioneer.
Die toer neem jou deur lowergroen pekanneutboorde (afhangend van die seisoen, natuurlik) wat deel is van die dorp se uitleg. Hier en daar is ʼn huisie tussen die bome gebou. Pekanneute is een van die landbouprodukte waaruit die dorp ʼn inkomste genereer, en ongeveer 120 hektaar grond is onder pekanneute. Ook lusern, mielies en koring word verbou, verduidelik Riaan.
Die strate is meestal ongeteer, maar slaggatvry, merk ʼn mens op. Dit het mooi Afrikaanse straatname soos Saffierstraat en Diamantstraat.
Ons maak ʼn draai by die skole (daar is twee, die Volkskool en ʼn CVO-skool). By die CVO-skool, ʼn kuberskool, word die nuutste tegnologie ingespan om kinders deel te maak van ʼn groter leeromgewing, en vir hulle toegang te gee tot onderwysstelsels wat andersins in die afgeleë Noord-Kaap moeilik moontlik sou wees. By die Volkskool is die hoofleiers besig met hul beplanning vir die jaar. Hulle groet vriendelik en beïndruk ons met hulle mooi maniere.
By ʼn paar geboue in die dorp merk ek kunswerke en beeldhouwerke op wat teen buitemure en in tuine pryk. Dis deel van die dorp se vereistes, verduidelik Pieter. Elke nuwe openbare gebou wat opgerig word, moet een of ander vorm van ʼn kunswerk aan die buitekant oprig of aanbring, sodat die hele dorp mettertyd verfraai sal wees.
Een van dié kunswerke is die mosaïektrap, waarheen die dorpstoer jou ook neem. Die trappe strek teen ʼn helling op en die voorkant van elke trap is versier met mosaïekteëltjies wat, as jy van onder af kyk, ʼn lieflike simboliese kunswerk vorm wat Orania se groei oor die eerste 25 jaar uitbeeld.
Ons loer in by die dorpswembad. Dit lyk soos dié waarmee ek grootgeword het: ʼn Tannie wat die toegang kontroleer, groen grasperke waar jy jou handdoek kan oopgooi, en die hele dorp se kinders wat in die helderblou water kraai en baljaar.
Die dorp se bank is ons volgende besoekpunt. Daar is nie ʼn sekuriteitswag by die deur nie. Die outydse houttoonbanke is oop – geen veiligheidsglas of tralies nie.
Ons ry verby talle boupersele. Een van Orania se grootste uitdagings, verduidelik Pieter Bischoff, is dat bouwerk nie vinnig genoeg vorder nie omdat daar soveel nuwe eiendom ontwikkel word. Beskikbare grond is daar nie veel nie, en huispryse is hoog omdat eiendom hier so gesog is en huispryse nie deur die dorpsbestuur gemanipuleer word nie. Daar is tans 101 huise waaraan daar aktief gebou word. Omgewingsvriendelike boumetodes, soos huise wat uit sooie en herwinde materiaal gebou word, word ruim ingespan.
En ja, natuurlik is hier nóg uitdagings, vertel die mense van Orania vir ons. Dis allermins maanskyn en rose. Soos enige dorp is hier maatskaplike uitdagings – mense wat hier uitspoel omdat hulle geen ander heenkome het nie, huismoles, armoede en werkloosheid. Maar hier is ook planne, en baie daarvan, om dié probleme aan te spreek. Hier ís werk, as jy bereid is om jou moue op te rol – soos Orania se handelsmerk, die Klein Reus, simboliseer.
Die Bo-Karoo Opleidingsentrum, waarheen ʼn Orania-toer jou ook neem, is juis ontwikkel om die behoeftes aan opgeleide werkers aan te spreek. By hierdie opleidingsentrum word opleiding gebied in vaardighede soos elektries, loodgieterswerk, gemeenskapsversorging en bou- en siviele konstruksies. Die sentrum lei ongeveer 100 studente per jaar op, en baie van dié studente bly in die dorp om hulle vaardighede in te span. Akkreditasie is verlede jaar ontvang vir die opleiding van plaasbestuurders – nog iets waaraan daar ʼn baie groot behoefte in die omgewing is.
Wat armoede betref, word allerlei planne ook gemaak, en mense wat Orania toe trek omdat omstandighede vir hulle te veel geword het, word sover moontlik geakkommodeer. Só, byvoorbeeld, is die eerste sooi vir die Olienhout-ontwikkelingsprojek vandag gespit. Dié ontwikkeling maak dit moontlik om vir gesinne wat andersins moeilik toegang tot geleenthede in Orania sou gehad het, ʼn tuiste te skep. Dit bestaan uit drieslaapkamereenhede waar gesinne kan tuisgaan tot hulle hul eie verblyf bekom het. Die dorp beskik ook oor maatskaplike dienste wat na die dorpsbewoners se maatskaplike uitdagings omsien.
Die toer sluit af met ʼn besoek aan Sandbaai, ʼn piekniekplek op die oewer van die Oranjerivier waar die dorp se inwoners kan kom braai, visvang, piekniek hou en saam kuier, en ʼn skemeraand-bootrit op die rivier kan geniet. Sielsalig, terwyl die son ondergaan oor die Karoo-vlakte en net die geraas van voëls en die klots van die water teen die boot ons geselskap hou.
Op pad terug na die Oewer-hotel waar ons oornag, stap ʼn seuntjie van so nege jaar in die middel van die stofpad. Visstok oor die skouer, visboks in die hand. Stoksielalleen. My hart maak ʼn draai. Wat sou ek gee dat my eie seunskind só kan seun wees?
In die veelbesproke Voetspore-episode oor Orania vra Johan Badenhorst vir sy spanlede ʼn ongemaklike vraag: “Sou jy hierheen wou trek?” In kommentaar oor die episode meen sommige kykers dis ʼn onregverdige vraag. Ek dink nie so nie – natuurlik vra elke besoeker aan Orania vir hulself dié vraag wanneer hulle die dorp besoek.
Sou ék Orania toe wou trek?
Ek weet eerlik nie. Gauteng is my tuiste, al raak die slaggate by die dag meer en al is die gras op die sypaadjies so lank dat ʼn mens ʼn liggaam daarin kan wegsteek (wat nie eers ʼn vergesogte vergelyking is nie). Ek is tuis in die multikulturele gemeenskap in my buurt, en ek hou daarvan om deel te voel van Afrika. Ek het ʼn goeie werk, ons kinders is in goeie skole en ek voel veilig in my huis. Ek hou daarvan dat ek vir ʼn sekuriteitswag ʼn fooitjie kan gee as hy my kar oppas.
Nee, ek dink nie ek sal Orania toe trek nie.
Maar een ding is seker: Ek is dankbaar dat daar ʼn groep mense in ʼn dorp in die Noord-Kaap is wat besig is om te werk aan ʼn alternatief wat wérk. Net ingeval.
Groetnis
Susan
Baie dankie Susan…’n gebalanseerde en insigewende artikkel
Sien, dis hoe ‘n mens ‘n gebalanseerde artikel doen sonder om ander mense te verneder en hulle harde werk af te kraak. Mooi so Susan. Ek wens daar was meer joernaliste soos jy.
Hoogmoed , speel n rol, om so n vraag te dink en dan te vra….
Korrek Susan, paddas spring slegs uit ‘n pot warm water wanneer daar meteens ‘n groot temperatuurverskil gebeur, maar wanneer die paddas stadig verhit word, raak hulle vinnig gewoond aan hulle multi-kulturele omgewings en noofgedwonge verlies aan kultuurwaardes- en skatte en uiteindelik bestaansreg en toekoms.
Ek waardeer jou eerlike skrywes.
Ai, Johan Badenhorst het my nou regtig teleurgestel…
Vir my ook.
Baie dankie vir die inspirerende artikel. Ek dink ek wil daar gaan kuier.
Moet se die kommentaar in daardie episode het my effens naar kol op die maag gegee teenoor Johan Badenhorst en Voetspore. Dit was nie nodig om politieke uitsprake te lewer nie – hulle kon net gekies het om nie Orania aan te doen nie.
Ek is ook nie oortuig of ek self daar wil bly nie, maar ek hou baie van die idee, en ek dink die mense van Orania is dapper mense en voorgangers, waaroor ons dalk nog eendag baie bly kan wees.
Susan, soos talle ander moet ek jou ook komplimenteer met ‘n uitstekende brief. Verder aanvaar ek jou kritiek oor die opmerking rakende mense wat te arm is om Australie toe te emigreer. Dit was ‘n kortpad poging wat bedoel is om te vra waarom die mense ‘n stowwerige dorpie in die Noord Kaap kies in plaas daarvan om soveel van hulle mede Afrikaners te volg na ‘n land waar daar eintlik maar net blanke mense woon. Want dit is hulle keuse. Maar jy is reg. Dit is bitsig en onnodig. Self arrogant. Kortweg – verkeerd. Sonder die opmerking was daar waarskynlik veek minder van ‘n bohaai.
Australië se middestede bring herinneringe aan Beijing en Delhi.
Voetspore moet daar ‘n draai gooi.
Na my mening word Johan Badenhorst se kommentaar heel verkeerd opgeneem deur sekere mense. Ek het na die episode van Voetspore gekyk en kon nie daarmee fout vind nie. Ek dink dat mense nie die tong-in-die kies humor kon snap nie……veral dié oor emigrasie na Australië. Die vraag of enigiemand van die Voetspore span daar sou wou bly is ook nie so ‘n vraag wat kom uit arrogansie nie. Dit was bloot ‘n vraag!! Ekself sal glad nie in Orania wil bly nie. Alles wat té is laat my koud….Daar is immers ‘n plekkie in die Son vir ieder en elk in ons land. As jou plekkie in die Son Orania is, goed vir jou maar moenie negatiewe kommentaar lewer oor ander wat nie dieselfde as jy voel nie.
Net so is die stad en meeste dorpe ook net “te”.
Dankie vir die artikel wat dit meer in perspektief stel. Ek was nog nooit in Orania nie, dus kan ek nie daaroor repliek lewer nie. Ek kan Orania slegs vergelyk met ‘n dorp soos Parys wat aan die Vaalrivier lê. Dis’ n heerlike naweek dorp met vele besoekpunte en baie mooi blyplekke. Maar dis ook al as ek dit so met Orania moet vergelyk. Gelukkig is daar mense wat die stad verkies en wil saamdrom.
Pragtige artikel!
Mag Orania van krag tot krag gaan.