Redakteursbrief: ʼn Brief aan die Boerseun van Bloemfontein

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media (Foto: Simoné Steyn-Venter)

Beste Boerseun van Bloemfontein

Jy het gisteroggend voor my op die 06:55-CemAir-vlug na Bloemfontein gesit. Ek het skaamteloos afgeluister terwyl jy en die jong man oorkant jou eers ligweg geselsies maak, en toe aan die kuier raak soos ou vriende. Soos ʼn egte Bloem-boer het jy ʼn kakie-kortbroek gedra, al het die Gauteng-lug buite gebyt.

“Dis my laaste vlug vir ʼn lang ruk,” het jy met die gaan-sit-slag gesê; nie soos iemand wat skimp dat ʼn mens verder moet uitvra nie, sommer net.

“Hoe so?” het die jongman oorkant jou gevra.

“Ek is nou al twee dae in die lug,” het jy geantwoord. “Pas 38 uur van Amerika af gevlieg.”

“Wat het jy daar gedoen?”

“Geboer, in Arkansas,” het jy vertel. “Ek is al agt maande daar, maar ek boer al sewe jaar in die VSA. Maar ek raak nou moeg vir heen-en-weer-vlieg.”

Die Afrikaans het vir jou maklik en lekker gekom; jy het hartlik gesels met die stem van iemand wat oop vlaktes ken, ʼn effense bry rondom jou r’e.

“Waar bly julle?” het jou reisgenoot gevra.

Jy het dadelik geweet hy bedoel hier, die plek waarheen jy huis toe kom. “So 80 km anderkant Bloemfontein,” het jy gesê, en jou stem was bly.

Julle het pryse gesels: Vleispryse, bees- en lammerpryse, brandstofpryse, bakkiepryse, trekkerpryse, stroperpryse. Die jongman oorkant jou koop en verkoop voertuie, maar weet duidelik ook iets van landbou, want hy kon lekker saamgesels.

“Gaan jy terug oorkant toe?” het hy gevra.

“Ek weet nie,” het jy peinsend gesê. “Maar ek het nie die deur daai kant toe toegemaak nie. As mens hier bly en boer, moet jy maar altyd daai deur oophou. Dis nie ʼn deur wat jy toemaak nie.”

As dit ek was wat oorkant jou gesit het, sou ek jou miskien vertel het dat ek vanoggend my mes op die lughawe gered het – want ek sou nie veel kon saamgesels oor vleispryse en landbougewasse nie. Vanoggend douvoordag, toe ek by die huis weg is lughawe toe, het ek op die ingewing van die oomblik ʼn ander handsak gegryp as die een wat ek beplan het om te bring, en skoon vergeet die nutsmes wat my man ʼn paar jaar gelede vir my gegee het vir my verjaardag, is daarin. Die lughawe was bedrywig en ek het al benoud geraak dat ek my vlug gaan verpas toe ek uiteindelik deur die sekuriteitshek stap. Anderkant staan ek en wag, maar al wat kom, is my handsak.

“There’s a knife in your bag,” sê die sekuriteitsman toe my handsak uiteindelik te voorskyn kom, en begin dit sommer namens my uitpak om die versteekte wapen op te spoor. Natuurlik, onthou ek.

“Can I leave it somewhere?” vra ek hom.

“You can go back and leave it at your airline’s customer desk,” sê hy. Ek kyk na my vertrektyd en na my horlosie. Daar’s geen manier hoe ek dit gaan maak nie. Ek roep my mes vaarwel toe en neem ʼn drafstap na die hek waar my vlug amper gaan vertrek terwyl my hart sommer pyn. Dié mes is spesiaal; nie net oor my man hom vir my gegee het nie. Hy het my al uit talle verknorsings gered, en ek geniet telkens die ongeloof en verbasing op mans se gesigte as hulle ʼn skroewedraaier of tang of mes nodig het, en ek is die een wat dié stukkie gereedskap uit my handsak te voorskyn bring.

Maar by die hek gekom, is daar geen teken van ʼn vliegtuig nie. Passasiers sit ongeduldig en wag. Ek het tyd, besef ek. Die vlug is laat. Dis ʼn berekende risiko, maar ek behoort dit te maak.

Ek hardloop onvroulik terug, spoor die sekuriteitsman op wat my mes gehou het, spoor die mes wonder-bo-wonder op, tref reëlings om vinnig deurgelaat te word wanneer ek terugkom, en drafstap oor die lengte van die lughawevloer na CemAir se kliëntedienstoonbank, heel agter in die hoek. Die dame daar is gaaf. Sy gesels in Afrikaans met my, neem die mes en sit dit in ʼn koevert met my naam op om dit later te kom haal. En toe hol ek terug, vleg soos ʼn wafferse atleet deur die reisigers, wikkel my pad oop tot heel voor in die ry (die lughawepersoneel het gesê ek mag), woerts deur die sekuriteitshek en nael so vinnig soos ek kan sonder om alle waardigheid te verloor na die hek van waar my vlug moet vertrek.

Van ver af sien ek daar is nie meer ʼn passasier in sig nie. Die beampte by die hek kyk vir oulaas op haar horlosie toe ek sopnat gesweet voor haar tot stilstand kom. Sy help my vinnig, beduie buitentoe dat die bus vir my moet wag, en ek spring net betyds op – uitasem, doodmoeg en nogal ingenome met my eie spoed en waagmoed.

Ek sou dié storie vir jou wou vertel, Boerseun van Bloemfontein, want my storie is, net soos joune, een oor ʼn berekende risiko. Gaan ons, of gaan ons nie? As ek nou hol, óf bly, gaan ek later bly wees dat ek dit gewaag het? Of gaan ek myself verwyt omdat ek die vlug gemis het – na my bestemming, of land-uit na ʼn beter toekoms, of terug na die familieplaas waar my pa en ma en ʼn mooi meisie vir my wag? Watter een is die grootste waagstuk?

Ek en jy weet nie, Boerseun van Bloemfontein. Vandag het dit vir my uitgewerk, en ek hoop en vertrou met my hele hart dat dit vir jou ook gaan uitwerk.

Op Bloemfontein-lughawe het ek ʼn koppie wegneemkoffie by Mugg & Bean gekoop terwyl jy binne by die bagasieband vir jou tasse staan en wag het, want ek wou die weersiens sien. Ek het verby my koppie koffie staan en loer of ek kan sien wie jou kom haal het. Ek is redelik seker dit was die tante met die mooi grys hare, die kolletjiesbloes en die wit krale om die hals, want die oom langs haar het gelyk of hy nie aldag die knoophemp dra wat so netjies gestryk is nie. Sy koffiekoppie was al leeg terwyl hare nog tot by die rand gestaan en stoom het, en sover ek weet, het net boere sulke blikkele. Hulle het saam op haar foon gesit en foto’s kyk terwyl hulle kort-kort geloer het na die skuifdeur waar jy (of iemand anders) moes uitkom. Maar toe moet ek loop, want buite het die man wat my moes kom haal al gestaan en rondtrap. Die weersiens moes maar in my verbeelding afspeel.

My wens vir jou is dat die honde jou met kwispelende sterte en kwylende bekke sal verwelkom.
Dat jou studentjie nog gaan lief wees vir jou, en nog net so mooi gaan wees soos jy haar beskryf.
Dat die weiding op julle plaas geil gaan wees ná die goeie reën.
Dat jou ma vanaand vir jou pampoenkoekies gaan bak, en dat jou pa saam met jou deur die beeste gaan stap en die nuwe kalwers vir jou gaan uitwys.
Dat julle veilig sal wees as julle skemeraand met die bakkie voor die agterdeur stop.
Dat jy jou hart gaan verloor op jou geboortegrond, van voor af.

Dat jy hier sal bly, want God weet, ons het jou nodig hier.

Groetnis
Susan Lombaard (wat agter jou op die 06:55-vlug na Bloemfontein gesit het)
Uitvoerende hoof: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Renee ·

Susan, sjoe ek sou so graag saam met julle wou vlieg, net om hom te kon se welkom terug by die huis. Soveel ouers se harte is seer van die kinders wat ver weg bly.

Strandloper ·

Het lanklaas iets so lekker gelees en jy anniekiewiet jy mag so boere bekkig wees!

Dries ·

So so mooi geskryf Susan. Jy is nie verniet ny held nie. Hoop jyhetdie skets wat ek van jou geteken het gekry

Kobus ·

Nou sal hy moet bly op sy plaas anderkant Bloemfontein. Daar gaan nie gou weer geboer word in Amerika nie. Geniet die pampoenkoekies en die welige Vrystaat ná die reëns.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.