Redakteursbrief: ‘n Brief aan elke betogende student

susan_lombaard

Susan Lombaard Foto: Burger Meyer, Maroela Media

Liewe Betogende Student

Met spanning wat lank reeds op verskeie terreine in die land hoog loop, het ons almal eintlik lankal verwag dat die onrus onder die oppervlak op die een of ander georganiseerde manier tot ʼn uitbarsting sou kom.

Min sou ons kon dink dat die uitbarsting sou begin by julle, die studente – die leiers van môre; die komende hoofde van maatskappye, onderwysers, politici, ekonome, entrepreneurs.

Dalk is dit sinvol dat julle die eerstes sou wees om te sê, “Tot hiertoe en nie verder nie”. Dis ironies dat dit juis julle “slimmes” is wat julle wend tot geweld, vandalisme en plundering in ʼn poging om jul punt tuis te  bring.

ʼn Mens het begrip vir julle (en jul ouers) se frustrasie met ʼn afname in staatsubsidie aan universiteite terwyl korrupsie in die regering hoogty vier, en die feit dat die meeste universiteite se verhoging in klasgelde hoër as inflasie is. Volgens die ekonoom Mike Schussler sal SA vanjaar R550 miljard bestee aan die salarisse van staatsdiensamptenare oor alle regeringsvlakke en –strukture. Dis niks minder as reg nie dat julle eis dat ons geagte president moet verantwoording doen. In sy nuuskommentaar op Maroela Media vandag vergelyk Herman Toerien die studente-opstand met die Franse Rewolusie: “In plaas van die Bastille is die parlement sommer stormgeloop, en optogte na die Luthuli-huis en die Uniegebou is gehou,” skryf hy.

Tog wonder ek.

Ek sou graag wou weet of jy (of jou ouers) self vir jou studies betaal, en hoeveel van jy en jou betogende medestudente beurse of lenings het.  Ek sou wou weet hoeveel van julle het gedroom daarvan om eendag as ʼn student oor die mooi gronde van ʼn statige kampus te stap, en het regtig hard gewerk om met universiteitsvrystelling te slaag – hard genoeg om nie net-net vrystelling te kry nie, maar om seker te maak jou uitslae is goed genoeg om te kwalifiseer vir ʼn beurs of minstens ʼn studielening, en om seker te maak jy kry keuring vir die rigting waarin jy jou wil bekwaam.

Dis dalk ʼn naïewe siening. Daar is immers net soveel beurse beskikbaar.

Maar ek wil jou graag my storie vertel. Dalk verstaan jy dan beter.

Twintig jaar gelede was ek self in matriek, en het ek drome gedroom oor universiteit-toe-gaan wat onmoontlik gelyk het. Dit was 1995 – die slegste moontlike tyd vir ʼn wit matrikulant om vir beurse aansoek te doen. Ek onthou hoe my pa my van beursonderhoud na beursonderhoud aangery het, en hoe ek in lang rye tussen ander, meestal anderskleurige kandidate vir my beurt gesit en wag het. Ek onthou die verleë gesigsuitdrukkings van onderhoudvoerders wat geweet het ek is net daar om die kwota vol te maak. Ek het geweet my kans is bitter skraal – om ʼn beurs te kry, en om hoegenaamd universiteit toe te kan gaan. Daar was eenvoudig geen manier hoe my ouers vir my studies sou kon betaal nie. ʼn Ouma het ingestaan vir die registrasiefooi, en dit was dit wat van die familie se kant sou kon kom.

Wonder bo wonder het ek ʼn klein beurs gekry wat genoeg was om die eerste ronde universiteitsfooie te kon betaal. Ek is universiteit toe, Puk toe, met R200 sakgeld, groot drome en vasbeslotenheid om van my studies ʼn sukses te maak. Dwarsdeur my universiteitsloopbaan het ek en my ouers planne gemaak: ek het tikwerk teen betaling gedoen in die biblioteek se rekenaarsentrum; skripsies geproeflees; as assistent by ʼn fakulteit gewerk. Soms het ek nagte deurgesit om vryskutwerk en universiteitstake afgehandel te kry. My ete-kaart is gereeld afgesny as gevolg van onvoldoende fondse. Later, in ʼn studentehuis, was daar dikwels net ʼn blikkie tuna, ʼn pak macaroni of ʼn halwe sakkie appels in my koskas. My vervoer was ʼn tweedehandse fiets.  Soms het my ma koeksisters verkoop om vir my ʼn sakgeldjie te kan gee.

Die gedeeltelike lening wat ek by die universiteit gehad het, is omgeskakel in ʼn beurs in verhouding tot my akademiese prestasie; dus – hoe beter ek presteer, hoe minder sou ek hoef terug te betaal. Ek het kop neergesit en gewerk dat die stof staan.

Universiteitstudies was nooit vir my vanselfsprekend nie, en nooit ʼn reg nie – dit was altyd ʼn voorreg.

Op ʼn manier het ek my graad klaargemaak, en góéd klaargemaak. Elke sent van my universiteitsrekening was aan die einde van my honneursjaar klaar betaal, al is die sperdatums vir betalings soms net-net (en soms laat) gehaal. Vir jare ná my studies het ek ʼn groot deel van my salaris aan my studielening afbetaal.

Ek kom dalk uit ʼn sogenaamde “bevoordeelde” deel van die gemeenskap, maar glo my: nie vir ʼn oomblik was ek bevoordeel nie.

Vandag is ek dankbaar dat ek op die harde manier moes leer: niks wat die moeite werd is, kom maklik nie. En niks wat van goeie gehalte is, is gratis nie. Dis ʼn beginsel wat ek elke dag van my lewe toepas en vir my kinders leer.

Liewe betogende student, ek hoop regtig as die betogings tot rus kom, kry jy en elkeen van jou medebetogers tog die geleentheid om dié les te leer, al is dit dan op ʼn ander plek as aan die universiteit wat jy afgebrand het.

 

Groetnis

Susan Lombaard

Redakteur: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

44 Kommentare

jongste oudste gewildste
Minnie Pretorius

Dis ‘n baie mooi getuienis, Susan!
My man en ek was van 1963 op Tuks. Niks verniet gekry: Baie hard gewerk vir beurse.
Vakansiewerk moes fondse aanvul en verder was daar lenings, met baie streng voorwaardes.

Nie ons, of ons kinders, het IETS verniet gekry nie.
Dit was WERK,WERK en WERK!!!!

Maritsa Pretorius

Susan ons is ewe oud en het nogal ‘n soortgelyke pad geloop.
Ek dink net die wat jou brief moet hoor is Engelssprekend en Tswanasprekend. Pukke is die laaste Afrikaanse universiteit in die land wat nou, soos die ander, deur ander kulture oorgeneem word. Sal die Totius standbeeld nog daar staan as ek oor ‘n paar jaar oor die kampus wil loop?

Pietertjie

Ek kan met jou ervaring identifiseer, en wil byvoeg dat jou storie die van baie, baie burgers in die samelewing is. Ek dink egter die tydsberekening van jou laaste sin is heeltemal misplaas gesien die heersende spanning, emosie en woede, wat nie ruimte laat vir nugter denke en oorweging van paternalistiese gedagtes nie. Ek sou raai ‘n blote “ons voel vir julle en hoop julle slaag daarin om nugter denke na ons parlement te bring” sou dalk nie so paternalisties oorgekom het nie.

Human

Wat volg is my persoonlike mening/ observasie; Baie van die betogende student is nie n geregistreerde student nie > Daar steek n derde-mag agter hierdie betogings met die uitsluitlike doel om ons land verder te destabiliser. Se As ek verkeerd is!

antonie

Ek dink hierdie ding is groter as wat ons dink.
Hierdie ‘uprising’ is dalk self deur die anc begin.
Dit is dalk n aanslag van die kommuniste teen
‘free market ‘ en kapitalisme