Redakteursbrief: ’n Brief uit my gr. 5-kind se nuwe juffrou se stoel

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media (Foto: Maroela Media)

Beste Maroela Media-leser

Terwyl ek by my splinternuwe werkspasie in ʼn sonnige hoek in ons slaapkamer sit en hierdie brief skryf, sit my seunskind, nou in gr. 5, hier neffens my, besig met sy skoolwerk vir die dag. Ons het ʼn lekker groot tafel hier ingedra sodat hy langs my kan sit en ek ʼn ogie kan hou terwyl hy deur sy skool se oulike aanlyn klasse werk. Die dagboek het my netnou herinner aan sy muurklim-uitstappie wat môre sou plaasvind.

In die kamer langsaan is ons oudste ook druk besig om te werk (nadat sy haar krulle met groot moeite versorg en haar toonnaels geverf het). Sy sou vanaand, as ʼn gr. 8-leerder in haar nuwe hoërskool, vir die eerste keer as ʼn lid van haar hoërskoolkoor aan die World Voice Day deelgeneem het.

In die studeerkamer is my man met sy oorfone op besig met ʼn digitale vergadering. Buite ons kamervenster lê ons een hond met sy pensie son toe gedraai en slaap, en Japie, Maroela Media se kantoorhond, blaf vir die bure wat op hulle balkon besig is om te saag en skuur aan ʼn nuwe stel kaste. As ek ʼn vergadering het en die saag hier langsaan begin skree, pluk ek my skootrekenaar se drade uit en vlug vir ʼn rukkie stoep toe.

Netnou gaan iemand kom skimp dat hulle honger is, en dan gaan ons saam iets uitdink vir middagete. As die skedules dit toelaat, gaan ons dit dalk gou by die tuintafeltjie voor die agterdeur eet voor ons verder werk. Vanaand braai ons – weliswaar sonder vriende wat saam kuier. En Sondag hou ons e-kerk in die sitkamer.

Hierdie is ons nuwe “normaal”. Net so, weet ek, het jy ook ʼn nuwe “normaal”. Ses maande gelede sou ons nooit kon dink dat ʼn hele land, selfs die hele wêreld, se “normaal” heeltemal anders gaan lyk as dit waaraan ons gewoond was nie. Dit is asof die hele land aan die begin van die afsonderingtyd in ʼn wittebroodsfase was – almal het geskryf oor die oulike goedjies wat hulle saam met hulle kinders doen, foto’s op sosiale media geplaas van die lekker koek en geregte wat hulle maak, en filosofies geraak oor hoe kosbaar dit is om tyd as gesinne saam deur te bring. Terwyl ons almal heimlik in ons agterkoppe geweet het: Die moeilikste lê nog voor.

Foto: Susan Lombaard

Ek is baie dankbaar dat my “nuwe normaal” insluit dat ek wel nog kan werk, al beteken dit ek moet bitter vroeg opstaan en ʼn paar ure se werk gedoen kry voor die huis begin ontwaak, sodat ek dan vir ʼn ruk kan mamma en juffrou wees voor ek weer by my Maroela Media-werk kan uitkom; en al beteken dit my kantoor en ons slaapkamer is nou dieselfde vertrek. En ek is veral dankbaar dat my werk iets is wat ʼn wesenlike verskil kan maak in die moeilike omstandighede waarin mense hulle tans bevind.

Maar jy is miskien een van die Maroela Media-lesers wat die afgelope drie weke vir ons ʼn boodskap gestuur het om te sê: “Help, ek en my man het albei ons inkomste verloor.” Of “kan julle my dalk verwys – my kind sit gestrand in die buiteland en kan nie huis toe kom nie.” Of “my sakeonderneming gee werk vir vyf mense – hulle het laat weet hulle het nie meer kos om te eet nie, en die regering se kospakkies verdwyn voor dit ons huis bereik. Wat moet ek doen?”

Dalk is jy ook, soos ek, een van die werkende ma’s wat steeds van die huis af moet werk, maar skielik moet verstaan wat in jou kind se skoolkurrikulum aangaan (mag ons nooit weer Nasionale Juffrou-dag laat verbygaan sonder groot bosse blomme en baie sjokolade nie), en boonop sielkundige moet speel vir kinders wat smag na maats en sport en buitemuurse aktiwiteite. Dalk het jy iewers ʼn eensame, bejaarde ouer wat jy nie kan besoek nie omdat dit beter is só.

Miskien is jy ʼn matrikulant wat uitgesien het na hierdie jaar wat die kroon is op jou skoolloopbaan van 12 jaar. Dalk is jy ʼn hoofleier of in ʼn ander leierskapsposisie wat jy nou nooit werklik sal kan beklee nie. Dalk sou jy in die komende winter vir die laaste keer die kaptein van jou netbal- of rugbyspan gewees het.

Aan die begin van die Covid-19-uitbreking internasionaal, en later in Suid-Afrika, het die gesprekke gefokus op gesondheid en die verlies aan menselewens. Kort voor lank het internasionale en plaaslike syfers en vooruitskattings vir ons begin wys die ekonomiese golf wat gaan volg op die golf van Covid-19, baie groter en verskrikliker gaan wees as die golf van die siekte self.

Maar daar is nog ʼn golf, ʼn ander verlies – dalk minder groots en meetbaar, maar een wat ons nie gering moet skat nie. Dis ons verlies aan lewenservarings.

Ons almal treur hieroor, maar ons sê dit nie hardop nie. Ons treur oor die verjaardae wat nie gevier word nie, die begrafnisse wat ons nie kan bywoon nie, die troues wat afgestel word. Ons treur oor die inskrywings in ons dagboek wat stil-stil verbygaan. Ons maak die beste daarvan met aanlyn partytjies en oulike video’s en kreatiewe verrassings vir ons geliefdes, maar diep binne-in ons treur ons oor geleenthede wat ons nooit weer sal hê nie.

Ons mag dit maar sê. Vandag wil ek sê dat ek treur. Te midde van so baie om oor dankbaar te wees en met die volle besef dat daar ander is wie se verliese veel groter is as myne, is dit nie verkeerd dat ons dit vir mekaar sê nie. Ons het baie verloor, en ons gaan nog baie verloor, en ons mag maar hartseer wees daaroor.

Maroela Media se Japie saam met Susan Lombaard (Foto: Maroela Media)

Ek is seker dit sou meer gepas wees as ek nou hier ʼn filosoof of diep denker kon aanhaal om my redakteursbrief mee af te sluit. Maar die prentjie wat onwillekeurig by my opkom, is een uit die animasiefliek The Croods. Ná ʼn verskriklike rotsstorting, met die oergesinnetjie wat angsbevange in ʼn grot skuil, kruip hulle bo-oor die rotse buitentoe, en dan staan hulle stil buite en kyk na die nuwe landskap wat voor hulle in die son lê en wag.

Ons gaan hier uitkruip, daarvan is ek seker. In die proses gaan ons verliese ly, seerkry, hartseer beleef. Maar ons gaan sterker en emosioneel ryker word en beter mense anderkant uitkom.

Groetnis

Susan Lombaard

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sarel ·

Dankie Susan . Jou skrywe vroegoggendcgekees en my dag gemaak. Genade vir ons almal en dankie vir julle by Maroela Media

Alexz ·

Opregte dank aan MaroelaMedia se span wat die ekstra opofferings doen om die nuus by ons uit te kry.
Saluut.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.