Redakteursbrief: ʼn Eg Suid-Afrikaanse, alledaagse sepie-dag

Susan Lombaard, uitvoerende hoof en redakteur van Maroela Media Foto: Noeleen Foster

Susan Lombaard, uitvoerende hoof en redakteur van Maroela Media Foto: Noeleen Foster

Ek het ʼn eg Suid-Afrikaanse week agter die blad.

Al die elemente van ʼn goeie spanningsverhaal was daar: misdaad, internetbedrog, rassevooroordeel, lagwekkende swak diens, misverstande weens elektroniese kommunikasie en onprofessionaliteit. Gemeng met ʼn goeie skeut humor, ironie en, les bes, onverwagse goeie diens.

Só raak ek myselwers hierdie week die slagoffer van internetbedrog. Glo my, ek het nie my kredietkaart iewers vergeet of ʼn nagemaakte bankvorm met my details op die internet ingevul of my aanlynbankdienste se wagwoord op ʼn servet neergeskryf nie. Ons skryf immers hier by Maroela Media oor hierdie goed. Ek weet presies wat ek mag doen en nie moet doen nie. Die internetrampokkers het op ʼn manier toegang gekry tot my aanlynbankdienste, my persoonlike kontakinligting op my profiel verander om seker te maak dat ek nie SMS’e kry van transaksies wat in my rekening gedoen word nie, en toe doodluiters ʼn lekker sommetjie sakgeld met ʼn eWallet-transaksie na ʼn selfoonnommer oorgeplaas (waarvan die eienaar natuurlik onopspoorbaar is, ten spyte van Rica). Die sekuriteitskode wat ek per SMS moes ontvang om toestemming te gee dat my details verander word, het nooit by my uitgekom nie.

Hoe ook al, so begin my drie dag lange reis tussen die bank (wie se naam ek liefs sal weerhou) en die polisiestasie. Want die bank soek ʼn saaknommer voor hulle ʼn bedrogsaak kan open, en die polisie soek ʼn brief van die bank wat aandui dat hulle ʼn bedrogsaak ondersoek voor hulle vir my ʼn saaknommer kan gee.

Ek skop af met ʼn besoek aan die bank – die kans is immers groter dat ek daar sal regkom. Vir my is banke maar vervelige plekke. Alles werk, almal praat mooi met jou, daar is elektroniese skerms wat seker maak jy staan in die regte ry en jy weet hoe lank jy nog gaan wag, die lugversorging is lekker koel en daar is water in papierglasies vir wanneer jy dors word.

Die bank sê nee – hulle het ʼn saaknommer van die polisie nodig. Ek moet eerste met my bankstate polisie toe gaan en ʼn saak aanhangig maak. Ek klim dus in my motor en ry polisiestasie toe. En woeps! Binne twee kilometer ry ek van ʼn eerstewêreldland na ʼn derdewêreldland.

Ten spyte van al die frustrasies wat met die besoek aan baie polisiestasies gepaard gaan, geniet ek dit altyd heimlik om ʼn bietjie tyd daar te spandeer. Mens is in die hart van Afrika, voel dit altyd vir my. Ek stop buite die polisiestasie, waar ʼn motorwag my motor moet oppas. Dan probeer ek die regte gebou vind. Daar is geen bordjies nie. Gelukkig was ek al daar (mens ken mos maar polisiestasies as jy in Suid-Afrika woon) en ek kry die aanklagkantoor redelik maklik.

Binne is ʼn langerige ry. Teen die muur agter die toonbank is ʼn bordjie wat sê “Batho Pele” – Sotho vir people first. Twee polisiebeamptes neem verklarings af terwyl vyf ander van ʼn verskeidenheid rasse rustig heen en weer slenter tussen ʼn fotostaatmasjien en ʼn kantoortjie waar daar polistireenhouers met kos op die tafel rondstaan.

Dis uiteindelik my beurt. ʼn Vrouekonstabel in ʼn formele polisie-uitrusting groet my vriendelik. Die jong man neffens haar se elmboog gly amper van sy stoel af soos hy op sy stuitjie lê. Sit gerus, sê sy vir my. Sy kyk my vas in die oë en luister simpatiek terwyl ek my vervelige storie vertel. Sy gee die kêrel links van haar ʼn onderlangse pomp in die ribbes; hy skuif ʼn bietjie regopper en soek na sy pen. Sy is jammer, verduidelik sy, maar dié jong man is besig met sy opleiding; dit mag dus ʼn uur of drie neem om my verklaring af te neem. Sy sal help. Ek sug innerlik, maar knik – só doen ek seker my deel om die Suid-Afrikaanse Polisiediens te verbeter.

Die jong man-in-opleiding wil weet waar die misdaad gebeur het. Ek verstaan nie lekker nie. Op die internet, sê ek. Nee, sê hy. Daar moet ʼn plek wees. Hier op die vorm is ʼn blokkie waar hy die plek van die misdaad moet invul. Maar dit was op internet, sê ek. Hy kyk vir my asof ek onnosel is. Maar hy moet ʼn plek invul, sê hy. Waar het die bedrog plaasgevind? As ek geweet het, het ons hulle gevang, sê ek.

Die vrouekonstabel kom tot sy redding. Waar was ek toe ek besef het iemand het my geld gesteel? vra sy. By die werk, sê ek. Goed, dan vul ons my werksadres in, sê sy.

So ʼn kwart in my storie in bekyk sy die bankstate wat ek saamgebring het. Nee, sê sy, dit sal nie deug nie. Dis ʼn uitdruk van my aanlyn-state, en ek het al die saldo’s op die state en al my bankrekening-inligting toegeplak voor ek afskrifte daarvan gemaak het. “These statements have been tampered with,” sê sy ʼn bietjie kwaai.

Maar natuurlik het ek dit toegeplak, sê ek. Ek was nou net ʼn slagoffer van internetbedrog. Wat is die kans dat ek my inligting sommer so vir iemand gaan gee?

“Your information is safe with us. We are the police,” sê sy.

Ek lag amper, maar sy gee my ʼn kwaai kyk.

Terug bank toe. Ek vang hulle net-net oop. ʼn Gawe man met ʼn onderbaadjie gee vir my ʼn nommer en ek wag skaars ʼn minuut, toe help nog ʼn gawe vrou my met die regte bankstate, kompleet met ʼn bankstempel op, soos die polisie daarvan hou. Dit sou gaaf gewees het as hulle die eerste keer vir my gesê het ek het oorspronklike bankstate met ʼn stempel nodig, dink ek, maar ek bly stil.

Terug polisiestasie toe. Hulle is mos darem 24 uur ʼn dag oop, al sluit die bank al vyfuur hulle deure. Dis besiger na-ure. Boonop is die polisie besig om skofte te ruil. Een van die beamptes kom skuif ons in ʼn ry sodat die volgende skof se beamptes weet in watter volgorde om ons te help. Hy hakkel erg, en naderhand trek hy ons aan ons moue rond om ons op die regte plekke te kry. Dan druk hy hier en daar aan ʼn lyf tot hy tevrede is dat die ry netjies is. ʼn Paar van ons kry plastiekstoele om op te wag.

In ʼn hoek sit die vrouekonstabel van vroeër ʼn vorm en invul. Dis al vyf oor ses toe sy opkyk en my in die ry sien. Kom, wink sy my ongemerk na ʼn oop toonbank toe. “We both have children we need to go to,” sê sy sag. Sy haal my halfvoltooide dossier uit ʼn hopie lêers sonder om te soek daarvoor en vul vinnig die ontbrekende inligting in; sit my bankstate by. “There you go,” sê sy en glimlag. “Ek is jammer jou dag was sleg. You will receive your case number via SMS.”

Sy vat haar handsak; dis verby huistoegaantyd. Haar uniform is nog sonder ʼn kreukel en haar ken is trots gelig, al is haar oë moeg.

Ek kry laataand die saaknommer en die naam van die konstabel wat glo die saak sal ondersoek. Die volgende oggend stuur ek alles na die bank se bedrogafdeling toe. Die diens is professioneel; ek word deurlopend op hoogte gehou van hoe hulle met die ondersoek vorder. Tussenin bel my eie bankier een of twee keer ʼn dag om seker te maak ek is tevrede met die diens en terugvoer wat ek kry. Presies wat ʼn mens van ʼn eerstewêreldland-bank verwag.

Maar dis die vrouekonstabel met die netjiese baadjie wat my bybly. Ek het haar van vergeet, want ek het nog nooit tyd gemaak om haar taal onder die knie te probeer kry nie.

Op dieselfde dag laat weet ʼn kollega in die Kaap daar was ʼn inbraak in haar woonstel terwyl sy by ons in Gauteng was vir ʼn vergadering.

“Hulle het my MacBook en my wyn gesteel,” sê sy ontstoke. “En nie sommer enige wyn nie – net my duur, onvervangbare versamelaarswyn.”

Dis net Kaapse diewe wat weet watter wyn om te steel, dink ek, maar ek bêre die grappie vir later.

ʼn Dag propvol ironie; Suid-Afrika op sy beste.

Groetnis
Susan Lombaard
Redakteur: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Kobus ·

Februarie vanjaar het iemand my kredietkaart se inligting gesteel en binne ‘n paar dae drie transaksies gedoen, internet aankope, van oorsee gedoen. In totaal so R30,000-00. Ek het ABSA die Sondagoggend gekontak na ek ‘n sms van hulle ontvang het. Hulle het ‘n vorm aan my ge-e-pos en die bedrog saak was binne ‘n week opgelos. Hulle kon die mense opspoor. Junie maand vanjaar gebeur toe dieselfde met my vrou se kredietkaart, en weer was ons baie vinnig reggehelp.

NIel ·

Totdat jy jouself indie buiteland bevind en vandaar af met die banke moet onderhandel. Terwyl ek van die aanlyn bankdienste gebruik gemaak het, het ek elke keer waanneer ek aangeteken het ‘n kennisgewing gekry dat ek my rekening moet laat FICA of RICA. Bel toe die perde daar by die bank, “Nee mnr, jy kan dit nie aanlyn of oor die foon doen nie, jy moet ingaan na jou naaste tak.” Die terugvoering was ‘n ge-uhm ah toe ek vir die person vra of hulle bereid is om my vlugkartjie te dek, want my naaste tak is amper 10,000km van my af.

Met ons volgende besoek aan SA gaan ek toe by die betrokke bank se tak in die Langeberg Winkelsentrum tussen Hartenbos en Mosselbaai. Daar word ek vertel dat die tak tans nie aanlyn is nie en hulle dus nie my op daai stadium sou kom help met die FICA of RICA nie. Beveel toe ek gaan na die Hartenbos tak toe. Daar aangekom moes ek hoor die kopieer/skandeer masjien is buite werking en hulle wag op ‘n tegnikus om dit te herstel. Weereens sorry meneer. Het teen einde laas wel ‘n tak in die Kaap gevind wat kon help, maar Susan, selfs as dit by die banke kom weet ek nie altyd so mooi of dit 1ste wereld standard is nie.

Wat-ek-lees ·

Wanneer dinge so skeef loop noem ek dit ‘n normale dag. ‘n Abnormale dag sal dus die teenoorgestelde wees. Susan, vergun my om te sê dat die fotograaf ‘n opvallend mooi foto geneem het.

Willie ·

Lekkerlees artikel waarmee ek my heeltemal kan vereenselwig….

Kobus ·

Gaan lees van die kommentare onder “Inkleur help vir die seer”, waarom word daar nie gereguleer soos ‘n Sosialistiese regering nie? Maar op ander plekke is julle so sensitief en wil julle almal dieselfde laat dink.

Jeanine Niemand ·

Ek kan nie glo waardeur mens alles moet gaan vir opregte, flink diens nie. Daar bestaan nie so iets nie. Dit deur skelms se bedrog

Dis hoe dit gaan. ·

Banke probeer hard om 1ste wêreld te wees..
By ABSA reël ek alles, ALLES vir ń kuier in Europa. Na die eerste transksie, weier my kaart om enige transakie deur te sit. Ek probeer bel maar kom nie deur na ABSA nie. Nou wat nou? Ek kan nie eers koffie koop nie want ek kan ook nie. In ń vreemde land sonder geld……Dankie tog my seun en dogter was saam. Ek halfveer sy “spentgeld”. ABSA het geen verduideliking nie.

Petro Bezuidenhout ·

‘n Puik relaas van ‘n onsmaaklike,skokkende ervaring in ons mooie land waar die tekens van die Lente al sigbaar raak.Hoe het jy agtergekom dat jy bedrieg is as die lummels hulle spore so doodgevee het?Aan die saldo op jou bankkaart?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.