Redakteursbrief: ʼn Handgeskrewe briefie van oom Gideon

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media Foto: Noeleen Foster

Ek ontvang onlangs ʼn handgeskrewe briefie in die pos.

Jare gelede, as ʼn jong joernalis by die Taalgenoot, kry ek die geleentheid om vir twee weke van Johannesburg af eers op tot in Kleinzee doer in die Namakwalandse Diamantkus te ry, en van daar af al teen die kus af tot in die Kaap. Sover ek ry, stop ek, neem foto’s, snuffel interessante stories oor mense en plekke uit en slaap waar ek slaapplek kry. ʼn Destydse kollega by die ATKV het my vooraf beduie hoe ek moet ry om by oom Gideon Kotzé se plaas buite Kamieskroon uit te kom. Glo ʼn interessante oom vol stories, het sy gesê, en ek onderneem om daar ʼn draai te maak as die tyd dit toelaat.

Tyd in Namakwaland is daar toe meer as genoeg, en eendag bevind ek my buite Kamieskroon, op die pad waar mens afdraai na oom Gideon se plaas toe, by Dwarsrivier. En daar is die plaaspad-afdraai toe sowaar. Ek het nie ʼn afspraak nie, maar ek het tyd. Só besluit ek om in te draai en te gaan kennis maak. Al met die grondpad langs ry ek, deur ongerepte natuurskoon, tot ek met my gehuurde motortjie op die plaaswerf stilhou.

Ek sit nog en rondkyk en wonder of ek nie maar liewer weer moet ry nie, toe ʼn groot, lang oom van ʼn kampie met perde af aangestap kom. Ek klim uit, stel myself voor en beduie met ʼn oorvloed woorde hoekom ek daar is, en vra sommer om verskoning dat ek so ongenooid daar opdaag. Deur my woordevloed heen kyk die oom my só, met die rustigheid van Namakwaland in sy oë. Toe ek klaar gebabbel het, steek hy sy groot hand uit, gee my ʼn stewige handdruk, en sê bedaard: “Nou maar kom in, dan maak die tannie vir ons koffie.”

Ons kuier die res van die dag en sommer die volgende dag ook. Oom Gideon wys my die leerwerk wat hy met die hand doen en vertel my van die perde waarmee hy teel. Die tannie nooi ons later tafel toe, vra verskoning dat sy nie tyd gehad het om “groot te kook” nie, en sit vir ons ʼn ete van skaapvleis, aartappels, rys, groenboontjies en soetpatats voor. Ná ete vat die oom en tannie my met die bakkie in die veld in. Ons klim uit tussen die blommetjies; soos ons stap, pluk die tannie bosse blomme en beduie vir my watter plante goed is vir ʼn toe bors, om ʼn seerplek beter te maak en om saam met tee te trek vir ʼn lekker warm drinkdingetjie.

Seker tien jaar later lui my foon eendag by die werk. Ek herken dadelik oom Gideon se diep, rustige stem. Hy het deur ʼn ou fotoalbum geblaai en afgekom op ʼn foto wat ek van hom tussen die Namakwalandse daisies geneem het, sê hy. Agterop was my naam en nommer, toe dog hy hy vat ʼn kans en bel my. My hart bokspring van lekkerte om weer van hom te hoor.

En toe nou, anderdag, kry ek weer so ʼn oproep van oom Gideon. Hy en die tannie het intussen in ʼn ouetehuis in Caledon ingetrek, vertel hy my. En hy het weer op die foto met my naam en nommer afgekom. Maar hy soek my adres, want hy wil ʼn briefie stuur.

ʼn Paar weke later kry ek die brief in die pos. Hy skryf moeilik, want die rumatiek het sy hande sleg bewerk, skryf hy. Ek dink aan hoe vlytig hy met die naald en die leer gewerk het. Saam in die koevert is die foto van hom wat ek geneem het, en ʼn eksemplaar van die NG Gemeente Kamieskroon se kerkblaadjie, Koninkrykserfenis, met ʼn storie oor oom Gideon, ʼn foto wat ek destyds daar geneem het, en hoe ons paaie gekruis het.

My hart is week oor dié handgeskrewe briefie. Dis al die vierde April vanjaar gestuur, maar sedertdien lê dit hier op my tafel, langs my rekenaarskerm, waar ek dit elke dag kan sien. Nou en dan lees ek dit weer. Ek weet nie of oom Gideon weet wat dit vir my hart beteken het dat hy, met sy rumatiek-skryfhand, vir my ʼn briefie geskryf het nie. Ek, wat net e-posse en SMS’e kry.

Ná ʼn jaar vol suksesse, hoogtepunte, rekords en vreugdes by Maroela Media is daar so baie om te vertel, om mee te spog, en om oor dankbaar te wees. Hier is groot Genade vir ons spannetjie by Maroela, dit is so. Maar die dinge wat ons regtig behoort te vier, is die klein dingetjies wat ons vir ander doen, en wat ander vir ons doen, want dis wat werklik ʼn verskil maak: Die handgeskrewe briefies; die SMS-boodskappe om op te volg ná ons ʼn hartseer storie gedoen het; die oproepe om dankie te sê vir hoe ʼn sensitiewe storie hanteer is; die koppies rooibostee wat ʼn kollega aandra. Só kan ons werklik vir mekaar lig wees, maak nie saak hoe donker dit om ons is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

dr Sakkie van der Merwe ·

Dankie Susan, so mooi. Groete uit Namakwaland.

Marie Engelbrecht ·

Sulke stories maak my hart week!! Dankie Susan!

Annette Meyer ·

Hallo Susan

Ek geniet Maroela Media hier in Auckland, en se dankie vir al die interessante artikels en stories, soos oor Oom Gideon, en sy kosbare briefie. Wil net se, ek hoop Oom Gideon gaan binnekort ‘n handgeskrewe briefie van jou af kry, want hy wag sekerlik al lank daarvoor. Dink net wat dit vir hom sal beteken!

Groete
Annette Meyer

Mariana ·

Hallo Susan
Dankie vir n goeie storie, dankie vir maroela media

groete

Dirk Coetzee ·

Die “onderwerp” van hierdie redakteursbrief is op Saterdag 9 September oorlede. Die gemeenteblad van Kamieskroon, Koninkrykserfenis, het op 8 Oktober o.a. soos volg berig: “Op Saterdag 9 September is ‘n groot kokerboom van Kamieskroon na hoër berge verskuif, toe Gideon Kotze van Heidehof-tehuis vir bejaardes op Caledon skielik oorlede is.”

Susan Lombaard ·

Beste Dirk, baie dankie dat jy laat weet het. My hart is seer vanaand; veral vir oom Gideon se geliefdes wat so ‘n besonderse mens verloor het. Baie sterkte vir julle.

Johan Oosthuizen ·

Ek sit hier by die kinders in Nederland en terwyl ek lees besluit ek ek gaan vir oom Gideon kuier sodra ons terug is op Riversdal en toe lees ek die hartseernuus dat die ou grote gegroet het om hoër berge toe te gaan. Tans maak ek stories van die ou grotes wat nog kan vertel – en van wie daar vertel word, bymekaar en dis louter vreugde. Baie keer kan jy nie glo wat jy hoor nie en jy sit oopmond en luister. Party het al gegroet maar ander het nog so baie om te vertel.
Susan, dankie dat jy oom Gideon met ons “gedeel” het. Dis so kosbaar!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.