Redakteursbrief: ʼn Lansie te breek vir die voortbestaan van Afrikaanse koerante

susan_lombaard

Susan Lombaard Foto: Burger Meyer, Maroela Media

In ʼn artikel wat gister op Maroela Media verskyn het, verwys Org Potgieter na die dalende sirkulasie van die bekende Afrikaanse dag- en weekblaaie. Die artikel is nie uit nydigheid geskryf nie, maar uit kommer: Die skrywer is self ʼn ou koerantman wat ʼn hart vir die koerantwese het. Hy kon gelukkig, soos baie ander, die oorgang van gedrukte na digitale media maak en vir digitale platforms begin skryf.

Ons sou, as Maroela, ons stem by Org Potgieter se artikel kon voeg:

Ons wat Maroela Media is, wil nie die dag beleef wat Afrikaanse koerante hul deure begin sluit nie. Ons wíl sien dat Afrikaanse koerante bly voortbestaan.

Waarom? ʼn Vinnige meningsopname onder die span (wat amper almal uit ʼn koerant- en tydskrifomgewing kom) het die volgende aan die lig gebring:

  • Dis gesond dat daar kompetisie in die mediabedryf moet wees. Dié kompetisie behoort tussen digitale en gedrukte media ook te wees, nie net tussen onderling tussen verskillende koerante en verskillende digitale platforms nie. Dis gesond, soos kompetisie vir enige bedryf gesond is.
  • Baie mense, veral die ouer garde, verkies nog ʼn koerant. Selfs ek hou nog steeds van die gevoel van ʼn koerant tussen my vingers en die reuk van papier en ink wanneer ʼn mens dit oopvou. Ek moet bieg dat ek jare laas ʼn koerant gekoop het, buiten die Rapport waarvoor my skoonpa anderdag gevra het toe hy in die hospitaal was. Want in my kop het ek, soos baie ander (ouer en jonger) lesers, reeds 100% die skuif gemaak van gedruk na digitaal. Dis ongelukkig ʼn skuif wat nie omgekeer kan word nie.
  • Weens die stadiger pas van ʼn koerant – vandag se nuus word môre of die einde van die week gepubliseer – het joernaliste meer tyd om langer aan stories te werk en meer ondersoekende joernalistiek te doen. Hierdie is ʼn uiters belangrike funksie van die media, wat bloot nie deur digitale platforms so goed vervul kan word soos deur koerante nie. (Ons werk wel hard daaraan om dit op Maroela Media te verbeter, want ons kan nie bloot geneë wees oor dié leemte in ons eie inhoud nie.)
  • Die oomblik as ʼn koerant nie meer gedruk word nie, is daar nóg ʼn stuk Afrikaans wat daarmee heen is.
  • Die fisieke aard van ʼn koerant leen hom tot iets meer en anders as ʼn digitale platform. Elke dag se uitgawe is ʼn opsomming van die vorige dag se nuusagenda. Dis uitgesoek en saamgestel om ʼn spesifiek prentjie van wat in die voorafgaande paar dae gebeur het, te skets. Dis soos ʼn koek waarvan die bestanddele presies afgemeet is om ʼn spesifieke eindresultaat te behaal. Op ʼn digitale platform, waar ons heeldag (en heel nag) publiseer, verander die koek se mengsel elke halfuur, en is daar nooit ʼn eindproduk waarmee ʼn mens in die hand kan staan om ʼn geheelprentjie te kry nie.
  • Elke medium – of dit nou ʼn koerant of ʼn digitale platform is – het ʼn bepaalde invalshoek vir hul beriggewing. Een platform of koerant kan onmoontlik nie alle Afrikaanssprekendes se mening verteenwoordig nie. Hoe meer van ons daar is, hoe beter is die kans dat elke Afrikaanssprekende ʼn leesplek sal kry waar hy of sy tuis is.
  • Gedrukte koerante skep veel meer werksgeleenthede as digitale platforms, weens die infrastruktuur wat nodig is om dit te bedryf. (Daar is wel ook heelwat meer uitgawes, maar dit daar gelaat.) Een kollega vertel: “Daar is ʼn bedelaar wat al lank op die hoek van Olifantstraat en die R21 in Monumentpark staan. Hy het vir lank verslete klere gedra en was baie vuil. Toe, een oggend, staan hy silwerskoon met nuwe klere, besig om koerante te verkoop.”
  • Daar is baie nostalgie aan koerantlees op ʼn Sondagoggend na kerk, of vroegoggend voor werk saam met ʼn beker koffie. Ons pa’s en oupas het dit gedoen (en hopelik die ma’s en oumas ook so nou en dan). Nostalgie is nie bloot emosie nie – dis deel van dit wat ʼn kultuurgroep definieer. Die Rapport op ʼn Sondag, en die Beeld of Burger vroeg soggens, is eie aan wie ons is. Ons kan en wil dit nie verloor nie.
  • Gemeenskapskoerante bedien plaaslike gemeenskappe soos nie dagblaaie óf digitale platforms ooit kan doen nie. Nuus uit die gemeenskap – die kaptein van die eerste rugbyspan se sewe onderskeidings en die damestee se fotogalery – dien ʼn bepaalde doel. Dit skep ʼn eenheidsgevoel in ʼn gemeenskap. ʼn Digitale platform, selfs een wat op dieselfde lesersmark gerig is, sal nie sommer dieselfde regkry nie.
  • En, les bes: Koerante hou ons wat Maroela Media is, op ons tone. Niemand het dit nog hardop gesê nie, maar ons almal weet ons en die koerante se redaksies loer na mekaar se werk as niemand kyk nie, en tref onwillekeurig vergelykings. Soms skop ons ons self oor ʼn goeie storie wat “ons sʼn moes wees”, maar wat Volksblad voor ons neuse weggeraap het. En soms klop ons onsself op die skouer oor ʼn storie wat ons weet al in Beeld se kantore ʼn draai gaan maak het, maar wat eerste op Maroela gepubliseer is. Dis goed so.

Ek is geensins besig om ʼn lansie te breek vir ons lesers om eerder ʼn koerant te koop as om Maroela Media te lees nie – inteendeel. Maar ons besef dat die Afrikaanse koerantwese vir die mediabedryf, en vir Afrikaans, waardevol is. Dit sal ʼn uiters hartseer dag wees as die eerste koerant sy deure moet sluit. Ons sal nie feesvier nie, ons sal saam treur.

Groetnis
Susan Lombaard
Redakteur: Maroela Media

Naskrif: Terwyl ons oor koerante gesels, wil ek graag twee mites wat oor Maroela Media die ronde doen, die nekslag toedien:

  • Eerstens: Ons wat Maroela Media is, beplan nié om ʼn koerant te begin nie. Daar is ʼn lewe ná koerante (al glo baie joernaliste dit nie), en ons is heeltemal gemaklik met ons digitale platform, baie dankie. Dit maak bloot nie sin om van ʼn digitale platform na ʼn gedrukte koerant te beweeg nie – dis ʼn tree terug, nie vorentoe nie, in terme van tegnologiese vooruitgang. As ons sulke praatjies hoor, rol ons ons oë so ʼn bietjie.
  • Tweedens: Ons is nie besig om ons lesers met ʼn slap riem te vang sodat hulle op een of ander manier vir ons inhoud gaan moet begin betaal nie. Ons kry wel heelwat lesers wat vir ons sê hulle wil ons graag finansieel ondersteun, en dus gaan ons wel binnekort vir sulke lesers die besonderhede beskikbaar maak, sou hulle ons wou ondersteun. Dis duur om selfs ʼn digitale platform aan die gang te hou, en enige ondersteuning van dié wat ons waardevol vind, is welkom. Maar ʼn betaalmuur? Beslis nie. Maroela bly so gratis soos koeksisters by jou ouma.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

34 Kommentare

Christo Brits ·

Susan, uitstekend gestel! Hier gaan dit oor Afrikaans en ek is bly dat jy ook so daaroor voel!

Bruno Stef ·

Die probleem met die gedrukte Media is en was altyd dat dit eensydig is en n joernalis sy mening kon gelug het en net persone wat sy denkwyse ondersteun kon kommentaar lewer.Baie goeie teen argumente is eenvoudig net geignoreer en in die snippermandtjie beland maar Maroela laat binne hulle reels en beperkings toe dat n mens jou eie siening met ander kan deel.

Wessel ·

Bruno, as jy eensydige beriggewing wil sien, is jy op die regte plek.

Henry ·

Wessel
Tragies – maar dit is so verskriklik waar wat jy sê.
Wanneer gaan daar eendag ‘n oopkop Afrikaner kuierplek wees waar ons, ons menings kan lug, sonder om aan die vooroordele van enkele siele se benoude lewens- en wêreldbeskouinge onderwerp te word.

Lise ·

As deurwinterde joernaliste nie eers meer die koerant koop nie, dan is koerante se dae inderdaad getel. Vererg ek my sommer aan die stereotipe beeld van net mans wat soggends die koerant sou lees…

Wessel ·

Susan, vertel die lesers asseblief volgende week waarom ‘n vrou se plek in die kombuis is of hoe om die verhoging in besoldiging vir huiswerkers te dodge.

Oom Jaap ·

Ou Wessel
Ek vermoed jy het op die verkeerde plek beland. As ek so na Susan se redakteursbriewe kyk glo ek nie sy gaan jou kan help met die raad waarna jy op soek is nie. Dalk moet jy vir een van die ou Afrikaanse tydskrifte vra of hulle vir jou raad het.
Het jy al vir jou vrou gevra hoekom haar plek in die kombuis is? Dalk kan sy jou antwoord nadat sy vir jou ‘n biertjie en pantoffels aangedra het … of nadat sy jou dalk met ‘n koekroller oor die kop geslaan het oor jou slim, deurdagte kommentaar.
Dalk moet jy volgende keer eers seker maak dat jou kommentaar sin maak voor jy dit oplaai.
Jou alternatief is natuurlik om R99 rand per maand te gaan spandeer op ‘n plek waar mense jou kwinkslae sal waardeer.
Lekker dag ou grote

Wessel Oosthuizen ·

Die negatiewe “Wessel” wat nie sy van wil gee nie, is beslis nie ek nie.

Louis ·

Susan, kom ons wees maar eerlik. Daar is geen rede om na gister se berig ‘n lansie te breek of om verskonend op te tree of het hierdie muntstuk ‘n ander kant waarvan ons nie weet nie.

Ernie Pienaar ·

Hi Susan, Ek het om geen ander rede opgehou Beeld koop agv die swak beriggewing en veral nadat hulle die PuK binnegesluip het en n klomp ‘duimsuig’feite gepubliseer het. Dieselfde ”kenners” word aaneen aangehaal vir hul menings wat maar oor en oor dieselfde storie fluit.
Mens kan aan en aan gaan maar die koerante het hulle selfs te blameer.

Leendert van Oostrum ·

Ek het Beeld ophou koop in 1996 toe Tim du Plessis (destyds adjunk-redakteur) in sy volgehoue pogings om Afrikaners skuldig te verklaar, Auswitch in die vergelyking ingebring het.

Oor die jare het ek stuk-stuk “afskeid” geneem van al Naspes te produkte, sodat ek reeds jarelank geen Afrikaanse koerant meer gelees het teen die tyd dat Maroela Media onder my aandag gekom het nie. Behalwe die plaaslike Caxton-koerantjie wat in my posbus kom.

In plaas daarvan het ek die internetweergawes van Nederlandse, Engelse, Amerikaanse en Duitse koerante gebruik.

PIET DU PLESSIS ·

Sjoe, voor ek die laaste Naskrif-kommentare van Susan gelees het, het ek amper bekommerd begin raak! Wat Susan egter NIE in die lyf van haar atikel genoem het nie, is gedrukte media se nut wanneer dit kom by die skoonmaak van ‘n braairooster of om koppies en glase in toe te draai as jy moet pak om te trek. Verder vind ek haar “argumente” in die hoofberig maar net van nostalgiese waarde. Ek is NIE van die jonger geslag nie, maar vind gedrukte media (en koerante in besonder) as argaïes en ‘n onnodige verwoesting van bome en besoedeling met drukkersink. Nee wat #GedrukteMediaMoetVal !! Groete alom; ek bedoel elke woord. Maroela Media, jy ry die golf van die toekoms… Doen so voort.

Neels Malan ·

Susan, ek hou van jou laaste sin: Maroela bly so gratis soos koeksisters by jou ouma. Mooi!

Faan ·

Baie goed Susan, en geluk aan Maroela wat só vinnig só groot geword het. Verskoon maar diegene wat in elke roostuin net die kompos sien en ruik. Hulle dink seker Maroelabome groei vanself! Dis tyd dat lesers help water lei.

Vra maar net ·

Susan, kan iemand asseblief vir die redakteur van Rapport laat weet dat baie van sy lesers verlore gaan weens die feit dat niemand lus is om berigte te lees wat eerder in die Son tuishoort nie. Een of ander eks-rugbyspeler en die se sangeresvrou se skeisaak is nie nuus nie.

‘n Sondagkoerant is veronderstel om bietjie meer vleis aan die hoofberigte van die week te sit, met sommer baie meer agtergrond as wat anders beskikbaar is deur die week. Ek beskou myself as ‘n reeks-nuusverorberaar, want ek is vrek nuuskierig!

Steve ·

Susan hoop darem iemand het ORG betaal vir die artikel.Nuus is duur.

André Badenhorst ·

Ag nee wat mense. Sulke nydigheid is kleindorpiementaliteit. Bemerk ek professionele jaloesie? Daar ís beslis plek vir gedrukte media, maar óók vir ‘n gratis e-nuusblad in Afrikaans. En gratis is in die idioom van die nuwe ekonomie vir inligting met indirekt bronne van inkomste. Dis ook demokraties d.m.v. vrye menings wat gelug word deur kommentare, al is dit nydig. Dis hoekom ek nie kan verstaan nie hoekom mense betaal vir die alternatief wat afhanklik gebind is deur koöptasie met die establishment en waar vrye menings nie toegelaat word nie.

Shannon ·

Persoonlik dink ek dit is `n goeie ding dat die NASPERS strokies ten minste in gedrukte formaat nou tot `n einde kom.
Hierdie versameling propaganda blaaie het Afrikaans sprekende mense vir etlike dekades lank naïef en onnosel gehou. Die inhoud was bestuur deur die destydse regering en het, nes vandag, alewig `n agenda gehad.

Nooit iemand gevra “waarom lees al meer en meer mense elke jaar eerder Engelse koerante ?” Eerder as om ernstig te kyk na hul jare lange amateuragtige woord gebruik, het die betrokke sg. joernaliste eerder `n politieke vyand blameer – altyd namens die ou Nasionale Party.

Trouens, nie veel het verander nie. Afrikaanse Internet publikasies, gedrukte boeke en TV produksies is nog steeds so kunsmatig en vals dat dit ten minste halfte van alle Afrikaanse mense die horries gee. Veral Afrikaanse musiek is nou nog swakker en vlakker as ooit te vore.
Daar is in my mening nie `n oplewing nie maar eerder `n soort van hartstogtelike delerium. Eerder as om die werklikheid in die oë te kyk en wasdom te bereik, word Afrikaans net nog vlakker en al meer godsdienstig.

Wie weet ! miskien, bietjie vir bietjie, soos wat elke fopspeen by die Afrikaanse gemeenskap afgevat word, sal daar weldra `n soort van diepte en volwassenheid in die Afrikaner karakter ontstaan. Ek dink dit was wat besig was om te gebeur daar in die tyd van die groot skrywers – Marais, van W Louw etc. En selfs later in die 70s het ons nog vir Koos Doep en Four Jacks & a Jill werklike diepte aan die Afrikaanse kuns karakter gegee.

SkarrelKind ·

Hi Shannon, ek het van jou kommentaar gehou. Ek lees ook nuus hier op Maroela maar ek wens daar was soos Henry sê ‘n meer oopkop plek vir Afrikaners. Ek koop soms die Burger hier in die Kaap op ‘n Saterdag vir die By, maar het dit baie, baie lanklaas gedoen. Ek sal Saterdag net om te kyk of dit nog so lekker oggendlees is soos toentertyd – Ha, en of dit nog engisins bestaan?!

Henry ·

Dankie dat jy namens ons ander helfte, ‘n paar raak standpunte stel.

Hoe treurig is dit dat ons in hierdie sogenaamde moderne tye, steeds aan die vlak nuusdekking van die vorige eeu blootgestel word!!!

Duidelik dat Van W Louw, Koos Doep ens steeds stemme roepende in die Afrikaanse woestyn van dwepende en subjektiewe middelmatigheid is.

Koos ·

Mooi gestel Henry. Daar is van ons wat darem ook so nou en dan dink. Objektiwiteit is skaars in hierdie geweste.

Johannes ·

Ek stem koerante is baie belangrik maar ongelukkig is daar ‘n sekere redakteur wat daarop ingestel is om sekere afrikaanse instellings die heeltyd aan te val en te probeeer afbreek en dus is daar mense soos ek wat nie koerante koop nie en ook ander afraai om enige Afrikaans dag blad te koop.Hierdie is ook ‘n belangrike rede vir die afname in sirkulasie.

Zach Coetzee ·

Ek lees soms met huiwering die jubeltone van kommentators wat bly klink oor die potensieele afname van sirkulasie van ‘n (mededingende) Afrikaanse medium en blydskap oor moontlike sluiting daarvan. Dit is vir my duidelik: Enige verlies aan ‘n taalmedium is ‘n verlies vir ons geliefde taal. (al publiseer dit onaangename selfhatende en destruktiewe menings.)

Rudie van den Bosch ·

Ek stem saam met Piet du Plessis dat die gedrukte media uit die oudedoos is. Verder is dit ook voor die hand liggend dat die hoofstroom media tot ‘n groot mate die werktuig van die korporatiewe elites is waarmee hulle instemming vervaardig. (Chomsky se “manufacturing consent”) . Derhalwe is dit nodig om geloofwaardige alternatiewe nuus en menings bronne al hoe meer in te span. Maroelamedia is een so ‘n bron. Ek stem ook saam met Zinn dat daar nie so iets soos onafhanklike objektiewe verslaglewering of geskiedskrywing bestaan nie. Alle bronne moet maar binne konteks van die spesifieke invalshoek van die bron beoordeel word.

Ludwig Visser ·

Ek was veertig jaar lank self in die joernalistiek-stal. Dit was vir my heerlik. My werk was eerder vir my ‘n stokperdjie as ‘n werk, want ek kon elke dag my beste Afrikaans gebruik, en ons was gereeld deur slimmer mense as ons op ons foute gewys. Daarna moes ons dit korrigeer. En in die proses het ons geleer en net nog liewer geword vir ons taal. Ek stem saam met kritici hierbo oor party redakteurs en party “Afrikaanse” uitgawes van vandag wat ‘n soort skollietaal besig wat ‘n mens hartseer maak en dan voorgee dat hulle Afrikaanse puiblikasies is. Gelukkig is my moedertaal gróter as dit alles, hy is gróter as die Stellenbosse professore wat hom nou daar probeer smoor, hy is gróter as almal wat hom as ‘n apartheidstaal kritiseer – dis natuurlik die grootste onsin onder die son – hy is gróter as al die taalonderdrukkers se vermeende krag om hom by tekom. Afrikaans sál bo utfkom, hy sál ons moedertaal bly, ons wat hom gebruik, sál hom reg gebruik en nie gedurig met Engels vermeng nie, en ons sál ons kinders vermaan as hulle die dag so “cool” raak en so “shame” oor alles en al daardie ongedurighede. Afrikaans bo! Tot in die verste vertes van die toekoms! En dankie Susan. Amper sê ek jy is my “hero”!

Anna ·

Sê ek ook Ludwig Visser; En ek wil graag bysê dat ons moet dalk begin konsentreer op die elke-dag-opbou-en-trots-wees op Afrikaans, ons moedertaal, in plaas van bekommerd wees oor sogenaamde “vervolging”. Afrikaans is soveel meer as net die woorde van ‘n taal; dis ‘n lewenswyse.

Thomas van Dalen ·

Maroela is die beste plek om die nuutste nuus vars en objektief te kry. Ek het lankal reeds opgehou om koerante te lees, want die meeste dagblaaie is propagandistiese gemors, of ‘n forum waar die redakteur probeer uiting gee aan sy eensydige politieke siening of aspirasies. Dit verras my glad nie dat Maroela se lesertal so hand oor hand vermeerder nie. Doen so voort

Dirk Venter ·

Die peiling rakende die formaat wat gelees word kan nie akkuraat wees nie. Slegs Maroela-lesers neem daaraan deel. Die meeste mense wat koerante koop sal waarskynlik nie Maroela ook lees nie. Ek vrek oor koerante. Wanneer ek reis, sal ek spesiaal koffie by ‘n restaurant gaan drink net om koerant te lees. Ek waardeer die uitleg op papier. Tuis kry ek my koerant vroeg en neem dit dan later vir my bejaarde ouers wat nie lus is vir rekenaars nie. Ek lees dikwels e-nuus, soos Maroela, maar vang my dat ek net opskrifte lees, eerder as volledige artikels, soos wanneer ek koerant lees.
Vir my is dit nie die een of die ander nie. Ek persoonlik verkies gedrukte media, maar waardeer terselfdertyd dat e-nuus groei. Dit hoef mos nie die een of die ander te wees nie. Ek hoop dat albei vorms groei en nog vir baie jare voortbestaan.

Suné van Heerden ·

Dagsê Dirk

Dankie vir jou kommentaar. Dit is juis omdat ons glo dat daar ‘n groot deel van Maroela-lesers is wat ook voel “dit is nie die een of die ander nie”. Ons wil graag juis onders ons lesers sien of hulle nog steeds ‘n gedrukte koerant ook verkies.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.