Redakteursbrief: ʼn Lansie te breek vir die voortbestaan van Afrikaanse koerante

susan_lombaard

Susan Lombaard Foto: Burger Meyer, Maroela Media

In ʼn artikel wat gister op Maroela Media verskyn het, verwys Org Potgieter na die dalende sirkulasie van die bekende Afrikaanse dag- en weekblaaie. Die artikel is nie uit nydigheid geskryf nie, maar uit kommer: Die skrywer is self ʼn ou koerantman wat ʼn hart vir die koerantwese het. Hy kon gelukkig, soos baie ander, die oorgang van gedrukte na digitale media maak en vir digitale platforms begin skryf.

Ons sou, as Maroela, ons stem by Org Potgieter se artikel kon voeg:

Ons wat Maroela Media is, wil nie die dag beleef wat Afrikaanse koerante hul deure begin sluit nie. Ons wíl sien dat Afrikaanse koerante bly voortbestaan.

Waarom? ʼn Vinnige meningsopname onder die span (wat amper almal uit ʼn koerant- en tydskrifomgewing kom) het die volgende aan die lig gebring:

  • Dis gesond dat daar kompetisie in die mediabedryf moet wees. Dié kompetisie behoort tussen digitale en gedrukte media ook te wees, nie net tussen onderling tussen verskillende koerante en verskillende digitale platforms nie. Dis gesond, soos kompetisie vir enige bedryf gesond is.
  • Baie mense, veral die ouer garde, verkies nog ʼn koerant. Selfs ek hou nog steeds van die gevoel van ʼn koerant tussen my vingers en die reuk van papier en ink wanneer ʼn mens dit oopvou. Ek moet bieg dat ek jare laas ʼn koerant gekoop het, buiten die Rapport waarvoor my skoonpa anderdag gevra het toe hy in die hospitaal was. Want in my kop het ek, soos baie ander (ouer en jonger) lesers, reeds 100% die skuif gemaak van gedruk na digitaal. Dis ongelukkig ʼn skuif wat nie omgekeer kan word nie.
  • Weens die stadiger pas van ʼn koerant – vandag se nuus word môre of die einde van die week gepubliseer – het joernaliste meer tyd om langer aan stories te werk en meer ondersoekende joernalistiek te doen. Hierdie is ʼn uiters belangrike funksie van die media, wat bloot nie deur digitale platforms so goed vervul kan word soos deur koerante nie. (Ons werk wel hard daaraan om dit op Maroela Media te verbeter, want ons kan nie bloot geneë wees oor dié leemte in ons eie inhoud nie.)
  • Die oomblik as ʼn koerant nie meer gedruk word nie, is daar nóg ʼn stuk Afrikaans wat daarmee heen is.
  • Die fisieke aard van ʼn koerant leen hom tot iets meer en anders as ʼn digitale platform. Elke dag se uitgawe is ʼn opsomming van die vorige dag se nuusagenda. Dis uitgesoek en saamgestel om ʼn spesifiek prentjie van wat in die voorafgaande paar dae gebeur het, te skets. Dis soos ʼn koek waarvan die bestanddele presies afgemeet is om ʼn spesifieke eindresultaat te behaal. Op ʼn digitale platform, waar ons heeldag (en heel nag) publiseer, verander die koek se mengsel elke halfuur, en is daar nooit ʼn eindproduk waarmee ʼn mens in die hand kan staan om ʼn geheelprentjie te kry nie.
  • Elke medium – of dit nou ʼn koerant of ʼn digitale platform is – het ʼn bepaalde invalshoek vir hul beriggewing. Een platform of koerant kan onmoontlik nie alle Afrikaanssprekendes se mening verteenwoordig nie. Hoe meer van ons daar is, hoe beter is die kans dat elke Afrikaanssprekende ʼn leesplek sal kry waar hy of sy tuis is.
  • Gedrukte koerante skep veel meer werksgeleenthede as digitale platforms, weens die infrastruktuur wat nodig is om dit te bedryf. (Daar is wel ook heelwat meer uitgawes, maar dit daar gelaat.) Een kollega vertel: “Daar is ʼn bedelaar wat al lank op die hoek van Olifantstraat en die R21 in Monumentpark staan. Hy het vir lank verslete klere gedra en was baie vuil. Toe, een oggend, staan hy silwerskoon met nuwe klere, besig om koerante te verkoop.”
  • Daar is baie nostalgie aan koerantlees op ʼn Sondagoggend na kerk, of vroegoggend voor werk saam met ʼn beker koffie. Ons pa’s en oupas het dit gedoen (en hopelik die ma’s en oumas ook so nou en dan). Nostalgie is nie bloot emosie nie – dis deel van dit wat ʼn kultuurgroep definieer. Die Rapport op ʼn Sondag, en die Beeld of Burger vroeg soggens, is eie aan wie ons is. Ons kan en wil dit nie verloor nie.
  • Gemeenskapskoerante bedien plaaslike gemeenskappe soos nie dagblaaie óf digitale platforms ooit kan doen nie. Nuus uit die gemeenskap – die kaptein van die eerste rugbyspan se sewe onderskeidings en die damestee se fotogalery – dien ʼn bepaalde doel. Dit skep ʼn eenheidsgevoel in ʼn gemeenskap. ʼn Digitale platform, selfs een wat op dieselfde lesersmark gerig is, sal nie sommer dieselfde regkry nie.
  • En, les bes: Koerante hou ons wat Maroela Media is, op ons tone. Niemand het dit nog hardop gesê nie, maar ons almal weet ons en die koerante se redaksies loer na mekaar se werk as niemand kyk nie, en tref onwillekeurig vergelykings. Soms skop ons ons self oor ʼn goeie storie wat “ons sʼn moes wees”, maar wat Volksblad voor ons neuse weggeraap het. En soms klop ons onsself op die skouer oor ʼn storie wat ons weet al in Beeld se kantore ʼn draai gaan maak het, maar wat eerste op Maroela gepubliseer is. Dis goed so.

Ek is geensins besig om ʼn lansie te breek vir ons lesers om eerder ʼn koerant te koop as om Maroela Media te lees nie – inteendeel. Maar ons besef dat die Afrikaanse koerantwese vir die mediabedryf, en vir Afrikaans, waardevol is. Dit sal ʼn uiters hartseer dag wees as die eerste koerant sy deure moet sluit. Ons sal nie feesvier nie, ons sal saam treur.

Groetnis
Susan Lombaard
Redakteur: Maroela Media

Naskrif: Terwyl ons oor koerante gesels, wil ek graag twee mites wat oor Maroela Media die ronde doen, die nekslag toedien:

  • Eerstens: Ons wat Maroela Media is, beplan nié om ʼn koerant te begin nie. Daar is ʼn lewe ná koerante (al glo baie joernaliste dit nie), en ons is heeltemal gemaklik met ons digitale platform, baie dankie. Dit maak bloot nie sin om van ʼn digitale platform na ʼn gedrukte koerant te beweeg nie – dis ʼn tree terug, nie vorentoe nie, in terme van tegnologiese vooruitgang. As ons sulke praatjies hoor, rol ons ons oë so ʼn bietjie.
  • Tweedens: Ons is nie besig om ons lesers met ʼn slap riem te vang sodat hulle op een of ander manier vir ons inhoud gaan moet begin betaal nie. Ons kry wel heelwat lesers wat vir ons sê hulle wil ons graag finansieel ondersteun, en dus gaan ons wel binnekort vir sulke lesers die besonderhede beskikbaar maak, sou hulle ons wou ondersteun. Dis duur om selfs ʼn digitale platform aan die gang te hou, en enige ondersteuning van dié wat ons waardevol vind, is welkom. Maar ʼn betaalmuur? Beslis nie. Maroela bly so gratis soos koeksisters by jou ouma.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

34 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johan van Wyk

Hoe vroom Susan…

Christo Brits

Susan, uitstekend gestel! Hier gaan dit oor Afrikaans en ek is bly dat jy ook so daaroor voel!

Bruno Stef

Die probleem met die gedrukte Media is en was altyd dat dit eensydig is en n joernalis sy mening kon gelug het en net persone wat sy denkwyse ondersteun kon kommentaar lewer.Baie goeie teen argumente is eenvoudig net geignoreer en in die snippermandtjie beland maar Maroela laat binne hulle reels en beperkings toe dat n mens jou eie siening met ander kan deel.

Lise

As deurwinterde joernaliste nie eers meer die koerant koop nie, dan is koerante se dae inderdaad getel. Vererg ek my sommer aan die stereotipe beeld van net mans wat soggends die koerant sou lees…

Wessel

Susan, vertel die lesers asseblief volgende week waarom ‘n vrou se plek in die kombuis is of hoe om die verhoging in besoldiging vir huiswerkers te dodge.