Redakteursbrief: ‘n Mens agter elke CV

susan_lombaard

Susan Lombaard Foto: Burger Meyer, Maroela Media

Daar beland soms vreemde CV’s op my tafel.

Ek is uit die staanspoor ʼn bietjie krapperig as die aansoeker ʼn foto van hom- of haarself op die voorkant van sy of haar CV aanbring. Asof sy reken die foto van haar in haar baaikostuum met die wind wat speels aan haar poniestert pluk gaan die besluitnemer beïndruk. Of die siggaarrook wat hy peinsend op die foto boontoe laat dwarrel, gaan mens laat dink hy is slim.

Dan is daar dié wat glo in die wonderlike detail van die skoolloopbaan. Die trompoppie-kompetisies, kunswedstryde, krieketkursusse, tikmarathons, gewigstoot-rekords en dergelike skoolprestasies wat om een of ander rede vir die aansoeker belangrik gevoel het toe hy sy CV opgestel het.

Net soos sommige aansoekers hul CV opstop met allerlei onnodige detail, is daar dié wat so skraps met inligting omgaan dat jy dadelik vermoed hulle steek ʼn kriminele rekord weg. Nie eers ʼn ID-nommer wat sy ouderdom verraai of ʼn kort beskrywing van sy mees onlangse verantwoordelikhede vertel jou meer oor dié kandidaat nie.

Die kersie op die koek is seker die aansoekers wie se ma’s namens hulle aansoek doen. Jy sal nie glo hoe gereeld kry ek ʼn e-pos van ʼn ma wat haar bloedjie uithelp deur namens hom of haar die aansoekproses te hanteer nie; nou en dan selfs ʼn foonoproep van ʼn trotse moeder wat haar briljante spruit aan ons wil verkwansel.

Só beland daar hierdie week uit die bloute ʼn CV op my tafel. Op bladsy 1 is ʼn foto van die aansoeker. Anderkant middeljarig, ken in die hand gestut en moedeloosheid oor sy gesig geskryf. Hy reken seker dis hoe ʼn joernalis op ʼn foto behoort te lyk, dink ek dadelik. So ʼn bietjie verveeld met die lewe.

Effens geïrriteerd omdat ek nie weet wat ek veronderstel is om met die CV te doen nie, doen ek navraag by kollegas.

Hy het by ontvangs opgedaag, rugsak op die rug met al sy aardse besittings skynbaar daarin, vertel Estelle van Eeden, ons adminbeampte en linker- en regterhand. Hy het in die straat verbygestap en die naam “Maroela Media” op die gebou gesien; toe dink hy hy vat ʼn kans. Sy CV was by hom op ʼn geheuestokkie en engel Estelle het hom gehelp om ʼn kopie uit te druk. Hy is ʼn oudjoernalis met ʼn stewige klompie ondervinding, te oordeel aan die inligting op sy CV.

Sy lippe was gebars van die son, vertel sy; hy het ʼn goeie 400 km geryloop om te kom soek vir werksgeleenthede in Gauteng. Hy was desperaat, moeg en honger, en uit planne uit.

“En wat maak jy toe?” vra ek haar.

“Toe gaan koop ek vir hom ʼn toebroodjie.”

Dit laat my onthou van die dag toe Estelle se eie CV oor my tafel gekom het. Tussen die reëls het ons iets raakgelees wat sy nie vertel het nie – iets van ʼn hart vir mense, ʼn diensbare gesindheid en ʼn begrip vir die dinge waaroor die lewe regtig gaan. Soos toebroodjies as mens honger is.

Vandag groet ons dié vrou wat die hele Maroela-span se harte met haar stil manier kom aanraak het. Die enetjie wie se flenters geleesde Bybel elke dag langs haar skootrekenaar gelê het, en wat gesorg het dat die filterkoffiebestelling nooit laat afgelewer word nie. Die een wat ons gewys het daar is ʼn mens agter elke CV.

Een van die dae hak Estelle en haar verloofde, Jonathan, die knoop deur, en maak hulle ʼn nuwe begin iewers by die see.

Vir die dinge wat Estelle ons kom leer het, is ek dankbaar.

Groetnis
Susan Lombaard
Redakteur: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Anell de Beer ·

Susan, die stukkie was nou regtig vir my lekker om te lees – ek het myself so ingeleef, en oor ek ook so klein bietjie met Estelle te doen gekry het, kon ek sommer sien hoe wandel sy af na die kaffeteria en gee beleefd ‘n broodjie.

Groot was my verbasing toe ek lees dat sy ook nou begin hou van knope en skielik dit wil begin deurhaak – ‘n stokperdjie wat nog nie vir my beskore is nie.

Estelle ek wens jou alles van die beste toe :-)

Henry ·

Is sommige van die CV’s soms ook vergesel van ‘n foto met ‘n tikmasjien en boekrak in die agtergrond?

Petrus Potgieter ·

Beste Susan Lombaard

Ek het ook lekker gelees aan jou redakteursbrief en wil net seker maak dat ek dit reg verstaan dat Estelle se verloofde die ou is vir wie sy die toebroodjie gaan koop het…
(Terloops: “die knoop deurhak” – met een “a” soos in “deurkap”.)

Groete

Petrus Potgieter

Susan Lombaard ·

Dagsê Petrus! Nee, ek is jammer as dit nie duidelik oorgekom het nie! Die man vir wie Estelle die toebroodjie gaan koop het, is weer vort met sy lewe op sy rug. Estelle en haar verloofde, Jonathan, ken mekaar al heelwat langer en het Desember verloof geraak. Jy is reg oor “knoop deurhak” – dankie, ons stel dit reg! Groetnis, Susa

Carel-J Rischmuller ·

Susan. Jy mag maar skryf. Groete van die see af. carel-j

Annelize Niemand ·

Susan in vandag se lewe wil ek graag by jou hoor hoe moet mens dit hanteer om ‘n CV op jou tafel te kry sonder dat ‘n ma of ouma of sussie dit dalk aangestuur het per faks of e_mail.
Die persoon wat werk soek (wat wil werk) het geen geld op sy naam ,geen blyplek van sy eie, geen vervoer agv motor wat gebreek het, geen kos, geen lugtyd om ‘n oproep te maak hoe verwag jy dat so ‘n persoon dan self sy CV op ju tafel moet kry. ( of waar ookal die pos beskikbaar is)
Ek dink al die punte wat ek navraag oor doen moet asb dalk net in ag geneem word hoekom ‘n moeder vir haar kind ‘n CV aanstuur.

Dankie

Annelize Niemand

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.