Redakteursbrief: ʼn Moedersdagbriefie aan my ma wat vergeet het

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media (Foto: Simoné Steyn-Venter)

Liewe Ma

Ek wou ma bel vandag, want ek het nodig om by my ma te huil, soos mens maar doen. Die wêreld is op sy kop en ek weet lekker huil by mens se ma maak alles beter.

Maar ek kan nie, want ma het vergeet.

Paasfees het ma vir almal wie se name ma kon onthou, geseënde Kersfees-boodskappies gestuur. Ma het my drie keer gebel om te vra by wie se huis ons nou weer Kersfees gaan hou. Nou die dag kon ma vir die eerste keer nie ma se enigste kleindogter se naam onthou nie. Gelukkig onthou ma nie dat ma vergeet nie. Dis ʼn skrale troos, maar dit maak dit ʼn bietjie makliker vir ons almal.

Partykeer wil ek ma bel om te vra vir ma se bobotieresep. Of hoe ma altyd ma se krismisrose so mooi laat blom het. Of wat die geheime bestanddeel in ma se tuisgemaakte gemmerbier is.

Maar ek kan nie, want ma het vergeet.

Toe Isabel anderdag haar perd gekry het waarvoor sy al jare wag, wou ek ma bel om die oomblik met ma te deel. En toe Josua gekies is vir die hoofrol in sy skool se toneelstuk, wou ek ma vertel. Ek wou ma vertel toe een van my gedigte nou die dag in ʼn digbundel opgeneem is en van Johan wat ʼn ander bakkie gekoop het.

Maar ek kan nie, want ma het vergeet.

Ek kyk na foto’s van ma in die hospitaal, jare gelede, toe Josua opgeneem is met die een of ander gogga. Toe was ma se kop nog helder. Op die foto lê die klein seunslyfie warm teen sy ouma se lyf. Ma se hand is beskermend om sy koppie gevou; ma se oë biddend toe. Ma was altyd die een wat ek gebel het as ʼn kind siek is en ek nie verlof kon neem nie, of as ons net iemand nodig het om ons langs ʼn hospitaalbed af te los.

Op ʼn ander foto sit ma saam met Isabel op haar lawwe pienk dogtertjiebed, tien jaar gelede, en lees saam met haar Babalela. Ma se hare nog swart en blink.

Laas week weer het ek gewens ma kan ʼn bietjie langs Josua se bed sit en sommer weer vir hom sing of ʼn storie lees terwyl hy siek was.

Maar ek kan nie, want ma het vergeet.

Kom kyk hoe mooi is my tuin, wil ek nooi. Kyk die lawwe ongenooide tamaties wat die roostuin vol rank en die grenadilla wat  vanjaar vir die eerste keer vrugte dra. Kyk hoe maak die magnoliaboom knoppe – een van die dae is hy vol in die blom. Ruik hoe lekker ruik die katjiepierings voor die studeerkamervenster. Kyk, die lemoene hang swaar aan die lemoenboom. Die Oom Sarel-perskeboompie wat pa vir my vir my verjaardag gegee het, staan al sterk, en die hibiskus by die voordeur hou aan blom. Dit alles wil ek vir ma wys dat ons saam kan bly wees daaroor.

Maar ek kan nie, want ma het vergeet.

Ek wil raad vra oor my twee tieners wat soms in hulle eie wêreld wegkruip en my uitsluit. Ek wil weet wat die geheime van ʼn huwelik van vyftig jaar is. Ek wil uitvra oor die hoop en geloof en blymoedigheid waarvoor mense so lief was vir ma, al die jare, ten spyte van moeilike omstandighede. Ek wil hoor hoe ʼn werkende ma al die balle in die lug hou soos ma dit al die jare gedoen het. Ek wil verstaan hoe ma se geloof, ten spyte van alles, nooit vir een dag gewankel het nie.

Maar ek kan nie, want ma het vergeet.

Ek onthou hoe ons altyd, toe ons klein was, langs ma by die klavier gestaan het en liedjies uit die FAK-sangbundel gesing het, uit volle bors, terwyl ma ons behendig begelei soos net ʼn oud-musiekjuffrou kan. En dan sou ma omblaai en vir my en Mias sê: “Hierdie een sing ek alleen.” Dan sing ma, alleen, met toe oë, terwyl ons verwonderd luister na ma se mooi stem met die effense vibrato:

Die dierbare moeder van my
Is dierbaar, en sal altyd bly
Daar’s geen een in die wêreld so bemind en geseën
Trots bly ek op haar gesteun…

Die dierbare moeder van my
Is dierbaar, en sal altyd bly
Ek sal die Here dank
My hele lewe lank
Vir die dierbare moeder van my

Nou die dag het ma weer probeer klavier speel – ons moedig ma aan, want hulle sê dit help om dementia se vordering te vertraag, al noem ons nie die siekte by sy naam as ma by is nie. Maar na ʼn rukkie se probeer het ma die musiekboek vir oulaas toegemaak en vir my ʼn boodskap gestuur: “Ek kan nie meer die note onthou nie.”

Op Moedersdag gaan ons seker saam uit mooi koppies tee drink en koek eet in die son by die agterdeur. Ek sal bly wees dat ma hier is terwyl ek verlang na my ma wat nie meer hier is nie. Die knop moet maar in my keel bly sit tot hy vanself weggaan, want hierdie huil kan net by ʼn mens se ma gehuil word.

Ek wens ma kon net nog een dag weer onthou.

Baie liefde, en geseënde Moedersdag.
Susan

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Nommer 7 ·

As ons almal gelukkig is, sal ons ook oud word. As ons almal nog meer gelukkig is, sal ons skielik heengaan.

neegoed ·

Hoe trek my keel nou toe. My oe brand sommer. Ek verstaan jou seer. My Moedertjie en jou Moedertjie voeltjies van eenerse vere. Ek is bevoorreg dat my Moedertjie in ‘n woonstelletjie op ons kleinhoewe bly saam my Pa. Ek kan haar so gereeld sien as wat ek wil. Maar dis te seer om so gereeld in te loer. Ons gaan ook Sondag in die son tee drink uit haar gunsteling koppies, koek eet dat ons hik en sommer net handjies vas hou en stil voor ons uitstaar. Ek weet sy gaan kort kort met die wysvingertjie beduie en praat oor die tuin, wat ons nou saam vir hulle oor begin. Ouma is die voorman en ek en my dogter plant en maak mooi. Die plante van jare op die plaas wat ek uit gegrou en saam getrek het. Al haar mooi moois wat oral rondstaan word bewonder. Haar ogies dof en stemmetjie sag as sy praat van my 4 boeties wat afgesterf het. So broos as wat sy is is sy my alles en het ek haar lief met my alles. Ewig dankbaar dat sy nou naby is…… of is sy werklik?

Snowball ·

Niks is soos die verlies van jou ma nie; dit is ‘n leemte wat geen tyd of ruimte ooit uitwis nie. Net nog een dag saam, of net ‘n drukkie, gesels, troos of raad bly ‘n onvervulde hunkering wanneer hulle weg is. Die oorsprong van jou begin is weg – net herinneringe bly oor en die ewige gemis. En die moeilike dae op die kalender.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.