Redakteursbrief: ʼn Ode aan moeë onderwysers

susan_lombaard

Susan Lombaard Foto: Burger Meyer, Maroela Media

Ek weet ʼn ode behoort baie meer digterlik en musikaal te wees as my weeklikse redakteursbrief, maar dit voel tog vir my “huldeblyk” of “woord van dank” is nie dramaties genoeg om te sê wat ek vandag wil sê nie. Want gebore onderwysers verdien om besing te word.

Ek het op hoërskool ʼn musiekjuffrou gehad wat my verlief gemaak het op musiek. As ek op ʼn moeilike tienerdag by haar instap vir ʼn praktiese klas, het sy my een kyk gegee en my sonder ʼn woord vir ʼn uur lank laat speel net wat ek wil. Soms het sy agter my in die klas gedans – die lang, elegante vrou met die hoë bolla op haar kop. As ek daar uitstap, was die wêreld ʼn beter plek.

My geskiedenis-onnie kon die Suid-Afrikaanse én internasionale geskiedenis so lewend oordra dat ek my verloor het in die stories agter die feite. En my wiskunde-onderwyser op laerskool wat maaltafels by my ingedril het, het nooit vrees by my ingeboesem nie, maar my eerder laat voel hoe dit voel om elke dag ʼn bietjie slimmer as die vorige dag te wees.

Ten spyte van wat ons dikwels vir mekaar sê, is ons kinders vandag nog bevoorreg om sulke onderwysers te hê wat hulle pad kruis. Ons negejarige meisiekind se graad 1-juffrou, Marilése Goldberg by Laerskool Rooihuiskraal, wat dikwels met haar uitbundige geaardheid en reuse pienk feetjievlerke wawiele op die skool se rugbyveld doen, het by ons oudste ʼn liefde vir skoolgaan gekweek. Haar graad 2-juffrou, Belinda van Zyl, was vir haar ʼn rolmodel van liefde, elegansie en vroulikheid – ons dogtertjie se kriteria wanneer sy klere kies, is nog steeds “dis iets wat juffrou Belinda sou dra”. Vanjaar was sy gelukkig genoeg om te beland in juffrou Nita Heyns se klas – ʼn juffrou wat die kinders se verbeelding en kreatiwiteit uitdaag en stimuleer, en wat ons dromertjie die geleentheid gee om na hartelus stories te skryf en prentjies te teken. Op kleuterskool was albei ons kinders vir ʼn paar jaar onder die geliefde Juffrou Ria se sorg – ʼn tweede ma vir ons kinders in hul kleuterjare, en wat elke jaar so lief word vir die outjies in haar klas dat sy maande na die eindjaarafskeid nog steeds trane wegvee wanneer sy hulle in die winkel raakloop. ʼn Vriendin vertel my anderdag van haar kind se kunsjuffrou wat hom toelaat om stories te skryf in kunsklasse, want vir hóm is skryf kuns.

Ek weet daar is honderde onderwysers wat nie die naam opvoeder verdien nie – ek onthou ook die naaldwerkjuffrou op hoërskool wat, elke keer as ek met my naaldwerkpoging na haar tafel aangestap kom, sugtend gesê het: “Ai, Susan…”

Maar vandag praat ons nie oor hulle nie. En in retrospeksie het ek nogal simpatie met daardie naaldwerkjuffrou.

Vandag praat ons oor die honderde uitstekende onderwysers, veral in ons Afrikaanse skole, vir wie onderwys ʼn roeping is. Die onderwysers wat elke kind in die klas se individualiteit raaksien en weet hoe om elkeen te motiveer, te dissiplineer en te vorm. Die onderwysers wat snags wakker lê en planne beraam om fondse in te samel sodat die klas ʼn nuwe mat en ʼn laag verf kan kry. Die onderwysers wat laatnag, ná ʼn dag van klasgee en sport afrig, met ʼn sterk koppie koffie sit en vraestelle nasien. Die onderwysers wat hospitaal toe ry wanneer ʼn kind siek is, met handgemaakte kaartjies van al die klasmaats. Wat stilweg ʼn paar sakke kos bymekaar maak en dit gaan afgee by ʼn gesin wat swaarkry. Wat drukkies uitdeel, sterretjies plak, verjaarsdagkrone maak en klein oorwinnings saam met hul leerlinge vier.

As jy só ʼn onderwyser is, weet: Ons is dankbaar. Jy maak ons land ʼn beter plek.

Groetnis
Susan Lombaard
Redakteur: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Pieter Louw ·

Baie dankie Susan vir die Ode.Ek het onlangs `n skrywe ontvang van `n oud leerder wat `n mens diep raak en laat besef wat `n geweldige impak `n onderwyser se rol op `n kind se lewe het.Hy skryf:

“Dankie vir alles jy’t my die geleentheid gegee om myself te vind op ‘n jong ouderdom en geleer wat die regte ding is om te doen, al was dit nie altyd maklik nie. As ek eendag ‘n kind het hoop ek om u skoene te kan vul. ”

Love you!
Roelof & Susanna

Karin Botha ·

Na 33 jaar as Afrikaans Huistaal onnie sê ek dankie vir die ode aan onderwysers.Dit bly n roeping en mag meer mammas besef hierdie halfdagwerkie lê vir van ons baie na aan die hart!

Babs Brouwer ·

“Ai Susan” hoe kan ‘n mens sê dankie vir so ‘n dankie-ode!
Ek was ‘n musiekonderwyseres in privaat hoedanigheid, by musieksentrums en in Hoërskole
en het dit altyd so geniet om te sien dat my leerlinge musiek in watter vorm ookal, geniet en nie net “oefen” omdat ma gesê het jy moet musiek neem nie!
Lank lewe al die onderwysers met hulle moeilike taak. Hulle maak of breek baie keer ‘n kind se toekoms omdat hulle, hul entoesiasme breek. Sterkte! Ons bid te min vir julle.
Babs Brouwer

Judy Oberholzer ·

Vandag is die perfekte dag om so ‘n huldeblyk aan onderwysers die kuberruimte in te stuur: die vakansie het aangebreek! ‘n Wel-verdiende ruskans.
Die ongelooflike toegewyde span wat saam met my werk by ‘n privaat Engelse skool, het hulleself tot op die laaste dag van die kwartaal voluit toegewy aan hulle roeping. Mag die ruskansie genoeg geleentheid hê vir ontspan tussen voorbereiding vir die volgende kwartaal.

Flip Nöthling ·

Ons kan nie goeie onderwysers genoeg besing nie. Vir die verskil wat hulle aan ons self gemaak het en die verskil wat hulle aan ons samelewing en ekonomie maak. Wonderlike en toegewyde mense. Ons sien die presteerders maar regte onderwysers bemoei hulle net nog meer met kinders vir wie slaag ‘n groot prestasie is. Hulle sorg nog meer vir kinders met allerhande soorte gestremdheid en “moeilike” kinders, want hulle is kinders en hulle is onderwysers. Dit is ‘n roeping.

Olivia (née Joubert) Steyn ·

Susan ,dankie vir jou ode aan moeë onderwysers. Ek onthou jou as ‘n briljante skolier. Jou ongelooflike aanvoeling vir die taal Afrikaans en jou skryftalent het ek nooit vergeet nie. Tussen al die opstelle wat ek moes merk, het jou opstelle die moegheid laat vervaag.

Charmaine de Waal ·

Baie dankie vir hierdie nodige ode. Ek dink aan die onderwysers wat my, as ‘n skaam nerd, laat voel het ek is spesiaal en aan Mnr Vonnie van der Vyver wat my laat besluit het om ‘n rekenmeester te word. Ek dink aan die onderwysers wat ook baie tyd aan konserte en op die atletiek baan spandeer.

Henriette Truter ·

Baie dankie vir die waardering vir dit wat geroepe onderwysers vir mense oor die jare beteken. Na ‘n kwartaal waarin ek weereens my hele menswees ingeploeg het en kinders saam met leer probeer opvoed het om hulle volle Godgegewe potensiaal te kan bereik, en ek moeg en uitgeput is, beteken dit baie om te weet dat dit wel raakgesien en waardeer word. Dit gee my die moed om volgende kwartaal weer met durf en daad aan te pak. ‘n Mens weet vanuit jou kern dat jy dit nie vir erkenning doen nie, maar eerder omdat dit jou wese as mens is, omdat dit ‘n sinvolle bestaan is om op so ‘n manier vir jong, emosioneel kwesbare mense om te gee. Dankie vir die aanmoediging. Ek het dit nodig gehad.

Nelda Opperman ·

Baie dankie. Besig om te merk en veg n stryd net om n koor te behou, wat staan nog musiek as vak. Waardeer jou ode.

Rozanne Nieuwoudt ·

Baie dankie, Susan. Ek is ‘n Afrikaans-onnie (Huistaal) en beskou my beroep ongetwyfeld as ‘n roeping. Ek het juis my passie en liefde vir my vak en beroep te danke aan my ongelooflike Afrikaans-onnies en – dosente.
Dankie dat jy dié onnies raaksien en waardeer!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.