Redakteursbrief: ʼn Ode aan myself (en ander werkende ma’s)

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media Foto: Noeleen Foster

Ek dink ek verdien ʼn ode. Want as ek nie een aan myself rig nie, dink ek nie iemand anders gaan nie. Klink my ʼn monument of gedenksteen is buite die kwessie – terwyl ek nog leef, ten minste – so daarom sal hierdie ode die ding moet doen vir nou.

Laat ek byvoeg – as jy ʼn werkende ma is, mag jy maar jou eie naam invul oral waar daar “ek” of “my” in hierdie ode staan.

Sien, ek skryf hierdie terwyl ek in my ysige motor voor die skool sit en wag terwyl ons meisiekind (wat hierdie week 12 word) klaar eksamen skryf. Sy het verlede week op ʼn trap by die skool gegly, deur die lug gevlieg tot heel onder, en die laaste trap met haar stuitjie getref. (Daarna het sy ʼn uur gaan perdry, onbewus van die skade daar onder rond, wat natuurlik dinge baie erger gemaak het.) Nou is dié broodnodige sitbeentjie morsaf. Maar dis midde-in die Junie-eksamen. Ousus kan nie sit en leer nie, en sy drink sterk pynpille (want dis nou nie asof mens ʼn stuitjie kan spalk of in gips kan sit nie).

Gelukkig is daar ʼn mamma tot die redding. Elke oggend kort voor die eksamen ʼn aanvang neem, help hierdie mamma haar beseerde oudste om haar kouse, skoolskoene en trui aan te kry, neem haar skool toe, help haar tot by haar klas, en wag dan in die motor, waar ek ʼn bietjie werk gedoen probeer kry met my rekenaar op my skoot (gelukkig is hier ʼn wag by die skool, want selfs skole het deesdae wagte). Dan jaag ons huis toe, waar ons die meeste probeer maak van die kort vensterperiode nadat die pynpille ingeskop en die pyn ʼn bietjie verlig het, maar voor Ousus te vaak word van die einste pynpille om verder te leer. In dié kort tydjie leer ons so intens vir die volgende dag se vak dat ek netsowel die feite met my vingers by haar ore kon ingedruk het, tot in haar brein. (Sus lê natuurlik, want sit is gans onmoontlik, so die breintjie werk maar stadig saam.)

As ek in haar oë sien daardie koppie neem niks meer in nie, maak ek haar warm toe, trek haar kamerdeur toe en sit gou my rekenaar aan vir ʼn rukkie se werk – minstens krisisbestuur van die belangrikste goed wat nie kan wag nie. Na die tweede, derde dag is ek nie meer seker watter balle in die lug is en watter nié. Ek is dankbaar vir ʼn klomp knap kollegas wat uitkyk vir balle wat op pad grond toe is, en vang waar hulle kan.

En toe, gistermiddag, pas tuis na ʼn middagete-vergadering wat nie uitgestel kon word nie, kry ek ʼn vuurwarm seuntjie op die sitkamerbank. Vas aan die slaap, lyfie sommer pap van die koors. Ek sug (maar net aan my binnekant), gaan soek die koorspen en griepmedisyne en sit die ketel aan vir rooibostee.

“Kom jy nog in vandag?” WhatsApp ʼn kollega net toe die water kook.

“Kan ek dalk gou by jou by die huis ʼn draai kom maak? Daar is iets dringends wat ons vandag nog moet bespreek,” WhatsApp ʼn ander een.

Ek tik met een hand terug terwyl my warm seuntjie met sy kop op my skoot lê.

En dan die emosies. Want boonop verjaar Ousus mos nou hierdie week. Die plan was om saam met ʼn paar maats te gaan perdry, want dis “die ding” as mens 12 is en nie eintlik enetjie is vir partytjies nie. Maar met ʼn af stuitjie is dit gans onmoontlik. Sussa se wêreld het natuurlik ineengestort toe sy hoor perdry is uit, en mamma moes blitsig dink aan iets wat Saterdag as ʼn troosprys-partytjie ingespan kan word – iets wat mens kan doen al kan jy nie sit nie. Die mooie perdry-uitnodigings waaraan ons laas naweek so hard gewerk het toe heeltemal verniet.

O ja, en dan is daar hierdie week Kaskardag by die skool, wat beteken kleinboet moet soos ʼn muis lyk wanneer hy Vrydagoggend by die skool afgelaai word (dis nou as hy dan al beter is). Op die klasgroepie gons die mammas soos hulle planne maak, idees uitruil, en kostuums en grimering vir die klas vol muise bespreek. Hierdie mamma neem nie deel nie, en neem haar maar net voor om Donderdagmiddag gou die kern van die bespreking by een van die ander Mammas wat Altyd Weet Wat Aangaan, uit te vind. Ek is seker ons kan ʼn muisstert prakseer uit ou kouse – dis nou as die liewe 8-jarige met die parmantige kuif hoegenaamd geneë gaan wees daarmee om ʼn muisstert en -ore skool toe te dra. En diep binne voel ek die skuldgevoel wat elke werkende mamma se permanente metgesel is: Ons is die mammas wie se name nooit op die lysie is van mammas-wat-kom-help-verf of mammas-wat-kom-hare-doen of mammas-wat-die-stalletjie-gaan-versier nie.

Intussen (terwyl ek hier tik) sien ek hoe spring die e-pos-kennisgewings hier regs onder op my rekenaarskerm elke paar sekondes op. Lastig, man.

Die kleiner detailtjies van hierdie lewe van my wat ek reken ʼn ode verdien, laat ek hier uit: Die kursus by die kerk wat ek en Manlief vir ses weke op Dinsdagaande bywoon, maar wat die afgelope twee weke eenvoudig nie ingepas kon word nie. Skoonma se oproep om haar kuiertjie die naweek te bespreek. Skoonsus wat ons planne vir Vadersdag wil bevestig. ʼn Maroela-medewerker wat ʼn mislike (gebruik maar ʼn ander woord hier) e-pos stuur: “Lyk my mens moet ongeskik raak voor mens reaksie kry.” ʼn Rits radio-onderhoude vir ʼn Maroela-projek wat hierdie week afskop, waarvoor ek elke keer moet sorg dat ek op ʼn stil plek is (vir een daarvan het ek al in ʼn klerewinkel se aantrekhokkie gaan wegkruip, want dis al stil plek wat ek kon kry op pad apteek toe om ʼn voorskrif in te gee).

Nou kyk, ek stel dit vandag onomwonde dat ek die grootste respek het vir elke tuisbly- of tuisskool-ma. Dis ʼn voorreg wat nie almal beskore is nie. Ek weet dit gaan saam met ʼn klomp opofferings en uitdagings.

Maar vandag is al my simpatie by elke werkende ma; elkeen wat netsowel die detail van my eie storie met hul eie lewensverhaal se detail sou kon vervang. Mag die wêreld jou waardeer. Mag jou kinders en jou man jou op die hande dra. Mag jy groot verhogings en wonderlike bevordering kry. Mag iemand vir jou aandete kom aflaai. Mag jy in ander mammas by die skool se oë kyk en nie verwyte sien nie, maar waardering. Mag iemand saggies vir jou sê as jy ʼn onpaar skoene by die werk aan het (ja, dit het ook met my gebeur). Mag daar ʼn bos blomme op jou lessenaar wees as jy môreoggend daar instap. Mag jy geseënd wees met iemand in jou lewe wat goeie koffie kan maak, en dit vir jou aandra. Mag jy jou sin vir humor behou, want daarsonder is hierdie onmoontlik.

Eendag, as ek tyd het, kry ek ʼn borg en dan bou ek vir werkende ma’s ʼn monument. Tot dan sal hierdie ode die ding moet doen.

Groetnis
Susan Lombaard
Uitvoerende hoof: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

15 Kommentare

alwyn burger ·

Slegs ñ persoonlike mening : Ek dink die Redakteursbrief hoort eerder meer by Stiltetyd as by Meningsvorming?
Groetnis

Maryna ·

Wow!!! Dis asof ek nou oor my eie lewe gelees het en ek dink elke mamma kan daarvan getuig! Dit het my nou laat besef dat daar nog vroue is wat voel soos ek: die skuldgevoelens, te veel om te doen en te min tyd! Die ewige gejaag na alles en dan die wete dat iewers het jy balle laat val…. ‘n Monument vir elke werkende mamma!!! Van’ n werkende mamma met 3 kinders

Boeremeisie ·

Baie dankie Susan! So gepas vir ‘n redakteursbrief (knik-knik). En so besef ons werkende mammas dat ons nie heeltemal alleen is nie, maar tog almal dieselfde uitdagings het! … Ai ek sou nog BAIE wou se, maar ek moet wikkel om in my etenstyd gou my dogter te gaan haal en huistoe te neem …

Ps ·

en wat van ál die werkende PA’s ? Pa ma, altwee is ouers, maar dit word gehammer dat mamma werk, pappas werk al vir JARE en word nie so in watte toegedraai nie

Willem ·

‘n Ma hou net nie op met werk nie, of sy nou werkend is of na ure, en of sy nou ‘n tuisteskepper is.

Maar ek sal ook graag ‘n ode oor die afgetredenis wil lees wat hulle afgesloof het, maar teen die oudag veg.

bloues ·

Ps . Ek stem met jou siening saam. Ek is ook n Pa, het drie kinders grootgemaak. MAAR waarheen gaan ‘n siek kind? Na Ma toe. Waarheen gaan ‘n kind wat konsert klere soek? Na ma toe. Waarheen gaan ‘n kind met n stukkende hemp? na Ma toe.
Ja ons mans help maar die vrouens, dit is hulle wat die werk insit.
Miskien veralgemeen ek.
Ek dink nie so nie

Mia ·

Dankie Susan. Ek lees hierdie op kantoor terwyl ek eintlik so bitter graag eerder by my seuntjie se rugby-westryd sou wil wees. Mis dit alweer. Jy is ook gelukkig dat jy darem nog van die huis af kan werk, in my werk word dit nie toegelaat nie en oë word gerol as jy nodig het om tyd af te vat vir ‘n siek kind. Ons almal doen maar net ons beste xx

Marelize ·

Ek was vir ‘n hele ruk’ n huisbly-mamma, en nou is ek ‘n werkende mamma. Ek ken altwee kante van die muntstuk. Albei se uitdagings en vreugdes. Punt is, mamma bly mamma. Ons offer op – altyd! Dit is nie altyd maklik nie, maar ons doen dit, want ons kinders is ons prioriteit. Ons hart se punt. Vir elke mamma wil ek sê : ‘Mag dit goed gaan!’. Nie sarkasties nie, nie hooghartig nie, nie tong-in-die-kies nie. Net gewoon, uit die hart uit :Mag dit goed gaan. Met elke keuse wat jy maak, met elke werksprojek, met elke skooltaak!

dejager ·

Susan jy doen uitstekende werk by maroelamedia.Jou lewe klink soos baie mammas wat elke dag in my kantoor instap s’n.Ek skryf selde om raad te gee (Langenhoven waarsku daarteen)maar hierdie krisisse wat jou tref is deur ń hoër hand oor jou gebring sodat jy opnuut oor jou lewe en jou prioriteite kan besin.
Ek het vir jou een voorskrif:Die bybelse sabbat.Die een dag wat God opsy gesit het vir ń spesiale afskakel en ń spesiale áánskakel.
Eer God se dag deur van Vrydag sonsak tot Saterdag sonsak af te skakel en op Hom te fokus.
Doen dit en Hy sal sorg vir die ander 6 dae.
Groete

Johan Oosthuizen ·

Ja, na al die jare voel ek vandag jammer en skuldig omdat ek ‘n afwesige pa was, terwyl my liewe vrou die mas moes opkom en die spit moes afbyt. Ek het agter bevordering aangehardloop en aan al die regte en belangrike organisasies behoort. Ek kon want agter elke suksesvolle man is daar ‘n vrou wat die fort sal hou. As oupa en pa kan ek nou regmaak wat ek destyds verbrou het. En dis lekker!!! En ek rol met liefde en omgee my liewe vrou en dogters in watte toe. En dis lekker om vir my kleinkinders te sing of stories te vertel totdat hulle een vir een rustig sug en die ogies toe val.

Wessel ·

Tussen al haar krississe deur hierdie week bel sy haar pa om gou te help met ‘n huislike probleem, wat die foon antwoord toe antwoord as volg: “THE NUMBER YOU HAVE DIALED IS NOT AVAILABLE AT PRESENT. PLEASE TRY AGAIN LATER.”
“Hoe het pa geweet?”
‘n Pa weet mos.

Asjas ·

Mamma se werke:
Werkende mamma
Minister van finansies
Onderwyser
Krisisberaader
Polisieman… Vrou
Dokter / verpleegster
Huishulp
Taxi drywer
Kultuur/sportondersteuner
Sielkundige
Raadgewer
Vriendin
Skouer om op te huil
En die lys kan nog langer…
Maar ek ruil dit vir niks in die wêreld nie. Susan hierdie IS ‘n ode vir elke mamma en al hoor ons nie altyd die woord dankie nie weet ons dat alles wat ons doen wel waardeer word.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.