Redakteursbrief: ʼn Ope brief aan die skrywers van ope briewe

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media (Foto: Noeleen Foster)

Geagte skrywer

As jy al ooit ʼn ope brief vir ʼn koerant of nuusplatform soos Maroela Media geskryf het, al was dit dalk ook net in jou kop of in jou hart, is hierdie brief aan jou gerig. As jy al ooit ʼn ope brief gelees het en onderaan in die kommentaar geskryf het “Ek kon dit self nie beter stel nie,” is dié brief ook vir jou.

Volgens Merriam-Webster is ʼn ope brief ʼn brief van protes of appèl, gewoonlik gerig aan ʼn individu, maar bedoel vir die breë publiek se aandag. Dis ʼn baie eenvoudige definisie vir ʼn verskynsel wat, veral in die Suid-Afrikaanse konteks, gewoonlik allerlei nuanses bevat, en talle bedoelde én onbedoelde gevolge het.

Jy blaai waarskynlik dikwels vinnig verby ʼn ope brief in ʼn gedrukte publikasie of op Maroela Media se webwerf, want as jy die term “ope brief” sien, weet jy sommer: Hierdie is ʼn gewigtige tema. Iemand is kwaad vir iemand, oor iets wat iemand kwytgeraak of gedoen het. En die skrywer voel so sterk oor sy gevoelens teenoor hierdie iemand dat hy dit belangrik genoeg ag om dit aan die groot klok te hang, en die houe te vat wat onvermydelik na sy of haar kant toe gaan kom.

Maar kom ons wees eerlik: Ons almal is ʼn bietjie moeg vir bekgevegte op digitale en gedrukte media. Asof die jaar nie genoeg uitdagings ingehou het nie. En daarom blaai ons verby, al lyk die tema van die ope brief na iets wat ons interesseer en waarmee ons waarskynlik saamstem.

Iets wat ek vanjaar opnuut besef het, is dat duisende mense – jy moontlik ingesluit – dikwels sterk voel oor ʼn onderwerp, maar die woorde of die platform om uitdrukking te gee aan hoe hulle voel, ontbreek. Daarom bly dié gevoelens by ʼn gesprek om die braaivleisvuur of in ʼn restaurant, of hoogstens ʼn uitlating op sosiale media.

Maar wanneer iemand dan ʼn ope brief skryf wat presies verwoord wat jy eintlik wou sê, en dit word boonop gepubliseer op ʼn platform soos Maroela waar derduisende ander mense dit lees en saamstem, voel jy: Nou kan ek terugsit, want ek is gehoor.

ʼn Ope brief doen egter meer as dit. Dit sit soms openbare gesprek aan die gang en dwing dié aan wie so ʼn brief gerig is, om te dink oor die aksies of uitlatings wat die brief voorafgegaan het. Om te dink: Dalk het ek die pot misgesit sonder dat ek dit besef het. Dalk moes ek anders opgetree het; dalk moet ek aan dié wat ek te na gekom het, verskoning vra vir my vinnige woorde. Dalk moet ek iets doen om my fout reg te stel. Dit gebeur min, want gewoonlik is die ontvanger van ʼn ope brief eerder gereed vir ʼn lekker openbare bekgeveg as vir introspeksie, maar dit gebeur tóg.

Veral op Maroela sien ons ook dikwels dat ope briewe mense oproep tot aksie, selfs wanneer dit nie noodwendig die skrywer van die brief se bedoeling was nie. Ek moes onlangs die voorwoord skryf vir ʼn bundel ope briewe deur dr. Dirk Hermann, Ons sal self, wat die afgelope paar jaar op Maroela Media gepubliseer is en nou in boekformaat uitgegee word. Terwyl ek deur die briewe gewerk het, het ek besef hoeveel keer dié briewe van hom, en talle ander wat vanjaar op Maroela Media gepubliseer is, tot gevolg gehad het dat ons lesers, en ander Afrikaans- en andertaalsprekers daar buite, besluit het om met hul beursies steun te gee aan standpunte wat in ope briewe ingeneem is. Kom ons wees eerlik – Afrikaanssprekendes het koopkrag en speel ʼn noemenswaardige rol in die Suid-Afrikaanse ekonomie. As ons met ons beursies stem dik maak, maak dit seer. En as dit seermaak, luister mense (soms).

Deels te danke aan Flip Buys se oproep tot aksie teen plaasmoorde in ʼn ope brief het derduisende Afrikaanssprekendes én ander vreedsaam betoog in Senekal, en het vrese van ʼn kleinskaalse burgeroorlog wat sou losbreek, nie waar geword nie.

Te danke aan Riaan Grobler se ope brief aan Rob van Vuuren kon ons instemmend knik en sê: “Ons is kláár met jammer-sê.”

Te danke aan ʼn eerlike ope brief deur Bennie Mouers van Langebaan aan dr. Dirk Hermann, en daarna dr. Dirk Hermann se ewe eerlike antwoord aan Bennie, kon ʼn lawaai oor velkleur in ʼn respekvolle gesprek omgesit word.

Te danke aan Henning Lubbe se ope brief aan Jack Markowitz se uitsprake by die EFF se Hoërskool Brackenfell-betogings voel ons almal nou ʼn bietjie beter.

Te danke aan Vincent Geldenhuys se ope brief aan Bheki Cele en Cyril Ramaphosa oor die moord op Brendin Horner tydens ʼn plaasaanval weet ons dat daar jong mense in ons land is wat ná ons sal stem dik maak teen dit wat verkeerd is.

Te danke aan talle ander ope briewe het Spur, die Ghoemas, Miway, Totalsports en die uitgewers van The lost boys of Bird Island die afgelope paar jaar gehoor hoe Afrikaanssprekendes voel en, al het hulle dalk nie in die openbaar verskoning gevra of van standpunt verander nie, minstens dalk iewers in ʼn raadsvergadering besluit om volgende keer anders op te tree.

So kom ons hou aan skryf. As jy skryf, moet jy gaan stilsit, dink oor wat jy wil sê, en dit dan behoorlik verwoord. Sonder onnodige emosie en wilde aantygings. Feite op die tafel, goed deurdag en goed gemotiveerd. Skryf jou ope brief – dit maak ʼn verskil.

Groetnis
Susan Lombaard
Uitvoerende hoof: Maroela Media

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Maria

Goeie insigte! Ek lees graag ope briewe

Boerkind

Een ding is steeds seker… die Afrikaner staan nie saam nie. Maak nie saak wat nie, daar is maar altyd die linkse, “anti” element. Of dit nou oor politiek, godsdiens of sentiment gaan – daar is ALTYD hulle wat “anders” voel. Die storie van die Afrikaner se geskiedenis….. En dan praat ons gou van “Eendrag maak Mag”. Om saam te staan sal baie meer impak hê as om met ons beursies te probeer verander.

AJ

Dankie Susan!

Sonder Maroela, wat die platform bied sou Afrikaanses baie ‘armer’ daaraan toe, wees.

Sonder ‘n veilige ‘uitlaatklep’ hier op Maroela sou daar baie meer ‘uitbarstings’ elders plaasgevind het … waarby geweld nie uitgesluit is nie.

Gooi daai OPE BRIEWE … ek kannie wag nie!

Ha… ha ..

Strandloper

Sjoe wat n lekker lees van al die ope briewe! Soms het ek iets oor en oor gelees en dan ook selfondersoek gedoen en hier en daar my focus effe verskuif. Dankie vir die met n breë insig. So jammer van die minderheid in bevel wat die massas probeer oordoner. Tog is daar hoop vir ons land en hoop bring altyd uitkoms, want ek gaan nêrens!