Redakteursbrief: ʼn Ratelende Karookas vol Kersfeesskatte

Susan Lombaard Foto: Burger Meyer, Maroela Media

Susan Lombaard Foto: Burger Meyer, Maroela Media

Ek is waarskynlik deel van die laaste geslag wat sal kan sê ons het trein gery wanneer ons met vakansie gegaan het.

My oupa Mias en ouma Susan het in Noupoort gewoon, toe nog ʼn pragtige, florerende Karoodorpie. Sommige Desembervakansies wanneer my ma, ʼn onderwyseres, vakansie gehad het maar my pa moes werk, het ons ons koffers gepak en op die trein geklim om by “Oupa Noupoort en Ouma Noupoort” te gaan kuier. Ek twyfel of ek as klein dogtertjie geweet het hulle het regte name.

Ek onthou die lang treinrit Karoo toe – die koue frikadelle, hoenderboudjies en kaastoebroodjies wat ons op die afslaantafeltjie voor die venster geëet het; die donsige koningsblou spoorwegduvets; die gaping wat jy moes oor as jy van een treinwa na die volgende wou loop; die kondukteur wat “Kaartjies!” in die gang roep en aan die deur tik kort na die trein vertrek het; die koffiewaentjie wat soggens vroeg deur die gang ratel en stomende warm koffie in dik spoorwegkoppies by die kompartement kom bedien.

Die Karoolandskap het toe reeds my hart gesteel. Ek het te veel keer die harde landskap in die pienk lig van die sonsondergang sien sag word om nié my hart te verloor nie.

Wanneer ons die stasie voor Noupoort verbysteek, het my ma ons koffers begin pak en ons hare gekam. Kort buite Noupoort, pas na die “Noupoort”-naambord verbygeflits het, het ons almal by die venster uitgehang – tannie Rita, ouma Noupoort se beste vriendin, het in een van die rits baksteenhuisies langs die stasie gewoon en het altyd langs die kleinhuisie in haar agterplaas gestaan en met ʼn wit vadoek vir ons gewaai as die trein nog dóér aankom.

Op die perron het Oupa en Ouma Noupoort gewag. Netjies langs mekaar. Oupa, geklee in sy pak, das, baadjie en hoed, en ouma Noupoort in haar Sondagklere, handsak oor die arm, sykouse en al, ondanks die versengende Karoohitte. Oupa het ons kleinkinders sommer deur die treinvenster al gesoen en uitgetel voor hy ons koffers aangevat het. Ek onthou die grofheid van sy wang teen my gesig, die seepreuk van sy vel en die tekstuur van sy baadjie wanneer hy my baie styf vasdruk. Hy het nooit baie gepraat nie, maar sy oë het waterig geword van bly-wees.

Terwyl Oupa die waentjie met ons tasse motor toe stoot, het Ouma en my ma land en sand gesels. Ek onthou dat ek nie kop of stert kon uitmaak van wat hulle probeer sê en wie se beurt dit is om te praat nie.

Hulle huis was in die hoofstraat, Shawstraat 13. ʼn Regte ruim ou Karoohuis met ʼn breë stoep, sinkdak en sonkamer aan die een kant. ʼn Stowwerige agterplaas met ʼn enkele vyeboom, en ʼn watertenk vir reënwater aan die ander kant.

Soms het Oupa agter die huis gestop en is ons sommer by die kombuisdeur die huis in. Die geur van ʼn koolstoof wat smeul en vars moerkoffie het ons verwelkom. In koel, skemer kamers met hoë plafonne het ons beddens met kraakvars linnegoed gewag. Op die spieëlkas, ʼn erdekom en erdebeker met reënwater uit die tenk vir gesig was vroeg soggens.

Soms het oupa Noupoort voor die huis gestop, en dan is ons met die drie trappies op, oor die stoep by die voordeur in.

Met die instap in die voorportaal met sy houtvloer het my ouma se vertoonkas verwelkomend geratel. Aan die een kant, die outydse bruin sofa met sy ougoud omboorsel. Aan die ander kant, die vertoonkas.

As klein dogtertjie was die vertoonkas vir my die mooiste ding wat ek nog ooit gesien het. Dit was vol skatte: porseleinkoppies met fyn blommetjies, ʼn goue klokkie, my oupa se polisiemedaljes, ʼn silwer skinkbord, fyn teelepeltjies met embleme op die handvatsels, ʼn teepot wat soos ʼn huisie lyk. As ons baie soet was, het ouma Noupoort my en my boetie nou en dan toegelaat om die blinkskoon glasvenstertjie oop te skuif en die vertoonkas uit te pak.

Op die boonste rakkie van die vertoonkas was Ouma se eintlike skatte wat sy met trots uitgestal het.

Daar was ʼn wiegstoeltjie van wasgoedpennetjies wat ek een jaar vir Kersfees vir haar gemaak het. ʼn Papierhoedjie met prentjies wat my ouboet vir Oupa gevou het. ʼn Versameling handgemaakte Kerskaartjies, in die pos gestuur wanneer ons nie Kersfees by hulle kon wees nie. ʼn Fotoraam geprakseer uit roomysstokkies. ʼn Pennehouertjie, uit vuurhoutjies saamgeflans. ʼn Popgrootte-laaikassie gemaak uit ses vuurhoutjieboksies. ʼn Treintjie met waens, gebou uit die leë houertjies en toiletrolletjies wat oupa Noupoort heel jaar deur bymekaar gemaak het “vir wanneer die kleinkinders kom kuier”.

Met dié skatte kon ons nie speel nie.

Oupa en ouma Noupoort is lankal nie meer met ons nie en die huis met sy bad op pootjies en melamien-kombuistafel moes noodgedwonge verkoop word. Maar ek het so baie van hulle oorgehou. Met spesiale geleenthede haal ek die messestel uit wat Oupa vir Ouma gekoop het vir hulle eerste huweliksherdenking. Die kaartjie waarop hy “Met liefde van Mokkie” geskryf het, lê nog veilig op die donkerblou fluweel van die kis met sy gleufies vir elke mes, vurk en lepel. Ouma se swaar porselein-opdienborde bêre ek diep, en Oupa se voos gevatte Bybel vol koerantknipsels en familiefoto’s het ʼn spesiale plek in my eie uitstalkas.

Maar dis veral die boonste rakkie van ouma se vertoonkas wat ek onthou: vanjaar maak ek en my kinders vir almal vir wie ons lief is, handgemaakte Kersgeskenke.

Mag jy hierdie Kersfees by jou geliefdes geskenke ontvang wat jy vir altyd in jou hart se vertoonkas kan bêre. En mag jy nooit van die grootste Geskenk vergeet nie.

Groetnis
Susan Lombaard

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Charlotte Barnard ·

Baie dankie Susan vir jou hartroerende Kersfeesbrief – my oë was nou byna waterig toe ek so deur jou brief lees. Sulke mooi herinneringe word verewig in ‘n mens se hart.

“Wat is Kersfees? Dit is deernis vir die verlede, moed vir die hede en hoop vir die toekoms. Dit is ‘n wens dat elke beker sal oorloop van ryk en ewige seen en dat elke pad na vrede sal lei.”
~ Agnes M. Pharo

Charlotte Barnard ·

Baie dankie Susan vir jou hartroerende Kersfeesbrief – my oë was nou byna waterig toe ek so deur jou brief lees. Sulke mooi herinneringe word verewig in ‘n mens se hart.

“Wat is Kersfees? Dit is deernis vir die verlede, moed vir die hede en hoop vir die toekoms. Dit is ‘n wens dat elke beker sal oorloop van ryk en ewige seen en dat elke pad na vrede sal lei.”
~ Agnes M. Pharo

Mannetjie Marais ·

Ai, Susan, jy bring soveel lieflike herinneringe uit my kinderdae weer na vore!

Die treinreise verby Noupoort sommige Desember-maande na my Ouma Coetzer op Cradock; die mandjie (wat ek nou nog het) met koue hoender en toebroodjies soontoe en terug vir my ma en ons kinders (my pa moes gewoonlik werk). Die vlekvry-staal wasbak in die kompartement; die skuddende water-glasbottels weerskante van die rytuig; die uitsig oor die Karoo vanuit die gang (met venster oopgeskuif wanneer die rook en roet nie te erg was nie). Die getik-getak van die wiele op die spoor deur die nag, waar ons as kinders in die boonste bank gelê en slaap het. Ensovoorts!

En dan my pragtige Ouma, wat so lief was vir haar hoenders en altyd rypwordende pruime in die boonste laai van haar eetkamer vertoonkas gehou het vir ons om te kon geniet.

Baie dankie vir jou bydrae.
Geseënde Kersfees!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.