Liewe Maroela-leser
As ek vir my eie lewe ʼn tema vir 2023 moes kies, sou dit die Prediker se wyse woorde wees: Daar is ʼn tyd vir alles.
My tienerdogter het 2023 nou die dag so mooi beskryf: 2023 was nie soos ʼn speelse brander wat ons voete onverwags onder ons uitgeslaan het nie. Dit was ʼn reusegolf wat donderend bo-op ons kop kom breek het.
Nie net vir ons gesin nie, maar ook vir mense reg rondom my was 2023 ʼn tyd van pyn, hartseer en verlies. Vir my was dit tyd om van my pa afskeid te neem; ʼn tyd om ons dogter te sien breek onder die seer van ʼn vriendin wat sy aan die dood moes afstaan; ʼn tyd waarin ek moes bid soos nog nooit tevore nie toe ons seun deur ʼn motor raakgery is; ʼn tyd wat ek ure en ure langs my ma se hospitaalbed moes sit en vra dat sy liewer Huis toe gaan – maar dit was nog nie Sy tyd vir haar nie. ʼn Tyd waarin ek self meer as een keer gesteier het onder die gewig van die mense rondom my se swaarkry en seer; wat ek net staande gebly het omdat ek geweet het God sal my tentpenne vir my wyer span en my ken vir my lig.
Ek het hierdie week die voorreg gehad om die jaarlikse Kansa-tee by te woon. Aan die tafels om ons het daar vroue gesit vir wie dit ʼn tyd vir remissie was; vir sommige ʼn tyd vir chemoterapie en bestraling; vir party ʼn tyd om ʼn kopdoek te dra en vir ander ʼn tyd om te spog met hul splinternuwe donsies; vir talle ʼn tyd vir wag vir die volgende ronde toetse.
Vir baie mense het die tyd uitgeloop. Op een van die gasvroue se tafel het ʼn boompie gestaan waaraan daar ʼn klomp foto’s gehang het – almal foto’s van mense wat verlede jaar nog die Kansa-tee bygewoon het, maar wat intussen hul stryd teen kanker verloor het.
As ek deur Maroela se nuus blaai, was 2023 ʼn tyd van oorlog; van misdaad; van stakings; van beurtkrag; van ʼn sukkelende ekonomie; van brande, vloede en aardbewings.
Dit was ʼn swaar tyd.
Dis vir ons moeilik om ons in ʼn tyd soos dié in te dink dat ʼn tyd vir een ding, altyd gevolg word deur die ewewig na die ander kant toe, soos dit in Prediker 3 beskryf word. Want as ons die patroon in Prediker moet toepas op 2023, beteken dit daar kom ʼn tyd van vreugde; ʼn tyd om gebore te word; ʼn tyd van genesing; ʼn tyd vir vrede; ʼn tyd vir ʼn beter ekonomie; ʼn tyd wat ons weer veilig sal voel. Ons is amper te bang om in dié dinge te glo, want het ons nie aan die einde van 2022 vir mekaar gesê 2023 gaan ʼn beter jaar wees nie?
Ek het nie eintlik ʼn antwoord op my eie vrae nie.
Maar ek weet een ding, en dit is dat ek amper aan die ander kant van 2023 uit is oor net twee redes: Omdat ander mense vir my tyd gemaak het, en omdat elke ding wat met ons gebeur, in God se Plan en sy groot Tydlyn inpas.
Daar was mense wat tyd gemaak het om vir ons gesin etes af te lewer. Kollegas wat gehelp het om my pa se begrafnis te reël ten spyte van hul eie beperkte tyd. Vriendinne wat ʼn tydjie afgeknyp het om te bel en te vra, “hoe gaan dit?” of om ʼn uur saam met my langs my ma se hospitaalbed te kom sit. Vreemdelinge wat stilgestaan het terwyl ons seun in die pad gelê het, en tyd afgestaan het om vir hom te bid terwyl die ambulans op pad was. Onderwysers wat tyd ingeruim het om vir ons dogter lief te wees. My geliefdes, my man en seun en dogter, wat tyd vind om vir mekaar ʼn koppie rooibostee aan te dra.
Vandag kry ek ʼn briefie in my e-posbus van ʼn geliefde oom – ʼn Maroela-leser wat jare terug, in reaksie op een van my redakteursbriewe, vir die eerste keer vir my e-pos gestuur het. Intussen het ons, kan ʼn mens maar sê, penvriende geword, maar ook veel meer as dit; eintlik maar familie. Wanneer oom Johan en tannie Maryna by hul kinders in die noorde kom kuier, maak hulle tyd om by ons te kom koffie drink op Maroela se stoep, of om by my en my gesin ʼn draai te kom maak. En toe ek anderdag in hulle geweste was, was dit my beurt om ʼn dag by hulle te gaan geselsies maak.
“Ek bid vir julle,” sê oom Johan vandag in sy briefie aan my. “Toe ek vandag Maroela lees, toe moet ek ver terugblaai om een van jou redakteursbriewe te lese te kry.”
Dit is so. Want mens kies waarvoor jy tyd het. Tyd vir alles is daar nie – soos ek hier skryf, kry my e-posbus kleintjies; die budgies se hokkie hang nog buite in die donker; die kinders se kosblikke moet nog gepak word en my rose moet water kry. Iets bly maar altyd agterweë.
Maar eers kies ek om nou tyd te maak om dié brief te skryf, want ek weet iemand het nodig om dit te lees. Dat vanjaar nie net ʼn jaar van hartseer vir my was nie, maar ook ʼn jaar van die grootste wonderwerk wat ek nog ooit beleef het. Dat ek leef met die wete dat my pa vir hom skatte in die hemel bymekaar gemaak het, al is sy tyd op aarde verby. Dat ek weet God het nog ʼn plan met my ma se lewe, al leef sy op geleende tyd – al is dit net dat sy vir nog ʼn rukkie met haar Alzheimers-lyfie vir die personeel in die tehuis drukkies moet uitdeel. Dat ek besef die sukkelende ekonomie dwing ons om op te kyk, mekaar raak te sien en vir mekaar om te gee.
In Prediker 3:4 (1953-vertaling) staan dit so mooi: “… ʼn tyd om te weeklaag en ʼn tyd om van vreugde rond te spring.”
Ek sien dit al – hoe ons hier in Suid-Afrika van vreugde rondspring. Ons Suid-Afrikaners kan mos so lekker uitbundig wees. Dalk – hopelik – is dit reeds Saterdagaand met die Wêreldbekerrugby-eindstryd. Dalk is dit die dag wat ons hoor dis die einde van beurtkrag, of ʼn rentekoers- en brandstofprysverlaging is op die horison.
Of dalk is dit sommer net tyd om van vreugde rond te spring omdat ons mekaar het. Omdat God sê Hy wil vir ons ʼn toekoms en ʼn verwagting gee. Omdat Hy alles ten goede laat meewerk, al lyk dit vir ons in die oomblik onmoontlik. Dalk moet ons van vreugde rondspring sonder ʼn rede, of dalk omdat ons ons vreugde in die Here vind en nie in aardse dinge nie. Of net omdat dit tyd is.
Vir myself bid ek vir 2024 dié woorde in Prediker 3:12: “So het ek dan ingesien dat daar niks beters onder hulle is nie as om bly te wees en goed te doen in die lewe.” Ek gaan in 2024 tyd maak vir bly wees en tyd maak om goed te doen.
Ek bid dit vir jou ook.
Groetnis
Susan Lombaard
Uitvoerende hoof: Maroela Media