Redakteursbrief: ʼn Waterkrisis en ʼn reënboognasie

Susan Lombaard Foto: Burger Meyer, Maroela Media

Susan Lombaard Foto: Burger Meyer, Maroela Media

So drie weke gelede haal ons woonbuurt in Centurion toe die nuus oor ernstige waterprobleme. Dit voel of Afrika behoorlik op ons neerdaal, want in dieselfde tyd skop Eskom se nuwe beurtkragskedule in, wat beteken ons sit met tye sonder krag én water.

Ons woonbuurt is een van daardie tipiese voorstedelike Gautengse woonbuurte. Ons skuil agter palissades, hoë mure en elektriese heinings. Nou en dan waai ons en die bure vir mekaar as ons toevallig gelyk by die hek uit ry, en van tyd tot tyd is daar kommunikasie oor honde wat te veel blaf. Só bly ons al vir nege jaar redelik anoniem en heel gelukkig.

Sedert misdaad so ʼn jaar of drie gelede drasties in ons omgewing begin toeneem het, het ons en die bure begin foonnommers uitruil, vir noodgevalle. ʼn Buurtwag het gestalte gekry, en kort daarna ʼn Whatsapp-groepie waardeur inwoners van die buurt met mekaar kan kommunikeer. Inwoners kry ʼn nuwe identiteit met die eerste letter van hul straatnaam en huisnommer – B12 vir Bezuidenhoudtstraat 12; Y21 vir Yvonnestraat 21. Aanvanklik is die gesprekke heel gemoedelik en informeel: “Hier is ʼn swart labrador voor ons hek – weet iemand wie sʼn dit is? W19.” “Ons pappegaai het weggevlieg. Laat weet asseblief as iemand hom sien. J37.”

Toe, ʼn jaar of wat later, het die boodskappe ʼn ernstiger toon begin kry: “Het nog iemand die skote gehoor? Klink of dit naby die hoërskool was. W55.” “Rooi Polo pas gesteel voor die Spar – wees asseblief op die uitkyk. E32.” “Man pas gekaap voor sy hek in Estellestraat. Wees versigtig! R44.”

En toe tref Rand Water en Eskom ons. Whatsapp-boodskappe wat mense se frustrasie, misnoeë en woede te kenne gee, vlieg so dikwels heen en weer dat my foon se battery skaars die einde van die werksdag sien. “Ons het alwéér nie water nie. Weet iemand wat aangaan? J25.” “Sewende dag in ʼn ry sonder behoorlike water. Hoe gaan dit met julle ander? D46.” “Ons straat se krag is af. Hoe lyk die res van die buurt? W38.”

Vir drie weke lank beskuldig die stadsraad en Rand Water mekaar oor en weer, terwyl die inwoners se frustrasievlakke (en hope vuil wasgoed) styg en hul watervlakke daal. So by die tweede week rond maak iemand van die stadsraad ʼn vlugtige draai in die buurt, meet die waterdruk by ʼn paar huise en laat weet ons selfvoldaan dat die waterdruk inderdaad baie laag is.

En toe, hierdie week, na drie weke van tallose klagtes en oproepe, daag die een of ander kundige op. Kyk hier en daar, loop en luister, en ontdek die plek waar ʼn toevoerpyp skynbaar diep onder die grond gebars het.

Toe ons Woensdagaand tuiskom, lyk dit of ʼn basaar op ons sypaadjie gebeur. Want dié gebarste pyp is toe nêrens anders nie as twee meter onder die grond op ons sypaadjie. Daar staan ʼn laaigraaf in ons oprit, spreiligte is opgestel en ʼn horde werkers krioel voor ons huis. Een van die mooi ou bome op ons sypaadjie is sonder seremonie uitgehaal en lê wortels in die lug in die straat. Die sypaadjie is vol motors geparkeer van dankbare inwoners wat kom kyk na die herstelwerk wat uiteindelik begin gebeur.

En skielik kry ons bure name en gesigte. Y20 word Peter, die swart dokter skuinsoor die straat wat altyd vir sy kinders toet om die hek te kom oopmaak. Frans, Y23 reg oorkant ons, gee vir ons ʼn afstandbeheer vir sy hek sodat ons ons motors in sy erf kan parkeer terwyl ons oprit onbegaanbaar is. Terence, ons Indiër-buurman in Y19, en Johan, ʼn inwoner van Erikastraat, staan dik stukke en kuier. Sibusiswe, hoof van watersake by die stadsraad, kom prop sy selfoon in ons kombuis in. ʼn Paar kinders plas in die modderwater wat in die straat af stroom.

Ons almal kuier en gesels in die straat. Te lekker.  Dit voel soos die óú dae; net die reënboognasie-weergawe daarvan.

Nou is ons water weer reg. Ons wasgoed is skoon en ons tuine is nat. En ons ken ons bure, by die naam, en knoop ʼn gemoedelike geselsie aan wanneer ons mekaar in die winkel raakloop. Want ons is saam deur moeilike tye.

Groetnis
Susan Lombaard

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Bertha Lombaard ·

Dat water krisisse nodig is om mekaar beter te leer ken en te verstaan is nogal ‘n “eye-opener” . Ons is ‘n reenboog nasie wat saamgegooi is deur omstandighede en ek hou van die nuwe Suid-Afrika. Net jammer ons skep nie meer geleenthede om mekaar beter te leer ken nie. Ons gewone burgers in die land het geen probleme met mekaar nie en elkeen van ons behoort van ons stukkie plek in die son ‘n beter plek te maak vir almal. Die regte gesindheid! Is dit dalk die towerwoord vir ‘n beter Suid Afrika! Kyk nou net hoe wonderlik het ‘n gebarste pyp mense by mekaar uit gebring wat voorheen slegs gesigte sonder naam in ‘n woonbuurt was. As gebarste pype mense na mekaar toe kan bring dan wens ek daar was meer sulke krisisse. Geluk aan die redakteur met ‘n pragtige skets.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.