Redakteursbrief: Nie alle jonges brand af nie

Susan Lombaard en die groepie kinders van Fun-der-Splash (Foto: Fun-der-Splash, Facebook)

Susan Lombaard en die groepie kinders van Fun-der-Splash (Foto: Fun-der-Splash, Facebook)

In ʼn week wat die #FeesMustFall-chaos en verwoesting op kampusse oor die land heen nuwe laagtepunte bereik, ontmoet ek ʼn handjievol jongmense wat my vrese vir die jeug stuk-stuk besweer.

Een middag hierdie week kom besoek ʼn groepie twaalfjariges Maroela Media. Wel, eintlik vir Japie, Maroela Media se kantoorhond en hopelik ʼn terapiehond-in-wording (dis nou as ons hom kan leer om die joernaliste te help ontspan in plaas daarvan om met hulle skoene weg te hardloop). Dié klompie jongmense is deel van ʼn groep met die naam Fun-der-Splash wat nou vir die derde agtereenvolgende jaar aan die First Lego League Lego Robotics-kompetisie deelneem. In die eerste fase van dié internasionale kompetisie moet elke deelnemende groep ʼn funksionerende Lego-robot ontwerp en bou, en in die tweede fase moet hulle minstens twee patente ontwikkel en vervaardig. Twee jaar gelede het Fun-der-Splash nasionaal as die wenners uit die stryd getree en deurgedring na die internasionale ronde, waar minstens sestig lande se jongmense jaarliks deelneem. Verlede jaar het hulle in die nasionale finale ronde geëindig.

Dis dus ʼn slim klompie jonges, dié. Vanjaar het hulle ʼn patent ontwikkel wat die eienaar van ʼn terapiehond uit die moeilikheid kan help as so ʼn terapiehond ʼn glips kry op ʼn ongemaklike plek, soos in ʼn hospitaal. As deel van hul navorsing oor terapiehonde besluit hulle toe om by Maroela se eie troosbrak, Japie, te kom kuier.

Maar dis nie die nuuskierigheid of intelligensie van die groepie twaalfjariges wat my mateloos beïndruk terwyl ons met Japie op die grasperk speel nie. Dis hulle goeie maniere: Die manier hoe hulle hulself met ʼn ferm handdruk voorstel, hoe hulle vir mekaar wag om klaar te praat en wag vir ʼn spreekbeurt, hoe hulle oogkontak maak terwyl hulle met jou gesels en hoe hulle die volwassenes in die geselskap met respek, maar ook ʼn gemaklike openhartigheid behandel. Toe hulle groet nadat hulle ʼn dankie-geskenk (een vir ons en een vir Japie) oorhandig het, voel dit vir my ek het ʼn nuwe huppel in my stap. Daar’s hoop vir ons land met sulke jongmense.

En skaars twee dae later word ek vir die tweede keer in ʼn week verras deur jongmense wat bou, eerder as om af te brand.

Fezi (links), Max (middel) en Raymond, eienaar van "Drive by Coffee"

Fezi (links), Max (middel) en Raymond, eienaar van “Drive by Coffee”

Ek ry gister vroegoggend ʼn ander roete as gewoonlik werk toe om eers ʼn afspraak na te kom. Naby ʼn besige kruising in Centurion kry ek parkeerplek terwyl ek wag vir agtuur. Tussen die string motors wat wag vir die verkeerslig om groen te word, draf drie jongmense met skinkborde vol papierkoppies koffie en muffins in plastieksakkies rond. Op die straathoek is hulle kitsstalletjie opgeslaan – ʼn eenvoudige houtstruktuur wat maklik afgeslaan kan word, met ʼn rits stomende potte koffie daarop uitgepak. Ek stap nader en maak kennis met Raymond, Max en Fezi. Raymond is die eienaar van dié stalletjie, en die entrepreneur wat daarvan droom om ʼn “Drive-by Coffee”-stalletjie op elke hoek in Centurion te hê, en later, sê hy, ʼn franchise in elke groot stad.

“The Lord has been good to us,” sê hy heel eerste toe ek begin uitvra. Hy het in Junie reeds met dié onderneming begin. Sy passie is koffie, en hy gebruik net goeie bone uit Tanzanië, sy land van herkoms. Elke oggend knap ná vyf meld hy en sy twee kollegas aan vir diens by dié besige kruising, en teen half-agt is hulle koffie uitverkoop – enigiets tussen 65 en 120 koppies koffie per dag, afhangend van die weersomstandighede. Hy loop oor van entoesiasme. Sy stalletjie is nog klein, maar sy droom is groot.

Ek sal weer iewers vir Raymond raakloop, weet ek. Ouens soos hy misluk nie maklik nie. En in plaas daarvan om lesings te ontwrig en geboue af te brand, kies Raymond om elke oggend sy stalletjie langs die straat op te slaan en in die sweet van sy aangesig sy brood te verdien.

Dis toevallig Koffieweek, en vandag Internasionale Koffiedag. Ook natuurlik nie toeval dat ʼn jong man soos Raymond met sy passie vir koffie juis gister my pad kruis om my weer hoop te gee nie. Daar is nog baie Raymonds en Fun-der-Splash-twaalfjariges daar buite. Hulle is net so besig om te werk aan hulle toekoms dat hulle nie tyd het om droog te maak nie.

Groetnis
Susan Lombaard
Redakteur: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Riëtte Heslinga ·

Susan, ek geniet jou skryfstyl en waardeer jou immer positiewe lewensuitkyk.

Aubrey Vermaak ·

Hallo Susan,
Kan jy ons dalk se waar hulle staan. Dan kan ons almal hulle ook ondersteun.

Dankie
Aubrey

Susan Lombaard ·

Dagsê Aubrey

Baie dankie dat jy dit voorstel! Raymond en sy spannetjie staan op die hoek van Estcourtstraat en Goshawkstraat in Wierdapark, van 5:30 tot so net voor 8:00 soggens. Gaan maak gerus ‘n draai!

Groetnis
Susan Lombaard

Niccy ·

Inspirerend! LW die man is afkomstig vanaf Tanzanië. Dit is die mense wat wil werk, en nie soos ons eie mense wil wag vir die regering om alles vernuut te gee nie.

Johan Oosthuizen ·

Dis ‘n moedgeestorie. Dis wonderlik om te sien daar is mense wat kan omdat hulle wil! Ek wonder of die klomp wat nou nou so agiteer. eendag met hulle gratis grade sal bereik wat die koffieskinkers alreeds bereik het!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.