Redakteursbrief: Nuwejaarsvoornemens in Februarie

susan_lombaard

Susan Lombaard Foto: Burger Meyer, Maroela Media

Nuwejaarsvoornemens is ʼn ding wat instinktief hier vroeg in Januarie geneem word, maar wat ongelukkig teen laat Januarie ernstig begin spoed verloor wanneer die lewe met ons gebeur. Volgens navorsing is die gewildste nuwejaarsvoorneme ooit die voorneme om gewig te verloor. Maar as ʼn mens dink aan die grappie wat so rondom Kersfees op sosiale media die ronde gedoen het, dat mense moet ophou om Kersfees die skuld te gee vir hul vetrolletjies want “you were fat in August”, wonder ʼn mens tot in watter maand hierdie nuwejaarsvoorneme nou eintlik gestalte kry.

Volgens die webwerf www.statisticbrain.com was die tien mees algemene nuwejaarsvoornemens vir 2015 die volgende:
• Verloor gewig
• Raak beter georganiseerd
• Spandeer minder; spaar meer
• Geniet die lewe voluit
• Bly fiks en gesond
• Leer iets opwindends
• Hou op rook
• Help ander om hul drome te verwesenlik
• Raak verlief
• Spandeer meer tyd met my gesin.

As ek kyk na die mense rondom my, is daar maar min van hulle wat in 2015 by enige van hierdie voornemens uitgekom het. Daar is ʼn paar wat lekker maer geword het, een of twee wat sedertdien verlief is, of begin oefen het, of op ʼn opwindende oorsese toer was. Maar oor die algemeen verskil mense se lewenstyl nie veel van hoe dit in 2014 gelyk het nie.

ʼn Mens kan hierdie top 10 nuwejaarsvoornemens op allerlei interessante maniere saam groepeer: Daar is drie wat gaan oor fisieke gesondheid, vier wat fokus op emosionele en geestelike welstand, en drie wat handel oor praktiese aspekte en lewenskwaliteit.

Slegs een van dié tien nuwejaarsvoornemens laat val die fokus op iemand anders. Die ander nege is selfgesentreerde voornemens.

In die lig van huidige rassespanning, ekonomiese druk, droogte en staatsverval in die land (om net ʼn paar van ons groot uitdagings te noem) wek dit kommer dat so min van ons nuwejaarsvoornemens oor ander mense gaan.

Ons het dus, hier by Maroela Media, die vrymoedigheid geneem om vir ons lesers ʼn lysie praktiese, uitvoerbare nuwejaarsvoornemens vir 2016 saam te stel:

• Dink voor jy praat. Lees jou kommentaar mooi deur voor jy “Stuur” klik. Wees gaaf met ander.
• Speel die bal, nie die man nie. Bly by die punt en moenie persoonlik raak in jou kommentaar nie.
• Wees gaaf met ons hier by Maroela. Moenie vloek nie (want dan moet ons dit uitvee). Stuur vir ons nuuswenke, melktert en biltong. Ons adres is op die webwerf.
• Groet iemand in die straat, of in die winkel. Maak nie saak watter ras die persoon is nie.
• Hou kleingeld in jou kar om karwagte te beloon. Hulle staan heeldag in die son, maar hol nog steeds nader om jou pakkies te dra as jy by Spar se deur uitstap. Sê dankie.
• Deel Maroela se stories met jou vriende op sosiale media sodat hulle ook kan saamgesels om die braaivleisvuur.
• Praat goeie goed oor jou skool se onderwysers voor jou kinders. So kweek jy ʼn kultuur van respek by jou kind.
• Vat jou eie koffiebeker wasbak toe – by die huis en by die kantoor. En maak sommer vir ʼn kollega koffie, terwyl jy in die kombuis is.
• Belê in gesinstyd. Prop die televisie uit en koop ʼn klomp bordspeletjies en ʼn pak kaarte. Los dit sommer op die eetkamertafel.
• Raak iewers betrokke, vandag nog. Hou op dink en wroeg oor waar die beste plek is. Bel jou naaste ouetehuis, sluit aan by ʼn Helpende Hand-tak, bied aan om broodjies te maak vir die skool se broodjie-projek, teken ʼn debietorder vir ʼn goeie saak, neem jou kind se maatjie wat sonder ʼn pa grootword onder jou vlerk, ry ʼn sakkie kruideniersware in jou kar rond om langs die pad uit te deel. Daar is baie maniere, en jy hoef min te dink om dit te doen.

Kom ons maak in 2016 Suid-Afrika ʼn beter plek, want ons kan.

Groetnis
Susan Lombaard
Redakteur: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

chrisp ·

Mooi man. Baie van bg voornemens is puik.
Die een van lees eers weer jou kommentaar, weet ek gaan ek in faal.Tyd is meestal beperk.

Die biltong een sal ek eers in die winter ondersoek(ek maak die lekkerste suid van Norilsk).Geen beloftes nie.

Groetnis Susan.

ns Ek gee dalk biltong in ruil vir een van daai groot uitveers wat julle soms op my kommentaar gebruik.

chrisp ·

Dagse Susan.

Hehe he.
Sien jy nou skryf ek Susan onder asof dit ek is (se mos ek lees nie my kommentare deur nie ,dalk moet ek).

Ben ·

Die belangrikste is moenie tevede wees met snert antwoorde of diens nie. As alles gratis was kan mens nog toegewings miskien maak, maar as jy betaal, trap hulle uit. Die swak diens het begin na 1994, maar spul-oor elke dag na ander ook. Daar is twee antwoorde op elke vraag, as jy beslis voel jy is reg, maak hewig beswaar of kry my om dit vir jou te doen.

Joh. 3:16 ·

Ai Susan. Jy laat my dink aan my jonger dae. Toe ons met les en voorbeeld geleer was om sulke bedagsame gedra en respek aan te moedig en uit te leef. Ek herrinner my van ‘n tyd toe dit die norm was en enige iets buite die raamwerk van denke, onverskoonbaar was. Moenie moedeloos raak met die geestelike aanvalle wat lessers so onverdraaglik op julle laat reën nie. Leef julle Christelike kwaliteite. Ek bid dat die koerant ons opgevoede deel van Afrikaner wees volhoubaar sal verteenwoordig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.