Redakteursbrief: Om die liefde te vier in ʼn land wat brand

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media Foto: Noeleen Foster

Liewe Maroela-leser

In Desember verlede jaar het ek en my man ons twintigste huweliksherdenking gevier. Ons gesels net die naweek weer oor dié dag, twintig jaar gelede, toe ons in die sendingkerkie op Botshabelo buite Middelburg met sy misvloere en kersblakers getroud is. Ná die seremonie het ons saam met ons gaste gekuier onder groot skadubome langs die rivier. Daar was sonneblomme op die tafels en vlinders in die lang gras, en my ouma het tjoepstil bly sit toe ʼn apie in die boom bokant haar op haar kapsel piepie.

Om 11:00 op die 18de Desember verlede jaar, presies twintig jaar nadat ons ons beloftes aan mekaar gemaak het, sit ons met ons voete in ʼn ysige bergstroom in die Royal Natal Nasionale Park. Voor ons lê die Drakensberge se amfiteater; agter ons broei ʼn storm in die lug. Maar vir die oomblik sit ons met ons rûe na die storm en praat oor twintig jaar.

As jy iets anders kon doen, wat sou dit wees? vra ek vir hom.

Foto: Susan Lombaard

Meer van dié, antwoord hy en beduie om hom na die voetpad wat agter ons lê, die helder water waaruit ons bakhande vol drink, die kranse wat elke paar minute vir ons ʼn ander gesig wys.

Die rit van die huis tot by Dream Resorts se Little Switzerland-oord waar ons vir die naweek tuisgaan, en van daar tot by die park die oggend, was ʼn eg Suid-Afrikaanse ervaring – die tipe ervaring waaraan ons as Suid-Afrikaners so gewoond geraak het dat die vreemdheid daarvan ons nie eens meer opval nie. Die pad tot by Little Switzerland ʼn entjie buite Bergville was in ʼn goeie toestand, maar vir lank was dit nié die geval nie, het die oord se bestuur ons met ons aankoms vertel: ʼn Paar jaar gelede was die pad tot daar in so ʼn onrybare toestand dat die oord vir ʼn wyle sy deure moes sluit, tot die pad reggemaak is en Dream Resorts die oord gekoop en opgeknap het. By die padstal waar ons die vorige dag vir middagete gestop het, was ons die enigste gaste. Die witwyn was louerig, asof ons die restaurantjie onkant gevang het met ons besoek, maar die tuisgemaakte burgers het opgemaak daarvoor. Die items wat in die winkeltjie te koop aangebied is, was stowwerig en voorspelbaar, maar die badkamers was skoon en ons kon die vars lug wat van die berg se kant af oor die breë stoep gewaai het diep inasem.

Foto: Susan Lombaard

Die oggend se ontbyt was luuks en ons kon ons indink dat dit uitsig oor die berge jou in die winter sal laat glo jy is iewers in Switserland. Die diens was onverbeterlik en die omelette perfek. Ná ontbyt val ons met ons kameras en ʼn piekniekmandjie in die pad Royal Natal Nasionale Park toe. Kort buite die oord moet my man skielik wild konsentreer om die slaggate mis te ry, en van gesels is daar min sprake. Plek-plek ry ons sommer bo-oor elektriese verlengkoorde wat oor die teerpad gegooi is om krag van dié kant af na huisies en shebeens en kleinbesighede aan die ander kant van die pad te verskaf. Vroue sit met handgemaakte produkte van hout en krale by afdraaiplekke en wag op moontlike kopers, terwyl kinders in die skadu van die bome om hulle speel.

In die park vind ons ʼn voetpad na ʼn piekniekplek. Ons voel relatief veilig – elke paar minute kom ons ander stappers van verskillende nasionaliteite teë. Een gesin wat van voor af verbykom, beduie in sukkelrige Engels vir ons van ʼn lekker uitspanplek ʼn entjie vorentoe waar hulle pas weg is. En dis hier waar ons langs ʼn waterstroom ons sit kry sodat ons presies om 11:00 die stilte kan inasem, en vir mekaar vra: As jy iets anders kon doen die afgelope twintig jaar, wat sou dit wees?

ʼn Week gelede skryf dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, in ʼn ope brief aan pres. Cyril Ramaphosa op Maroela Media: “In Januarie steek die ANC kersies op ʼn verjaardagkoek aan die brand en sny die koek. Hulle lag en lyk gelukkig. Hulle vier die stand van die land. Die land brand en die ANC eet koek en drink sjampanje.”

Vandag, op 14 Februarie, vier die wêreld die liefde. In ʼn land waar dit soms voel of daar min oor is om te vier, voel dit ʼn bietjie banaal om ʼn dag aan die liefde te wy. Terwyl baie dinge om ons letterlik en figuurlik aan die brand is, voel dit belaglik en selfs onmoontlik om tyd opsy te sit vir ʼn afspraak met ʼn geliefde (nie noodwendig op Valentynsdag nie); ʼn oproep deur die dag om te hoor hoe dit met ons huweliksmaat gaan; ʼn soetsappige briefie in ʼn kosblik.

Foto: Susan Lombaard

Maar juis daarom moet ons soms op ʼn klip gaan sit en ons voete in die koue water laat rus saam met iemand vir wie ons lief is. Ons moet vir ʼn paar oomblikke maak of die storm wat agter ons broei, nie daar is nie – net die vars lug inasem en die uitsig bewonder. As ons staande wil bly in ʼn land wat brand, moet ons heel eerste sorg dat die boustene van ons gemeenskap gesond is: ons verhouding met God, ons huwelik, ons gesinne. Dan het ons nuwe moed om ons voete af te droog, ons stapskoene aan te trek, om te draai en terug te stap met die voetpad in die rigting van die storm.

Groetnis
Susan Lombaard
Uitvoerende hoof: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sandra

‘n Baie mooi storie en so mooi geskryf oor die werklikheid en ons klein bietjie “waiting to exhale” oomblikke in ons gejaagde, deurmekaar land en lewens. Baie min dat ons sulke oomblikke kry. Eintlik ‘n jammerte.

Strandloper

Dankie lekker gelees. Daar sal altyd geloof, hoop en liefde wees.