Redakteursbrief: Om jou lewe in bokse te pak

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media (Foto: Maroela Media)

Toe ons veertien jaar gelede ons intrek geneem het in die huis waar ons nou bly, was dinge soveel eenvoudiger. Dit was nog net ek en my man en ons hond. Een hond. Ons kon ons beperkte aardse goedjies op ʼn sleepwa laai en die bokse was vinnig-vinnig uitgepak.

Die afgelope veertien jaar het ons huis saam met ons gesin gegroei. Eers het die spaarkamer plek gemaak vir ʼn kamer met pienk gestreepte mure en vlinders wat van die dak af hang. ʼn Paar jaar later is die studeerkamer omskep in ʼn seuntjiekamer met ʼn karretjie-duvet. Die olielampies aan die stoepbalke het plek gemaak vir ʼn boks-slaansak en ʼn touleer. Die binnehoffie by die agterdeur se mure is volgeverf met vrolike plaasdiere, en ʼn sandput en swemskulp is op die gras staangemaak. Die yskas is nou vol foto’s van vrolike gesinsoomblikke, en die muur in die eetkamer is behang met kinderkuns in Mr Price-rame. Die hond het twee geword, toe weer een; toe weer twee. ʼn Verskeidenheid hamsters het gekom en gegaan.

Nou het dit tyd geword om aan te beweeg. Ons huis is volgeleef. Die kinders word groot en het meer spasie nodig. Ons wil ons huis die plek maak waar ons kinders se maats kan kom kuier, eerder as andersom. Ek soek ʼn plek waar ek rose kan plant in vrugbaarder grond as dié wat ons tans in die tuin het, en Manlief wil plek hê om houtwerk te doen. Die kinders soek ʼn veilige straat om in fiets te ry.

Só begin ons ʼn maand of wat gelede huise kyk op eiendomswebwerwe. Dit gaan lank neem, reken ons; ons kyk solank rond. ʼn Huis vang ons oog en ons maak ʼn afspraak om te gaan kyk. Toe ons instap, weet ons dis ons nuwe huis.  Daar is ʼn suurlemoenboom naby die agterdeur, ʼn groentetuin in die hoek en ʼn hele veilige buurt vir die kinders om in fiets te ry.

Daar is een klein probleempie: Ons eie huis is nog nie verkoop nie. Vervaard begin ons agente sien en adverteer, want nou moet dinge vinnig gebeur. In ons koppe sit ons al die meubels in die nuwe huis se vertrekke neer.

Op die vreemdste tye begin vreemdelinge saam met die eiendomsagent ons huis besigtig. Die arme kinders waag dit skaars om ʼn speelding uit te haal, want hulle speel net lekker, dan moet hulle al weer opruim. Wee die hond wat met nat pote by die voordeur inhol of die gesinslid wat vergeet om ʼn leë toiletrolletjie om te ruil. Vuil skottelgoed word as voorsorgmaatreël in die skottelgoedwasser gepak; die wasbak bly blink en skoon. Elke lekkende kraan, krakende skarnier en wasige spieël word gepoets, vervang, gelap en geolie.

Soos die huiskyk-besoeke meer word, raak ons gesin huiskyk-fiks. Aan die begin het ons twee ure waarskuwing nodig voor die agent iemand kan bring om te kom kyk. Naderhand het ons net tien minute nodig. Elkeen het ʼn werkie: Een kind hol deur en druk rondlêgoed in kaste. Nog een pof kussings op en pluk gordyne netjies.

Wanneer die huiskykers instap, sit ons soos ʼn modelgesinnetjie op die stoep. Josua speel met sy karretjies. Isabel lees ʼn boek. Pappa en mamma sit elk met ʼn beker geurige koffie (varsgemaalde bone, sodat die reuk nog in die kombuis talm) en gesels liefies met mekaar oor die dag wat verby is.

En dan kyk en luister ons af:

“Imagine the kitchen without this,” sê die agent en beduie met haar kop na die kombuistafel wat die kombuis half oorvollerig maak. Laataand, toe hulle weg is, skuif ons die kombuistafel garage toe. Die tafel waarop my seunskind vroeg soggens pens en pootjies sy sit kry in sy pajamas en met my kuier terwyl ek roosterbrood maak.

“The stoep is a wonderful entertainment area, although it’s a bit cluttered at the moment,” sê ʼn huiskyker vir haar man. Na die tyd word die bokssak en touleertjie afgehaal en gebêre; die plantjies wat ek met groot sorg probeer gesond dokter, word om die hoekie langs die trappe staangemaak.

ʼn Potensiële koper staan skewekop en kyk na die yskas oorvol foto’s, briefies en kinderkuns. Toe sy gery het, ruim ek die yskas op: Die foto van ek en my man in die Visrivier-canyon; die kinders se nuutste rapporte; die handgemaakte fotoraampie wat ons seuntjie vir my gemaak het.

Ek haat elke oomblik daarvan. Dié geveinsery om mense wat ons nie eens ken nie, te beïndruk. Asof húlle matte nooit hondespore op het nie en húlle dooie roosknoppies altyd afgeknip word, brom ek vir my man. Dis mos ʼn huis waar mense bly, dié. Maar as dit tyd is vir die volgende afspraak, is ek die eerste een om seker te maak enige teken dat normale mense hier bly, verdwyn soos mis voor die son.

Iewers, weet ek, in ʼn ander huis, is ʼn tannie en oom besig om ook hulle lewe se goetertjies in bokse te pak. Die huis waarheen ons trek, vertel húlle lewensverhaal. Van die appelkoosboom se oes het die tannie dosyne botteltjies konfyt gekook. Die geurige blombosse voor die vensters het vir jare lank haar gesin veilig en tuis laat voel. Die netjiese grasperk het die oom self geplant en vir 27 jaar lank versorg; daar het hulle seun en sy maats balgespeel.

So twee weke gelede bel die tannie my: “As jy ʼn kansie het, kom maak ʼn draai – ek wil vir jou iets in jou tuin wys,” sê sy. “Hier is ʼn azaleabos in die tuin by jou agterdeur wat net een keer ʼn jaar blom. As jy hom nie nou sien nie, blom hy eers weer volgende jaar.”

Ek gaan kyk, en die bos staan in volle blom. Bloedrooi staan hy daar; mens kan amper nie ʼn groen blaartjie sien uitsteek nie. Sy gun my dit; die huis was goed vir haar, en nou is dit my beurt. My hart is vol.

Terug by die huis maak ek met nuwe moed skoon en aan die kant. Ook hier, tussen hierdie vier mure wat deurweek is met herinneringe, hartseer, liefde en stories, gaan iemand ʼn nuwe hoofstuk kom aanpak.

As jy dié Desember trek: ons is saam in die ding.

Groetnis
Susan Lombaard
Uitvoerende hoof: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Wysneus ·

Stukkies lê hier, en stukkies lê daar
Stukkies van my lewe lê hierdie hele land vol, deurmekaar.

Maar ons het mos nie die reg om swaar te kry nie. Oor ons swaarkry sal daar nooit gesing word nie!

De Villiers Hauptfleisch ·

Ja om jou huis te verkoop en te trek is nie altyd lekker nie. Ek het egter nie baie in my lewe getrek nie. Net 5 huise van my eie gehad en basies net in twee provinsies gebly nadat ek getroud is. Die maklikste trek was vanaf ons gemeubileerde bachelor-woonstel in Bloemfontein (kort na ons troue) na Kaapstad. Al wat ek en my vrou toe besit het was `n trousseau-kis, `n dubbelbed matras, `n besem en twee dose vol breekware. Die is ingestop by `n ander man se trek in die meubelvervoer wa. Die ander trekke was uit die aard van die saak nie so maklik nie, want hoe meer aardse besittings jy het, hoe meer moeilikheid het jy. Dan los jy jou huis kraak netjies vir die nuwe intrekkers net om weer `n ander huis te kry wat vuil en verwaarloos is want jou vrou het mos die potensiaal in die `nuwe`huis gesien en vat dit jou weer maande om die plek weer leefbaar te kry. Ek weier om weer te trek, hulle moet my maar voete eerste by hierdie huis uitdra.

Jaco Grobler ·

Mooi geskryf, hoop julle bly lekker in julle nuwe huis, en hy lewer net so veel of meer goeie tye, met ‘eerlike koffies’ en kinders wat op die tafels dans!

Maxie maartens ·

As daar een persoon is wat weet van trek is dit nou ek. Ek trek die Desember vir die 47ste keer my bymaam pak en trek die lewe het my al baie laat swaar kry tog is elke trek met groot opgewondenheid aangepak altyd iets soos” nuwe begin”.en tog sê ek ook elke keer dis my laaste trek en voor ek my oë uitvee moet ek pak en trek ek dink ek kan dit al toe oë doen. Elke vorige huis bly ñ stukkie van my hart ek moet ñ baie groot hart hê. Geniet jou nuwe huis .

Lena Jonk ·

Susan alles so mooi uiteengesit, dit het vir my gevoel asof ek alles saam met jou beleef het. Ja trek het 4 letters maar daarin le hope arbeid. Julle praat van werk hartseer afskeid en pak. Ek en my man al oud en het baie sieklik geword kon nie meer alleen aangaan nie. My dogter in NZ dreig al lankal dat ons moet na haar gaan wil ons oppas, kan nie meer alleen. Nouja so gese, so gedoen. Wil nie vir julle daardie pakkery vertel nie, party goed vir dogter in Pretoria, daar word uitgedeel vir naby familie, daar word verkoop maar…. oe die pak na NZ wat n opperasie. Die hartseer nou uit jou land, waar gebore, grootgeword en oud geword het. Kom hier aan met baie pyne van lang vlug en die ou deeltjie van hart wat agtergebly het in my land. Bly lekker, kinders baie goed vir ons en ons as oumense voel baie veilig. Ek lees natuurlik maroelmamedia nuus elke dag. Bly lief vir my mense en verlang, maar moet dinge aanvaar. Baie sterkte en voorspoed met ons koerant. Ons sal nooit ophou bid vir SA nie. Baie groete uit verre NZ.

Caroline ·

@Lena Jonk, Ja nee huis trek is n groot stap. Ons het ook 10jaar Di groot trek NZ toe geneem. Maar ek ruil dit vir niks ni. Lees ook Maroelamedia elke dag . Mooi dag Almal??

Lou Coetzer ·

Dagsê Susan. Ek weet nie waar julle bly of waarheen julle gaan trek nie, maar as dit iewers in Pretoria is, sal ek baie sterk aanbeveel dat jou man by die Houtwerkvereniging van Pretoria aansluit. Ons vereniging sluit subgroepe in soos meubelmakers, draaiers, speelgoedgroep, restoureerders en dan die snyers. Ons leer oor en weer BAIE by mekaar. Daar word met elke byeenkoms demonstrasies gehou van nuwe of verbeterde tegnieke, nuwe gereedskap of nuwe gebruike van ou gereedskap en selfs hoe om ‘n werksplek sinvol toe te rus. Daar is natuurlik soortgelyke houtwerkgroepe in ander stede waarby jou man kan inskakel indien julle nie in of naby Pretoria gaan bly nie. Voorspoed met julle huisverkope en mag julle in die nuwe plek gou inburger en jou man geleentheid kry om sy stokperdjie te beoefen. Lou Coetzer

Johan Oosthuizen ·

Soos altyd, so mooi geskryf! Dis die kronkelpad van huis tot huis. Ons huise is ankerplek maar ankers word gelig en weer laat sak. Dit was vir my ondenkbaar dat my oudagdrome dalk nie bewaarheid sou word nie. Ons laaste skuif was ouetehuis toe. My oudaggereedskap, hout- en metaalwerkmasjiene is weggegee of verkoop. So ook my skapies, besies en spoghoenders. Jare se bymekaarmaakgoed moes uitgedeel word. Van ons kosbaarste goedjies is nou in ons twee slaapkamer woonstelletjie. In ons tuintjie van 5X3 meter tuintjie staan drie vrugteboompies in halwe vate en die vruggies is al duifeier groot. In die houtkaste plant ons wat ons harte sê ons moet plant. Ons is dolgelukkig in die blyplekkie wat ons Vader vir ons voorsien het. Hy bederf ons met dit wat vir ons die beste is. Susan, mag die huis wat ons Vader vir julle uitkies, ‘n vreugdehuis wees waar liefwees en omgee vir mekaar die vreugde sal laat blom.

Elsa Wessels ·

Kan só identifiseer . . . ;-) Die hartseer om afskeid te neem en die opgewondenheid van ‘n nuwe hoofstuk en tussenin die boksemdaais BOKSE! Eers “opskaal” vir groter ruimte vir kinders en kie en later weer “afskaal” ter voorbereiding van oudword en aftree-oord ;-)
Hulle sê jou huis is waar jou hart is . . . hoe groter jou hart, hoe meer plek is daar vir nuwe huise/plekke/ervarings . . . want die wêreld is ons woning nie?

Baie sterkte met die verkope/trekkery en geniet die nuwe avontuur!

Rudie Booyens ·

Mooi—!
Baie mooi—!!
Uitsonderlik mooi verwoord.
Dankie baie!
Ek bid saam vir jou huis se verkoop.
Rudie

Wilna Pepler ·

Het ook getrek! Van woonstel daar teen Northcliff se koppie, plaastoe vir in die dertig jaar toe Pretoria toe en nou in Ouma Huisie in groot tuin langs die swembad! En dit is lekker! Wil niks anders terug hê nie!

L Muller ·

Sterkte Susan, so bly baie herrinneringe agter. Hierdie Desember is ons n jaar weg van ons pragtige plaas met 2 groot damme n groot tuin , ‘n lapa waar ons kinders se 21ste verjaarsdae en troues gehou is. Ons al oor die 60 begin op die beesplaas van voor af nes skrop die gronddam moet reg, die grond waar ons die huis wil bou word opgevul ek begin van voor af tuin maak. Ons maak ons eie stene vir die huis, bou n beeskraal alles met die hulp van ons kinders. Kersfees sal dit n jaar wees. Dit was nie maklik nie maar ons bly lekker met n pratige uitsig oor hanglip en Rondomkrans .

L Muller ·

My hart gaan uit na almal wat hul geliefde woonplekke moes agter laat. Maar so stap n elke mens maar die lewens paadjie , party sin net moeiliker as ander. Na ‘n jaar staan hier ook nog tientalle bokse. Maar hierdie is die plek waar ons kinders en kleinkinders kom om hul self weer te vind na die gejaag in die stede. Oupa en ek sal uithou solank ons kan met die genade van Bo.

L Muller ·

Sterkte Susan , so bly daar baie herrinneringe agter. Kersfees is dit n jaar wat ons ons pragtige plaas agtergelaat het na 36 jaar , n lapa waar die kinders gedoop is 21 ste verjaarsdae en troues gehou is. Hier op die beesplaas moes ons van voor begin , ons is altwee oor die 60 , die grond dam moes reg die plek waar ons huis wou bou moes opgevul word, daars self stene gemaak , die beeskraal is gebou als met die hulp van ons kinders, ek moes van voor af tuin maak. So stap elke mens sy paadjie party sin is net moeiliker. My hart gaan uit na die persone wat als moes agterlaat. Ons bly lekker met n pragtige uitsig oor die berge die wild wat vry rondloop , dis hier waar ons kinders en kleinkinders kom asem skep, solank as ons genade van Bo ontvang sal ons hier bly.

Chris ·

Ons het al paal maal verhuis, oor naweke voor mense daar opdaag om die huis te besigtig ‘n heerlike dis gemaak, uie gebraai, die reuk het jou mal gemaak, op die agterstoep gespiseryde varkboud in die weber gebak.

Katrynkie ·

Alle voorspoed met julle trek Susan.

So is ek ook besig om my lewe in bokse te pak. Dis n besluit van wat is nodig en watter fisiese herinneringe pak ek in en wat last ek agter. Dis n eina pak…n pak waarvoor my kragte min is maar dis n pak wat gepak moet word.
Hoe pak mens n leeftyd in…alleen sonder jou lewensmaat?
Hoe laat n mens n plek agter waar liefde geseevier het, om op n vreemde plek in n vreemde huis alleen net met al die mooi herinneringe wat vir altyd in jou hart gestoor is n nuwe begin te maak?

Dit laat my dink aan David Kramer se Skipskop…
“pak op, pak op
sit jou goedjies op jou kop
more gaan (ek) weg,
ver van hier weg…..
…hier deurie duine, loop onse spore
hier op die beach hier langs die see is ek gedoop
maar wat ken ek anders
as die bloudam se branders
die wolke en die winde wat hier waai
maar verkoop jou bootjie, pak op jou goedjies
en se maar so long skipskop, skipskop se goodbye…
…linkerhand, o die regterhand
wat se kant le die plek, misverstand
‘seblief meneer, ag se tog weer
is dit die pad wat (ek) moet more vat
‘n stukkie le hier en ‘n stukkie le daar
stukkies van my lewe hulle le deurmekaar…
…pak op jou goedjies, pak op jou goedjies,
se maar so long skipskop skipskop se goodbye.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.