Redakteursbrief: Ons Afrikaans is rooibostee en roulynolie… hoe lyk jou Afrikaans?

susan_lombaard

Susan Lombaard Foto: Burger Meyer, Maroela Media

Hoe lyk jóú Afrikaans? wil ʼn splinternuwe veldtog vir die bevordering van Afrikaans as handelsmerk, Afrikaans.com, by ons, die gebruikers van Afrikaans, weet.

Ek krap kop, al ʼn week lank. Ons weet hoe klink Afrikaans. Maar hoe lyk Afrikaans?

Ek onthou ʼn tannie van Kamieskroon in Namakwaland, wat ek een keer ontmoet het toe ons as studente by ʼn kinderhuis in dié dorpie gaan kuier het. Sy was klein en verrimpeld onder haar kappie, soos ʼn rosyntjie. Antie Adams, as ek reg onthou. Sy moes ʼn groot pot bredie deel sodat elke honger magie ʼn porsie kry. “Jy moet katvoet skep,” het sy lepel in die hand vir ons beduie.

As ek ʼn prentjie aan my Afrikaans moet gee, is dit antie Adams met haar klein lyfie, wange verrimpeld van son en baie lag, haar groot hart en haar kleurvolle Afrikaans in die Namakwalandse onherbergsaamheid. Sy, en ons taal, is soos die Namakwalandse landskap: jy kyk dit só, en sien niks besonders nie. Maar gee dit ʼn bietjie tyd en water, en iets gebeur. Dit skiet wortel en blom, en jou hart is nooit weer dieselfde nie.

Mens kan nie help om sentimenteel te raak as jy praat oor Afrikaans nie. As jy na die tyd dink wat jy alles kwytgeraak het toe iemand jou vra hoe jy oor Afrikaans voel, bloos jy gewoonlik ʼn bietjie. Selfs die mees geharde manne kry ʼn krakie in die stem wanneer hulle vertel hoe lekker hulle in Afrikaans vloek.

Want Afrikaans is nie net ʼn lekker ding soos Afrikaans.com se veldtog vertel nie. Dis ook ʼn hartsding, ʼn hartseer ding, besef ek toe ek vanoggend die Maroela-span vra om my te vertel hoe lyk húlle Afrikaans.

“My Afrikaans is die Gautengse slapwange mô en pô, soveel soos ek daarteen probeer stry,” sê Suné van Heerden, Maroela se sosialemediabestuurder in Kaapstad. “My mô het ons geleer om rég te praat: dis sjokolade en lekkergoed en asemrowend, nie ‘chocolates’ en ‘sweets’ en ‘awesome’ nie. My Afrikaans is in my hart en op my tong. Dis wie ek is, waar ek ook al is.”

Ons webmeester, Kobus Bezuidenhout, die stil ou hier onder ons, vertel só: “Afrikaans is soos roulynolie vir my krieketkolf, warm sonstrale op ‘n koue wintersgesig. Dis die taal van my hart.”

“Ek kan huil, lag, skree, simpatiseer, rou, opbou, afbreek, heelmaak en vloek in Afrikaans. My taal,” sê Landi Malan, ʼn joernalis.

Dis my taal; dis ʼn hartsding, hoor ek by almal van hulle.

Selfs ons hardebaard-nuusredakteur, Nico Strydom, kan nie Afrikaans beskryf sonder ʼn skeut stroperigheid nie: “My Afrikaans is: My taal, my werk, my opstaan, my gaan slaap, my kuier, my familie, my wêreld. Ek praat Afrikaans, ek droom Afrikaans ek leef Afrikaans.”

“Afrikaans is verweef in die selle van my liggaam – dis intrinsiek deel van wat ek dink, wie ek is en wat en wie ek kies om te wees,” sê Keren van den Berg, projekbestuurder.

“In my hart is ek ʼn wêreldreisiger! Ek sal elke dag op ʼn ander plek wil wees. Ek wil op die Farao Eilande gaan woon, ʼn huisie in die Provence hê, gereeld Parys se strate invaar, deur Spanje stap. Maar maak nie saak waar ek in die wêreld is nie, of selfs al besit ek niks, is my taal en my geloof die twee goed wat nooit van my af weggevat kan word nie.  Dit is die taal waarin ek dink en droom…” vertel Annelize Brits, ook ʼn projekbestuurder.

En daar slaan heelwat deur van die karakter eie aan Afrikaanssprekendes, wanneer hulle praat oor Afrikaans.

“Afrikaans is soos tante Carike se liedjie, Dis ʼn Land,” filosofeer Phillip Bruwer, senior joernalis. “Dit is vol kleure en klank en ʼn mens kan jouself so lekker van die ooste, weste, noorde, suide daarin uitdruk.

“ʼn Resessie dreig op die horison. Alles raak duur. Politiek bedreig jou kultuur. Maar tog bly jy versigtig optimisties vir môre se land wat sonder horison troon en waarna almal strewe. So doen jou ding, jy staan jou man, jy veg vir waarvoor jy staan en jy gaan aan. Jy bly staan al moet jy die gordel stywer trek en begin enkellaag toiletpapier aanskaf terwyl jy jou blyplek neerlê, wat daar in die son bestaan.”

Adele, ook ʼn joernalis, praat mooi goed oor Afrikaans: “Dis soos om vir ʼn vis te vra hoe dit voel om in water te swem – mens kan nie so iets verduidelik nie. Om mý Afrikaans met biltong, rugby of oulike woorde te vergelyk is nie genoeg nie, want wanneer die kos, die sport en selfs die digkuns nie meer daar is nie, is my Afrikaans steeds daar. Ek het dit oorsee beleef – toe ek myself op ʼn plek bevind waar my taal, kultuur, kos en selfs my geloof nie bestaan het nie, het ek nie minder Afrikaans gevoel nie.

“My Afrikaans is so deel van my wese, ek sal dit nooit uit my kan kry nie, al probeer ek.

“My Afrikaans sal eers sterf wanneer ék sterf.”

Christo Brits, digitalebesigheidsbestuurder, dink vir ʼn slag nie in rande en sente as hy oor Afrikaans dink nie – inteendeel: “Vir my is Afrikaans my menswees. Dit is waarmee ek gebore is en waarmee ek eendag wil doodgaan. Afrikaans belyn my bestaan, want ek is mens in Afrikaans. Ek word wakker in Afrikaans. Ek het nou-net gedroom in Afrikaans. Ek maak planne in Afrikaans. Ek doen my sport in Afrikaans. Ek doen besigheid in Afrikaans. Ek maak my kinders groot in Afrikaans. Ek praat met my Skepper in Afrikaans. Ek raak kwaad in Afrikaans.

“Ek is lief in Afrikaans.

“Ek treur in Afrikaans.

“En eendag as dit tyd is om my Skepper te ontmoet, wil ek dit doen in Afrikaans.”

Alana Viljoen, een van Maroela se uitgebreide familielede, vertel só hoe haar Afrikaans lyk: “My Afrikaans is ‘n tweejarige wat kaalvoet speel in die Hoëveld-reënpoele en ‘n pappa wat vir die 17de keer die week dieselfde Bybelstorie lees met die wêreld se geduld. Potjiekos en koeksisterkompetisies by die kermis en natuurlik ‘n groot stuk biltong wat met ʼn knipmes bearbei word terwyl die Bokke speel. As moderne kletskunstenaar, appelvreter, Saterdagoggend-kooivlooi, radikale rokdraer en straatparate mamma wat vir haar gesin enige dag op ‘n seepkis, van ‘n krans af of saam op ‘n bed sal spring, kan ek sê, ek is trots Afrikaans.”

Maar die mooiste prentjie kry ek by Carmen Bornman, ʼn 17-jarige tiener van Centurion, wat in Engels tuisskoolonderrig doen maar so skelm-skelm verlief geraak het op Afrikaans: “As ek aan Afrikaans dink, sien ek ‘n lekker koppie warm tee wat jou laat glimlag so lekker is dit. Ek kan nie perfekte Afrikaans praat nie, maar as iemand doen, is dit soos ‘n koppie tee wat ek geniet. Ek sal vir ewig na hulle luister. Gesegdes en idiome is vir my soos die melk en suiker in die tee – dit maak die tee perfek.”

Afrikaans is toe nou al die tyd nie boeretroos nie, maar rooibostee.

Groetnis
Susan Lombaard
Redakteur: Maroela Media

  • Hoe lyk jóú Afrikaans? Besoek Afrikaans.com om meer uit te vind oor die kompetisie en veldtog en hoe jy kontantpryse vir jóú Afrikaans kan wen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Jaco Grobler ·

Dankie Susan, jy maak my week en skop my naweek af met knal! Ek is so trots om Afrikaans ye wees.

HEVW ·

Afrikaans verskil milieu waarin ons leef. Sommige is meer stads ander meer plattelands en boers. Ander hoor dit in roep van hulle wat in die Kaap hul groente bemark. My Afrikaans is in my pa se gebed terwyl hy en ons seuns in die sitkamer kniel, is in skaapkop deel, mosbeskuit, pannekoek , braairibbetjie, glat nie steak nie, en ook blou donderweer wat van ver oor wye Namibvlaktes rammel. en Piet my vrou se dagbreek roep.

david ras ·

Ek is Afrikaans–so gebore . Kan dit nie verhelp nie. Alles wat in hierbo oor my taal genoem is, beleef ek ook.
Jy praat van die tannie van Kamieskroon–ja ek ken ook daardie mense. So ‘n klompie kilos wes van Kamieskroon is daar ‘n dorpie genaamd Leliefontein. Nog bietjie verder wes in die Kamiesberge is Paulshoek–bitter arm mense, maar met die mooiste , lekker Afrikaans waaraan mens net kan dink.
Lekker , los gemaklike skoon Afrikaans, sonder ‘n ge-awsome, ge-actually, en so meer. Dan see se kant toe is daar ook Kommagas, net so lekker praat hulle daar.
Aan die Waterkloof Afrikaans het ek geen erg nie.
Maar bring vir my ‘n taal wat die skoonheid van hierdie land besing soos Afrikaans–hetsy in ons digkuns of ons liedere–
Begin van die Kaap se kant af: “in die skadu van ou Tafelberg” of al die liedere oor die Boland. of dink aan “my vaal Karoo”. die Kalahari. die Bosveld, , die groen groen Land van Natal, of Elizabeth Eybers se “Wes Transvaal”…….
Afrikaans is my murg, en ook my siel. dis wat my hele menswees aan mekaar hou.
Daarsonder is ek niks.

HEVW ·

Ja man, my Afrikaans is ook in sommige van my kommentare wat nie geplaas word nie.

Charmaine Griffiths ·

My
Afrikaans is vir my soooooo belangrik dat ek net more my DSTV kanselleer —- hulle het besluit om kanale 145 en 146 sonder waarskuwing weg te neem. So by so is ek op die “Compact”pakket om al die ander duur herhalings te vermy en daardeur het ek kanaal 144 verloor. Hulle het ook die reis program verwyder dus is ek nou nie eens in staat om te reis deur my TV nie . Woedend !

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.