Redakteursbrief: Ons is 10! Ontmoet die bestuurspan aan my sy

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media (Foto: Simoné Steyn-Venter)

* Nota: Kyk gerus die video onderaan die redakteursbrief waarin Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, met ons lesers gesels oor die afgelope 10 jaar.

Beste Maroela-leser

Vandag is Maroela Media tien jaar oud.

Vir dae dink ek al hoe ek reg kan laat geskied aan die verhaal wat hom die afgelope tien jaar afgespeel het. Daar is baie staaltjies om te vertel oor die afgelope dekade – van die dag van Maroela se nederige begin, 29 Julie 2011 by die Voortrekkermonument in Pretoria en later Groot Constantia in die Kaap, tot die reuse Afrikaanse mediahuis en kuierplek vir die Afrikaanse gemeenskap wat Maroela vandag is.

So by jaar drie rond het my moed my byna begewe (en nog baie kere daarna). Die uitdagings was onverwags en ongekend, en elkeen het my en my span se inisiatief en besluitnemingsvaardighede tot die uiterste getoets. Van slaap en rus was daar min sprake. Maroela Media was soos ʼn baba wat dag en nag opgepas en gevoer moes word, want die nuus hou nooit op nie. Ons het dikwels – heeltemal té dikwels – in ʼn ding gespring sonder om regtig te weet waarvoor ons ons inlaat, soos die dag in 2012 toe ons besluit het om Draadloos, ons radioproduksiehuis en gemeenskapsradionetwerk, te begin. (Vandag bestaan die netwerk gemeenskapsradiostasies aan wie Maroela inhoud lewer, uit bykans 70 stasies, met ʼn totale luisteraarstal van sowat 1,7 miljoen.)

Vandag het Maroela Media sowat 2 miljoen lesers elke maand, en dié lesers lees elke maand sowat 45 miljoen bladsye op die webwerf en app gesamentlik. Van ons skamele begin met 7 000 lesers in Augustus 2011 tot waar ons vandag die grootste Afrikaanse mediaplatform is, was ʼn pad van bloedsweet en tandekners, maar ook een van groot genade en seën, báie lag, en groot avontuur en opwinding.

As ek hier, op ons tiende verjaardag, een ding moet uitsonder waarsonder Maroela nie vandag ʼn dekade sou kon vier nie, is dit die span mense wat die afgelope tien jaar skouer-aan-skouer saam met my geswoeg het. Die hele Maroela-span – elke joernalis, administratiewe personeellid, advertensiekonsultant, boekhouer, programmeerder – gee 100% en meer om van Maroela die tuiste vir Afrikaanssprekendes te maak wat dit vandag is, en vir elkeen van hulle sê ek vandag: Dankie.

Maar ek het besluit vandag is ʼn goeie dag om my bestuurspan uit te sonder. Hulle hou nie van die kollig nie, maar op ʼn dag soos vandag verdien hulle om by die naam genoem te word. Saam met dié span sal ek oorlog toe gaan. Ek stel hulle vandag graag aan jou bekend, in die volgorde waarin hulle voltyds aangestel is.

V.l.n.r. Kobus Bezuidenhout, Esté Meyer Jansen, Elaine Krige, Delmarie de Jongh, Annelize Brits, Susan Lombaard, Nico Strydom en Christo Brits (Afwesig: Suné van Heerden) (Foto: Simoné Steyn-Venter)

Nico Strydom: redakteur

Nico Strydom, redakteur van Maroela Media (Foto: Simoné Steyn-Venter)

Nico was aan my sy as joernalis toe ons in 2011 met Maroela Media begin het – ons was aanvanklik die enigste twee personeellede. Ons het saam by my lessenaar gesit en prentjies teken van hoe Maroela moet lyk. Nico het aanvanklik bykans al die stories geskryf en saam het ons groot drome gedroom. Daar is waarskynlik niemand wat Maroela so goed verstaan soos Nico nie. ʼn Paar jaar later is hy bevorder tot redakteur, en deesdae is hy verantwoordelik vir die hele nuus- en inhoudsaanbod, asook vir Nou pra’ jy, Maroela se menings- en debatsportaal. Nico is my regterhand as dit by ons inhoudsaanbod aan ons lesers kom.

Nico se geheime wapen: As jy iemand soek, vra vir Nico. Hy kan ʼn mens en ‘n kontaknommer opspoor soos geen privaatspeurder kan nie.

Aantal jaar by Maroela: 10 jaar en 2 maande  (met ʼn kort onderbreking in 2013, maar hy het vinnig weer tot sy sinne gekom)

Suné van Heerden: handelsmerk- en sosialemediabestuurder

Suné van Heerden, handelsmerk- en sosialemediabestuurder van Maroela Media

Suné was ook reg van die begin by Maroela betrokke, maar het aanvanklik nie voltyds by Maroela gewerk nie. Sy het haar hart egter vroeg-vroeg op die Maroela-droom verloor en is kort voor lank by ons aangestel as joernalis en teksversorger (sommer albei in een). Later was sy verantwoordelik vir alle taal- en kultuurverwante inhoud op Maroela, en nog later het sy die rol van handelsmerk- en sosialemediabestuurder begin vervul. Saam met Suné droom ek die grootste drome oor Maroela. Sy skrik nie vir ʼn uitdaging nie en verstaan altyd presies wat ek in gedagte het. In September 2011, toe Maroela pas tot stand gekom het, het ek en Suné in Rooikappie- en Sneeuwitjie-kostuums Aardklop toe gegaan om Maroela te gaan bemark, en sy het nie ʼn oog geknip daaroor nie. Suné verstaan Maroela se lesers die heel beste en het ʼn passie vir Afrikaans en die Afrikaanse gemeenskap waaroor ek baie dankbaar is.

Suné se geheime wapen: Haar sin vir humor. Niemand lag so lekker en maak so maklik grappies soos Suné nie. ʼn Vergadering saam met Suné is altyd pret (en ʼn bietjie chaoties).

Aantal jaar by Maroela: Amper 10 jaar (voltyds)

Kobus Bezuidenhout: web- en tegniese bestuurder

Kobus Bezuidenhout, web- en tegniese bestuurder by Maroela Media (Foto: Simoné Steyn-Venter)

Kobus het Maroela Media se webwerf reg van die begin af gebou, en vandag is dit nog steeds sy werk. Aanvanklik was hy deeltyds by Maroela betrokke, maar na ʼn paar maande was dit duidelik dat ons nie ʼn digitale mediaplatform sou kon bedryf sonder ʼn voltydse webontwikkelaar nie. Kobus het later verantwoordelik geword vir alle tegniese en digitale prosesse en oplossings binne Maroela Media. Kobus is die een wat verstaan hoe Maroela se binnegoed werk. Hy sorg op sy stil manier dat kuberkrakers op ʼn afstand gehou word, dat ons lesers se data veilig bewaar word, dat ons webbedieners stabiel bly en enige lading verkeer kan hanteer en dat Maroela sommer in die algemeen vir ons lesers ʼn vriendelike ervaring is. As ons op soek is na kreatiewe oplossings, is hy die een wat buite die boks dink en met idees na vore kom wat werkbaar en uitvoerbaar is. Kobus is die een wat vir jou ʼn stoel of ʼn koppie koffie gaan haal nog voor jy hardop iets daaroor gesê het.

Kobus se geheime wapen: Sy nugter denke. Kobus is ʼn kalm steunpilaar in die chaos van ʼn baie kreatiewe, besige bestuurspan.

Aantal jaar by Maroela: Amper 10 jaar (voltyds)

Esté Meyer Jansen: Inhoudsredakteur

Esté Meyer Jansen, inhoudsredakteur van Maroela Media (Foto: Simoné Steyn-Venter)

Toe ons in 2012 iemand gesoek het om vir ons Draadloos, Maroela Media se radioproduksiehuis, op die been te bring, het Esté oor ons pad gekom. Hoewel sy goeie joernalistieke ondervinding gehad het, was radio vir haar splinternuut, maar dit het haar nie ʼn oomblik laat huiwer om in te spring en ʼn sukses van dié medium te maak nie. Maroela het sedert 2012 vir ʼn paar jaar ʼn radioprogram met die naam Allegaartjie vervaardig – ʼn daaglikse verskeidenheidsprogram wat aan ons netwerk radiostasies verskaf is. Esté het gesorg dat Allegaartjie vir drie jaar lank nie ʼn enkele dag oorgeslaan is nie. Geen kragonderbrekings, siek omroepers, tegniese uitdagings of stukkende ateljeetoerusting kon haar terughou nie. Ek en Esté het wye draaie deur die land gery om ons self en Draadloos te gaan voorstel aan gemeenskapsradiostasies in die verste uithoeke van elke provinsie. Op Valentynsdag, 14 Februarie 2013, was ons saam in Vredendal op besoek aan Radio Namakwaland toe ons die tragiese nuus oor Oscar Pistorius en Reeva Schoeman gehoor het. Later is Esté bevorder tot inhoudsredakteur, waar sy nou verantwoordelik is vir die genereer van alle sagte nuus op die webwerf, asook alle klankinhoud.

Esté se geheime wapen: Esté kan enigiets doen. As sy nie weet hoe nie, vind sy uit en bemeester dit in ʼn japtrap.

Aantal jaar by Maroela: 9 jaar en 5 maande

Annelize Brits: Bedryfsbestuurder

Annelize Brits, bedryfsbestuurder van Maroela Media (Foto: Simoné Steyn-Venter)

Annelize is in September 2012 by Maroela aangestel om advertensiespasie op die webwerf te verkoop. Haar sagte aanslag het egter gesorg daarvoor dat sy vinnig betrokke geraak het by Maroela Media se projekte, ʼn bietjie radio-onderhoude begin doen het, en sommer oral begin help het waar hulp nodig was. Vandag is Annelize Maroela se bedryfsbestuurder – sy sorg dus dat sy haar vinger op die pols het van min of meer alles wat in Maroela gebeur, veral met projekte, en dat dinge seepglad verloop. As ek by Annelize se kantoor instap en sê “Ek het ʼn plan…” trek sy haar notaboek nader sonder om ʼn oog te knip. Onder Annelize se bekwame leiding het wonderlike projekte soos ons jaarlikse radiovervolgverhaal, die jaarlikse gemeenskapsradioseminaar en Maroela Media se buitebioskoop die afgelope tien jaar die lig gesien sonder dat ʼn enkele stukkie detail agterweë bly het of uit plek is.

Annelize se geheime wapen: Haar verhoudings met mense. Annelize se hart is groot, en daar is altyd plek vir nog een.

Aantal jaar by Maroela: 8 jaar en 10 maande

Christo Brits: digitalebesigheidsbestuurder

Christo Brits, digitalebesigheidsbestuurder van Maroela Media (Foto: Simoné Steyn-Venter)

Christo is verantwoordelik vir enigiets in Maroela wat ʼn inkomste genereer – van die verkoop van advertensies en borgskappe op Maroela Media, tot die Maroela-mediahuis en Maroela Media se finansiële ondersteuners. Hy hou ook ʼn oog op die jonger manne in die span en sorg dat dit met hulle almal goed gaan. Christo droom groot – as hy sy sakrekenaar nader trek en begin somme maak, glimlag ons almal. Christo se standaard antwoord, as ek hom iets vra, is “Ek doen dit vir jou” – ek twyfel of hy weet hoe om nee te sê. Christo verstaan werklik die kuns daarvan om nie jou munstukke te begrawe nie en hou van nuwe besigheidsuitdagings, waarmee hy nagte lank sal sit en stoei tot hy by ʼn werkbare plan uitkom.

Christo se geheime wapen: Sy menslike aanslag in ʼn harde, moeilike bedryf. Hy kry met goeie verhoudings en deernis reg wat ander mense met baie onetiese metodes regkry.

Aantal jaar by Maroela: 4 jaar en 4 maande

Delmarie de Jongh: finansiële bestuurder

Delmarie de Jongh, finansiële bestuurder by Maroela Media (Foto: Simoné Steyn-Venter)

Delmarie, haar twee Franse bulhonde en haar Jimny sou veel eerder in die bos wou wees as agter ‘n rekenaar. Maar sy is, helaas, geseënd met ʼn kop vir somme en begrotings. Delmarie het aanvanklik Maroela se begroting help hanteer as deel van ʼn uitgekontrakteerde diens. Later is sy aangestel as Maroela se voltydse rekenmeester, en vroeg vanjaar is sy as finansiële bestuurder aangestel. Delmarie se somme klop áltyd. Sy werk met die grootste omsigtigheid en integriteit aan elke deel van Maroela se boekhoudingsproses, maar huiwer terselfdertyd nie ʼn oomblik as sy kreatief moet dink om ʼn paar rand iewers uit die begroting te krap vir ʼn inisiatief waarvoor ons nie begroot het nie. Ek is nie geseënd met ʼn kop vir somme nie, en Delmarie is dus my regter- én linkerhand wanneer dit begrotingstyd is.

Delmarie se geheime wapen: Sy het ʼn geheue soos ʼn olifant. Sy kan bedrae en detail in begrotings van jare gelede tot die rand onthou – dit maak my soms ʼn bietjie bang.

Aantal jaar by Maroela: 4 jaar en 4 maande (voltyds)

Elaine Krige: nuusredakteur

Elaine Krige, nuusredakteur van Maroela Media (Foto: Simoné Steyn-Venter)

Elaine is ʼn ervare joernalis wat al diep spore in die joernalistieke bedryf getrap het voor sy by die Maroela-span aangesluit het. Ek het lank al reeds my oog op haar gehad, en was uit my vel toe ek verlede jaar haar CV en aansoek vir ons nuusredakteurspos ontvang. Elaine het die lekkerste lag in die kantoor, maar hou ook haar span joernaliste op hul tone. Sy ontwikkel elke nuusjoernalis tot sy of haar volle potensiaal en gee elkeen ʼn geleentheid om uit te blink, met die nodige erkenning wanneer dit nodig is. Sy neem geen eer vir haarself nie, al is sy die spilpunt waarom die nuusspan draai.

Elaine se geheime wapen: Haar sagte hart. Elaine het werklik ʼn hart vir Maroela se lesers en die uitdagings wat hulle beleef, en daarom word selfs die moeilikste en hartseerste artikels met deernis en sensitwiteit aangepak. Dit vind neerslag in elke joernalis in haar span se werkswyse.

Aantal jaar by Maroela: 1 jaar en 9 maande

Kyk gerus die video hier onder waarin ek ook vir jou, ons getroue Maroela-leser, dankie sê dat jy deel is van die grootste en lekkerste Afrikaanse kuierplek op die internet. Ek en my span sien uit na wat voorlê. Die pad is onbekend, maar dit het ons nog nooit laat skrik nie.

Groetnis
Susan Lombaard
Uitvoerende hoof: Maroela Media

V.l.n.r.: Annelize Brits, Nico Strydom, Elaine Krige, Esté Meyer Jansen, Susan Lombaard, Christo Brits, Delmarie de Jongh en Kobus Bezuidenhout (Afwesig: Suné van Heerden) (Foto: Simoné Steyn-Venter)

 

*Baie dankie aan Simoné Steyn-Venter van Simoné Venter Photography vir die neem van die bestuurspan se foto’s. Besoek gerus haar Instagram-profiel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Annelize

Baie geluk Moeroela, ons kuier graag saam onder die Maroela boom. Baie dankie vir uitstekende nuus en goeie leesstof.
Puik werk!

isabelle

Maroela media VAN TOPGEHALTE lyk na n aangename groepie mense :P

gatgogga

‘n Puik span! Veels geluk. Hou so aan, asseblief.

Wakkerslaper

Ek weet… soms kritiseer ek Maroela Media. Maar, vandag is ek BITTER TROTS om deel van hierdie volk en mense te wees wat ten spyte van moeilike omstandighede opstaan, uitdink en ontwikkel, bou, vooruitstreef, suksesvol is en dan nog boonop soveel ander help.

Dankie vir puik werk van ‘n baie hoë gehalte – nog meer, dankie dat dit gratis is!

Mag God julle elkeen seën en mag Maroela Media se volgende 10 jaar vol opwinding en sukses wees.

wippie

Baie geluk Maroela Media. Doen so voort. Julle is tops.