Redakteursbrief: Ons skrik nie vir ʼn uitdaging nie – nes ons voorouers

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media (Foto: Noeleen Foster)

ʼn Uitdaging is ʼn ding wat ek nie kan weerstaan nie. En as ek dink aan die bloed wat in my are vloei, is ek nie regtig verbaas daaroor nie. My voorgeslagte se stamboeke het ongelukkig ʼn bietjie deurmekaar geskommel geraak deur die dekades, sodat ek vandag nie mooi weet of dit Du Plooy-, Ploijer-, Van Vuuren-, Janse van Vuuren- of Nieuwoudt-bloed is wat deur my are vloei nie. Daarom soek ek maar elke keer al vyf vanne op as ek ʼn gedenkplaat of monument besoek wat hulde bring aan deelnemers aan die Groot Trek of die Anglo-Boereoorlog. Elke keer kry ek darem ʼn paar bekende familiename onder die lyste dapperes – dié dat ek weet dis in my bloed om nie vir ʼn uitdaging te skrik nie.

Die afgelope paar maande was “uitdagings” niks vreemds vir enige van ons nie. Ek is bykans elke dag verstom met die kreatiwiteit en deursettingsvermoë waarmee mense om my die gevolge van die Covid-19-pandemie op veral ons ekonomie trompop geloop het. Dié wat wou kos uitdeel, het maniere gekry om dit te doen. Hare is gesny in die gerief van jou eie huis. Digitale besighede het soos paddastoele opgeskiet en regstreekse vertonings deur kunstenaars het ʼn algemene instelling geword. Twee weke gelede het ek selfs ʼn digitale wildsfees bygewoon. Veral die innoverendheid waarmee mense drank en sigarette bekom het, het my teen wil en dank beïndruk: Een tannie, wat vir vier maande nie salaris gekry het nie, het my trots vertel van die tuisgemaakte “melkysies” (met ʼn knipoog) waarvoor mense toustaan in die straat voor haar huis. Eers het ek nie verstaan nie, tot sy (met nog ʼn knipoog) vertel dat sy melkysies met geure soos rum, whiskey en brandewyn verkoop.

Die Maroela-span het ook nie ʼn tree teruggestaan vir die kreatiewe manier waarop hulle die uitdagings wat die afgelope vyf maande na hulle kant toe gekom het, aangepak het nie. Maroela se lesers het nie eers geweet watter dag die redaksionele span van die huis af begin werk het nie, só soomloos was die verskuiwing van kantoor na huis. ʼn Daaglikse Covid-19-nuusbrief is op die been gebring en het binne weke gegroei tot Maroela se heel grootste nuusbrief. Nuusgesprekke wat geskeduleer was om in ʼn professionele ateljee op te neem, is sonder ʼn hik omgesit in digitale gesprekke wat via Zoom op sosiale media aangebied is, met deelnemers van reg oor die land wat uit hul eie huise deelgeneem het.

ʼn Splinternuwe Maroela Media-radiovervolgverhaal is opgeneem en versprei aan radiostasies reg oor die land, met derduisende luisteraars wat gratis daarna kon luister in die afsonderingstydperk. Daarmee saam is vorige radiovervolgverhale herverpak en weer beskikbaar gestel aan radiostasies asook aan Maroela-lesers as afleiding vir dié wat eensaam was.

In die plek van ateljee-onderhoude met kunstenaars en bekendes is Insta Live-gesprekke op Maroela se Instagram-profiel aangebied. ʼn Reeks artikels wat fopnuus oor Covid-19 ondersoek en in die lig gebring het, is op Maroela gepubliseer.

ʼn Boekvoorlesing het vir ʼn bekende akteur wat sy inkomste verloor het ʼn paar rand in die sak gegee, en podsendings met ʼn geestelike inslag, soos ʼn reeks klankopnames van Hans du Plessis se Griekwagedigte, is opgeneem en op Maroela beskikbaar gestel.

Talle joernaliste wat weens Covid-19 hul voltydse of deeltydse werk by ander media-instansies kwyt is, het met fyn begrotingsbestuur hier en daar die geleentheid gekry om vir Maroela Media ʼn artikel of twee te skryf.

Maroela Media se besigheidspan het ook nie ʼn tree teruggestaan nie en het vir adverteerders wat skielik nie hul gewone advertensiekanale soos buitelugborde en advertensies in gedrukte media kon benut nie, kreatiewe, nuwe, digitale bemarkingsgeleenthede uitgedink.

Dié innoverende manier van dink het Maroela Media se lesersgetalle ʼn hernude hupstoot gegee: In Julie vanjaar het net meer as 2,7 miljoen mense op Maroela Media bykans 27,5 miljoen artikels gelees – albei nuwe rekords.

Oor dié sukses in ʼn baie moeilike tyd is ek nederig dankbaar. Kreatiewe denke beteken immers niks sonder harde werk nie. Pak jy ʼn uitdaging sonder die nodige toewyding en deursettingsvermoë, is jou kans op sukses skraal.

Gelukkig spog Maroela Media se span met vanne soos Strydom, Krige, Meyer, Brits, Bezuidenhout, De Jongh, Van Heerden en nog ʼn rits ander… Almal vanne wat jy sonder twyfel sal vind tussen die name van die dapperes uit die Groot Trek en die Anglo-Boereoorlog. En kyk, een ding weet ek nou: Dié klomp skrik nie vir ʼn uitdaging óf ʼn wêreldwye pandemie nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Theo ·

Pragtig geskryf. Geluk met julle prestasies en sterkte vir die pad vorentoe. Dit is ‘n voorreg om ‘n eerlike en gebalanseerde nuusbron in Afrikaans te hê. Daar is nie veel van hulle oor nie (knipoog..:)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.