Redakteursbrief: Ontmoet Dave, jou duif vir ʼn dag

Foto: Maroela Media

Foto: Maroela Media

As jy by ʼn advertensie-agentskap werk en daar vandeesweek ʼn posduif met ʼn boodskap op jou drumpel afgelewer is, moet jy maar weet: jy is in Maroela Media se visier.

Ons posduif-veldtog, wat vandeesweek van stapel gestuur is, is ʼn projek waarmee ons poog om advertensie-agentskappe en maatskappye wat Maroela Media nog nie as advertensieplatform getoets het nie, bewus te maak van die lojaliteit, koopkrag en kwaliteit van die Afrikaanse lesersmark op die internet.

ʼn Klompie uitgesoekte agentskappe en maatskappye wat die Afrikaanssprekende mark in hul visier het, het elkeen ʼn ongewone besoeker gekry: ʼn ouwêreldse afleweringsbode wat vir hulle ʼn voëlhokkie met Dave die duif en ʼn geskenkpakkie met ʼn geskenkbewys vir ʼn gratis advertensieveldtog op Maroela Media in hul ontvangslokaal kom aflewer het. Sodra hulle klaar saam met Dave gekuier en “selfies” geneem het, moes hulle Dave vrylaat om terug te vlieg huis toe. Wanneer Dave by ons aankom, laat weet ons hulle die duif is veilig tuis, en maak ons ʼn afspraak om te gesels oor hul gratis advertensieveldtog.

Ongewone projekte en aktiwiteite is niks vreemds in Maroela Media se kantore nie. Maar selfs ek moet erken dat die duifhokkies wat hierdie week oral rondgestaan het, die kollega in haar rooi en blou bode-pakkie en die krat met 15 koerende duiwe in ons raadsaal ʼn nuwe betekenis aan “buite die boks dink” kom gee het. Soveel te meer nog, hoop ons, vir die Sandtonse agentskappe wat na hul ontvangslokale geroep is om ʼn posduif in ontvangs te neem.

Ons kollega in haar blou en rooi bode-pakkie (Foto: Maroela Media)

Ons kollega in haar blou en rooi bode-pakkie (Foto: Maroela Media)

Dis groot pret om sulke projekte aan te pak. Maar dis ook ʼn bietjie hartseer dat dit nodig is om tot sulke uiterstes te gaan om adverteerders te oortuig dat die Afrikaanse mark wat hul produkte koop, wat lojaal is aan hul handelsmerke, wat hulle van een geslag na die volgende ondersteun, hul advertensiebegroting werd is. Dat dit ons en ons lesers is wat tot ʼn groot mate bygedra het om hulle te bring tot waar hulle vandag is. Wat hulle bankdienste gebruik, hul blikkieskos koop en hul versekering uitneem.

Gelukkig is daar beslis ook ʼn groot klomp adverteerders wat maar te goed besef waar hulle brood gebotter is. Altesaam 111 maatskappye het vanjaar meer as R10 miljoen op advertensies in Afrikaanse media bestee (digitale media uitgesluit – dié syfers is nie beskikbaar nie). Die grootste besteder op die Afrikaanse mark was ʼn bekende supermarkgroep, wat byna R300 miljoen se advertensies op die Afrikaanse mark geteiken het. Die topvyf Afrikaanse adverteerders se Afrikaanse advertensiebegrotings vir 2015 is almal meer as R100 miljoen.

Wanneer ʼn mens ʼn kunstefees soos die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees wat pas in Potchefstroom aangebied is, bywoon, sien jy met die eerste oogopslag watter maatskappye nie net vry na die Afrikaanse mark met advertensies nie, maar ook die breër Afrikaanse kultuur en kunste op die hart dra. Clover en FNB se handelsmerke is die twee wat vanjaar oral op die fees en regdeur die dorp te siene was. Ons is dankbaar vir adverteerders soos hulle, veral vir FNB wat ruim op Maroela Media adverteer en ons projekte ondersteun.

Wat kan jy doen om Afrikaanse adverteerders te bedank? Ondersteun hulle. Wys vir hulle dat navorsing wat aantoon dat die Afrikaanse mark een van die lojaalste markte is, korrek is. Hulle maak ʼn enorme bydrae om Afrikaanse media lewend te hou. En ja, natuurlik is hulle maar te dankbaar as die Afrikaanse mark hulle ondersteun, maar uiteindelik wen ons almal: die adverteerder, die verbruiker, ons lesers en ons.

Intussen hoop ons dat ons ʼn paar adverteerders wat nog nie die Afrikaanse mark ontdek het nie, sal oortuig om Maroela Media as advertensieplatform te toets wanneer Dave hierdie week by hulle kuier. Só bly dit vir ons moontlik om ons nuus en inhoud gratis aan ons byna 1 miljoen maandelikse lesers te bly lewer.

As jy dus die naweek vir Dave oor jou huis sien vlieg met ʼn briefie aan sy poot, moet hom asseblief nie skiet nie.

** Let wel: Geen duiwe is tydens dié veldtog mishandel of op enige manier te na gekom nie. Duiwe is volgens baie spesiale instruksies van die duiweboer hanteer en is goed versorg. Alle duiwe wat aan die veldtog deelgeneem het, is reeds weer tuis, spekvet en gelukkig.

Groetnis
Susan Lombaard
Redakteur: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Therese van Schalkwyk ·

Veels geluk met hierdie unieke veldtog. Wat ‘n puik idee! Hoop die oulike bode en duiwe was uiters suksesvol en dat die advertensies jul oorweldig. Maroela is ‘n ligpunt en absolute vreugde. Hou so aan en baie dankie!

MD Gryeyling ·

Sjoe, dit is nou ‘n indrukwekkende berig. Geluk aan die Maroela Media span met hierdie briljante idee!!!!!

Marius Buys ·

Briljante idee en ek aanvaar met graagte Maroela en Flip Buys se uitdaging!

Is julle bekend met twee konsepte genaamd (en verskoon die Brits wat vir die doel gebruik word sodat die bestuur dit kan Google): “viral video” en”flashmob”

Daar is twee maniere om jouself te bemark, of jy teiken ‘n spesifieke mark of jy doen iets wat so breed aanklank vind dat dit vêr en wyd op sosiale media versprei word soos bv. met die Nandos advertensies wat alewig met ons poitici se doen en late die draak steek.

Wat die duifding oulik maak is dat dit moontlik albei vorme van bemarking aanspreek maar ek mag dalk net die wow faktor op sosiale media kan troef met my voorstel.

VOORSTEL: Organiseer/orkestreer ‘n kits-skare(flashmob) deur ‘n orkes te huur wat op ‘n spesifieke publieke area, wat deur potensiele advertvertensie kliente besoek word, om tydens middagte blykbaar impromptu ‘n eg Afrikaanse liedjie te speel en die boodskap op een of ander oulike wyse aan die einde daarvan oor te dra. Plaas kamera en filmpersoneel strategies om alles op film vas te lê wat dan as ‘n virale video versprei kan word.

Ek plaas ‘n youtube skakel op my eie blad as ‘n voorbeeld wat al 26 miljoen keer gekyk is.

Groete
Marius

Adele Kruger ·

Ag, julle is ougat verby hoor! Wat ‘n unieke idee. Doe so voort.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.