Redakteursbrief: Oor blou kuite en stomp knipmesse

susan_lombaard

Susan Lombaard Foto: Burger Meyer, Maroela Media

Ek is geen Oprah-aanhanger nie, maar ek het eendag toevallig ‘n episode raakgekyk wat my altyd sal bybly.

Oprah het ‘n paar ma’s met jong kinders ateljee toe genooi, en hulle gevra om te vertel wat die spesiaalste ding is wat hulle ooit vir hulle kind gedoen het. Daarna het sy vir die ma’s ‘n video gespeel van onderhoude wat vooraf met die kinders gedoen is. Die kinders moes op hul beurt vertel wat is die mooiste herinnering van iets wat hulle saam met hul ma gedoen het.

Een mamma vertel toe hoe sy een jaar maande lank gespaar het om haar dogtertjie Disney World toe te vat. Sy vertel hoe lekker dit was, wat hulle alles gesien het en hoe wonderlik dit vir haar dogtertjie was. Daarna, op video, vertel die einste meisiekind sy onthou ‘n keer toe sy en haar ma net genoeg kontant gehad het vir een draairoomys, en hoe hulle op die sypaadjie gesit en die roomys gedeel het. Dis haar kosbaarste herinnering.

Die pas afgelope naweek het ek die voorreg gehad om saam met my agtjarige avontuurhonger meisiekind ‘n perderit in die Drakensberg te doen, so anderkant Underberg. Ek het ons vaardighede as ruiters dalk effens oorskat toe ek vir die gids sê ons albei ry goed – ons meisiekind se perdrylesse is darem in die onlangse verlede, terwyl my eie ondervinding uit so tien jaar of wat gelede dateer. So neem die entoesiastiese gids, waarskynlik te dankbaar vir twee ruiters wat nie soos nete aan die saal gaan klou nie, ons toe op ‘n behóórlike reis die rante in, met twee lewendige perde wat lus is vir alles behalwe stap. Ons draf en galop oor berge en in dale, ook twee keer deur riviere, deur velde oortrek met geel blommetjies en op ongebaande weë. Een keer sien ons ‘n jakkals hier vlak by ons.

My sitvlak skud deur en die stiebeuels knyp my kuite. Maar my meisiekind is in haar element en ek hou my mond, want ek sien hoe my stadskind mens word op die perd voor my.

Ek hoop maar as sy groot is, gaan sy vertel van die keer toe sy en haar ma met geleende tekkies aan op haastige perde die rante ingevaar het. Van ons blou geknypte kuite waaroor ons die volgende dag gegiggel het terwyl ons ons seer spiere in ‘n warmwaterswembad lawe.

Ek hoop sy onthou hoe ons party Saterdagoggende mekaar se toonnaels in elke kleur van die reënboog geverf het. Hoe ons kruisies in die tuin geplant het toe ‘n geliefde hond dood is, en hoe sy haar hoog in die mik van ‘n boom met haar storieboek tuisgemaak het terwyl haar mamma vir haar eetgoedjies in ‘n emmertjie aan ‘n tou opstuur boontoe. Hoe haar pappa haar saans ná aandete by die eetkamertafel leer skaak speel het.

Ek hoop my seunskind vertel sy kinders eendag van sy eerste knipmes – sy kosbaarste besitting as vyfjarige seuntjie. Ek hoop hy onthou hoe hy vroeg-vroeg op reënerige Saterdagoggende tussen sy pappa en mamma ingekruip het om nog ‘n bietjie te slaap. Hoe hy en sy sussie soms laatmiddag met seepgesmeerde kaal lyfies onder die sproeier in die agtertuin deur gehardloop het sodat hulle nie hoef te bad nie.  Ek hoop hy vertel hoe sy pappa hom met ‘n regte-egte kettie leer mik het, en van die windbuks wat ‘n oom vir hom persent gegee het.

En ek hoop en bid dat ek elke dag van voor af die genade ontvang om te weet watter klein avontuurtjies ek in hulle jong lewens moet toelaat, en moet laat gebeur.

 

Groetnis

Susan Lombaard

Redakteur: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

HEVW ·

Susan, ek het baie waardering vir jou skrywe. Ook die gaan kuier by Oupa – hulle. Ek neem in alles waar jy is nog mens met die fyne waarneming vir die mooie en skone in kobare eenvoud. As lewenslange burger van Namibie (Suidwes) was ek oor die kersgety in Pretoria en Jburg en die mens wat ek daar kon waarneem was n meer sintetiese wese ingestel op die materiele. Jammer dit klink na veralgemening. Darem nie almal nie. Die jongmanne het ook in n groot mate verander. Waar is die dae van die bruingebrande troepe. Ons kort n weermag. Nouja daar seker baie met pragtige kwaliteite.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.