Redakteursbrief: Oor nuwe tekkies en warm stembande

susan_lombaard

Susan Lombaard Foto: Burger Meyer, Maroela Media

“Mamma, my tekkies pas nie.”

Dít deel my agtjarige en oudste my kwart voor ses op ʼn Maandagmiddag mee. Maandagaand, eintlik. Want dis al diep in die herfs en teen sesuur is dit donker.

My moed sak in my skoene (wat darem pas, maar nie baie gemaklik is nie, veral nie na ek heeldag gewerk het en toe vir twee ure in Pick n Pay rondgedraf het om inkopies te doen sodat my gesin nie omkom van die honger nie). Ons staan langs die rugbyveld by die laerskool, waar ons jongste bulletjie-rugby oefen. Ek dolwe in my skootrekenaarsak vir my selfoon en bel die naaste winkelsentrum. Hulle is oop tot seweuur, hoor ek. As ons nóú in die kar spring, het ons ʼn driekwartier om tekkies te soek.

Want sien, ons meisiekind speel môre haar eerste netbalwedstryd van die seisoen. Sy was een van die gelukkiges uit die hordes dogtertjies wat aspireer om vir een van die graad drie-netbalspanne gekies te word. Vir dié voorreg het sy die hele Aprilvakansie deur doele geoefen, balle gehop en maatjies op die plaveisel voor die voordeur met haar netbalbal besig gehou. Sy het elke oefening getrou bygewoon in haar nuwe netbalklere en netbal gespeel, geëet en geslaap. Die aand voor die spanne gekies is, het sy die briefie waarin die juffrou verskonend verduidelik dat al die dogtertjies ongelukkig nie in ʼn span sal kan wees nie, plegtig teen die yskasdeur vasgeplak. En toe die hele nag skaars ʼn oog toegemaak.

En hier is ons nou – sesuur op ʼn Maandagaand, in ʼn moeë winkelsentrum met assistente wat al die vloere begin was en die rakke regpak vir Dinsdagoggend se oopmaak. My meisiekind hop voor my uit in haar kort netbalrokkie, bal bonsend onder haar regterhand. Ons draf van winkel na winkel en pas die een paar tekkies na die ander aan. My voete pyn en in my binneste murmureer ek soos ʼn opstandige kind oor die motor vol inkopies wat nog uitgepak moet word, die gevriesde groente wat in my kattebak ontdooi en die huiswerk wat nog nie gedoen is nie. Maar my dogtertjie se vreugde is groot, en ek byt op my tande.

Tuis gekom (sónder nuwe tekkies – die oue sal maar nog ʼn wedstryd moet oorleef) soek ons vervaard na haar amptelike netbalklere. Twee deurmekaar kaste later spoor ons dit op. Dit ruik stowwerig, maar pas darem net-net. Ek skud dit uit en hang dit teen die kas. Help haar om haar netbalsak te pak: haarborsel, bottel water, spuitgoedjies, skoon kouse, tekkies met ʼn klam lap afgevee, ʼn sakgeldjie vir middagete. Uiteindelik klouter sy doodmoeg in die bed en kry ons kans om ʼn oomblik te gesels.

“So, watter posisie speel jy môre?” vra ek vir die eerste keer.

“Ek is die lollipop girl, mamma!” antwoord sy stralend.

Ek snak effens na my asem maar wys niks. Drogbeelde van gefolterde voete en pap groenboontjies doem voor my geestesoog op, saam met herinneringe aan ʼn histeriese geskarrel om afsprake in my oorvol dagboek geskuif te kry sodat ek Dinsdagmiddag langs die netbalbaan kan wees.

“Nou wat beteken dit presies?” vra ek verskriklik versigtig.

“Ons kry almal ʼn beurt om een wedstryd in die seisoen lollipop girl te wees. Ek moet vir my maatjies cheer en water aandra, en gereed wees om in enige posisie te speel as iemand seerkry,” verduidelik sy opgewonde.

Ek begin eers oor die skok kom toe ek heelwat later op die bank neersak, nie seker of ek moet lag of huil nie.

So ons meisiekind is die lollipop girl. Die ene wat langs die baan staan en mooi lyk, nes daai oulik gesnoeide boompies. En daarvoor het ek my lewe min of meer op sy kop gekeer.

Maar later, inkopies weggepak en voete in pantoffels, dink ek: Dís mos die regte gesindheid. Of jy nou lollipop girl is en of jy senter speel: wees gereed vir wat na jou kant toe kom. Sorg dat jou tekkies nuut is, dat jou waterbottel vol is dat jou stembande opgewarm is om dié rondom jou aan te moedig, en wees gereed vir enige posisie waarin die lewe jou mag nodig kry.

Groetnis
Susan
Redakteur: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

HEVW ·

Ja baie oulik met n groot waarheid. Het self 4 van hulle deur die skool gekry. Selfs op universiteit het dit so gegaan. Het soms naweke vir gimnastiekkompetiesies n 1000 km plus afgele. Maar die belangrike, hulle is vandag positiewe mense wat merk maak. Dankie daarvoor.

Anita Lohrke ·

Klink bekend, maar soms was daar nie geld vir nuwe tekkies of skoolskoene nie en moes my kroos ‘n maand of twee wag daarvoor. Nou is dit hulle beurt om kinderskoene te koop en ouma en oupa is altyd gewillig om te help!

Peet Schabort ·

Ek het ‘n klompie jare gelede ‘n begrafnis op Secunda bygewoon en daar was hierdie lang, lenige en aantreklike vrou wat met haar 1,9m net nie misgekyk kon word nie. Ek besef dat ek haar iewers voorheen gesien het maar hoe harder ek dink hoe ingewikkelder raak dit. Ek moes toe uitvind dat ek haar in koerante gesien het! Ons eie en later NZ se Irene van Dyk!! Sy was hier vir haar ouma se begrafnis.

Ouma ·

Skielik gaan daar vir Ouma ‘n lig op! Nou verstaan ek die eienaardige toneetljie wat hom Dinsdag middag vir 10min voor my afgespeel het!
Agtjarige kleindogter was by my. Toe ek besef daar is nog tien minute voor sy op die netbal baan moes wees, roep ek dood luiters: “Skattebol, dis amper tyd vir netbal.”
Die volgende oomblik vlieg sy op, ruk haar netbal sak se rits oop, gryp ‘n haarborsel en borsel haar hare met ‘n paar wilde hale blink. Toe verskyn daar ‘n onderarm sprei wat sy werk doen en toe nog ‘n lyfsproei wat so woes spuit dat sy en ouma sommer altwee van kop tot tone met ‘n vroulike geur omgewe is.
“Liefie, is dit nodig vir netbal om ………..” is al wat ek kon uitkry voordat haar oorrompelende glimlag my die swye oplê en ons altwee uitbars van die lag oor ons dames se ingebore manier om selfvertroue in te boesem, veral as jy vandag ‘n “lollipop” girl moet wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.