Redakteursbrief: Oor veiligheid, flieks en Fees van die Ongenooides

susan_lombaard

Susan Lombaard Foto: Burger Meyer, Maroela Media

Die land is geskok oor die nuus dat die bekende ekonoom Dawie Roodt en sy gesin gisteraand die slagoffers van ʼn gewapende roof was. Die Maroela-span gesels vanoggend in die kombuis daaroor, en ook oor Karen Zoid en Francois van Coke se optrede wat ʼn klomp van ons gisteraand in die Atterbury-teater in Pretoria bygewoon het. Net eergisteraand nog het ons by ʼn ander funksie met Dawie Roodt gestaan en gesels. Toe was sy lewe nog onontwrig en doodnormaal.

Ons gesels oor die vreemdheid daarvan dat ʼn mens deesdae, selfs in die plekke waarheen jy ontvlug om van die werklikheid te ontkom, nie meer veilig is nie. Of jy in ʼn teater sit en na ʼn musiekproduksie luister, of ʼn kunstefees bywoon, of ʼn fliek kyk, of selfs in ʼn kerkdiens sit – jou veiligheid is nie gewaarborg nie. Respek vir plekke soos kerke en teaters bestaan daar lankal nie meer onder dié wat wil roof of sommer net wil skiet nie. Dis ook lankal nie meer net plaaslik die geval nie: internasionaal is jy lankal nie meer jou lewe of veiligheid seker as jy op ʼn lughawe wag, ʼn eilandvakansie onderneem, ʼn universiteitsklas bywoon of ‘n restaurant-ete geniet nie.

En, les bes, in jou huis is jou veiligheid allermins gewaarborg.

In sy roman Fees van die ongenooides skryf PG du Plessis hartroerend oor die Van Wyk-familie se laaste ete tydens die Anglo-Boereoorlog, die aand voor hulle weggeneem sou word na ʼn konsentrasiekamp en hulle huis en besittings afgebrand sou word. In ʼn bisarre sameloop van omstandighede eet die Britse kaptein Brooks saam met hulle, en die tafel word gedek vir ʼn laaste feesmaal:

Magrieta en Gertruida het die disse self tafel toe gebring. In die middel het die kraffie rooiwyn gestaan, die servette en tafeldoek was gestyfde damas, die eetgerei silwer, die borde Delft, die glase fyn en korrek. Die hanglamp het sag, geel en huislik neergekyk op ʼn maaltyd goed genoeg vir die beste, maar die oë rondom die tafel was bevreemd, soos huiwerende vensters aan huise van vertoon.

In die kamer het oupa Daniël, wat geweier het om saam met die vyand aan tafel te sit, op sy bed gelê.

Die ou man het niks gesê nie, net omgedraai muur toe en met oop oë gelê. Hy het na die pleister gestaar wat sy eie paar hande soveel jare gelede daar aangetroffel en gladgevryf het – maar dit nie gesien nie, net gewonder of die gretige vlamme uit die plankvloer en die meubels sy noukeurigheid sal laat bars, afdop en afspring soos dié in die brandmurasies wat hy al gesien het.

Die ontneem van dít wat jy as kosbaar beskou, is nie nuut nie. Maar as so ʼn ingrypende gebeurtenis oor jou pad kom, verander jou definisie van dit wat vir jou kosbaar is.

Dikwels in ons geskiedenis, en dié van ander nasies, raak al dié wêreldse kosbaarhede in die hitte van die oomblik onbelangrik, en is dit skielik net vryheid en die veiligheid van jou geliefdes wat swaar weeg. Selfs in Bybelse geskiedenis is daar baie verhale van families en volke wat moes oppak en padgee, en moes besluit watter van hulle besittings is kosbaar genoeg om in te pak. Ek wonder soms hoe Abraham se vrou gevoel het toe sy hoor dis tyd om in te pak, of hoe die Israeliete gemaak het met alles wat hulle moes agterlaat toe hulle uit Egipte moes trek, of hoe Maria besluit het wat om te gryp en wat om te los toe sy en Josef in die nag met hul pasgebore baba moes vlug.

Soms kyk ek na my eie huis, en ek wonder: Sal ek ʼn foto-album gryp? Sal ek my klavier voor die vlamme probeer uitstoot? Of sal ek my boks met sentimentele goetertjies onthou? Maar ek weet as ek régtig moet kies, sal ek ʼn kind onder elke arm vasknyp, en my man sal daar wees, en miskien sal ʼn hond agternadraf. Want dis al wat regtig kosbaar is.

Die groot troos is dat God nie verander nie, en dat Hy nie agterbly of verdwyn as ons moet vlug, of moet trek, of in die moeilikheid beland nie. En ek het nie ʼn los hand nodig om Hom saam te sleep nie.

Mag jy en dié vir wie jy lief is, veilig wees en voel in die week wat voorlê.

Groetnis
Susan Lombaard
Redakteur: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Johan Oosthuizen ·

Na meer as ‘n dekade in Engeland is ek oppad terug na my vaderland. Aan die verkeerde kant van 70 moet ‘n mens besluit wat jy met die res van jou lewe wil maak. In my hart brand ‘n verlange na my geboortegrond en sy mense – my kinders, kleinkinders, familie en vriende. Ek word om al die goeie redes ten sterkste afgeraai om dit te doen maar niks gaan my keer nie. WANT: God verander nie en Hy bly nie agter of verdwyn as ek moet vlug of in die moeilikheid beland nie. Hy is alreeds waar dit gaan gebeur – as dit sou gebeur.

Dankie Susan. Jy bevestig dat ek moet doen wat ek wil doen.

Daar is ‘n taak wat nog afgehandel moet word. Daar is ‘n vlam wat nog hoog geblaas moet word. Die land is my land. Die land is jou land.

George ·

Welkom terug Johan. Dit was die regte besluit. Hierdie land is ons land. Beste wense.

Pieterdp ·

Die was baie goed ge stel en ek moet jou die eer gee vir wat jy soo mooi kon stel. As die mens net na God se wil wil streef waar Jesus die voorbeeld gestel het, sal als soo mooi en volmaak ge wees het

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.