Redakteursbrief: Oor vietse, dowe, kreatiewe, vreemde en koel oumas

susan_lombaard

Susan Lombaard Foto: Burger Meyer, Maroela Media

Met my jongste vanjaar in graad R bied ek vanjaar vir oulaas aan om ʼn gasvrou te wees by die skool se oupa- en oumadag. Werkende ma’s sê mos vir alles by die skool ja oor hulle so skuldig voel. Woensdagoggend douvoordag begin ek die tafel dek, vrot van die griep en toe onder die werk. Allermins lus om sonder ʼn stem vir nege vreemdelinge gasvrou te speel in ʼn koue, raserige skoolsaal.

Ek dek my mooiste teegoedjies, en kry net-net klaar voor die eerste oupas en oumas opdaag – ure vroeg vir die funksie wat om 09:00 begin. Uitgevat in hul kisklere.

Ek gaan soek vir oulaas ʼn sonkolletjie buite op. Op die stoep voor die saal stop ʼn tannie in ʼn blou linnepakkie elke paar treë om haar asem terug te kry. Drie ooms staan in die son en grappies vertel. ʼn Ouma help haar man om sy gehoorstuk te verstel. Dis moeilik om te peil waar sommige van die gaste inpas: baie van die oumas is viets en modieus en lyk vir my baie jonk om al ouma te wees.

Vyf tannies en vier ooms kom sit by my teetafel aan. Ek heet hulle welkom en skink tee en koffie.

Stiptelik om nege stap byna tweehonderd graad R’etjies op die verhoog. Elke oupa en ouma se gesig helder op oor die haasbekkies, gestrikte vlegsels en borselkoppies op die verhoog. Daar is geen vooroordele oor vals stemmetjies en lyfies wat hulle bewegings vergeet nie. Almal vee trane af terwyl hul kleinkinders vir hulle “Dierbare ouma, ek’s lief vir jou” en “As oupa so sê, dan weet ek dis so” sing. Ek ook.

Later word pryse weggegee vir die oudste oupa en ouma in die saal – albei toevallig my gaste. Ek kyk met nuwe oë na die 85-jarige ouma en 85-jarige oupa aan my tafel. Die ouma se haartjies is spierwit en die oom se koffie stort byna soos hy bewe. Maar hulle is hier, en trots. Twee van die oumas wat die verste gereis het, is ook my gaste. Die een ouma het al die pad van Lützville af kom kuier, en die ander een – behoede ons – het van die Verenigde Arabiese Emirate af gereis om hier te wees vir haar kleinkind se groot dag. Ek en tannie Susan van Lützville wat langs my sit (my verkouestem trek nie verder as tot by haar nie) maak gou-gou vriende, en sy nooi my hartlik om te kom kuier as ek weer in haar omgewing is.

Toe ek laat die oggend die tafel opruim, is dit die onvoorwaardelike aanvaarding en trots van die oupas en oumas wat my bybly. Geen vooroordeel of haas of ongeduld of kritiek nie.

Vanoggend lees ek op oor die waarde wat ʼn oupa en ouma tot ʼn kleinkind se ontwikkeling kan toevoeg. Dis merkwaardig: ʼn kleinkind wat op ʼn deurlopende basis met grootouers kontak het, se stresvlakke is laer, hulle presteer beter op skool en hulle menseverhoudings en emosionele intelligensie is bo dié van hul maats.

Uit die geselsies om my kon ek hoor dat baie oupas en oumas ver bly, maar slim planne maak om deel te wees van hul kleinkinders se lewe. Hulle bel gereeld, stuur verjaardagkaartjies per pos, en kry Facebook, Instagram en WhatsApp op hul splinternuwe slimfone onder die knie. Afstand is duidelik nie meer ʼn verskoning nie.

My eie kinders is bevoorreg om ʼn oupa en ouma net om die draai te hê wat hulle amper daagliks sien en wat aktief in hul lewe betrokke is. My vyfjarige seuntjie en sy ouma kan ure lank verbeeldingspeletjies speel, en my negejarige meisiekind is dol daaroor dat haar oupa haar toelaat om met spykers en planke goeters in die garage aan mekaar te timmer. Na ʼn kuiertjie by oupa en ouma is die twee gelukkig, tevrede en moeg.

Vandeesmaand, Vrouemaand, het Maroela Media juis besluit om die kollig te laat val op oumas as spesiale vroue in ons lewens. Ons is op soek na die land se koelste ouma. Die inskrywings stroom in, en ons verkyk ons aan ʼn ouma op ʼn Harley Davidson, ʼn ander ouma wat met haar loopraam in die seewater loop kort ná sy ʼn operasie ondergaan het, en nog een wat op haar oudag nog modelwerk doen. Nog baie ander inskrywings inspireer ons, gee ons ʼn knop in die keel en laat ons lag. (*Stuur jou foto en verduideliking waarom jou ouma die koelste is, na [email protected])

As jy ʼn koel ouma is, gee Maroela Media vandag vir jou ʼn stewige digitale klop op die skouer.

Groetnis
Susan Lombaard
Redakteur: Maroela Media

Nota: Die inskrywings vir die Koelste Ouma-kompetisie waarna hierbo verwys word, is slegs enkele voorbeelde en is geen aanduiding van die uitkoms van die kompetisie nie. Alle inskrywings sal objektief en deur ʼn paneel beoordeel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Cathy Kotze ·

Dis ook goed om te onthou dat baie van vandag se oumas die eerstes was wat mini rokke gedra het. Ons het op Elvis Presley se musiek geruk en rol en die meeste van die bedeesde ou omies wat julle deesdae sien het hulle vrek gesukkel om in hulle “stovepipe” broeke in te kom. Ons wou almal soos “Twiggy” lyk met haar groot oë en wilgerlat lyfie.

As my kleinkind nou kyk na die foto van haar ouma in ‘n bikini op Margate se strand, vra sy darem gelukkig nie of ons nog in ossewa’s gery het nie. Maar sy vind dit steeds moeilik om te glo dat daardie jong meisie regtig ek is.

Gelukkig is die meeste van ons se harte nog jonk, al is die spyker hakskoene lankal verruil vir dienlike Dr Scholl’s.

Peet Schabort ·

EN Cathy, daar was nie beter oogsalf as ‘n mooi wilgerlatmeisie in haar minirok(kie) . . . .
Daarvan kan ek in die 1960’s as 19-jarige en my oupa as 88-jarige getuig toe ons beide in Middelburg Tvl. ‘n minirok bewonder het. Let wel, ons het die rokkie bewonder . . . .
Nou se dae word daar soos die mans BROEKE gedra, ai tog, waarom weet ek nie . . .

Johan Oosthuizen ·

Ek sit hier in Nederland waar ons na dertien jare naby die kleinseuns, vir oulaas kuier voordat ons binnekort terug S.A. toe verhuis. Noudat ek Susan se redakteursbrief gelees het, sit ek met ‘n knop in die keel wat ek nie afgesluk kry nie. Al troos is dat die ander woelwaters in S.A. vir my wag.

Die oupa- en oumadag: Wat ‘n skitterende idee en geleentheid! Mooi so! Doe so voort!

Oupa- en oumawees is vir die klein- en agterkleinkinders ‘n lewende erfporsie en vir die grootouers ‘n tydbonus wat hulle in staat stel om te gee en te doen terwyl daar nog tyd is. Wat ‘n verruklike voorreg met ‘n onmeetbare nalatenskap.

Lank sal hul’ lewe, lank sal hul’ lewe, in hul’ gloria in hulle kleinkinderblomtuin!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.