Redakteursbrief: ‘Ouboet, hier gedra jy vir jou’

susan_lombaard

Susan Lombaard Foto: Burger Meyer, Maroela Media

Maroela Media het vandeesweek, saam met ʼn klompie ander media-instansies, deelgeneem aan ʼn werkswinkel oor haatspraak in sosiale media. In my soeke na inligting vir Maroela se spreekbeurt by die werkswinkel, gaan dolwe ek toe in die donker wêreld van Maroela se Verwyderde Kommentaar.

En glo my, donker is dit inderdaad. Dis ʼn bietjie soos om ʼn deur oop te stoot na ʼn stowwerige solder waar daar vir geslagte lank alles gebêre is waarvan die familie liefs wou vergeet. Die lys terme op ons “swartlys”, dis nou, woorde en terme wat maak dat jou kommentaar sommer deur die webwerf geblok word nog voor enigiemand (ons inkluis) die kans gehad het om dit te lees, is so lank soos my arm. Ek kry die webmeester wat dié lys onsmaaklikhede moet byhou, bitterlik jammer.

Die statistiek wys dat daar in die afgelope drie jaar of wat sowat 73 000 van die kommentare op Maroela Media geblok is weens woorde wat op ons swartlys voorkom. (Ek moet darem byvoeg dat “spam” deur kuberboewe by hierdie 73 000 ingereken is.) Dan tel ons nie eens al die kommentare wat met die hand deur Maroela se sosialemediaspan verwyder is nie – daardie kommentare waarvan die nuanses van rassisme, haatspraak, seksisme en ʼn klomp ander –ismes en –fobies so fyn is dat mens drie keer moet lees om dit raak te sien.

By die werkswinkel, georganiseer deur VivA (die Virtuele Instituut vir Afrikaans) en CText, kry ons vir die eerste keer die geleentheid om in die openaar te sê: “Ons is Maroela Media, en ons het ʼn probleem met haatspraak op ons platforms.” Want ons bevind ons in die geselskap van al die ander groot mediainstansies – of dit nou digitaal, gedruk of die uitsaaiwese is, en almal is in dieselfde bootjie.

ʼn Mens sou lank kon debatteer oor die redes waarom lesers van digitale platforms en deelnemers aan sosiale media dit veilig vind om hul mond uit te spoel op allerlei kras maniere wanneer hulle van sulke openbare platforms gebruik maak. Dit was ook geensins die doel van die werkswinkel nie – dis seker maar net soos wat ons nooit sal verstaan hoekom die bedeesde buurvrou wat elke oggend haar potplante water gee, aggressief op haar toeter lê wanneer sy in ʼn verkeersknoop vassit nie.

Buiten al die saam kopkrap en dink oor moontlike oplossings by die haatspraakwerkswinkel, was dit vir ons as Maroela ʼn goeie oefening om ʼn bietjie te gaan sit en mooi te dink oor die redes waarom ons soms jou kommentaar verwyder, en soms nie. Want die verskil tussen ʼn toegelate kommentaar en een wat verwyder is, is soms bitter klein. ʼn Goue reël moet ons egter formuleer, want met elke 50 000 of wat unieke lesers wat hulle maandeliks by Maroela voeg, raak die uitdaging om dié lesers se kommentaar te bestuur, groter.

Uiteindelik formuleer ons sosialemediabestuurder, Suné van Heerden, wat elke dag met hierdie kommentaar worstel, dit die beste: Maroela Media is ʼn kuierplek. Dis jou ouma se sitkamer, waar jy tee drink uit mooi koppies en koeksisters en melktert eet, en waar jy praat oor die weer, die nuus en die politiek. Dis ʼn plek waar jy tuis genoeg voel om jou skoene uit te skop en te ontspan, waar jy uit jou maag kan lag en jou bekommernis oor die ekonomie kan deel. Maar dit bly jou ouma se sitkamer. En as jy lelik praat, gaan sy vinnig-vinnig vir jou sê: “Ouboet, jy weet Ouma is lief vir jou en jy is welkom hier in my huis. Maar as jy hier kuier, dan gedra jy vir jou.”

Weet dus maar, as jy een van die onskuldiges is, dat die onus by Maroela vir ons daarop rus om die vryheid van spraak te beskerm van dié wat hulle ordentlik en beskaafd kan uitdruk. Want as ons die handjievol onbeskoftes toelaat om die platform hul spreekbuis te maak, is dit dié met ʼn ingeligte, opgevoede en beskaafde mening – al is dit hoe kontroversieel – wat ontneem word van hul reg van vryheid van spraak.

Ek hoop jy gesels en kuier nog lank, lekker en beskaafd saam in ons sitkamer.

Groetnis
Susan Lombaard
Redakteur: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Dewald Alberts ·

Susan,
Die is ontsettend mooi uiteen gesit, ons vergeet baie gou van goeie maniere, veral as ons opgeklits raak. Mooi naweek vir almal
Groete
Dewald

Carl ·

Dankie Susan, positief en ja het ons maar op vele van die forums op die internet mense behandel soos ons dit voor ouma in haar sitkamer sou doen.

Liza Opperman ·

Baie mooi gestel, dit kom tog alles weer terug na waardes toe ne?

ludie ·

Word Maraoela ook deur Media24 besit? ‘n Eerlike antwoord asb!

chris ·

Nee anders sou jy betaal het en alles wat nie pk is nie, nie geplaas word nie.

Sune van Heerden ·

Dagsê Ludie

Baie dankie vir jou navraag. Maroela Media is ‘n onafhanklike maatskappy, maar ons is deel van die Solidariteit Beweging. Ons is nie deel van Media24 nie.

Groetnis
Suné van Heerden
nms Maroela Media

Natascha ·

Nou ja toe! Dis hoe dit gedoen word! Baie dankie vir die inligting.

Tinus Viviers ·

Baie dankie. Dis meer as welkome woorde. Hopelik lees die mense wat die rede hiertoe was, dit ook.

Jaco Steyn ·

Ek wonder net wat die eintlike rede is waarom my kommentare al dikwels verwyder is vanaf beide Maroelamedia se webblad én hulle Facebook-groep. Is dit omdat ek as een van die “onbeskoftes” beskou word of omdat ek belangrike inligting met mense wil deel wat die leuens en misleiding van sekere belangegroepe ontbloot??

Jaco Steyn ·

Die feit dat Maroela Media deel is van die Solidariteit Beweging en nié (amptelik!) van Media24 nie, het hulle nie gekeer om saam met ander media-instansies deel te neem aan ʼn “werkswinkel oor haatspraak in sosiale media” nie. Die groot vraag is net of Media24 óók deel was van daai “media-instansies” waarna verwys is in die redakteursbrief en watter ander hoofstroommedia-instansies ook deelgeneem het…

Gerhard van Huyssteen ·

Jaco, die volgende instansies het aan die gesprek deelgeneem of finansieel ondersteun: CTexT (Noordwes-Universiteit), RSG, Rapport, Netwerk24, SAUK Digitale Nuus, Huisgenoot Digitaal, Maroela Media, Universiteit van Johannesburg en Universiteit van Antwerpen. Die geleentheid is gereël deur VivA (soos Susan verduidelik), waarvan die stigterslede die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, ATKV, NWU en Dagbreek Trust is.
Jou kommentaar laat dit klink asof jy sou verkies het dat Maroela Media nié aan so ‘n gesprek deelneem nie, of ten minste nie aan ‘n gesprek deelneem waar Media24 teenwoordig is nie? Verstaan ek jou verkeerd? Kan jy dalk motiveer?

Jaco Steyn ·

Nog ʼn goeie vraag – wat jy heel waarskynlik nie behoorlik sal kan beantwoord nie, is waarom daar werkswinkels gehou word oor die gevare van “haatspraak” en nié oor die totstandkoming van alternatiewe media wat mense kan inlig oor die indoktrinasie en misleiding deur napraters van die heersende ideologie van die staat nie.

Shannon ·

Hello Susan ! Hoe gaan dit ? Ek kan nie help om weereens te merk dat die koningin in jou verhaal `n vrou is nie – ouma – en die trol is weereens manlik ? Is dit hoofsaaklik mans wie in toom gehou moet word a.g.v. hulle onsmaaklikhede hier in ouma se sitkamer mmmm ?

Weet dis snaaks, want ek wonder juis nou oor die kere dat jy jouself vir my poste gewip het en ek sumier verwyder was – ek het nooit swarlys woorde ingesluit nie ??? Of het jy twee lyste – die Google een en jou eie een ?

Gerhard van Huyssteen ·

Uitstekend gestel, Susan! Ek is ook bly om te sien die meerderheid kommentaar wat hier geplaas is, ondersteun julle werkwyse. Want m.i. het julle ‘n baie volwasse en verantwoorde wyse waarop julle hierdie moeilike kwessie hanteer. Doe zo voort!

Winston ·

My eerste kuier in die Maroela sitkamer en beslis nie die laaste nie!

John Brandow ·

Uitstekende werk Susan. Een ding moet jy weet – as jy almal gelukkig gaan probeer hou gaan jy ten gronde gaan. Jy gaan altyd die fanatici (o en ja ook die dogmatiste) rondom jou kry wat moet verskil. Maar ek dink die tipe werkswinkels is absolute noodsaaklikhede. Doet so voort !

De Wet Potgieter ·

Susan, my seun is 26 jaar oud en hy vertel my die jongmense lees Maroela. Daarom is dit belangrik dat die haatsprakers daarbuite moet leer om op ‘n beskaafde manier hul gevoelens oor te dra. Deur kwetsend te wees bereik mens geen doel nie en dryf jy net mense weg van jou af. Hoe gouer die die swetsers en driftiges daar buite besef ons het elkeen die reg op ons sienswyses, maar moet dit op ‘n beskaafde wyse en beredeneerd oordra, hoe gouer sal ons kan saamstaan. Stel ‘n voorbeeld vir die jonger geslagte en dwing sodoende respek af vir jou sienswyse. Wees krities, erg krities oor die haglike toestande van ons land en die korrupte regering wat ons lewenstandaarde in die grond in regeer, maar doen dit bedaard, gefokus en goed deurdag om nie jou kritici ‘n stok te gee om jou mee te slaan nie. Sunette Bridges het dit op die harde manier geleer.

Flip Buys ·

Baie dankie hiervoor Susan. Talle mooi e-mediaprojekte het al gesneuwel omdat ‘n mikrogroepie met platvloetse maniere die massa weggedryf het. Die goue riglyn bly Van Wyk Louw se droom van die ‘Oop Gesprek’. Lesers hou van saampraat en lewendige en beskaafde debat, maar niemand gaan kuier weer by onbeskofte mense nie. In Louw se woorde: “So noodsaaklik soos die bloedsomloop vir die liggaam is, so noodsaaklik is die sirkulasie van gedagtes vir ʼn volk. Maroela doen dit nou al maandeliks vir honderde duisende Afrikaanse lesers en luisteraars.

Jaco Steyn ·

Flip. As “onbeskofte mens” het ek onlangs deeglik besef wat julle nou eintlik bedoel met “saampraat en lewendige en beskaafde debat”, nadat jy my ge-ontvriend het op Facebook en nadat ek – soortgelyk aan Shannon hierbo, nog steeds géén behoorlike antwoord ontvang het oor waarom my kommentare herhaaldelik verwyder is nie…

Mariette le Roux ·

Dankie vir jul aandag aan hierdie uiters belangrike saak. Ek hou van die metafoor van hoe om ordentlik te wees in ouma se kombuis. Op die einde gaan alles maar oor goeie opvoeding, goeie waardes en ordentlikheid. As alle mense met basiese beskaafdheid optree in die sosiale media asof hulle in die geselskap van ordentlike mense is, sal die media ook totaal anders lyk en kan dit baie help om beter verhoudinge in die land te help skep. Ek wil ook dankie sê dat ek nog my nuus in goeie Afrikaans by Maroela kan lees, want Netwerk 24 het mos besluit dat slegs Engelssprekendes en Zulus gratis nuus mag lees. As jy Afrikaans is, moet jy betaal. Ek dink dit is verraad van ‘n liggaam wat sy wortels in Afrikaans het en wat sy geld daaruit gemaak het vir baie jare.

deejay ·

Dankie vir die gratis nuus. Ek is ‘n volbloed ANC maar nogtans hou ek van maroela se nuus. Dis gratis dis Afrikaans en op die bol. Ek lees eerder Maroela.

Rupert Ashford ·

Dankie. Ons moet norme handhaaf as ons op enige publieke platform kommunikeer. Ek geniet Maroela soos baie ander. Do zoo voort.

Dewald Alberts ·

Ek dink steeds dit is `n puik onderneming om wat en in watter konteks dinge gesê word aan te spreek, `n warm debat is slegs doenbaar deur feite op die tafel te plaas, sienswyses moet dus gerugsteen word en veralgemening is gereeld `n sondebok waar mens perspektief verloor.

Peet Schabort ·

Bestaan daar enige woorde volgens wet verbied wat ek ‘n blanke mee kan verneder ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.