Redakteursbrief: Ouderdom is ‘n sierlike kroon

susan_lombaard

Susan Lombaard Foto: Burger Meyer, Maroela Media

Ek het die voorreg gehad om aan die Puk joernalistiek te studeer, met die voormalige koerantman prof. Arrie de Beer as my joernalistiekdosent in my honneursjaar. Vir ons tien aspirerende joernaliste was hy ‘n mentor, veel meer as ‘n dosent. Laat in dié jaar het ons ‘n groot joernalistiekprojek gehad wat moes klaar. Prof. Arrie en sy vrou het die eetkamer van hulle ruim huis vir ons beskikbaar gestel en ons ‘n paar weke na hartelus daar laat plak, sodat ons op een plek kon werk sonder om elke keer alles te moet oppak. Ons het ‘n paar nagte deur om die groot ou eetkamertafel gesit, en tussen die werk en liters koffie deur baie lewenslesse en –wyshede uit prof. Arrie se mond gehoor.

Hy was een van die mense wat my geleer het dat ouderdom gerespekteer moet word: Nie net oor hy soveel respek afgedwing het nie, maar ook oor hy sy eie skoonouers wat by hulle ingebly het, met soveel respek behandel het. Ek onthou hoe sy skoonma, wat haar dae buite in die tuin verwyl het, haarself aan ons voorgestel het elke keer as sy by die deur inkom en die spulletjie studente om die eetkamertafel gewaar. Nie een keer het hy gehuiwer om ons almal wéér met groot erns en opregtheid aan haar voor te stel nie.

In dié tyd het ek ‘n stuk oor die ouderdom geskryf waarvan ek intussen lankal vergeet het. Vandag kontak ‘n Maroela-leser my: hy het dié stuk toevallig op die internet raakgelees, iewers waar dit jare gelede gepubliseer is.

‘n Samelewing kan kwalik sonder die wysheid van sy bejaardes bestaan. Ek dra dus dié storie op aan elkeen van Maroela se ouer lesers.

Groetnis

Susan Lombaard

Redakteur: Maroela Media

 

Ouderdom is ‘n sierlike kroon

 – Susan Lombaard

Ouderdom is ‘n sierlike kroon; dit word bereik deur dié wat reg lewe. (Spreuke 16: 31)

Die ou vrou skink tee. Haar hande bewe — die tee spat op aan die binnekant van die koppie.

“Ma moenie mors nie,” maan haar dogter goedig. Sy hou die koekiebord na haar pa toe uit.

“Dankie, Andrea.” Hy vat twee koekies en sit een in sy vrou se piering neer. Sy tel dit op en bekyk dit aandagtig: dit het ‘n fyn meellagie bo-op, en ‘n rooi kersie in die middel. Sy byt met haar gelerige voortande; kou-kou-kou. Twee krummels bly lê op haar lip.

“Hoe vorder Pa met die stoel?” Andrea leun nader en vryf met ‘n voorvinger oor die gladde hout.

Haar pa glimlag gelate. Sy oë trek plooitjies. “Ek het nog nie vanoggend veel gedoen nie.” Hy slurp ‘n slukkie tee. “Ek het jou ma help legkaart bou.”

Hulle praat lank nie. Die ou man hap aan sy koekie en hou sy vrou met ‘n effense glimlag dop. Sy druk-druk twee legkaartstukke inmekaar, maar dit pas nie heeltemal nie. Sy vat ‘n ander stuk en probeer weer. Die teekoppie langs haar is nog vol.

Andrea eet twee koekies. Sy eet dit stadig terwyl sy diep asemhaal. Haar oë dwaal deur die tuin: dis groen en ruig ná die onlangse reën. Die voëls sing uitbundig. Die varkore in die hoek blom al. Oscar, die hond, lê langs hulle in die nat grond en kou aan ‘n stingel.

“Daar’s hy!” Die ou vrou lag triomfantelik en kyk vir die eerste keer op. Haar goueraambril blits in die sonlig. “Dit pas!”

Pa en dogter leun belangstellend vorentoe. Die twee legkaartstukke pas knus inmekaar. “Kyk, Pappie,” sê die vrou weer en druk-druk met ‘n kortgeknipte nael op die twee legkaartstukke. “Dit pas!”

Hy glimlag trots en gee haar hand ‘n drukkie. “Mooi so, Tillie,” en sy oë is nat. “Drink nou eers jou tee.”

Teen middagete dra Andrea ‘n skinkbord met toebroodjies buitentoe. Die ou man se leesbril lê opgevou op ‘n grootdrukboek:Die Brief aan die Romeine: ‘n Handleiding, lees sy. Hy sit met die stoel teen sy knieë geleun; sy hande is vol fyn houtskaafsels.

Die ou vrou sit en brei. Die naalde klik-klik vinnig en gesellig. Haar oë fladder oor die beweging. Die lang, rooi gebreide wurm lê opgerol op haar skoot.

“Wat brei Ma?” vra Andrea.

“’n Lappie,” antwoord die vrou sonder om op te kyk. “Hy’s amper klaar.”

Andrea sit die skinkbord op ‘n hoek van die gietystertafel neer. In die middel van die tafel lê die voltooide legkaart. Die ou man stof sy hande versigtig aan sy safaripakbroek af en skuif sy stoel nader aan die tafel.

“Kom, Tillie,” sê hy en vou sy een groot hand oor sy vrou se breiwerk. “Kom ons eet eers.”

Sy wikkel die penne effens vererg uit sy greep los en brei dan onverstoord verder vir ‘n rukkie — eindig die een steek ná die ander af.

“Klaar!” sê sy en hou die lang stuk breiwerk trots in die lug op. Sy bekyk dit met ‘n skewe kop. Dan kyk sy bekommerd na haar man.

“Hier’s dan nou ‘n gaatjie in,” sê sy en druk met ‘n vinger op ‘n gaatjie in die middel van die breiwerk.

“Toemaar,” sê hy en leun nader om beter te kan sien. “Ons plak ‘n blommetjie oor.”

Haar gesig verhelder. “Ja, ons kan ‘n blommetjie oorplak.” Sy laat sak die breiwerk. “Dis vir jou, Andrea.”

“Dankie, Ma,” sê Andrea en soen haar ma lig op die wang. Sy vou die rooi breiwerk versigtig op en vryf liefderyk daaroor. “Dis pragtig.”

Hulle eet broodjies en gesels oor die hond wat geskeer moet word en die weer wat wil-wil opsteek. Ná ete drink hulle vars lemoensap. Andrea tel die naalde en die rooi wol op en begin nuwe steke opsit. Sy brei drie rye. Haar ma bekyk haar belangstellend. “Weet jy,” sê sy gesellig, “ ek het so lank laas gebrei — ek moet tog weer ‘n bietjie brei.”

“Ja, Ma sal dit geniet.” Andrea antwoord werktuiglik. Sy sit die breiwerk neer en tel die skinkbord op; dra dit terug kombuis toe. Sy dra die breiwerk saam en bêre dit in die swart sak in die eetkamerkas. Die sak is vol stukke breiwerk, almal rooi. Daar was nog ‘n sak vol breiwerk; dié het sy al losgetrek en die wol weer opgerol.

Buite trek die ou man die legkaart nader. Hy begin dit opbreek. Sy vrou kyk anderpad. Hy pak dit terug in die doos — al twaalf stukke. Hy pak dit deurmekaar.

“Wil jy ‘n legkaart bou?” vra hy vir sy vrou. Sy kyk opgewonde na hom.

“Wat van dié een?” en hy hou die doos na haar toe. Buite-op is ‘n helder nar wat op ‘n fiets ry.

“Ja!” sê sy gretig en vat die doos by hom. “Ek het nog nie dié een gebou nie!”

Hy help haar uitpak. Dan wieg hy weer die stoel skuins teen sy knie en skuur verder.

Laataand help hy haar op kamer toe. Hy help haar trappie vir trappie. Halfpad moet altwee eers rus. In die kamer help hy haar uittrek. Dan kam hy haar hare en vee haar gesig versigtig met ‘n nat waslap af. Hy tel haar voete op die bed, trek die deken oor haar en kruip aan die ander kant in.

Sy lê eers ‘n rukkie stil. Dan skuifel-skuifel sy tot teen hom op die groot bed. Hulle gesigte is na mekaar toe. Hy voel die los sakke van haar borste teen sy maer ribbekas. Haar asem is warm en effens bedompig teen sy gesig. Sy arm kruip om haar rug; hy trek haar vaster.

Teen hom voel hy haar roer. Hy gly sy voorvinger oor haar verrimpelde wang. Dis nat. Hy weet haar kop is skielik helder.

“Partykeer,” sê sy en druk haar wang teen sy hand vas, “partykeer dink ek die liewe Here wil my nie hê nie. Hy kom haal my dan nie.”

Sy oë brand. “Ouderdom is ‘n sierlike kroon,” sê hy, maar hy sê dit sag, dat sy nie moet hoor nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

anet ·

Dankie Susan “Ouderdom is ‘n sierlike kroon,” Dit is pragtig geskryf en kosbaar. ek sit nou hier met trane in my oe. Jou beskrywing van ouderdom is spesiaal en baie waar, ons almal het ‘n pa of ma, of oupa en ouma wat nou in die “sierlike kroon” tydperk is, en mag ons hulle altyd die volle respek toon wat hulle verdien

Jan ·

PG du Plessis het ‘n klompie jare terug op tv ‘n storie vertel oor twee oud getroudes met soveel deernis, ek het trane in my oe gekry, dieselfde met jou skryfstuk ! Pragtig. Ai, en dink net as een van die twee moet wegval…………snik !

Leendert van Oostrum ·

Die verhaal en die oorsprong (?) – die ouers van die joernalistiekprof – vertel van bejaarde ouers wat by kinders bly. Watter voorreg vir die kinders.

In plaas daarvan om die oumense af te laai by ‘n “oulike aftree-oord”, deel van die goeiende en winsgewende “versorgings” -industrie.

Ek dink dit is Attie van Niekerk wat iewers beskryf hoe sommige tradisionele kulture ‘n oumens voor die hek van de beeskraal sou sit, en die hek oopmaak en die beeste uitjaag. Dan kon hulle verklaar: “Die beeste het hom doodgemaak”.

Ek dink daardie tradisionele euthanasiepraktyk is meer beskaafd as ons geslag wat in werklikheid oumense instop in groot worsmasjiene wat vulsels vir doodskiste vervaardig, en hulle jarelank daar te laat waar hulle nie veel anders as siekte en dood waarneem en ervaar nie.

Die verhaal kom egter nie daarby uit om te vertel hoe verrykend die teenwoordigheid van sulke oumense in ‘n huis kan wees nie, veral vir kleinkinders. Selfs al het demensie reeds ver gevorder soos hier beskryf.

Selfs mense met gevorderde demensie het dikwels nog helder oomblike wanneer hulle dinge onthou en vertel wat lank tevore gebeur het. Daarmee gee hulle vir die jonges ‘n blik op ‘n tyd wat niemand weer sal sien nie. En gee vir hulle die voorreg om vir HULLE kinders te kan sê: “My ouma het vertel dat……”

Daar word gesê dat, in orale kulture, wanneer ‘n oumens sterf is dit soos ‘n biblioteek wat afbrand. Dit is egter waar van ALLE kulture.

Ons geslag verwyder siekte en dood uit die samelewing en sluit dit buite sig toe. Enersyds beteken dit dat ons grootword met die idee dat siekte en dood abnormaal is – en ons skep ‘n kultuur met ‘n ongesonde vrees vir gestremdheid, verswaktheid en die dood. Ons leer nie meer by ons eie ouers hoe om met grasie oud te wees en hoe om met waardigheid dood te gaan nie. Ons leer nie meer by hulle hoe om self die “sierlike kroon” te dra nie.

Die belangriskte is egter: ons vernietig die ketting van kultuuroordrag deur ons grootste kultuurbronne in ouetehuise op te sluit. In die meeste samelewings word kultuur juis sterker oorgedra van grootouers na kleinkinders. Kultuuroordrag is die belangrikste taak van die ouderdom, en die ontwikkelingspsigologie oor daardie lewensfase toon dit ook. Oumense se sterkste sosiale drang is om dit wat hul weet oor te dra aan die komende geslag.

Maar ons hou die kinders en die oumense van mekaar weg. Ons sit die oumense in ouetehuise en die kinders in skole waar die enigste kultuuroordrag horisontaal gebeur – tussen kinders van dieselfde ouderdom. Daardie kinders leer nie by grootmense hoe om grootmense te word nie, maar by mekaar. Die Kanadese psigoloog, Gordon Neufeld, kom tot die gevolgtrekking dat ons daarmee, vir die afgelope drie of vier geslagte, mense gemaak het wat slegs in ‘n kinderkultuur kan funsioneer.

Hy skryf baie van die maatskaplike probleme wat ons ervaar aan hierdie verskynsel toe – ons het almal kinders geword, wat in elke geslag ‘n nuwe kultuur moet skep, sonder die voordeel van oorgeërfde insigte, En ons leer ook nie meer hoe om ouers te wees nie. Daarom val ons gesinne, maar ook ons gemeenskapslewe en ons samelewing in geheel, toenemend uiteen.

As ons die sierlike kroon van ons afkoms agter in die kas en buite sig wegbêre moet ons maar aanvaar as ons met die droes van die tydsgees gelaat word, en deur die eerste wind van verandering verward gewaai word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.