Redakteursbrief: Plant ʼn blom

Foto: Sun Warrior

Foto: Sun Warrior

Een van die goed wat ek nié by my ma geërf het nie, maar wat ek wens ek het, is haar groen vingers. Sy is een van daardie mense wat ʼn ding met wortels in die grond druk, daarvoor kyk, en twee weke later begin blommetjies pluk.

Ek het, om mee te begin, nie ʼn benul waar is oos, wes, noord en suid nie. As ʼn plantjie se aanwysings sê “plant aan die noordekant van die huis”, is ek klaar verlore en is die kans goed dat dit aan die weste- of oostekant gaan beland. Ek kan ʼn kruie- of vetplantjie min of meer aan die groei kry in ʼn pot, maar dis omtrent waar my tuinmaakvermoëns ophou.

Dit beteken egter nie dat ek dit nie geniet om in die grond te vroetel nie. Daar is vir my min dinge so bevredigend soos om, aan die begin van die lente, ʼn paar goed in die grond te druk en ʼn paar weke later te sien hoe ʼn groenigheidjie sy kop bo die grond uitsteek. Al is dit aan die verkeerde kant van die huis.

Dié liefde om iets aan die groei en aan die lewe te kry, blyk universeel tot mens-wees te wees. Ek onthou hoe my Karoo-oupa hul enkele vyeboompie by die agterdeur met reënwater uit die watertenk aan die gang gehou het. Die agterplaas was hard en stowwerig, want gras het nie daar gegroei nie. Maar die vyeboompie het gedy onder my oupa se liefde, aandag en emmersvol louwarm reënwater (dieselfde water waarmee ons ons hare moes afspoel sodat die kalkwater uit die boorgat nie ons hare hard maak nie). Teen laat November kon my ouma genoeg groenvye van die boom af pluk om so drie flessies groenvyekonfyt te kook, en dié het sy veilig in die spens gebêre tot die kinders en kleinkinders vir Kersfees kom kuier.

Een middag toe ek na werk na my motor toe stap, roep Japie, die tuinier, my nader, baie opgewonde. Dáár, wys hy my tussen die ondergroei langs die parkeerterrein, dáár groei sy tamatietjies. Hy het ʼn paar vrot tamaties uit die kafeteria se asblik gered en dit hier in die grond kom druk. Elke dag draai hy een van die sypaadjiesproeiers se kop vir ʼn rukkie diékant toe sodat sy tamaties kan water kry. Nou sit hulle vet uitgeswel en amper reg vir eet. Japie straal van trots en vertel van sy planne om pakkies tamaties te verkoop.

Burger, ʼn kollega, vertel hoe hy nou die dag by ʼn motorhawe stop op pad kwekery toe. Die petroljoggie kyk hom op en af. “Gaan jy plante plant?” vra hy. “Jip,” sê Burger. “Dis goed so,” sê die petroljoggie. “Dis goed vir ʼn mens om plante te plant.”

Of jy hierdie week ʼn jasmynplantjie in die grond druk vir die geur, en of jy wortelsaad saai om in Januarie saam met die kinders groente te oes, en of jy ʼn boom plant om die wêreld te help asemhaal: onthou dat dit goed is vir jóú, en geniet die oomblik!

Groetnis
Susan Lombaard
Redakteur: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.