Redakteursbrief: Skop jy al jou skoene uit?

Susan Lombaard

Susan Lombaard

Hier by Maroela gons dit.

Nie oor enigiets spesifieks nie – dit gons sommer elke dag hier in ons kantore. Oor alles wat in die nuus gebeur; oor die lekker boeretroos wat ons hier drink en wat ons aan die hardloop hou; oor ons lesers se raak (en soms mis) sêgoed op sosiale media. En oor “gons” so ʼn lekker woord is – een van daai Afrikaanse woorde wat jy in geen taal sou kon vertaal sonder om die binnegoed daarvan te verloor nie.

So gons ons gister oor ʼn beker boeretroos oor wat dit is wat ons (dis nou ons, die span, en julle, ons lesers) ánders maak. Wat is dit wat ons lesers laat terugkom; wat hulle ons stories met vriende laat deel; wat hulle warm genoeg onder die kraag maak dat hulle vurig deelneem aan gesprekke op sosiale media; wat hulle hul skoene laat uitskop en laat saam-kuberkuier?

Ek sou graag wou sê ons het lank gedebatteer om by ʼn antwoord uit te kom, maar ons het nie. Ons weet mos wie ons en ons lesers is. Dis ons lesers wat graag nog in ʼn plaaspad sou wou afstap en ʼn windpomp sou wou hoor kraak. Dis hulle wat nooit oor iets kan saamstem nie, maar wat mekaar en hul taal tot die einde sal verdedig as iemand hulle bedreig. Dis ons lesers wat nog ouer mense oom en tannie noem en wat weet hoe ʼn perfekte koeksister moet proe, maar wat ook ʼn slimfoon in die ry met ʼn duim en voorvinger kan baasraak. Ons lesers wat grappe maak wanneer hulle eintlik hartseer is, wat die hardste vir hulleself lag en wat die beste storievertellers is.

Ons hart klop Afrikaans. Dis die antwoord waarby ons uitgekom het. En dié hartklop deel ons met ons lesers.

Hoor net hoe mooi skryf ʼn paar van ons lesers hierdie week op Maroela:

  • “Niemand kan ʼn volkslied op ʼn honger maag sing nie” – Sadie, oor R34 miljoen wat bestee is om skoolkinders onder meer die volkslied te leer.
  • “ʼn Trein sonder spore is vir altyd verlore” – Christo, oor meer as 5km spoorstawe wat gesteel is.
  • “As jy ʼn koei skrikmaak, gee sy nie melk nie. Nes my beursie. My kinders gaan heerlik prentjies teken op die aanmanings, net soos op al die Sanral-rekeninge wat elke week my posbus verstop.” – Snippie, oor e-tolvervolging wat dalk Gautengers se voorland is.

Gee jy al jou mening op Maroela Media? Kom gesels saam. Dis loshande die lekkerste kuierplek op die internet. Dis gratis soos biltong op oom Japie se plaas. Dis jou vertroueling, jou biegmoeder, jou ouma se kombuis, jou beste pêl, jou boeretroos. As jy Afrikaans is, hoort jy hiér. Of jy die Stem sing of nie.

Groetnis

Susan Lombaard
Redakteur: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Andre Fourie ·

Ek moet nou darem eerlik se dat ek die Redakteur, Susan se brief geniet het. Want dit gee my weereens n beeld van ons Afrikaanse mense. Die wat goed opgevoed is en n plesier is om mee om te gaan. Soms gee die media daardie verdraaide skewe beeld van die mense in ons land. Dan kan ek net uitroep – “Dit is nie waar nie”. Elke keer as ek hier saam gekuier het , dan voel ek sommer trots om deel van hierdie volk te wees. Dit is so waar – Eendrag maak mag.

Cobus Wuestenenk ·

Ja nee kyk hierdie outjie is nou ‘n êrenstige onderwerp, Facebook Etiket! All right kalmeer, herstel en versterk jouself. Ek besef hierdie is borderline parlementêr. Dus het ek my bokshandskoene aangetrek en vir julle hierdie kort akrobatiese soet en suur lysie saamgestel om egskeidings te voorkom en die vrede te bewaar. Hier is my diagnose:

• Tik bietjie in jou moedertaal. Dis nie ‘n fashion statement om te maak of jy Engels is nie!
• Moenie jou eie comments “Like” nie. Jy gaan net desperaat lyk buddy.
• Vermy dit om op jou vriend se ‘wall’ te vloek. Sy ma gaan dit sien…jou oordeel en hom judge vir sy keuse in vriende. En dan sit ons met ‘n domestic situasion.
• Moenie jou Relationship status change elke keer as jy ‘n crush op iemand het nie. Bra, dalk eyeball ‘n lekker goose jou, en dan skiet jy mos jou eie voet af.
• Hou op om die hele ronde wêreld te invite om jou common Facebook game te speel. Ek weet ek haat dit. Ek kry letterlik ‘n Buiteliggaamlike ervaring elke keer as ek geinvite word om Farmville te speel! Gaan liewer op Vleisbroek vir die girls en om te stir man.
• Hou jou fotos redelik updated. Dis bedrog as jy FHM materiaal op jou profile pic is, maar ‘n 5 op die Richterskaal as jy in die straat af loop.
• Doen so nou en dan die mooite op iets terug te tik in plaas van net te “Like”. Want die realityd is, ‘n armsalige siel het dalk net sy uitspatige voorliefde vir grondboontjiebotter opsy gesit en iets kreatief geskryf. Return the favour.
• Pasop om ‘n comment te “Like” wat sad is. Bv Frikkie – “My hond is dood”. Respond – “Sarie likes this”. Hierdie behoort common sense te wees, behalwe as jou ma jou met Stuyvesant filter nippies gebrand het toe jy klein was.
• Moenie friend requests stuur vir mense wat jy nie ken nie. Stranger danger! Almal weet vreemdelinge rape.
• Hou op moan oor persoonlike issues. ’Seblief. Facebook is ‘n sosiale netwerk, nie ‘n aanlynse kliniese sielkundige vir dinosourusse nie!

So loop die beeste. Vrede!

Jn ·

As jy nie nou en dan ‘n melktert saambring nie, raak Oom Japie by die plaas se biltong ook maar minder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.