Redakteursbrief: Só bak mens ʼn wildspastei

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media Foto: Noeleen Foster

Ek het gisteraand vir my gesin ʼn wildspastei gebak.

As jy my ken, sal jy nou snak na asem en jou sambreel gaan uithaal, want hier kom groot reën. Kook en bak is nie my ding nie. Veral nie iets so ingewikkeld en tydrowend (ek wou eers tik “gesofistikeerd”, maar ek dink dan gaan die ervare kokke daar buite vir my lag) soos ʼn pastei nie – laat staan nog ʼn wildspastei.

Kyk, hierdie een was vir jou ʼn storie. Die vleis is die laaste oorblyfsels van ʼn blesbok wat my man ʼn paar maande gelede gejag het, nadat die meeste daarvan biltong en droëwors geword het. Ek het geweet ek het een kans om dit reg te doen. Eers moes ek die regte resep kry. Tussen al die Australiese en Amerikaanse wildspastei-resepte kon ek darem Ina Paarman sʼn opspoor, en dit het vir my reg gevoel. Net ʼn Suid-Afrikaner sal verstaan wildsvleis móét met naeltjies en baie ander kruie gaargemaak word; met rooiwyn en karringmelk en ʼn skaapskenkel of twee vir vettigheid.

Ek weet dít van wildsvleis, want in Noupoort, in die hartjie van die Karoo, het my oupa en ouma Nieuwoudt gewoon. Vir jare het ons wintervakansies met die trein al die pad van die destydse Oos-Transvaal af Noupoort toe gery. Op die stasie se perron het my oupa en ouma ons ingewag. Oupa Mias, die polisieman, met sy pak klere, onderbaadjie, hoed op die kop. Altyd waardig, altyd nederig. Ouma Susan met sykouse, hofskoentjies, sindelike rokkie, handsak oor die arm. Oupa Mias het ons kleinkinders sommer deur die treinvenster uitgetel, só bly was hulle om ons te sien. Sy hangerige oupa-wange was altyd glad geskeer, maar altyd ʼn bietjie grof as hy ons styf vasdruk.

Soos ek skryf, kom herinneringe terug waaroor ek nie nou wou skryf nie, maar ek is bang ek vergeet hulle: Oupa Mias se reuk, waaraan ek nie ʼn naam kan gee nie. Die tekstuur van ouma Susan se rok teen my bo-arm terwyl ons motor toe stap. Die lou gebakte binnekant van die motor nadat Oupa ons bagasie ingelaai het. Die kort entjie huis toe, oor die brug, in die hoofstraat op, waar almal stop en lag en wuif as hulle ons sien. Oupa wat stadig ry, trots, want die kinders en kleinkinders het kom kuier en almal moet sien.

Die tuiskoms: Die oopstoot van die blougeverfde houtdeure van die motorhuis. Girts-girts oor die gruis in die agterplaas waar net ʼn enkele kweperboom gegroei het, verby die reënwatertenk waarmee Ouma haar hare afgespoel het. Op met drie trappies, in by die agterdeur, die milde hitte van die koolstoof wat met sonsopkoms vanoggend al gestook is. Ennie, ouma se regterhand, wie se ogies verdwyn tussen haar plooie soos sy lag as sy ons groet.

Oor die plankvloer; die vertoonkas in die gang wat ratel met ouma se mooigoedjies as oupa ons tasse tot in die voorste kamer dra. Die waskom en -beker vir soggens se gesig afspoel op die spieëltafel; die pofferige vereduvet op my bed; ouma se hoededose bo-op die embuiahout-hangkas.

Daar is so baie om te onthou. So baie waaroor ek dankbaar is.

Maar ek moet my woorde tel, want ek wil nog vertel van die wildspastei.

In die Karoo was dit nie vreemd dat ʼn boer so nou en dan ʼn springbok- of ʼn skaapboud of ʼn ander karmenaadjie by die dominee of polisieman van die dorp kom aflaai nie. Niks omkopery nie, sommer net goeie buurmanskap.

En dan het my ouma wildspastei in die koolstoof gebak. Want die kinders en kleinkinders het kom kuier.

Die wildspastei (Foto: Susan Lombaard)

Ek bak die pastei met groot sorg. Die proses begin Sondag al, toe ek die vleis uithaal en laat ontdooi en uitsoek wat bruikbaar is; meestal bene met nog heelwat vleisies wat daaraan vassit. Ek gril my morsdood vir die bloederige spul wat ek moet was. My moed begewe my amper toe ek Sondagmiddag die bak met vleis wat ʼn paar uur in water gelê het (volgens die resep se instruksies) uit die yskas haal en vergeet dis vol, en die bloederige water oor myself én die kombuisvloer uitgooi. Sies.

Marineer die vleis twee dae lank in karringmelk.

Ek maak so. Dinsdagaand ná werk skraap ek weer moed bymekaar, haal die vleis uit, dep elke stukkie met kombuispapier terwyl ek deur my mond asemhaal.

Toe word dit gebraai tot bruin; daarna in ʼn pot met naeltjies en ander kruie, om vir vier uur te kook tot dit lekker sag is. Dan afkoel sodat elke stukkie vleis van die bene afgekrap en fyngesny kan word.

Ure se werk. Ure en dae. Nuwe respek vir ouma Susan en ander oumas.

Uiteindelik werk ons ten minste met gaar vleis. Nou raak die kinders ook lus om te help. Ons maak ʼn rooiwyn-reduksie (na dese kan ek dít ook doen) en swartpepersous wat saam met ʼn lekker klompie uie die vulsel van die pastei word. En toe die degie bo-op, wat op ons meisiekind se aandrang versier word met strepies en bolletjies en patrone. In die oond.

Gisteraand smul ons. Die pastei is perfek. Wel, my gesin dink so. Die vleis kon seker ʼn bietjie fyner gesny gewees het en die uie meer gesofistikeerd gekap. Maar vir hulle is dit perfek. Ons kuier om die tafel tot laat en lag vir onsself dat ons so opgewonde raak oor ʼn pastei. As ek fyngevoelig was, sou ek seker aanstoot geneem het oor my man wat foto’s van die pastei neem en vir sy vriende stuur. Trots sit ek aan tafel.

My eie wildspastei.

Ons verorber álles; sit na die tyd met vol pensies terug in ons stoele.

Vanoggend dink ek aan die lesse wat ʼn wildspastei my geleer het. Ek sou seker filosofies kon raak oor goeie dinge wat tyd neem; oor hoe mens soms moet vasbyt, al raak dinge bloederig; oor hoe dit soms nodig is om te leer by dié wat meer ervaring as jy het (soos my ouma, en Ina Paarman); oor hoe mens nie die onbekende moet vrees nie.

Ag, maar ek wil nie. Want die belangrikste ding van ʼn wildspastei is dat dit so eg Suid-Afrikaans is. In hierdie mooi en hartseer land van ons, waar ons mekaar al te dikwels verkeerd verstaan en verkeerd opvryf, bring lekker kos ons nog saam. Of dit nou ons as gesin is, of ons en die bure, of ons en vreemdelinge wat in ʼn restaurant oogkontak maak en vir mekaar glimlag. Of die kos wat ons vir ʼn bedelaar op straat aangee. Of die toebroodjie wat my kind se hart bly maak as sy pouse haar kosblik uithaal, en wat sy met haar maats deel.

Daarvoor is ek dankbaar.

Groetnis
Susan Lombaard
Uitvoerende hoof: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

Bloues ·

Jou doring! Lus ek darem nou n oordentlikke wilds pastei. AIJAIJAI

Niccy ·

Gits ek nou ook lus vir pastei. Net vanaand haal ek daai wild uit die vrieskas om te ontdooi.

Lukie Carelsen ·

Susan, ek hou glad nie van wildsvleis nie maar jou artikel is so interessant en jou skryftalent so goed (soos gewoonlik) dat ek sommer lus is vir daai wildspastei! Terloops die einste Noupoort wat jy besoek het as kind sal jy vandag nie ken nie. Ek is die afgelope 16 jaar betrokke by die Noupoort Christelike Sorgsentrum vir dwelmverslaafdes. Dis omtrent al wat in die dorpie aangaan. Gelukkig is baie verslaafdes deur die jare daar gehelp. Nogmaals baie dankie vir die mooi artikel!

Riëtte Heslinga ·

Susan

Skryf jy nou op die Vrydagmiddag ‘n nostalgie in my los. Ek wil-wil onthou dat Noupoort iewers op die langpad was na my ouma en oupa se plasie tussen Baroe en Steytlerville. Die kweperboom en reënwatertenk. In my kuierdae was daar nog ‘n ander bypassende item by die waskom en –beker. Plastiese weergawe van dieselfde item het oortyd gewerk as ons ou stasiewa bultop-en-bultaf gewip het die laaste skof na De Bordje.

Koedoebene wat afgekook word en ‘n oorgooidegie met uieringe kry. Lank terug se vreugdes.

Ou Vlakvark ·

Die arme blesbok. Ou Vlakvark is so dankbaar dit was nie ‘n vlakvark-vleispastei nie.

Susan, skrywe asseblief sommer nog baie sulke nostalgiese stories. Ons varkerasie-spesie is ook mal daaroor.

Petro Bezuidenhout ·

Meevoerende verteltrant en wonderlik verwoord.Dit voer my ook ver terug na vergange se dae.Laat ons die herinneringe wat kosbaar is koester,

Petro Bezuidenhout ·

Meevoerende verteltrant wat my gedagtes wegvoer na vergange se dae.Mag ons die kosbare herinneringe koester.Dankie Susan.

Johan Oosthuizen ·

Dankie Susan. Jy het jou woorde, soos altyd, so mooi ingespan. Soos my pa toe hy sy osse ingespan het. Iemand hierbo praat van nostalgie. Ek en ‘n ou Skot het in Engeland lang murgbene uitgestamp en toe hy sy laaste pyprook so eenkant toe uitblaas, seg hy: “You know, at our age it’s nostalgy that keeps uswell alive and going.” Tog so waar!
Ons kuier by die kinders in Nederland terwyl ek die storie oor en oor lees en skielik vra my kleinseun: “Opa, waarom huilt je?” Ek het nie eens agtergekom my hart begin by my oë uitloop nie.
Ek kwyl van lus terwyl ek die stuk oor die pastei lees en skielik onthou ek die wildemakou in die vrieskas by die huis op Riversdal. Ja, en ek wonder of ek dalk die eerste wildemakoupastei gaan bak. Nee, ek gaan die vleis gaarmaak en my ou Baasbakstertjie kan sorg vir die deeg.
Susan, jy het die vreugdevuur van lekker eet opnuut laat opvlam en dit knetter soos hy brand!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.