Redakteursbrief: Só klink Coenie, vyf jaar later

Susan Lombaard, uitvoerende hoof en redakteur van Maroela Media Foto: Noeleen Foster

Susan Lombaard, uitvoerende hoof en redakteur van Maroela Media Foto: Noeleen Foster

Ná ’n CD-stilte van vyf jaar laat Emoji van Coenie de Villiers ’n mens dink aan ’n klas vol hiperaktiewe kinders wat heeldag moes stilsit en stilbly, en dan lui die klok, en chaos bars los. Vyf jaar se opgekropte musikale energie en kreatiwiteit kom tot uiting in snitte wat so uiteenlopend is dat jou kop nie lekker wil sin maak daarvan nie. Elke snit is deurdag – van die lirieke wat, eie aan De Villiers se werk, poësie is wat netsowel sonder musiek sou kon bestaan, tot die versigtig uitgesoekte keuse van medekunstenaars, instrumente en musikante.

Aan die musiek self is daar egter niks versigtigs nie.

Met die bekendstelling van dié CD in die Atterbury Teater in Pretoria hierdie week het De Villiers tydens die eerste helfte van die vertoning die verhoog gedeel met die strykers van die Universiteit van Pretoria se simfonieorkes – musikante wat, te midde van groot spanning as gevolg van studentebetogings en eindeksamens, die afgelope paar weke in skoolsale byeengekom het om te oefen vir dié CD-bekendstelling. Dié studente verdien vermelding, enersyds vir hulle toewyding, en andersyds vir die klank waarmee hulle die teater volgemaak het. Vir die tweede helfte van die vertoning het De Villiers die verhoog gedeel met bekende musikante soos Jaconell Mouton en Mauritz Lotz.

Dis egter waarskynlik die liedjies waartydens De Vlilliers homself op die vleuelklavier begelei het wat vir die grootste loutere genot gesorg het – net suiwer stem en klavier wat met die jare selfs nóg beter geword het.

Dis teen dié tyd seker duidelik dat ek ’n groot Coenie de Viliers-aanhanger is. Sedert ek as dogtertjie gereeld saam met my gesin vakansies met die trein by my oupa en ouma in Noupoort in die Karoo gaan kuier het, huil ek ’n bietjie wanneer ek “Karoonag” hoor: “As die trein by Noupoort fluit, en dit wegraak in die wind, en ’n tolbos iewers vaswaai teen die rand…” Die klank van die musiek, die woorde en die prentjie in my kop vertel presies dieselfde storie.

Maar ’n kunstenaar soos De Villiers wil waarskynlik nie vir die res van sy lewe onthou word vir ’n liedjie soos “Karoonag” wat hy vroeg in sy loopbaan reeds opgeneem het (en intussen ’n paar keer ander gedaantes gegee het – soos nou weer op Emoji waar hy dit saam met Karen Zoid sing) nie. (Hoewel hy tóg as ’n eerste toegif aan die einde van die vertoning hierdie week vir sy getroue aanhangers, soos die tannie wat in ’n oomblik se stilte geskree het “We love you, Coenie!”, “Karoonag” gesing het.) Emoji sal sy getroue aanhangers uitdaag om anders oor hom te dink, as vorige albums dit nog nie gedoen het nie.

emoji-coenieOp Emoji se CD-omslag kry jy ’n voorsmakie van die grensloosheid van dié album – name soos Elvis Blue, Hemelbesem en Karen Zoid; ook Pops Mohamed, Dave Koz en Leon Gropp laat jou ’n bietjie wonder oor wat kom. En sommer op die tweede snit, “Miskien”, weet jy jy is in vir ’n ding, wanneer die Turkse musikant Gürkan Cakmak met sy duduk sorg vir klank wat nog nie in Afrikaanse musiek gemaak is nie. (’n Duduk is, volgens Wikipedia, ’n antieke dubbelriet-houtblaasinstrument gemaak van appelkooshout; oorspronklik afkomstig uit Armenië.)

En as dié redakteursbrief klink soos ’n lofsang aan ’n album en ’n Afrikaanse kunstenaar, dan is dit hoe dit is. Ons behoort bitter dankbaar te wees vir kunstenaars soos De Villiers en albums soos Emoji in die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse musiekbedryf. Skaf vir jou een aan, en “luister” (soos hy saam met Hemelbesem sing), en kry nuwe hoop vir die Afrikaanse musiekbedryf en die genialiteit van ’n ouer generasie Afrikaanse kunstenaars by wie die jongetjies hopelik kan gaan kers opsteek.

Ek sal voortaan met ’n stapeltjie Emoji-CD’s in my motor rondry. Twee in my handsak, twee in my kantoor. En as iemand weer vir my sê Afrikaanse musiek is op ’n afdraende pad, sal ek hom een in die hand stop en sê: “Dè, luister bietjie.”

Miskien
Maak ek ’n haikoe net uit klank
En bind ’n strik van woorde óm…
Miskien
Word dit ’n groter simfonie
Of dalk bly dit net kort, en stom…
Miskien
Weef ek uit note ’n kombers
En dalk, wie weet, as dit kom reën
Dra jy dit, al is dit net ’n lied –
Soos jy, is ek ook dalk alleen

– Coenie de Villiers, “Miskien” (Emoji)

Groetnis
Susan Lombaard
Redakteur: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Joh. 3:16 ·

Kuns is waar die gees homself uitdruk in die diepste identiteit wat die blote oog nie gesien kry nie. Die mooiste kuns kom van kunstenaars wat die toeskouer kan wakker maak vir sy diepte identiteit en nog positief opbouend die toeskouer se oë oopmaak vir die mooi in die lewe. Al is die realiteit so genadeloos. Fil. 4:8: “…alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat loflik is – watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.”

Tina Buys ·

Soos jy tereg sê, Susan; dit is ñ pragtige ryk veelvlakkige samestelling en die orkestrasie is puik. Elke keer wat ek luister, ontdek ek iets nuut.

Louis ·

Ek ken vir Coenie al vandat laerskooldae af. In die vroeg tagtigs het Coenie as onbekende sanger op my troue gesing. Na dit het ons by verskeie geleenthede na hom gaan luister en lekker gesels na die opvoering en ek kan met alle eerlikheid sê dat daar nie een haar van meerderwaardigheid op sy kop ooit was of nou is nie. Ek het geweldig baie respek vir hom en sy musiek. Ongelukkig het ek kontak met hom verloor, maar dit gaan my nie keer om hierdie nuwe cd van hom te koop en saam met al die ander wat ek reeds het, te luister nie.

Louis ·

Coenie se musiek het n baie spesiale plek in ons huis. Ek ken vir Coenie van laerskooldae af en ons het gereeld saam gekuier. Hy het op my troue as n onbekende kunstenaar in die kerk gesing en vandag nog kry ek hoendervleis wanneer ek daaraan dink. Oor die jare heen het ons na baie van sy opvoerings in die Kaap gaan luister en sonder uitsondering het hy ons kom groet en het ons lekker gesels. Hy het nooit ooit enige tekens van meerderwaardigheid getoon nie en het net as n doodgewone normale mens met ons gesels. Ek het geweldig baie respek vir hom, sy musiek en alles wat hy in sy lewe bereik het. Ongelukkig het ek met hom kontak verloor. My wense vir hom en sy gesin is vrede, geluk en gesondheid. Ek bid dat sy hande en vingers sal gesond word. Sterkte ou maat. Ek gaan vandag nog sy nuwe cd koop en dit luister saam met al die ander wat ek reeds het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.