Redakteursbrief: Só nebuliseer jy ʼn budgie

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media Foto: Noeleen Foster

Wanneer ek ʼn CV in my e-posbus ontvang, krul my tone om van lekkerkry.

Hoe hard mense ook al probeer om ʼn CV professioneel en saaklik te hou, daar is altyd iets wat meer verklap van ʼn persoon as wat hy of sy noodwendig wou verklap. Soms is dit die keuse van ʼn foto (ek het al ʼn CV ontvang met die foto van die aansoeker in swart en wit, met ʼn smeulende sigaar in die mond en ʼn rokie wat boontoe krul; en nog een van ʼn jong dame wat gereken het haar bikini-lyfie gaan my beïndruk). Soms is dit ʼn vreemde poging tot pittigheid wat nie heeltemal werk op ʼn CV nie (soms werk dit wél, maar dis ʼn fyn kuns). Soms is dit interessante detail oor skoolprestasies soos ʼn noodhulpkursus in gr 3 of ʼn trompoppie-leierskapsposisie in gr 6.

Een van die vaardighede wat ek deesdae op my CV sou kon byvoeg, is dat ek weet hoe om ʼn budgie te nebuliseer.

Sien, so twee weke gelede word ons 11-jarige meisiekind se een budgie, Samuel, siek. Te midde van groot reën en vloede in Gauteng sit Samuel opgepof en knieserig op sy stokkie, nou en dan met sy kop onder sy vlerk. Sy mater, Willemien, sit styf teen hom en lyk baie bekommerd vir ʼn voëltjie. Ons vra raad op sosiale media (want dis ʼn vakansiedag toe ons besef Samuel is regtig siek, en alle veeartse is toe – en om eerlik te wees, snak ek innerlik ʼn bietjie na asem as ek dink ek moet R500 bestee aan ʼn veeartsbesoek vir ʼn voëltjie wat R60 gekos het). Ons pas al die raad toe: Gee spesifieke druppeltjies, hou hom warm met warmsakke en ʼn kombers om die hok en pas sy dieet aan.

Maar helaas … Toe ons die Vrydagoggend opstaan, lê Samuel met beentjies stokstyf in die lug onder in die hokkie. Willemien sit verwilderd eenkant op haar stokkie. Ons meisiekind huil ontroosbaar. Buite sous dit. Die wêreld is onderstebo.

Met die voëltjie-lykie uit die hok verwyder en in ʼn boksie in die yskas gebêre (want die begrafnis sal eers kan gebeur as dit ophou reën het), merk ons op Willemien lyk glad nie goed nie … Dalk het sy aangesteek? Bella skrik groot. Maak weer warmsakke warm terwyl ek klaarmaak vir werk.

Die volgende oomblik klink daar ʼn geweeklaag uit haar kamer op. Ons almal storm nader. Bella staan langs die hokkie en huil só dat ek amper nie kan hoor wat sy sê nie: “Ek het die warmsak op Willemien laat va-a-a-a-a-l!” huil sy. Dit blyk toe dat sy die hok se bokant oopgemaak het om die warmsak onder in te sit, en toe val die sak bo-op die arme voëltjie, wat nou werklik sterwend lyk. “Asseblief mamma …” huil sy. “Willemien kan nie ook doodgaan nie … Doen asseblief iets!”

Watter mamma kan haar hart verhard teen so ʼn pleidooi? Só kom dit dat ek my afsprake vir die dag uitstel, die juffrou laat weet Bella kom nie vandag skool toe nie, en op die internet ʼn voëltjie-veearts in Centurion gaan soek. Ek kry een en bel gou – hulle is oop, en die voëltjie-veearts is aan diens. Die vangplek is, hoewel hulle net 10 km van ons af in Pierre van Ryneveldpark geleë is, is hulle ánderkant die Hennopsrivier. Dit reën al vir drie dae en dié kalm riviertjie het ʼn dag gelede al sy walle oorstroom en elke laagwaterbrug en -pad onder water gelaat.

Ons durf die pad aan. Bella sit met die voëltjie in ʼn skoenboks op haar skoot, ʼn warmwatersak bo-op. Elke nou en dan loer sy om te sien of Willemien nog lewe. Ons beweeg skaars – die verkeer is na alle kante toe opgedam en verstop. Elke nou en dan ry ek my in nog ʼn oorstroomde pad of laagwaterbrug vas, en dan moet ons ʼn ander roete soek. Ons ry, en ry, en ry. Langs my lyk Willemien sieker en sieker, en Bella sug elke nou en dan diep. Ek stop ʼn paar keer om foto’s te neem van strome water en ʼn gebou wat gedeeltelik in ʼn sinkgat ingeval het. Dan sug Bella nog ʼn bietjie harder.

Drie ure later stop ons voor die voëltjie-veearts se deur, nat en beteuterd. Willemien haal nog asem. Ons draf in die reën na binne. Sit gerus, sê die ontvangsdame – die veearts is net gou besig om ʼn hadida se vlerk te amputeer.

Toe ons uiteindelik in sy ondersoekkamer staan, neem die gryskopman die klein, siek voëltjie in sy groot hande. My keel maak ʼn knop. Hy luister na haar hartjie, meet haar koors en loer in haar mond. Met versigtige vingers deurvoel hy haar lyfie. Dan leun hy met sy arms op die toonbank en kyk met sagte oë oor sy brilraam na my meisiekind. “Jou voëltjie gaan dit maak,” sê hy vir haar. “Ons gaan mooi na haar kyk. Sy is ʼn bietjie siek, maar sy treur ook oor haar maatjie.”

Haar stokstywe lyfie ontspan teen myne.

Hy verduidelik alles mooi, ook hoe ons Willemien tuis met die antibiotika en ander medikasie moet nebuliseer.

“Dankie, oom, baie baie dankie,” sê Bella.

Op pad huis toe sit ek die ding en bedink. Die veearts se rekening was baie minder as wat ek verwag het. Vir hom het my kind se voëltjie saak gemaak, en my kind se hart. Dis nie net sy werk nie. Hy doen dit oor die verskil wat hy maak.

Later toe almal rustig is en Willemien beter lyk ná haar eerste dosis medikasie in ons tuisgemaakte voëltjie-hospitaal, gesels ons oor wat gebeur het. Ons gesels oor hoe belangrik dit is dat ons weet dít wat ons doen, maak ʼn verskil in ander mense se lewe. As ons groot is en dis ons werk, is dit prakties en sinvol om betaal te word vir dit waaraan ons elke dag ure bestee. Maar, gesels ek en die kinders, ons mag nooit vergeet dat ons in die eerste plek daar is om ʼn verskil in iemand anders se lewe te maak nie. Vir elkeen van ons is daar iemand vir wie ons ʼn oomblik moet neem, oor die tafel moet nader leun, in hulle oë moet kyk en moet sê: “Jy sal oukei wees. Ek sal jou help, dis my werk. Moenie verder bekommerd wees nie.”

Groetnis
Susan Lombaard
Uitvoerende Hoof: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Landi ·

Dis nou regtig “awesome”, baie dankie vir die les hieruit maar baie meer dankie dat jy moeite gedoen het om n voëtltjie se lewe te red. Baie baie dankie, ek is self betrokke by n plek wat verwaarloosde , vernielde, gemartelde pappegaaie inneem en rehabiliteer en jy kan nie glo wat hierdie ongelooflike voëls my elke dag leer nie. Ek hoop jou dogterjie sal hierdie episode vir altyd onthou en ook n liefde kweek vir diere. Die wêreld sal n baie beter plek wees met meer mense wat n liefde vir diere het. Diere maak tog die lewe die moeite werd

Wens Coetzer ·

Baie dankie Susan. Ek was elke oomblik teenwoordig in julle “nagmerrie” rit na die veearts toe!!
Maar ek het ook lank nagedink oor die les wat jou slot paragraaf ons leer.
Groete, Wens.

Juffrou ·

As onnie wat nie die luukse van n eie klaskamer het nie, het ek die “voorreg” om van periode na periode na klas tot klas te swerf. Dis n fyn kuns om alle boeke, hulpmiddels ens. vir verskillende grade byderhand te hê en volgens my rooster rond te swerf. Na vele jare het ek die uitdagings van n swerwer-onderwyser met grasie bemeester, vandaar my nuutste inskrywing op mý CV: “Professionele swerwer”. Hoop dit sal eendag iewers vir my n deur kan oopmaak …

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.