Redakteursbrief: Só sorg ons dat ons gratis “jou” nuuswebwerf kan bly

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media Foto: Noeleen Foster

Elke jaar, hier in November, gooi die Suid-Afrikaanse nuustoneel vir media-instansies ʼn goëlbal. Dis asof politici, misdadigers, die howe, bekendes en gewone mense almal saamspan om te kyk of vuisvoos joernaliste kapasiteit het om ʼn laaste vlaag plaasaanvalle, moorde, misdaad, opspraakwekkende uitsprake, vreemde standpunte en impulsiewe menings op sosiale media kan hanteer en met verantwoordbaarheid daaroor kan berig. En dan gooi onse president nog ʼn skeut parlementêre rieldansery ook tussenin waarvan geen gesoute joernalis kop of stert kan uitmaak nie.

Die afgelope week was só ʼn week. Teen Dinsdag het dit al gevoel soos Vrydag. Brekende nuus oor nóg ʼn plaasaanval of nóg ʼn omstrede video het dikwels laataand die nuusspan se fone laat piep, en dan moes iemand inspring om die regte mense wakker te bel en feite van fopnuus te skei. Woensdag het ek vir die Maroela-span koek én pizza laat koop, soos ʼn besorgde ma wat haar kind midde-in die eindeksamen met ʼn eetdingetjie probeer moed inpraat.

In mediageledere was dinge ook onstuimig. Media24 se aankondiging dat ʼn aantal van die Afrikaanse tydskrifte in dié stal se inhoud voortaan agter die Netwerk24-betaalmuur inskuif, het lesers van dié publikasies se webblaaie goed warm onder die kraag. In Media24 se guns moet ʼn mens noem dat die inhoud wat nou agter die betaalmuur is, inhoud is wat voorheen slegs in die gedrukte formate van die tydskrifte beskikbaar was en nie op die tydskrifte se webwerwe gelees kon word nie. Dis dus ekstra digitale inhoud wat jy voorheen slegs sou kon lees as jy die tydskrif se gedrukte weergawe gekoop het, het Henriëtte Loubser, redakteur van Netwerk24, tydens ʼn gesprek oor dié onderwerp op die program Prontuit op kykNET Maandagaand verduidelik.

Dié verduideliking, wat ook op Netwerk24 se webblad en die tydskrifte se sosiale media herhaal is, het egter min gedoen om die gemoedere te kalmeer. Ek het gister ʼn groot sug van verligting geslaak dat dit nie ek is wat die vlaag kritiek, verwyte en negatiewe terugvoer oor dié besluit hoef te hanteer en te antwoord nie.

Ons is dankbaar vir Maroela-lesers wat in die kommentaar op sosiale media noem dat hulle Maroela Media lees, want dis gratis. Terselfdertyd is daar vrae – soos die een wat ek Maandagaand in die gesprek met Kabous Meiring op Prontuit moes beantwoord – oor hoe Maroela Media ʼn inkomste genereer, as ons dan nie, soos Netwerk24, ʼn betaalmuur het nie.

Dié vraag het ek wel voorheen in ʼn vorige redakteursbrief beantwoord, en daarom wil ek vandag eerder ʼn ander logiese vraag wat die een oor finansieringsmodelle voorafgaan, vra en self beantwoord: Wat is in wese die verskil tussen Netwerk24 en Maroela Media? En staan dié twee media-instansies teenoor mekaar?

Kom ek ploeg ʼn bietjie met die kalwers van dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, wanneer hy die drie tipes media netjies uiteensit:

  • Daar is die openbare uitsaaier, wat gefinansier word met belastinggeld. Hoewel die openbare uitsaaier die belange van die gemeenskap behoort te dien, het die openbare uitsaaier in SA – die SABC – as ‘t ware ʼn staatsinstelling geword wat met sy gesig na die staat in plaas van die belastingbetaler gedraai staan.
  • Tweedens is daar privaat media-instansies, wat deur aandeelhouers gefinansier word, en wat winsbejag ten doel het. ʼn Voorbeeld is Netwerk24, wat deel is van Media24. Hulle mandaat is om finansieel suksesvol te wees.
  • Derdens is daar gemeenskapsmedia. Dié media vervul die rol wat die openbare uitsaaier na regte behoort te vervul, naamlik om die belange van die gemeenskap te dien. Omdat die openbare uitsaaier in SA nie dié rol vervul nie, het talle gemeenskapsmediainstansies in verskeie gemeenskappe, ook in die Afrikaanse gemeenskap, ontstaan. Maroela Media is so ʼn gemeenskapsmediainstansie, wat met sy gesig na die gemeenskap staan, en ten doel het om die gemeenskap te dien.

Die besigheidsmodel van ʼn gemeenskapsinstansie lyk drasties anders as dié van ʼn privaat instansie, maar die feit bly staan dat daar by albei instansies rekeninge is wat betaal moet word. Omdat die besigheidsmodelle so totaal verskil, is die manier waarop ʼn inkomste gegenereer word, ook heeltemal verskillend (meer hieroor later).

ʼn Mite wat sommer vinnig die nek ingeslaan moet word, is die vreemde veronderstelling dat “gratis nuus” impliseer dat joernaliste “gratis” werk, of dat slegs vryskutjoernaliste en vrywilligers gebruik word om inhoud te genereer. Dis allermins die waarheid. “Gratis nuus” impliseer bloot dat die instansie wat hierdie nuus as ʼn diens aan sy gemeenskap lewer, daarin glo dat alle lede van dié gemeenskap toegang tot nuus behoort te hê, en dat finansies nie enige lid van ʼn gemeenskap behoort te verhinder om toegang tot ʼn gemeenskapsnuusinstansie se inhoud te kry nie. Maar terselfdertyd het so ʼn gemeenskapsnuusinstansie ʼn groot verantwoordelikheid om seker te maak dat dit wat hy aan sy gemeenskap bied as nuus, geloofwaardig, gebalanseerd, betroubaar en akkuraat is – anders faal hy in sy verantwoordelikheid teenoor dié gemeenskap. Om hierdie rede is dit van uiterse belang dat die joernaliste en ander personeel by ʼn gemeenskapsnuusinstansie soos Maroela Media goed opgelei en professioneel moet wees, markverwant vir hul dienste vergoed moet word, en aan hoë etiese standaarde moet voldoen in hul werkverrigting.

Maar hoe kry Maroela Media dit dan reg om ʼn gratis diens aan ʼn gemeenskap te lewer, terwyl die infrastruktuur wat nodig is om nuus aan lesers te bied, nie verskil van dié van ʼn private nuusinstansie nie?

Eerstens is Maroela Media in ʼn gunstige posisie deurdat dit gestig is as ʼn digitale mediahuis, en dus nooit ʼn gedrukte komponent gehad het wat bepaalde kostes meebring nie. ʼn Klomp kostes word bespaar deurdat daar nie twee platforms – gedruk en digitaal – is wat in stand gehou hoef te word nie. Die Maroela-span en –struktuur is ook van die begin af beplan en ontwikkel om vaartbelyn te wees: Jong joernaliste vir wie die digitale wêreld tweede natuur is, en wat maklik aanpas by verandering, is aangestel saam met meer ervare, senior joernaliste wat die nodige leiding neem en sorg vir ʼn professionele produk. Maar ekstra vet is daar nie in dié span ingebou nie. Die joernaliste werk dubbeld so hard soos sommige van hul eweknieë by sommige ander mediahuise, en hulle doen dit met entoesiasme en passie, omdat hulle deel in die droom om die Afrikaanse gemeenskap gratis van gehalte inhoud te voorsien.

Tweedens is Maroela as ʼn advertensieplatform, ten spyte van ʼn digitale advertensiemark wat internasionaal redelik sleg doen, taamlik suksesvol. Maroela het in die afgelope 12 maande 61 verskillende adverteerders gehad, en 31 miljoen advertensies is reg oor die webwerf bedien. Die meeste van dié adverteerders is nie groot nasionale maatskappye nie, maar kleiner, meer gelokaliseerde maatskappye wat ʼn Afrikaanse teikenmark het, en wat aan hul teikenmark in ʼn bepaalde geografiese area wil adverteer. Maroela Media se advertensiestelsel laat ons toe om dan byvoorbeeld ʼn advertensie van ʼn slaghuis in Bloemfontein slegs in Bloemfontein en omgewing te vertoon. Dit maak enersyds die advertensie vir die adverteerder meer bekostigbaar, en andersyds meer effektief, omdat dit die regte teikenmark tref. Advertensies is dus steeds vir Maroela Media ʼn goeie bron van inkomste.

Derdens het ons, as gemeenskapsinstansie, vroeg-vroeg geleer om buite die normale grense te dink. Maroela Media het ʼn hele paar besigheidsinisiatiewe wat ʼn inkomste genereer wat geen of min verbintenis met ons inhoud het. Een hiervan is Die Koöperasie, Maroela Media se e-winkel, waar eg Afrikaanse produkte met die gewilde Maroela-handelsmerk te koop is.

Vierdens het Maroela Media aandeelhouers, ook gemeenskapsinstansies, wat met hul aandeelhouerskapitaal Maroela Media ondersteun. Vir dié aandeelhouers is dit egter net so belangrik soos vir Maroela dat dié mediahuis as onafhanklik en betroubaar gesien moet word, aangesien hulle dieselfde gemeenskap dien. Buiten die bydraes en toesighouding oor goeie korporatiewe bestuur is daar dus geen operasionele inmenging in Maroela Media se dag-tot-dag-bestuur of besluitneming ten opsigte van inhoud nie.

Om terug te kom na die vraag oor Maroela Media en Netwerk24 se posisionering teenoor mekaar: Natuurlik is dié twee instansies in kompetisie met mekaar. Maroela Media is onlangs deur Effective Measure, ʼn onafhanklike maatskappy wat geregistreerde webwerwe reg oor Afrika se statistiek meet en ouditeer, geïdentifiseer as een van die tien grootste Suid-Afrikaanse nuuswebwerwe – die enigste Afrikaanse webwerf wat op dié lys ʼn ereplek gekry het. Volgens Effective Measure het Maroela in Oktober 1 438 047 unieke lesers gehad. In dié maand was Netwerk24 ʼn kortkop voor Maroela, met 1 953 538 unieke besoekers – die gevolg daarvan dat die tydskrifte wat van 1 November af agter die Netwerk24-betaalmuur gevind kan word, se artikelskakels in Oktober reeds deurgeklik het na die inhoud wat agter die Netwerk24-webskakel lê en wat dus as deel van Netwerk24 se lesers getel is. Met die aktivering van die 30 dae gratis-leesperiode in November en die betaalmuur vir alle tydskrifte wat vanaf 1 Desember geld, behoort dié syfer egter teen einde November weer anders te lyk. In September was Maroela Media loshande in die eerste posisie met 1 278 145 unieke lesers. Daar is dus stywe kompetisie tussen dié twee media-instansies, maar ons én Netwerk24 sien dit as gesonde kompetisie waardeur ons albei gedryf word om inhoud van hoë gehalte te lewer. Dis ook goed vir Afrikaans in die breë as daar eerder meer Afrikaanse mediainstansies is. En al verskil ons besigheidsmodelle dramaties, het ons albei uiteindelik eenvoudig ten doel om ons lesers ingelig te hou.

ʼn Komponent van Maroela Media wat ons selde in die kollig plaas, is ons projekte – iets wat ons wel onderskei van privaat media-instansies. Deel van Maroela Media se visie is om Afrikaans se hoë funksie as mediataal te verseker. Daarom is Afrikaans vir Maroela Media nie bloot ons medium van kommunikasie met ons gemeenskap nie; dis ook ʼn hartsaak. Buiten die inhoud wat ons aan lesers verskaf, pak ons deur die loop van elke jaar verskeie projekte aan wat nie vir Maroela as platform primêr voordeel inhou nie, maar wat suiwer ten doel het om Afrikaans op die een of ander wyse te bevorder.

Só het ons vanjaar ʼn projek aangepak waarmee duisende nuwe Afrikaanse artikels op Wikipedia gelaai is om Afrikaanse inhoud op Wikipedia vir skoliere en studente beskikbaar te maak; ons het gratis opleiding verskaf aan sowat 40 Afrikaanse gemeenskapsradiostasies met ʼn totale luisteraarstal van sowat 1 miljoen; ons het ʼn Afrikaanse radiovervolgverhaal vervaardig wat gratis aan gemeenskapsradiostasies landswyd verskaf is; ons het ʼn Buitebioskoop aangebied waartydens meer as 1 000 mense na goeie gehalte Afrikaanse flieks in die buitelug kon kyk, en waar uitblinkers in die Afrikaanse filmbedryf met ʼn Maroela-toekenning vir hul bydrae tot die bedryf bekroon is.

Daar is nog heelwat ander projekte en inisiatiewe soos dié waarmee ons ons deel doen vir Afrikaans. Dié projekte se finansiering bied groter uitdagings, aangesien dit buite ons dag-tot-dag-besigheid val en dus op ander maniere befonds moet word. Gelukkig het ons talle lesers wat reeds in die verlede aangedui het dat hulle Maroela finansieel wil ondersteun om projekte soos hierdie aan te bied, en is daar instansies wat sulke projekte borg. Ons gaan in die jaar wat kom, met selfvertroue begin druk op die knoppie van lesers wat per e-pos of op die webwerf in die afgelope jaar vir ons laat weet het dat hulle graag wil bydra om die Maroela-droom – nie net goeie inhoud nie, maar ook Afrikaanse projekte ter wille van Afrikaans – te laat realiseer.

Ons gesels graag met ons gemeenskap – dis nou jy – oor hoe jy Maroela ervaar; wat jy geniet en nie geniet nie; wat jy van ons projekte dink en hoe jy ons wil ondersteun. Laat hoor gerus van jou by ma[email protected] – ek belowe dat elke (sinvolle) e-pos en navraag beantwoord sal word.

Groetnis
Susan Lombaard
Uitvoerende hoof: Maroela Media

  • Kyk gerus hier na die gesprek Wat Kabous Meiring op Maandagaand, 30 Oktober op Prontuit (kykNET) gevoer het met Henriëtte Loubser, redakteur van Netwerk24, en Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, oor betaalde teenoor gratis digitale mediahuise.
    Prontuit segment 1
    Prontuit segment 2
    Prontuit segment 3

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

15 Kommentare

Niel ·

Dankie vir die mooi uiteensetting en dat julle soveel moeite doen om vars nuus gereeld te laai hier op die webwerf.

Sarie ·

Baie dankie Maroela Media vir julle koerant. Dis werklik ‘n plesier om te lees. So professioneel aangebied. Geen sensasie nie.

Eish ·

Ek het groot waardering vir wat jul span doen. Dit verg bykans bomenslike inspanning om jou marksegment in die bedryf so te definieër en suksesvol te bestuur. Dit is n daaglikse bouproses wat besonderse talent en versiendheid verg. Duidelik het jul dit.

Frikkie Geld en huis ·

Moet sê, die inhoud van jul berigte is, volgens my mening, goed uiteengesit met korrekte feite. Jul publiseer ook nie ‘n persoon se naam, indien jul nie seker is, dat dit wel die persoon se regte naam is nie. Ander publikasies raai dikwels en teken dan agterna verskoning aan.
Natuurlik net jammer dat jul feitlik geen van my kommentare publiseer nie, terwyl Netwerk geen probleem daarmee het nie.

Ruby ·

Baie dankie vir al julle harde werk, groot respek vir julle.

Willie ·

Julle doen uitstekend. Hou so aan. Ek ook weg by Netwerk 24 toe ek in daai betaal muur vashardloop…

Riette ·

Maroela media julle is die beste.
Ek glo geen storie voordat ek nie eers gekyk het op Maroela of daaroor berig is nie.
Die whatsapp groep is my belangrikste leesstof elke dag.
Dankie vir wat julle vir elke afrikaans sprekende beteken.
Mag julle net van krag tot krag seëvier

Johan Reiners ·

Baie dankie vir julle uitstekende werk! Hoogs waardeer hier vanuit die buiteland.

De Villiers Hauptfleisch ·

Dankie vir wat julle vir Afrikaans doen……..ek voel tuis by Maroela Media…….`n plek soos Universiteit Stellenbosch maak my moeg want daar is nie meer plek vir Afrikaans nie.

Kornel ·

Ek dink nie DANKIE is hier genoeg nie. Ons is trots om deel te wees van nuus wat waar en eerlik is. Dankie

Koerant Aanlyn Leser Ben Bosvark ·

Daar is plek vir beide Maroela Media en NETWERK24 onder die Afrikaanse son. Sterkte aan albei. Ons Afrikaanssprekendes moet nie hierdie twee media huise teen mekaar afspeel nie. Ondersteun hul joernaliste. Wees ook vir hulle ore en oë in hierdie korrupte samelewing.

Pieter Labuschagne ·

As oud-Suid Afrikaner in NZ is Maroela Media sê webtuiste iets waaroor ek baie heilig is en met trots in my gatsak mee rondloop ! Baie dankie, Susan, vir hierdie brief wat ek met ‘n lekker warm gevoel in my hart geniet het ! Doet so voort, asseblief.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.