Redakteursbrief: Sonde met die (Spur-)bure

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media Foto: Noeleen Foster

Daar is ʼn paar dinge waaroor ek bly is. Een daarvan is dat ek nie deel is van die Spur-bestuurspan wat hierdie week se Spur-fiasko hoef te bestuur nie. Dis lank laas dat ʼn restaurantgroep só op almal se lippe was in die figuurlike sin van die woord.

Ons almal bespiegel oor wat skeefgeloop het, wat vooraf gebeur het, wat op kamera vasgevang is, wat nié afgeneem is nie, wie eerste kwaad geword het, watter kind die eerste vir wie geklap het, watter ouer eerste sy of haar stem verhef het en wie eerste ras en geslag in die ding ingesleep het. En soos ons Afrikaanssprekendes maar is, het ons almal ʼn eier te lê oor hoe die ouers eintlik moes opgetree het en wat ons anders sou gedoen het in dieselfde situasie.

Dit laat my dink aan sonde met die bure, want sonde met die bure anderkant die geëlektrifiseerde sekuriteitsheining verskil nie veel van sonde met die bure by die tafel oorkant die paadjie in die Spur nie.

Ek en my man is entoesiastiese kampeerders, en hoe meer ongerep, hoe beter. Ons stadsjapie-kinders verloor al hulle stadsmaniertjies en fiemies die oomblik as die tent opgeslaan is en die blikketel op die gasstofie begin rondwip. Die afgelope naweek maak ons toe juis weer só, saam met ʼn klompie vriende – almal met stadsjapie-kinders wat uit hul velle is oor die vryheid van ʼn kampterrein. Kort voor lank hol die klomp kinders in ʼn bondel die hele kampterrein vol, speel wegkruipertjie en jagertjie en jil en baljaar dat die stof dwarrel.

Tot die uiterste irritasie van Tannie Nommer 26 (soos die kinders haar gedoop het). Want ongelukkig vir Tannie Nommer 26 is hulle staanplek mooi netjies op die draai waar mens links hou swembad toe en regs hou na die ablusieblok toe. Elke fiets wat verbywoer en elke groepie kinders wat raserig verbyhol om in die swembad te gaan spring, moet verby haar tent – daar is nie ʼn ander pad nie. En Tannie Nommer 26 hou van stilte, en haar kinders gaan slaap stiptelik om 20:00 saans nadat die gesin ʼn intieme kersligete by hul kamptafel geniet het.

Toe my oudste my so by Saterdag-laatmiddag kom vra om saam met haar badkamer toe te stap, want sy is bang Tannie Nommer 26 raas weer met haar, verloor ek my kamp-kalmte heeltemal. Want toe is ons ons meisiekinders al “poppies” genoem, en die seuns is glo ʼn “bende”, en hulle is gedreig met allerlei dissiplinêre stappe wat ek liewer nie hier sal noem nie. Ek stap oor na Tannie Nommer 26 toe vir ʼn geselsie. Wat toe warm raak. Want soveel mense, soveel menings, en elkeen glo mos sy kraai is ʼn kanarie. Ek en Tannie Nommer 26 is darem uit mekaar met ʼn belofte van haar kant dat sy met my sal kom gesels voor sy weer met ons kinders raas, en ʼn onderneming van my kant om die kinders te vra om suutjies te wees as hulle daar om die hoek snol. (As Tannie Nommer 26 dalk ʼn Maroela-leser is, en hierdie lees, vra ek sommer: Kom ons laat nou maar die sakie staan en begrawe die strydbyl, asseblief? Ingeval ons mekaar weer op ʼn kampterrein raak-kamp. En as enigiemand op sy selfoon ʼn opname van die onderonsie gemaak het, moet dit asseblief nie op sosiale media versprei nie. Ek het immers my Maroela-hempie aangehad en alles. Gelukkig het ek mooi suiwer Afrikaans gepraat.)

Ek vra vanoggend my vriende op Facebook om my hulle sonde met die bure-stories te vertel. Party laat jou hare rys; ander het my kliphard laat lag. Riaan vertel van sy kindertyd-bure met ʼn erf vol hoenders wat drie-uur soggens begin kraai het. Tot sy sussie, midde-in haar matriek-eindeksamen, een oggend met ʼn byl by die huis uitstorm na die bure toe. Geen hoenders is in die voorval beseer nie, maar die bure het die boodskap gekry en die gekraai het gestop.

Lilanie vertel van die dag toe hulle buurkinders hul splinternuwe miniatuur maltese poedel vir hulle kom wys het. Ongelukkig het Lilanie-hulle ʼn bulterriër gehad wat nie so ingenome was met die nuwe buurhondjie nie en korte mette van die arme ding gemaak het.

Elizabeth, ʼn vriendin wat in Australië woon, vertel dat hulle Ierse bure op St Patrick’s Day tot vieruur die oggend voor haar kamervenster rondgedans het. Hul Keltiese gesange het tot ʼn abrupte einde gekom toe die Suid-Afrikaners uit pure desperaatheid ʼn klapper tussen hulle ingooi.

Marna vertel ʼn mooi storie van haar sus wat in haar finale jaar van studies die afgetrede paartjie in die Sunnyside-woonstel onder hulle se wollerige maltesie geleen het wanneer sy moes leer, om die eensaamheid te help afweer.

My gunstelingstorie is Christoff sʼn. Hy vertel dat hulle in Londen langs ʼn bejaarde dame gewoon het wie se man oorlede is kort voor hulle langs haar ingetrek het. Sommer vinnig lig sy hulle in dat sy ʼn medium is, en dat sy mense help om te kommunikeer met hul geliefdes wat “aanbeweeg” het. Hulle aanvaar die tante vir wie sy is, en mettertyd raak hulle goeie vriende. Een koelerige lenteoggend, terwyl die buurtante saam met hulle in die sonnetjie sit en tee drink, vertel sy hulle dat sy en haar oorlede man, Arthur, voor sy dood ʼn ooreenkoms aangegaan het: Hy sou terugkom as ʼn skoenlapper om vir haar te wys dat dit goed gaan met hom. Haar woorde was skaars koud, toe fladder daar ʼn pragtige skoenlapper uit die tuin uit tussen hulle deur. Vir ʼn paar sekondes is almal doodstil, verstom oor wat besig is om te gebeur. Die volgende oomblik spring hulle kat in die lug op, vang vir “Arthur” en vreet hom pens en pootjies op.

Die kort en die lank van die saak is: ons het almal bure, of dit nou in die Spur, op die pad of in ons woonbuurt is. En ons almal verloor so nou en dan ons kalmte. Maar die ding van die lewe is dat ons hier saamgegooi is, en dat ons moet leer om met mekaar saam te leef, ongeag ras, geslag of taal. Ter wille van ons selwers en onse kinders.

Ons is uiteindelik maar almal Spur-mense wat die lewe smaak.

Groetnis
Susan Lombaard
Uitvoerende hoof: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Genieve ·

Alle bure is soms nie dieselfde nie.Ek bly 11jaar langs my bure en waag dit jou om my met bure se kinders te praat oor maniere,dan is die hel los,dai vrou staan op vir haar kinders en kla,of hule hulle nou reg of verkeerd is.Ek het net besluit om my heeltemal te vemy van hulle.My kind speel samet haar kinders,ma nee jy kom nie veby nie en klaar.

Elize C ·

Dankie vir die lekker-lag staaltjies, en die ware woorde!

Tant26 ·

Ek het simpatie met tannie 26 maar dan moet sy nie op die hoofpad swembad en ablusie staan nie, eerder in die ver uithoek.

Spurmens de niet ·

Ek is nie n spur mens nie want ek sien nie net die politiek korrekte kant van die saak nie maar kyk ook na die ander se saak.

Karen ·

awww dit was nou oulik en lekker om te lees – sommer net n snaakse Buurverhael van my kinderdae – ons het net in getrek (waar my ouers nou nog bly al die afgelope 23 jaar) in die nuwe huis. Die bure lanksaan het op daardie stadium n tiener seun gehad wat natuurlik harde musiek uit sy nuwe motor speel:) so het myse moeder ook glad nou nie n lang geduld of humeur draaitjie nie. Na vele oor die muur vra sit sagter want my klein boetie moet mos die rus inkry wat hy nodig het… pluk daardie mamma mens van my haar skoen uit en gooi dit oor die muur teen die arme tante wat daar staan en die tiener vra om maar sy musiek sagter te sit….en daar is n oor en weer skoen goeiery… ons lag nou daaroor as ons almal saam braai want moeder en die tante en natuurlik nou boesem besties…. maar daai dag was niks snaaks nie….

Terug aarde toe ·

Kyk kinders bring jou terug aarde toe! Almal dink hul kind is ‘n engeltjie, tot jy nou maar die waarheid in die oë moet kyk. My rabadoe van ‘n dogter het mos ons bure, wat die Pastoor is, se lapa vol nartjies en suurlemoene gegooi. Ek het ‘n oproep ontvang en was bedank vir die lekker nartjies en suurlemoene! Ek wou dood… nie die einde nie. Vergeet eendag om die 30 eiers te bêre in die yskas, sy en maaitjie gooi toe Pastoor se deur vrot van die eiers! Ek was bedank vir die honde se “treat” vir die dag! Ek wou weereens dood, maar mens dood nie so maklik nie. Pastoor en ons het haar groot gebid, sy is vandag pragtig en 19! Mens moet maar aanvaar kinders is kinders, en hulle bring jou graag terug aarde toe, en hou jou op jou knië! Moet nooit ooit inmeng in kinder moeilikheid nie, hulle speel nou nou weer lekker saam en dan is jy nog baie kwaad.

Elize C ·

Dit is baie waar woorde: die ouers is vir weke/maande nog vies vir mekaar, of dit veroorsaak tot lewenslange onmin, dan speel die kinders lankal weer lekker saam, die oorsaak van die “bakleiery” lankal vergete. Kinders “sort” mekaar self uit: seuntjies foeter mekaar dik, dogtertjies deel klappe uit en trek mekaar se hare, almal tjank lekker saam, 2 minute later lag hulle vir mekaar en speel weer ‘n hond uit ‘n bos uit saam, alles vergete, blou oë, bloedneuse en krapmerke en al! :-) Leer hulle maar net respek vir mekaar se verskillende sienswyses.

Johan ·

Hoe is ‘Afrikaanssprekendes’?

Ek moet sê tussen kleurlinge en afrikaners verskil die kultuur en manier van dinge doen en sê hemels breed!

Kan die redakteur asb die verduidelik.

Louis Marais ·

Baie waar, die kultuur verslik tussen kleurlinge en afrikaners is hemelsbreed. Ek dink die redakteur van Maroelamedia moet so paar jaar in die Kaap kom woon om te verstaan. lol.

Piet Snot ·

Waarom tog nou weer verskille ophaal?
Kan ons nie maar saamstaan nie?

Piet ·

Dit gaan alles oor selfsugtigheid. Die mees selfsugtige mense is rokers, honde eienaars, partymal mense en ouers wat nie weet hoe hulle kinders reg groot te maak nie en niks weet van boude disiplines nie. Daarom kamp ek nie saam met ander nie maar alleen iewers waar nie een van bg my kan irreteer nie.

Ou Omgee Erdvark ·

Die Australiërs het ‘n treffende vrading: “Don’t you want to be a member of a caring society?”
Ek verpes daardie selfgesentreerde mense wat snags met hul brullende motorfietse of brullende knortjorre rondjaag tot ander se ergenis. Netso daardie bure wat groot bome met oorhangende takke aanhou en nie ‘n flenter omgee hoe daardie takke se blare die bure se swembad bemors nie. Netso daardie mense wat alarmstelsels aanhou tot frustrasie van andere. En daardie eienaars van groot aanhoudend bulderende blaffende honde. En dan skryf ek nie eens oor al die padvarke wat my en my gesin se lewe in gevaar stel nie. “These people do not care to be members of a caring society.” Selfgesentreerdheid is ‘n siekte van onopgevoedheid.

edddie norval ·

AL twee was vekeerd. Die video wys nie van begin af. Getuies wat daar was (swart) se die man he beskaafd kom kla oor haar kind se gedrag. Dit het oorgelloop na wat gesien is. As altwee swart of blank was sou dit dieselfde reaksie ontlont het. Ek glo nie . Ek dink iemand ry die holrug geryde RAS kar en die politici buit dit uit. SPUR GAAN die meeste ly

Leendert ·

Is die skrywe nie maar om terwille te wees nie???? (With it)

Adam ·

My bure se seun 7 jaar oud is nie n kind nie maar een of ander monster. Hy is gebore met n ” haaslip” hy gil en skree soos n treinfluitjie as hulle met hom raas. Knou die hulle honde af. Hy breek alles in hulle huis. Klim op mure,heunings en hekke en beskadig dit. Hy vloek sy ouers onder die klere uit. Hy gooi klippe na karre in die straat. Elke dag voor 5 in die oggend hoor jy hom slaan hy ou bottles en goed met n ysterstaaf. Hy loop weg en maak moles by kafees en vat goed van die rakke af en hol dan weg. As sy pa gras sny ruk hy die tou uit. Ons weet nie wat rus en vrede en stilte is nie. Sy ouers skree op hom non stop van voor 5 tot 11 huur in die nag. Hy gaan ook nog nie skool nie, lyke nie of hy aanpas nie. Ons het geen maar geen kontak met hulle nie. Hy het al my ruite uit gegooi klippe na ons karre en besoekers gegooi. My wens en gebed is dat ek opgevoede bure kan kry sonder kinders.

Toekie ·

Ek hang deesdae soos ‘n vink by die venster uit om my heks van ‘n buurvrou op my selfoon se videokamera vas te vang. Die vloekende, gillende heks skreeu en rand haar eie kleinkinders aan. Vrydag en Saterdagnagte is sy weer onder die drankprop en dan gaan dit eers erg. Ek het nou klaar mooi gepraat, sy vloek my in my gesig. Binnekort deel ek haar afskuwelike gedrag met die hele wêreld.

Tannie ·

Toekie, jy moet haar asb rapporteer aan die welsyn. As jy vir hulle videos kan wys, des te beter. Voor dit te laat is – ons het mos gesien wat het met Poppie gebeur.

Johannes Meintjes ·

Sonde met die bure, … en kulture. Ek sit self noudiedag daaraan en dink dat ons mos nou almal hier op aarde saam is. Hoe gaan ons, ons tyd, energie en fokus benut, want nie een van die kultuurgroepe gaan net so “poef” verwyn nie …

Henry ·

Baie simpatie met tannie 26. Ek glo dat sy voortaan meer versigtig sal wees en die raserige gedeeltes soos die pes sal vermy. Miskien ‘n kamp soek wat vry is van sommige ‘natuur liefhebbers’ se snollery en gedruis..
Entoesiastiese kampeerders wat die “rus en vrede” van die natuur in ‘n kampterrein geniet, wil verkieslik nie aan die lawaai wat deel van meeste voorstede is, onderwerp word nie, of hoe?

Vaalseun ·

My Zulu-vriend vertel toe Koning Zwelithini onverwags vir hom, sy neef, kom kuier het in Florida, Roodepoort. Hulle kultuur vereis dat dié vreugdevolle gebeurtenis met beesslag moet gepaardgaan. Daar natuurlik op die grasperk. Die bure sukkel om hulle geskokte kinders van die heinings af weg te hou, en die buurt se honde het heelnag geblaf vir die vleis en vel reuke. My Zulu-vriend het erken, dit was ‘n situasie wat hy nie weer daar wou beleef nie.

Johann ·

Van voor die kinders “volwasse” gesprekke hê kom soms die mees “volwasse” sê goed; oppad huistoe na n straat braai merk my vrou op dat die “tannie van nmr 26″ maar n eendjie van n ander dam is. Merk my jongste van 7 jaar op: ” mamma, ons het nie eers n dam nie!” Nodeloos, het pa en ma mooi bedink voor ons weer oor eende of damme gepraat het as dit by bure kom.

Lynette Luff ·

Vir twee mense wil ek graag iets se. Watter voorbeeld was die ma en pa in die video vir HUL kinders? As hulle so afgaan met mekaar, wat het die klomp kinders in die geselskap geleer? Dit is so. Hierdie het niks met ras te doen nie. Twee mense wat van beter behoort te weet het hulle baie SWAK voor n Groot groep mense gedra. Hul kinders het geleer dat n men’s konfrontasies met n Groot lawaai moet oplos. Regtig? Het die Geskiedenis jul niks geleer nie? Ek skaam my vir ons Suid Afrikaners – mans en vrouens!

Amber ·

Dit was nou lekker om almal se kommentare te lees.
Adam, joune is die beste!!!! Daai kind gaan nog in die tronk sit voor 15. Hou ons op hoogte!!
Ek gaan nooit weer kla oor my bure nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.