Redakteursbrief: Stories wat ʼn verskil maak

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media Foto: Noeleen Foster

Jongmense wat besluit om joernalistiek te studeer, doen dit kwalik omdat hulle “ʼn verskil wil maak”. As mens dít wil doen, gaan studeer jy immers medies, of teologie, of sielkunde. Nogtans is ek telkens verras om te sien watter groot verskil ʼn joernalis kan maak wie se hart op die regte plek is.

Maroela Media is geseënd met ʼn span joernaliste wat om dié rede joernalistiek bedryf. Ja, hulle wil ook stories vertel, baklei vir mediavryheid en die publiek ingelig hou, maar altyd onderliggend is daar die wete dat die stories wat hulle skryf, ʼn verskil maak.

Só het Maroela Media in Mei vanjaar berig oor Baba Mia. Dié dogtertjie het slegs 900 g geweeg by haar geboorte in die Mangkweng-hospitaal in Polokwane. Mia moes intensiewe mediese sorg kry, waaronder ʼn operasie aan haar been as gevolg van ʼn besering wat sy tydens die baie traumatiese geboorte opgedoen het. Die hospitaal het egter kort na haar geboorte haar ma ingelig dat sy gereed is om na ʼn gewone saal oorgeplaas gaan word, en haar ma het gevrees vir Mia se lewe. ʼn Oorplasing na ʼn private hospitaal sou die gesin R100 000 uit die sak jaag. Maroela Media het dieselfde dag nog oor klein Mia berig – aanvanklik die enigste mediahuis wat bereid was om dit te doen. Ná die berig, en nadat die boodskap oor Mia op sosiale media versprei het, het weldoeners in minder as 24 uur meer as R100 000 vir Mia se oorplasing geskenk. Sy is die volgende dag oorgeplaas na ʼn private hospitaal – ʼn oorplasing wat waarskynlik haar lewe gered het.

Verlede jaar is die Maroela-span se harte geroer deur die storie van Jayvan Janse van Rensburg, ʼn seuntjie met beenmurgkanker oor wie ons gereeld berig het tydens sy siekbed. In dieselfde tyd as wat Jayvan gediagnoseer is, is sy pa tydens ʼn rooftog doodgeskiet. Jayvan moes as gevolg van die beenmurgkanker ʼn operasie ondergaan wat sou verhoed dat sy been geamputeer word, maar daar was nie fondse vir dié operasie beskikbaar nie. Maroela Media het berig oor die dringende nodigheid vir fondse, en JacarandaFM se program Good Morning Angels het ook hul luisteraars gevra om te help. Die fondse wat ingesamel is, was meer as voldoende om Jayvan se operasie en verwante uitgawes te dek.

Maar dis nie net wanneer daar mediese kostes ter sprake is dat die media – en spesifiek Maroela Media se joernaliste – ʼn verskil kan maak nie. In April vanjaar het Maroela Media berig oor boere in die Calvinia-omgewing wat steeds onder ernstige droogte gebuk gaan terwyl ander droogtegeteisterde gebiede goeie reën gekry het. Maroela is oorval met aanbiedinge van hulp deur ons lesers – van bottels water tot vragmotors om dit mee te vervoer en voer vir vee.

Oor sosiale media kla ons dikwels, maar daar is daagliks voorbeelde van situasies waar gewone mense sosiale media inspan om ʼn verskil te maak. Maroela Media het ook in April vanjaar berig oor Carina Verwey, ʼn Wes-Kaapse vrou en ma van ʼn outistiese seun, wat oorval is met hulp van die publiek nadat sy op sosiale media om hulp gevra het. Haar outistiese seun, Ethan, het die enigste paar skoene wat hy bereid was om te dra, ontgroei, en Carina kon nêrens sulke skoene in ʼn groter grootte opspoor nie. Ná haar pleidooi op sosiale media het meer as 30 mense Carina genader om aan te bied om haar te help soek na sulke skoene. Vyftien ouers het haar laat weet dat hulle wél presies sulke skoene in groter groottes het wat Ethan kan kry, en die kettingwinkelgroep Ackermans het Carina in kennis gestel dat dié skoene deur hulle verkoop is, en dat hulle vir haar ʼn paar van dié skoene in elke grootte wat beskikbaar is, sal skenk.

Sulke stories kom byna daagliks oor ons pad. Elke keer as dit gepubliseer is, en ons staan terug en kyk na die reaksie, kry ons ʼn knop in die keel. Dis ʼn gewone klomp mense – die joernaliste én die lesers – wat een-een ʼn baie groot verskil maak.

Groetnis
Susan Lombaard
Uitvoerende hoof: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Ann ·

Ons vergeet graag om die mooi in die lewe raak te sien, baie dankie vir die uitwys hiervan.

De Villiers Hauptfleisch ·

Ek dink ons joernaliste speel `n baie belangrike rol in die alledaagse lewe, veral hedendaags in hierdie onstuimige en deurmekaar land van ons. Daar gebeur tans so baie dinge, veral onder die maatemmer, waarvan ons nooit kennis sal dra as dit nie vir ons joernaliste is nie. Ek glo meeste van ons joernaliste doen hul verslaggewing op `n eerlike wyse sonder verskuilde agendas. Vir die joernalis wat egter oneerlik is in sy beriggewing het niemand voor respeknie, maar ek glo hulle is in die verre minderheid. Ek persoonlik het baie respek vir die beroep van die joernalis veral vir die dames wat soms onder gevaarlike omstandighede hul werk moet doen.

ansie Geldenhuys ·

So steier ons soms oor ‘n buurman en ken nie sy hartseer of behoefte nie. Gelukkig hou Maroela ons op hoogte …………. baie dankie.

Philip ·

Susan, met jou beskrywing hoe daar dikwels deur joernaliste ‘n verskil al gemaak het laat dit my dink aan wat Moeder Theresa gesê het. “Mense sterf van die honger nie omdat die Here nie vir hulle kos gee nie, maar dit is omdat EK en JY nie vir hulle kos gee nie.”

Ouma Johanna Jacoba Elizabeth Gertruida Mooivark ·

Waarskynlik alle mense het geredelik toegang tot selfone. Ons koerantwese behoort ‘n veldtog van stapel te stuur om by die publiek ‘n bewusmaking en kultuur te kweek dat elke burger ‘n rol te speel het as ‘n oor en oog van die koerantwese. Hulle moet die koerante inlig van gebeure sodat die koerante weer die publiek kan inlig. ‘n Inlgeligte publiek kan met die selfone maklik as deel van burgerlike strukture die lewe vir vrotsige politici, staatskapers, natuurstropers, moordenaars, tenderpreneurs en ander kriminele moeilik maak. Kriminele figureer ten beste in donkerte, geheimsinnigheid en waar die publiek oningelig is.
Viva elke getroue landsburger, viva ons joernaliste! Laat ons almal handevat vir ‘n beter Suid-Afrika! Laat ons elke aand bid vir ons onderwysers, medici, polisie EN JOERNALISTE!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.