Redakteursbrief: Tant Hendriena wéét nou, in die hemel

susan_lombaard

Susan Lombaard Foto: Burger Meyer, Maroela Media

Ons hou so twee weke gelede ons jaarlikse opleidingseminaar vir Afrikaanse gemeenskapsradiostasies.

Soos dit maar gaan by gemeenskapsradiostasies, is vrywillige betrokkenheid, ʼn hart vir radio, ʼn liefde vir Afrikaans en ʼn begrip van die plaaslike gemeenskap van die belangrikste bestanddele in die gemeenskapsradio-mengsel. Sommige van die stasies het regtig net ʼn buitekamer met eierbokse teen die mure ter wille van akoestiek van waar hulle uitsaai; omroepers is vrywilligers uit die gemeenskap wat nie betaal word nie. Ander is uiters professioneel en bedryf ʼn gesonde besigheid. Hoe ook al – die gemene deler is dat almal van hulle ʼn hart het vir hul gemeenskap, en ʼn hart vir Afrikaans, en ʼn hart vir radio. Met dié drie kan ons, wat Maroela Media is, werk. Daarom kry ons elke jaar ʼn borg aan boord sodat ons vir twee dae lank die stasies die geleentheid kan gee om opleiding te kry by van die voorste kundiges in die bedryf. Vanjaar het 35 seminaargangers van regoor die noorde van die land aan die lippe gehang van kursusaanbieders soos Lance Rothchild, voorheen uitvoerende hoof van die MTN Radio Awards, Freek Robinson, bekroonde joernalis en aanbieder, Lindie Strydom, voorheen aktrise en bekende in radio- en ander kringe, en Bettie Kemp, radiovervolgverhaalregisseur.

Die mengsel van kursusgangers wat die seminaar bywoon, is elke jaar ʼn lekkerte op sy eie. Baie van die stasiebestuurders en omroepers het eintlik ʼn “regte werk” waarvoor hulle betaal word; hul werk by die radiostasie is sonder of met minimale vergoeding en vir die liefde van die saak. Ons kuier dus altyd, die aand tussen die twee dae se opleiding, te lekker met ons radiogaste en hoor kontreistories soos jy op min ander plekke om een tafel sal hoor.

Só vertel een stasiebestuurder (wie se naam ek nie gaan noem nie – dis dalk ʼn sensitiewe sakie) die mooiste storie. Gerhard, vir die doeleindes van hierdie storie, is ook die dorp se begrafnisondernemer. So tussen die uitsaaiery deur besorg hy dus lyke en so, en almal op die dorp ken hom so van albei kante van die lewe af. Met dié is daar een tante, ons noem haar maar tante Hendriena, wat elke Saterdagaand tydens Gerhard se musiek-versoekprogram inbel met dieselfde versoek: “Ag boetie, speel tog vir tannie Die hemel weet van Manie Jackson?” Naderhand, as die foon tydens die program lui en Gerhard hoor tant Hendriena se stem, sak sy moed sommer in sy skoene. Ná die soveelste Saterdagaand van Die hemel weet-speel loop Gerhard vir tant Hendriena in die dorp raak. “Tannie, hoor my nou mooi,” sê hy ferm en met min takt, “in hierdie lewe speel ek nie weer vir tannie Die hemel weet nie – ons het dit nou genoeg kere gehoor.”

ʼn Week of wat later is tant Hendriena een van Gerhard se kliënte – nie by die radiostasie nie, maar by sy begrafnisonderneming. En toe Gerhard met tant Hendriena se liggaam in die kis in die kerk instap, begin Die hemel weet van Manie Jackson speel. ʼn Laaste versoek van die tannie, verduidelik haar familie later. Gerhard was toe reg – dit was nie in hierdie lewe nie. Maar tant Hendriena het die laaste stekie ingekry.

Sulke stories oortuig ons van die hart van Afrikaans wat op die platteland sit, nie hier in die stad nie. Iewers tussen Koekenaap en Kakamas, tussen Hertzogville en Bultfontein, tussen Alldays en Swartwater, tussen Noupoort en Nieu-Bethesda, tussen Napier en Bredasdorp. Dis die mense wat nog tyd het om stories te vertel, wat nog by hul bure suiker leen, wat op ʼn Sondagmiddag oorstap vir tee en wat blomstiggies uitruil en naweke visvang. Dis mense wat mekaar nog byname gee en ʼn karmenaadjie of ʼn bos blomme uit die tuin saamneem wanneer hulle gaan kuier.

Dis vir ons, Maroela Media, ʼn voorreg om via gemeenskapsradiostasies met plattelandse Afrikaanssprekendes regoor die land ʼn verhouding te hê. Dus, ʼn groot dankie van ons kant vir elke Afrikaanse gemeenskapsradiostasie wat dit vir ons moontlik maak om saam in elke mooi kontrei van ons land te kuier.

Groetnis
Susan Lombaard
Redakteur: Maroela Media

  • Naskrif: Maroela Media begin eerskomende Maandag, 7 September, met ʼn splinternuwe radiovervolgverhaal wat op 29 gemeenskapsradiostasies landswyd uitgesaai gaan word. Groblerspruit is ʼn 13 weke-vervolgverhaal wat vervaardig is deur Bettie Kemp. Onderaan die berig kan jy maklik sien watter stasie in jou omgewing dit uitsaai, of luister elke episode daagliks op Maroela Media.
  • Nog ʼn naskrif: Maroela Media bied in Oktober ʼn soortgelyke gemeenskapsradioseminaar vir stasies in die Kaap aan. Kontak ons gerus indien jy aan ʼn gemeenskapsradiostasie verbonde is wat Afrikaans as ʼn uitsaaitaal het, en julle graag die seminaar wil bywoon.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

CAM ·

Klink baie na ons plaaslike radio stasie se storie hierdie…! Sal ‘n bietjie uitvind of dit werklik die storie was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.