Redakteursbrief: TV-advertensies wat jou laat lag, huil en verlang

Susan Lombaard Foto: Burger Meyer, Maroela Media

Susan Lombaard Foto: Burger Meyer, Maroela Media

ʼn Advertensie van KLM waarin ʼn hondjie gebruik word om passasiers se verlore goedere aan hulle terug te besorg, het kykers wêreldwyd onlangs eers ʼn traan laat pik – en toe warm onder die kraag gehad.

Personeel van KLM vertel in die advertensie van die oulike nuwe toevoegsel tot hul “Lost and found”-diens: ʼn speurhondjie wat snuffel aan persoonlike items wat in die vliegtuig gevind word nadat passasiers die vliegtuig verlaat het, en dan met die verlore item in ʼn sakkie om sy lyf die lughawe binnestorm en passasiers in die aankomssaal beruik om die eienaar van die item op te spoor. Selfs al is jy nie ʼn hondeliefhebber nie, kry jy ʼn knop in die keel as jy sien hoe ʼn dogtertjie haar verlore teddiebeer omhels of ʼn tiener sy gunsteling-oorfone terugkry. Dié hondjie het oornag ʼn held geword.

Of dalk nié. Verskeie nuuswebwerwe het, kort nadat die advertensie vir die eerste keer uitgesaai is, aan die lig gebring dat dié advertensie niks meer as ʼn advertensie is nie. Die oulike hondjie, Sherlock, is net ʼn “mascot”, sê die advertensie-agentskap wat die vervaardiging gedoen het.  Hy is glo net ʼn simbool van die verloregoedere-span se toewyding om jou kosbare besittings met jou te herenig.

Dié advertensie het my laat dink aan verskeie briljante Afrikaanse en eg Suid-Afrikaanse advertensies wat die afgelope klompie jaar die lig gesien het. Die Maroela-span het elkeen hul gunsteling vir my aangestuur, en ons het lekker saam gelag én verlang. Ons eie, plaaslike advertensies is deurspek met humor, nostalgie en lag vir onsself en ons foute.

Wie onthou nog Sasol se glug-glug-advertensie, met die ouma wat ewe goedgelowig sê hul kleinkind gaan “seker nie ver nie” wanneer sy stootkarretjie met tollende wiele van die stoep af jaag? Of RSG se skaap-advertensies oor die klomp lawwe skape wat in ʼn plaasdam bad en later die boer se vragmotor steel om oor die grens te ontsnap?

Ons is ook nie bang om met rasseverhoudings en stereotipes te spot nie – om een of ander rede kom ons in advertensies weg daarmee; seker te danke aan die goeie skeut humor waarmee dit gepaard gaan. Klipdrift, byvoorbeeld, se “met eish, ja”-advertensie was só suksesvol dat dié uitdrukking deel van die volksmond geword het, al is dit deurspek met stereotipes wat veral Afrikaanssprekendes bykom.

In Polka se advertensie van ʼn paar jaar terug word daar weer met ʼn paar hoërskoolmeisies se oorgeronde Afrikaanse uitspraak gespot, en Virseker dryf in hulle advertensies die spot met versekeringsinstansies wat jou nie verstaan as ʼn ramp jou in Afrikaans tref nie.

Die Toyota FJ-advertensie spot weer lekker met twee bruin mense se Afrikaans in hul “jou pa se 4×4-advertensie”.

Jare gelede was dit advertensies soos die Marie-koekie-advertensie (Oupa wat skelmpies vir die kleinkinders Marie-koekies uitdeel terwyl Ouma aandete voorberei) en die Cremora “koffiekapitaal”-advertensie (waarin Jan Spies in gekruide taal vertel Cremora “proe pure plaas”) wat ons laat glimlag het, terwyl dit ons terselfdertyd plaas toe laat verlang het.

Ons plaaslike advertensies herinner ons ook dikwels aan hoe belangrik gesins- en familieverhoudings vir ons is. Daar was die Volkswagen-advertensie, wat met deernis en humor gewys het hoe ʼn Volkswagen deel uitmaak van elke fase van ʼn gesin; en nog een wat wys hoe ʼn pa en sy tienerseun met hul Volkswagen op reis gaan deur die land, en mekaar vind langs die pad. Een van my persoonlike gunstelinge is die Tracker-advertensie waarin die babadogtertjie uit ʼn gekaapte motor gered word – die klinkreël, “She won’t remember him, but he’s given her a lifetime of memories”.

Miskien berus die sukses van dié en ander plaaslike advertensies juis in die eerlikheid daarvan. Ons is nie bang om die waarheid te praat nie, en as ons die spot dryf, doen ons dit sonder om doekies om te draai. Ons verpak dit nie in ʼn mooi gedaante en hoop niemand snuffel die waarheid uit nie – anders as KLM se snuffelhond, wat toe glad nie so goed snuffel soos hulle gehoop het nie.

Geniet jou week en al dié lekker advertensies wat ons vir jou opgespoor het!

Groetnis
Susan Lombaard
Redakteur: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Lynni ·

Cremora se advertensie: It’s not inside it’s on top, was net soos goed.

Bertha Lombaard ·

Ja en moenie vereet van die Volkswagen advertensie met David Kramer agterna op sy fiets en sy rooi velskoene nie. Dit was vir my klassiek. Ek het dit keer op keer geniet.

Karin Bloem ·

Sasol se ‘glug-glug’ advertensie het my ver laat terugdink. Ek was bevoorreg om die hoogs talentvolle Eghardt en Tilana van der Hoven te ken, twee mense wat diep spore in ons land se teatergeskiedenis getrap het en twee warm wonderlike mense. Gelukkig dat ons hulle nog in hierdie kostelike advertensie kan beleef.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.