Redakteursbrief: Van ʼn vergesogte idee tot ʼn fliekfees soos min

Susan Lombaard (algemene bestuurder van Maroela Media) saam met die aanbieders Hennie Jacobs en Diaan Lawrenson

Susan Lombaard (algemene bestuurder van Maroela Media) saam met die aanbieders Hennie Jacobs en Diaan Lawrenson

“Ek het ʼn idee.”

As ek R10 kon kry vir elke keer wat ʼn Maroela Media-spanlid dié woorde in my kantoor kwytgeraak het, was ek skatryk. Want aan idees ontbreek dit nie. Sommige van hulle verregaande en vergesog; sommige bloot laf; sommige wonderlik maar finansieel onbereikbaar.

En tog het verregaande, vergesog, laf en finansieel onbereikbaar die Maroela-spannetjie nog nooit gekeer nie.

Die pas afgelope Saterdag hou ons ons eerste Buitebioskoop in die Pretoria Botaniese Tuin. Twee-en-negentig kontrakteurs werk van dagbreek af om alles gereed te kry voor die ingenieur wat alle konstruksiewerk en infrastruktuur moet goedkeur, vroegmiddag kom inspeksie doen. Ons sit kop neer en werk dat die stof staan. Teen twee-uur begin die eerste gaste drupsgewys aankom, gewapen met piekniekmandjies, komberse en kampstoele.

Net voor ses, minute voor die amptelike opening van die eerste Maroela Media-buitebioskoop, stap ek verhoog se kant toe, waar die formaliteite moet gebeur. Voor my, waar daar ʼn paar ure gelede nog net ʼn leë grasperk was, sit ʼn see Afrikaanssprekendes – 1 230 mense op die stukkie grasperk voor die drie verdieping hoë filmskerm. Hulle sit in gesellige sirkels en kuier. Die atmosfeer is feestelik en ontspanne. Die kinders speel eenkant op springkastele, waar ʼn nar op stelte vir hulle ballonne vou. Van die ouer kinders het in bome rondom die grasperk geklouter en sit soos apies met hulle springmielies en wag vir die fliek om te begin. Die lug ruik na kaneel, kerrie-en-rys en koffie. Niemand raas nie, niemand drink te veel nie, niemand word kwaad vir mekaar nie.

Ek onthou skielik die oomblik, so twee jaar gelede, toe ʼn kollega by my kantoor ingestap het en gesê het: “Ek het ʼn idee… Kom ons hou ʼn fliekpiekniek.”

Dit was een van die vergesogte idees wat vir eers teen my venster neergeskryf is. Nou kyk, ek het ʼn gróót venster, en hy is vol idees. Die fliekpiekniek-een het sy staan gekry tussen ʼn klomp ander wat nog een of ander tyd moet gebeur (of wat ek stilletjies gaan uitvee as niemand kyk nie). Vir twee jaar het hy in blou daar gestaan, tot ons vroeg vanjaar vir mekaar gesê het: “Dalk is die tyd nou ryp vir die eerste Maroela Media-buitebioskoop.”

Ek kon vooraf nie help om te wonder nie wat 1 200 mense (en ons sou dubbeld soveel kaartjies kon verkoop as die spasie ons toegelaat het – honderde mense is weggewys) motiveer om ʼn kosbare Saterdag op te gee en op ʼn grasperk te kom uitspan, om na Afrikaanse flieks te kyk wat hulle moontlik reeds gesien het. Is dit die nostalgie van vergange dae se inry wat hulle weer wil beleef? Wil hulle bloot buite wees, met die lente in die lug? Is dit ʼn passie vir Afrikaanse films?

Deur die loop van die aand, terwyl ek hier en daar tussen mense gaan sit om die atmosfeer te beleef soos hulle dit beleef en met fliekgangers gesels, begin ek verstaan.

Hulle voel veilig, en hulle kinders is veilig, vir ʼn kort rukkie. En hulle voel deel van ʼn groep, van ʼn gemeenskap, as jy dan wil. Soos in die ou dae toe ons Sondagmiddag ongenooid by bure kon gaan koffie drink. Hier kan hulle maar vergeet van politiek, veiligheidsisteme in en om die huis, kinders wat met ʼn valkoog dopgehou kan word, die taalvoorkeure van dié om jou. Jy kan net Afrikaans wees, en kuier en ontspan, terwyl jou kinders doer iewers onder die bome besig gehou word.

Op Maroela Media is dit presies dít wat ons wil regkry: om ʼn digitale gemeenskap van Afrikaanssprekendes te skep, waar mense kan saamkuier, in ʼn veilige omgewing hul mening kan lug en welkom kan voel, soos in ouma se kombuis. Dis nie heeltemal dieselfde nie, maar darem.

Laataand, kort voor die einde van die tweede fliek, besef ek: as ek ʼn duisend groepe mense soos hierdie 1 000 of wat fliekgangers voor my by mekaar kon sit (op ʼn heelwat groter grasperk), sou dit Maroela Media se maandelikse unieke besoekers wees. Tans staan ons ʼn raps onder 1 miljoen unieke besoekers per maand. Hopelik kry ons dit reg om vir die 900 000 wat nie by die Buitebioskoop kon wees nie, iets van die ervaring op Maroela Media te skep deur hulle tuis en welkom te laat voel.

Dankie vir jou bydrae om van Maroela Media die lekkerste Afrikaanse kuierplek op die internet te maak. En onthou: Dis gratis!

Groetnis

Susan Lombaard

Redakteur: Maroela Media

Naskrif: Ons het heelwat versoeke gekry van Maroela Media-lesers landswyd wat wil weet of ons binnekort weer so ʼn geleentheid sal hou, en ook of ons dit moontlik in ander dele van die land kan hou. Wees verseker dat ons alle voorstelle neerskryf en oorweeg. Dis egter ʼn baie duur geleentheid, en ʼn besluit om dit meer gereeld as een maal per jaar aan te bied, kan nie ligtelik geneem word nie. Ons beplan wel, indien moontlik, om dit ʼn jaarlikse lente-instelling te maak, en in 2016 sal ons beslis sorg dat ons ʼn grasperk uitsoek wat minstens dubbeld soveel fliekgangers kan akkommodeer! Hou Maroela Media dop vir nuus oor die Buitebioskoop en sorg volgende keer dat jy sommer vroeg-vroeg jou kaartjies koop!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Henry ·

Lekker om te hoor dat julle so ‘n lekker bioskoop aand in Pta kon geniet.
Ek dink dat julle gerus dieselfde sort van ding vir ons Suidkapenaars wat Solidariteit en Afriforum ondersteun, kan doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.