Redakteursbrief: Veels geluk, liewe Maroela, omdat ons verjaar!

Maroela is môre, 29 Julie 2017, ses jaar oud. Veels geluk, liewe Maroela!

Die afgelope ses jaar was ʼn tuimeltrein van groei, ervarings, krisisbestuur, eerstes, suksesse, mislukkings, tas-in-die-donker en leer-soos-ons-aangaan. Personeel het gekom en gegaan (die meeste het darem gekom en gebly). Ons het vriende gemaak in die Afrikaanse media- en vermaakbedryf (en ʼn paar vyande, maar meestal vriende). Die Afrikaanse gemeenskap was ons van die begin af goedgesind, maar ons het geweet baie mense wonder of hierdie Maroela-plannetjie-ding gaan werk.

Die afgelope week is Maroela Media deur Effective Measure aangewys as een van die top 10 Suid-Afrikaanse nuuswebwerwe vir 2017; die enigste Afrikaanse webwerf wat dié lys gehaal het. In Maart vanjaar het Maroela ʼn rekordgetal van 1.6 miljoen unieke lesers gehad. Met die hulp van borge verskaf ons radio-inhoud, radiovervolgverhale en opleidingsgeleenthede aan 56 gemeenskapsradiostasies reg oor die land. Ons publiseer daagliks sowat 66 nuusstories en ander artikels per dag, en modereer byna 650 kommentare per dag op die webwerf (sosiale media uitgesluit). Ons skryf veral nuus, maar werk ook hard daaraan om goeie nuus, geestelike artikels en stories met ʼn positiewe inslag te publiseer. Ten spyte daarvan dat ons die “baba” in die Afrikaanse mediabedryf is, is ons al meer gereeld mediavennoot van nuwe Afrikaanse films, feeste, en ander Afrikaanse produkte en inisiatiewe. Ons beywer ons daarvoor om vriende te maak in die Afrikaanse gemeenskap, want ons hart is Afrikaans, en die Afrikaanse gemeenskap is te klein om verdeeldheid te kan akkommodeer.

Een van die belangrikste beginsels waaraan ons as Maroela-span mekaar gereeld herinner, is dat ons, ten spyte van al hierdie suksesse, nederig moet bly. Want as mens kyk na waar ons begin het ses jaar gelede, en waar ons vandag is, weet ons God se genade en guns was die geheime bestanddeel, en nie enigiets wat ons as span reg gedoen het nie. Vir sy seën op Maroela is ons eindeloos dankbaar. Vir my persoonlik – en ek weet vir heelwat van my spanlede ook – is ons werk by Maroela veel meer as ʼn werk; dis ʼn Godgegewe roeping. Ons weet ons is op ʼn plek waar ons elke dag derduisende mense reg oor die land en internasionaal kan beïnvloed deur wat ons skryf en hoe ons dit skryf. Ons neem dié verantwoordelikheid waarmee Hy ons toevertrou het, baie ernstig op. En ons is dankbaar om die geleentheid te hê om elke dag ʼn verskil te maak in ʼn land waar elke mens ʼn verskil behoort te probeer maak (en dat ons boonop betaal word daarvoor!).

Mense het dikwels vrae oor hoe Maroela Media in die Solidariteit-prentjie inpas, en hierdie is miskien die ideale geleentheid om dit te verduidelik. Maroela Media is deel van die Solidariteit Beweging – ʼn beweging bestaande uit 18 verskillende instansies. Maroela Media is ʼn geregistreerde maatskappy en funksioneer onafhanklik van Solidariteit in sy bestuur en besluitnemingsprosesse. Om onafhanklik as ʼn media-instansie te kan funksioneer, is vir ons geloofwaardigheid én vir Solidariteit ewe belangrik. Ons is dus baie dankbaar dat ons die voorreg het om binne die groter struktuur en sukses van die Solidariteit Beweging te kan funksioneer, en voordeel te kan trek uit die netwerke, kundigheid en goeie verhoudings wat die Solidariteit Beweging met die publiek, besigheidsnetwerke en meer spesifiek die Afrikaanse gemeenskap het. Terselfdertyd kan ek met groot vrymoedigheid en eerlikheid sê dat ek gereeld by die slim mense van die beweging se ander instansies aanklop om hulp en raad, maar dat Maroela Media nog nooit deur hulle voorskrifte of opdragte ontvang het oor wat ons mag of moet publiseer nie.

Ek kan nie op ʼn dag soos vandag afsluit sonder ʼn groot dankie aan die Maroela-span nie. Elkeen – van ons redakteur en die span joernaliste tot by die projekbestuurder, administratiewe assistent (ons “dagboekfluisteraar”), rekenmeester (ons noem haar ons “BTWtertjie”) en die res is ingekoop in ons Maroela-droom, en doen veel, veel meer as wat van hulle verwag word. Hulle fone is altyd naby sodat hulle kan inspring die oomblik as daar iewers hulp nodig is. Oor naweke is hulle so om die beurt vasgeplak aan Facebook om te help kommentaar dophou wanneer die nuusspan se kapasiteit meer beperk is. Dankie, julle. Ek is lief vir julle soos ʼn trotse ma.

En aan jou, wat deel is van Maroela Media se Afrikaanse gemeenskap: Dankie dat jy ons ondersteun, ons stories deel, ons vriendelik laat weet as ons flaters maak, saamgesels in die kommentaar-afdeling van stories, met ons nuuswenke deel en sommer net help om Afrikaans lewendig te hou op die internet.

Lekker verjaar, Maroela!
Groetnis
Susan Lombaard
Uitvoerende hoof: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Heinrich ·

Dames en menere daar by Maroela Media; baie dankie vir julle harde werk en alles wat julle doen vir ons Afrikaanse mense; doen so voort!

MCH ·

Baie geluk Maroela Media. Jul is die beste uitvindsel sedert die koerant. Alles is perfek, die platform wanneer jy die Webblad oopmaak en met n oogopslag die hele spektrum artikels kan sien tot die eenvoud waarmee kommentaar gelewer kan word. Jul nederige en akkomoderende houding gaan jul ver verby die mededingers neem. Dan, die pragtige woorde:” …want ons hart is Afrikaans en die Afrikaanse gemeenskap is te klein om verdeeldheid te kan akkomodeer. ” Dit doen die ding vir my. Mag jul van krag tot krag gaan. Ons sal n foto van die Maroela span hoog op prys stel.

Gideon ·

Julle het ‘n top kwaliteit nuus webwerf. Baie geluk en dankie vir die harde werk.

Audrey Bierman ·

Baie baie geluk Maroela Media. Dankie dat ek al saam met julle aan n paar stories kon werk. Dankie vir julle omgee oor die waarheid en dankie dat julle personeel vriende word. (Of hoe sê ek Phillip) haha

Willie Maree ·

Baie baie geluk met jul sprankelende 6 jaar oue vondeling!! Ons waardeer dit elke dag in die ‘skoonste en mooiste Taal”

Maggie Pringle ·

Baie Geluk!!!. julle verdien ‘n lekker groot applous. Dit is ongelooflik lekker om elke middag die brokkies nuus te ontvang. Ek het nie meer nodig om ‘n koerant te koop nie. En ek kan saam gesels deur so nou en dan kommentaar te lewer. Om nie te praat van die Idiome en ander vreemdhede nie.

Mag daar nog vele jare vir julle wees. Sterkte vorentoe.

Redz ·

Baie geluk Maroela! Mag jul v krag tot krag gaan.
Dankie dat julle ons op hoogte vd nuus hou?

Jak ·

As bejaarde het my seun so n paar maande gelede ,my nuwe foon met Maroela gekoppel…En die wonder van vars nuus dikwels met toepaslike fotos het vir my as nuusverslaafde n werklikheid geword .Dankie.Sterkte vorentoe.

Josef du Toit ·

Hartlik geluk aan Maroela Media! As banneling is ek meer dankbaar as wat ek in woorde kan uitdruk om deur Maroela van gebeure in my vaderland op hoogte te bly op ‘n wyse getrou aan ons volkswaardes. Hoop werklik u sal steeds verder goei en dat ons selfs in die nie te verre toekoms nie, weeksdae ‘n TV-nuus program op die internet sal kan sien. Doet so voort!

Manna ·

Baie geluk en dankie vir julle onbaatsugtige werk. Ek kan nie wag vir volgende Maroela

Vannessa ·

66 nuusberigte per dag?
Regtig?
Hier is stories en afdelings wat weke lank hang.
Beaam ook die stelling dat die velle maar dun is as dit by kommentaar kon.

Lena Jonk ·

Wil darem ook hier uit NZ se baie geluk aan ons pragtige personeel, baie dankie vir julle baie liefde en geduld. Ek lees graag die goeie goed soos stiltetyd gereeld elke dag, asook die nuus. Het al vir heelwat Afrikaanse persone hier julle web gegee en hul lees dit glo gereeld. So lekker om in buiteland te wees en nuus in jou eie taal Afrikaans te lees. Ons bid vir julle voorspoed toe en mag ons Vader julle Seen in julle goeie werk. Baie groete van ver af.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.