Redakteursbrief: Veels geluk, liewe Maroela; totsiens, prof. T.T!

Prof TT Cloete en Susan Lombaard (redakteur: Maroela Media) Foto: Burger Meyer, Maroela Media

Prof TT Cloete en Susan Lombaard (redakteur: Maroela Media) Foto: Burger Meyer, Maroela Media

Woensdag was Maroela Media se vierde verjaardag. Vir dié geleentheid het elke spanlid ʼn tema uit ʼn hoed getrek waarvolgens hulle moes aantrek.

Ek is dus so net ná 7 Woensdagoggend geklee in my paashaas-uitrusting toe ek die nuus kry dat die geliefde prof. T.T. Cloete Woensdagoggend vroeg oorlede is. Ek huil al die pad skool toe met my kinders in die kar terwyl ek die nuusredakteur in die hande probeer kry, en in my onderbewussyn dink ek: Wat ʼn prentjie moet ek nie wees nie.

Dit word ʼn bisarre dag. My hart breek oor prof. T.T., so geliefd onder so baie mense, en nie net oor sy poësie nie. Rondom my gaan die feesvieringe voort. Die Lone Ranger en die Swart Kat sorg dat die webblad-wiele glad loop, Patricia Lewis sorg vir ʼn voortreflike middagete in ons raadsaal en die rook trek uit Braveheart, Wednesday en Liewe Heksie se rekenaars soos hulle werk.

breek Maroela die één nuusstorie wat ek nooit sou wou gebreek het nie. En nogal op ons verjaardag.

Ek is geen letterkundige nie, maar ek weet ek kon as skoolkind al prof. T.T. se poësie verstaan. Hy kon nog altyd sê wat ek nie kan verwoord nie. Soos ek ouer geword het, was daar altyd ʼn gedig (of ʼn paar) van hom waarmee ek kon assosieer.

Ek het die voorreg gehad om hom ʼn paar keer te ontmoet. As jong joernalissie het my redakteur my die geleentheid gegee om met hom ʼn onderhoud te doen. Sy geliefde Anna het toe nog geleef, en sy het vir ons tee en koekies gebring. Later het hy vir my sy roostuin, waarop hy so trots was, gaan wys. Baie jare later, toe ek en ʼn kollega verlede jaar kort voor sy 90ste verjaardag by hom gaan kuier, het hy my nog goed onthou, en vir my die knipsel van die tydskrifartikel wat ek 13 jaar terug oor hom geskryf het, gewys. Dié keer is ons bederf met beesstert en rooiwyn vir middagete, en ons is baie laat eers uit Potchefstroom uit weg. Later het hy onderaan my redakteursbrief geskryf: “Dankie vir wat julle vir Afrikaans doen. Ek drink elke dag koffie uit my een Maroela-beker en tee uit my ander Maroela-beker.”

Daar was vir my nog geen groter kompliment as dat prof. T.T. iets wat ek geskryf het, gelees het nie.

Die ou effense storietjies wat ek oor prof. T.T. kan skryf, steek maar sleg af teen dié van mense wat ná aan hom was. Maar almal sê dieselfde goed oor hom: oor sy kinderlike verwondering oor die skepping; sy liefde vir mense; sy liefde vir God en sy onuitputlike nuuskierigheid. En sy liefde vir sy vrou, Anna. Ek het wyd gaan soek vir klanksnitte en video’s waar prof. T.T. opgeneem is terwyl hy een van sy eie gedigte voorlees, en elke keer, sonder uitsondering, het hy die liefdesgedig “Anna” gekies.

Met Maroela Media se vierde verjaardag groet ons een van die grootste Afrikaanse digters van ons tyd. Vir my dié grootste, nie oor wat hy geskryf het nie, maar oor wie hy was. Die verlies vir mense en vir Afrikaans kan nie gemeet word nie, maar sy nalatenskap ook nie.

Rus sag, prof. T.T!

24.9.2010. Ek skryf nie net gereeld briewe vir jou nie, ek skryf ook oor jou, in ʼn boek wat in ʼn groot mate geïnspireer is deur jou jare lange lyding en uiteindelike dood. Hoe vreemd om te sê dat jou dood my geïnspireer het, maar dit is soos dit werklik is, want jou siekte en dood het my daarvan bewus gemaak dat ons as mense nie individue is as ons gelukkig is nie, ons is ons geliefdes, ons bome, ons katte en honde, ons skilderye …. Die boek se titel sal dus wees: “Die ander een is ek.” Dit het begin by ʼn enkele artikel, oor hoe jy die lakens gepluk het by jou sterfte, en dit het uitgegroei tot ʼn boek. Eintlik het die boek begin lank voor jou dood, toe ek jou in jou laaste skooljaar leer ken het, of toe ek gebore is …

Iets vreemds gebeur: Wanneer ek vir jou oor jou skryf, slaan dit dikwels oor in selfportrette. Hoekom? Omdat ek sonder jou nou in my self vasgevang sit, in ʼn wrede selfgevangenis. Ons is gemaak om nie onsself te wees nie, maar die ander een: jou lewensmaat, jou kind, jou blomtuin. As jy soos ek jou lewensmaat verloor het, verloof jy alles, jou mes en vurk, jou skildery, jou hele huis. Terwyl jy werk, sal jy onverwags terug in jou stoel, steun jou arms op die leunings sodat jou polse, jou hande en vingers afhang grond toe oor die leunings, jy maak jou oë toe, voel die druk in jou bors, en sê: Ek is nie gemaak vir myself nie. Miskien is ek gemaak om die sekretaris van God te wees. Daarvan het jy, my ander ek, my bewus gemaak. So werk dit dan: Ek is jy, en deur jou is ek ʼn boom, en deur die boom is ek ʼn melkweg, ʼn eindelose voortplanting.

  • ʼn Uittreksel uit die briewe wat T.T. Cloete aan sy vrou geskryf het na haar dood op 2 Mei 2007. Hierdie gedeelte is geskryf drie jaar en vier maande na haar dood. Agterbladteks van sy outobiografiese werk “Die ander een is ek”, Pooka Uitgewers, 2013.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jo ·

Baie dankie Susan Lombaard vir jou pragtige ode aan Prof TT. Theunis, soos ons hom leer ken het. Jy het hom so raak beskryf. Dit wil vir my se dat jy diep kyk en mense diep lees. Prof TT sal vir altyd in soveel van ons harte gegraveer bly en bly leef omdat dit onmoontlik is om iemand soos hy te vergeet. Die impak wat hy op ons gewone sterflinge se lewens gehad het, is fenominaal. Daar word so baie verwys na die verlies wat deur die literere wereld gevoel sal word. En ja, dit is waar, maar ek dink die grootste impak en verlies, is in ons wat hom eerstens as mens geken het en dan as die digter/skrywer ens. , se harte. Ek huil saam met jou en soveel ander wat vir hom lief was oor wie hy as mens was. Sterkte ook vir jou. Groete.

Petro Bezuidenhout. ·

‘n Aangrypende en deurleefde huldeblyk aan ‘n mens en digter wat so openhartig was oor sy belewenisse as gelowige kind van God en wat oorwinnend geleef het in ‘n gebroke werklikheid.Mag julle by Maroela ook in die volgende tydvak van julle bestaan geseënd wees.Ons hou van dit waarmee julle besig is.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.