Redakteursbrief: Vier Paasfees voluit

susan_lombaard

Susan Lombaard Foto: Burger Meyer, Maroela Media

Ek is ‘n “sucker” vir spesiale geleenthede. Paasfees, Kersfees, verjaarsdae, huweliksherdenkings. Kinders wat tande wissel, Internasionale Dag vir Linkshandiges, Nasionale Melktertdag, Twee Jaar vandat ek my Hare Kort Gesny Het-dag. Ek vier hulle álmal. En ek bêre alles wat vaagweg sentimenteel is: verjaardagkaartjies, ou swart-en-wit-foto’s, Familiebybels, briefies van skoolmaatjies, my kinders se wisseltande en gunstelingbabakleertjies.

Toe my man 28 jaar oud geword het, het ek vir hom ‘n seerowerpartytjie gehou omdat hy nie as kind een gehad het nie (en omdat ek vas glo elke seuntjie moet minstens een keer ‘n seerowerpartytjie hê). Kompleet met skatkiskoek, seerowerhoede, houtswaarde en ‘n skattejag in die tuin vir die gaste. Hy praat vandag nog daaroor.

Deesdae hoor ek ‘n nuwe ding in kerkgeledere: “Ons vier nie Kersfees nie – dis heidens.” Of “Ons maak nie ‘n groot ding van ons kind se verjaardag nie – dis wêrelds.”

Ek is geen teoloog nie. Maar ek bewonder nogal die karakter van Jesus, die Een waarvan ‘n mens ‘n goeie prentjie kry as jy Matteus, Markus, Lukas en Johannes lees. Dié boeke skets vir my ‘n prentjie van ‘n Man, lewenslustig en gesond, met ‘n goeie sin vir humor, lief vir sy vriende, joviaal en charismaties. Ook Iemand wat nodig gehad het om soms alleen te wees, Iemand met wysheid en deernis, by wie mense veilig kon voel.

Ek dink daar is baie goed oor Hom wat nie in die Bybel staan nie. Ons weet nie wat sy gunstelingkos was of hoe Hy as ‘n tiener was nie. Maar uit dit wat ons weet, kan ons baie aflei.

Uit wat ek van Hom weet, en wat ek van Hom kan aflei uit dit wat ek weet, vermoed ek Jesus sou wou hê ons moet met oorgawe Paasfees vier. Nie oor die simbole wat deel geword het daarvan of oor die langnaweek of die paasbolletjies of paaseiers nie. Maar oor Hy Iemand was (en is) wat met oorgawe gelewe het. En ook oor Hy nie wou hê ons moet stop by Goeie Vrydag toe Hy aan die kruis gesterf het nie, maar omdat Hy weer opgestaan het. As daar iets is om te vier, is dit sy opstanding wat alles vir altyd vir ons verander het. Sy opstanding beteken ons is klaar met skuldgevoelens, klaar met bagasie, klaar met wettiese reëls oor wat mag en wat mag nié. Dit beteken ons is in ‘n verhouding met die God wat die heelal gemaak het – ʼn verhouding wat die beste in ons na vore bring.

Ek vier dus vanjaar met oorgawe Paasfees, want dis wat jy doen as jy lief is vir Iemand.

Mag jy en jou gesin ‘n geseënde Paasfees hê waarin die ware betekenis van die langnaweek die kern sal wees van alles wat julle doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Afrikaner ·

Wat jy gedoen het is baie kosbaar………hou so aan. Hou kersfees tot ere van Jesus en hou jou kinders se partykies want hoeveel goed gaan ons nog laat steel deur die duiwel deur dit aan hom toe te ken?

My vrou het my 21st op my 24ste verjaarsdag gehou omdat ek nie een gehad het nie. Onthou dit tot vandag toe nog.. :-)

George van Centurion ·

Ek stem saam. Dit is ook hoe ek ons Here-Jesus leer ken het. Ek dink daar wag ‘n verassing vir ons in die lewe hierna. Dit gaan iets ongeloofliks wees wat ‘n ewigheid gaan hou. Ek wil ook die gedagte baie sterk ondersteun dat Christelike herdenkingsdae voluit vir die regte redes gevier moet word. Moenie toelaat dat die Duiwel ons beroof van ons blydskap nie. Ons is die Koning se kinders!!! Dit maak nogal ‘n verskil …..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.