Redakteursbrief: #BLM: Voor wat kniel jy?

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media (Foto: Noeleen Foster)

Diep in die Karoo het my oupa en ouma op ʼn plattelandse dorpie gebly. Hulle huis was in die hoofstraat. Daar was ʼn breë stoep aan die voor- en noordekant van die huis. In die diep koelte langs die voordeur het my oupa ure omgesit op ʼn houtbankie met ʼn koppie tee langs hom; sy hoed gelig en vriendelik geglimlag vir almal wat verbykom – of dit nou die dokter van oorkant die straat se vrou, of inwoners van die onderdorp anderkant die treinspoor op hulle donkiekarretjie was.

Ek onthou soveel mooi dinge van my Karoo-oupa en -ouma dat ek ʼn boek vol kan skryf.

Een van my kosbaarste herinneringe is aan hulle hoë embuiahout-bed met die mosterdgeel fraiing-deken. Toe ek klein was, was die bed te hoog vir my om self op te kom. As ek donkeroggend oor die koue plankvloer weggeloop het na hulle kamer toe, het ek net nodig gehad om sag aan my oupa te raak voor hy wakker word, my met sy groot hande optel en my warm tussen hom en my ouma toemaak.

Die ander ding wat ek onthou van dié bed in hulle ruim kamer met die boekrak vol ou boeke, die kaggel en die dubbele deure met hortjies wat op die systoep oopmaak, is hoe my oupa en ouma soggens en saans langs die bed gekniel het.

My oupa was altyd netjies aangetrek vir oggende se Boekevat. Dit was sy tyd saam met die Een vir wie hy met sy hele hart lief was, en niks of niemand kon daarop inbreuk maak nie. Saam het hy en my ouma Bybel gelees, ʼn psalm of gesang gesing met hulle krakerige oumensstemme en hulle valstande wat ʼn bietjie klap, en dan gekniel, hande gevou op die geel deken. “Onse dierbare Hemelse Vader…” het my oupa altyd begin. Soms het my ouma suutjies opgestaan en solank aangegaan met ander dingetjies in die huis as sy eerste gebid het, want my oupa kon lánk met sy hemelse Vader gesels. Dan het hy stil voortgebid, sy lippe prewelend en sy voorkop rustend op sy saamgevoude hande. In volslae ootmoed en oorgawe.

Die laaste tyd is sosiale en nuusmedia vol foto’s van sportspanne en -afrigters wat voor ʼn wedstryd die knie buig in empatie met die Black Lives Matter-beweging. In die media was daar die afgelope paar maande genoeg nuus om ʼn mens diep te ontstel. Asof die Covid-19-pandemie met beriggewing oor infeksies wat soos ʼn veldbrand versprei, gebrekkige mediese sorg, grootskaalse korrupsie en erge politieke onstabiliteit nie genoeg is om ʼn mens om te krap nie, het ʼn hernude vlaag wrede plaasaanvalle die laaste ruk die nuusagenda oorheers, saam met misdaad landswyd wat meer as ooit handuit ruk. Daarom was ek verbaas toe ek besef dat foto’s van sportspelers wat die knie buig by sportbyeenkomste my soos ʼn vuishou in die maag getref het. Daar is tog erger dinge aan die gebeur.

Oor die politiek van die #BLM-beweging is daar al baie geskryf; oor die kwessie dat dit in eie geledere meer verdeeldheid saai as om steun vir die saak te werf, het Maroela Media ook al berig. Die beweging het ʼn lang geskiedenis wat sy ontstaan in 2013 in die VSA gehad het toe George Zimmerman, wat aangekla is van die moord op die tiener Trayvon Martin, onskuldig bevind is. Volgens die organisasie se webwerf is Black Lives Matter ʼn “ideologiese en politieke intervensie in ʼn wêreld waar swart lewens sistematies en doelbewus geteiken word vir uitwissing. Dit is ʼn bevestiging van swart mense se menswaardigheid, ons bydrae tot die samelewing, en ons veerkragtigheid in die aangesig van dodelike onderdrukking.” Verder word daar gesê: “Ons doel is om die ontwikkeling van nuwe swart leiers te steun, en om ʼn netwerk te skep waarbinne swart mense bemagtig voel om self ons lot binne ons eie gemeenskappe te bepaal.”

As ʼn mens vir ʼn oomblik jou krapperigheid oor die afgelope paar weke se sportsteun aan #BLM eenkant sit en ʼn tree terug staan, kan ons as Afrikaanssprekendes op ʼn ongemaklike manier hiermee identifiseer. Ons voel immers self dat ons uitgelewer is aan ʼn sisteem waarbinne ons nie kan floreer nie, en dat ons nodig het om self strukture te skep waarbinne ons jongmense kan oplei, leiers kan ontwikkel, sakeondernemings kan stig en kan ondersteun en, les bes, ons eie lot binne ons eie gemeenskap wil bepaal. En die grootste rede waarom talle Suid-Afrikaners luid protes aanteken teen plaaslike steun aan #BLM, is juis die argument dat alle lewens saak maak, nie net swart lewens nie – waarom word dieselfde energie en passie dan nie ingesit om te protesteer teen die lewe van boere op plase (ongeag velkleur) wat deesdae minder as niks werd is nie?

Dis egter nie dit wat aan my gekrap het toe ek die foto sien van die knielende krieketspan op ʼn sportveld nie.

ʼn Mens kniel nie sommer nie – ʼn mens kniel voor iets, of iemand. Om te kniel, is ʼn teken van respek en onderdanigheid. Die nieverbale betekenis daarvan is dat jy jou kleiner maak as iets of iemand anders, om jou swakker te laat vertoon en te wys dat jy jou onderwerp aan die gesag van die persoon voor wie jy kniel. Dit laat jou weerbaar, en kan die boodskap oordra dat jy vra vir beskerming.

My oupa het voor God gekniel. In Eksodus 34 vers 14 staan: “Julle mag nie ʼn ander god vereer nie, want Ek, die Here, eis onverdeelde trou aan My. Daarom noem hulle My: ‘Die God wat onverdeelde trou eis.’” Dis die God voor wie my oupa gekniel het.

Sam Coonrod het nie die knie gebuig nie. (AP Photo/Mark J. Terrill)

Die bofbalspeler Sam Coonrod, wat vir die San Francisco Giants speel, het die afgelope naweek opslae gemaak toe hy staande gebly het terwyl die res van sy spanmaats die knie op die sportveld gebruik het in simpatie met die #BLM-beweging. Hoewel Coonrod ook, soos sy spanmaats, ʼn stukkie swart lap vasgehou het, het hy nie die knie gebuig nie. “Ek is ʼn Christen en ek glo ek kan slegs voor Jesus Christus kniel,” het hy gesê. Ook die voormalige Bafana Bafana-verdediger, Mark Fish, het verlede week ʼn storm ontketen toe hy op Twitter gesê het alle lewens maak saak. Alle lewens maak vir hom saak; hy sien die wêreld deur God se oë en sal slegs voor God kniel, het hy gesê.

Maar nou moet ons pasop. As gelowige kan ek nie hovaardig wees hieroor nie – almal deel immers nie my wêreldsiening hieroor nie, en daarvoor het ek begrip. Om die knie te buig voor iets of iemand hou nie noodwendig dieselfde betekenis in vir dié wat die #BLM-beweging steun as wat dit vir my inhou nie.

Maar as ek ʼn gelowige is, bring die prentjie van knielende sportsterre op ʼn sportveld my by ʼn volgende, ongemaklike vraag: As ek nié vir die #BLM-beweging die knie buig nie, voor wie buig ek dan die knie? Is God regtig die Een voor wie ek die knie buig? Of is daar ʼn ander afgod, saak, of mens in my lewe voor wie ek kniel?

Toe my oupa in 1999 oorlede is, was ek ʼn student. Ons is Noupoort toe vir die begrafnis. Die huis was vol van hulle ou vriende en gemeentelede wat kos aandra en troos terwyl my ouma met hartseer skouers op ʼn melamienstoel by die kombuistafel sit, my oupa se swart draadloos stil langs haar. Ek het deur die huis gedwaal en my oupa gesoek. Op sy bedkassie was sy Bybel, voos gevat. Op die systoep het ek in ʼn sonkolletjie teen die muur gaan sit met sy Bybel op my skoot. Dit het oopgeval by Deuteronomium 32:10. Die vers was dik onderstreep, wat ongewoon was vir my oupa – ʼn man wat geglo het ʼn mens skryf nie in jou Bybel nie. Daar het gestaan: “Hy het sy volk in die woestyn gevind, in onbewoonbare land waar woestyndiere skreeu. Die Here het sy volk omhels, hom vertroetel en versorg soos die appel van sy oog.”

My oupa het gekniel voor God; hy was God se oogappel. Daar is geen veiliger plek waar ons vandag kan wees nie, maar dan moet ons kies om die knie voor Hom te buig, en voor niks en niemand anders nie.

Groetnis
Susan Lombaard
Uitvoerende hoof: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

32 Kommentare

jongste oudste gewildste
Robert

Dankie vir die standpunt.
U kon ook die ander doelwitte van blm ook onderstreep het, die waar hulle die gesin soos deur God bepaal wil vernietig en vervan met ‘n marxistiese vorm daarvan waar die staat beheer het oor alles in die lewe van ‘n gesin.

Sarel

Dankie Susan… ek kan niks meer byvoeg nie. Dit laat my dink, ek is vabdag Oupa, wat gaan my Kleinseun eendag van my vertel.

Kokerboom

Dankie Susan. Die satan is lustig en aktief. NET GOD verdien ‘n kniebuig. k Ehoop en bid die volk neem ernstige standpunt in!!!

Manie

Dankie vir die Waarheid.

Andries

Waarom word dieselfde energie en passie dan nie ingesit om te protesteer teen die lewe van boere op plase (ongeag velkleur) wat deesdae minder as niks werd is nie? Die antwoord is te vind in die Junie 1993 beleidsdokument van die ANC wat afsluit met die woorde:” Viva Kill the boer , kill the farmer” Dit is die amptelike standpunt waarvan die ANC nog nooit afgesien het nie en waarom Ramaphosa geen standpunt oor plaasmoorde in neem nie.