Redakteursbrief: Vyf jaar later: Mylpale wat mens nie kan meet nie

Susan Lombaard, uitvoerende hoof en redakteur van Maroela Media Foto: Noeleen Foster

Susan Lombaard, uitvoerende hoof en redakteur van Maroela Media Foto: Noeleen Foster

Liewe Maroela-leser

Op ʼn ysige wintersoggend, vandag vyf jaar gelede, het ʼn honderd of wat van Maroela se gaste rondom vuurtjies in die vroegoggendson gestaan en kuier. Blikbekers koffie het gehelp om koue vingers te ontdooi, en later het ons mieliepap met biltong bedien.

Ons was maar twee voltydse personeellede, dié dag toe ons Maroela Media se digitale deure vir die wêreld oopgegooi het. Ek onthou hoe oorbluf was ek en Nico Strydom, nou ons nuusredakteur, toe daar in die eerste maand amper 10 000 mense by ons webwerf kom kuier.

Vandag is dit vyf jaar later. Verlede maand, in Julie, het meer as 1,1 miljoen mense Maroela Media besoek. Dié mense het 8,7 miljoen bladsye op Maroela gelees.

Min dinge op Maroela Media lyk nog soos dit vyf jaar gelede gelyk het. Die handelsmerk is vernuwe en aangepas; die webwerf is oor-ontwerp; die uitleg en inhoud lyk dramaties anders.

En tog, sien ek en Nico toe ons anderdag afkom op handgeskrewe notas wat ons tydens die beplanning van die Maroela-webwerf gemaak het, is daar ʼn klompie kern-idees wat behoue gebly het: Kuierplek. Gemeenskap. Nostalgie. Humor. Afrikaans. Integriteit.

Dis in woorde soos dié, wat elke nuwe personeellid as ‘t ware saam met sy Maroela-moedersmelk inkry wanneer hy hier begin werk, wat die hart van Maroela opgesluit lê. Dis dié begrippe wat ʼn leser laat voel: “Hier is ek tuis.” Of wat iemand vir ons laat skryf: “Dis so lekker om deel van ʼn Afrikaanse gemeenskap te wees, al bly ek in Nieu-Seeland.”

Daar is geen manier hoe mens hierdie woorde – Maroela se kultuur, as jy wil – kan meet nie. Mens kan dit nie opteken of verduidelik aan ʼn nuweling nie. Dis soos jou ouma se basaar-gehalte melktertresep: sy kan dit nie vir jou neerskryf nie, maar sy weet instinktief hoe warm die melk moet wees en hoe lank sy moet klits tot die beslag dik is. En as jy by haar kombuistafel sit en sy sny vir jou ʼn lekker dik stuk, en jy maak jou oë toe terwyl jy hap, proe jy hoeveel sy vir jou omgee.

Vroeër vandeesweek werk ons aan ʼn tydlyn met hoogtepunte oor die afgelope vyf jaar. Met dié klompie lekker mylpale in my agterkop maak ek vanoggend Facebook oop. Vandag, ʼn jaar gelede, sien ek, het ons aan ʼn lekker Afrikaanse program op kykNET deelgeneem. Drie jaar gelede, vandag, het Jukebox ʼn insetsel oor ons Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye-veldtog gedoen. En vyf jaar gelede, op die vooraand van ons bekendstelling, het eNuus by ons kom kuier om uit te vind wat Maroela Media nou eintlik gaan wees.

Ook vandag, twee jaar gelede, het my seuntjie sy eerste tand gewissel, herinner Facebook my. En vier jaar gelede het ek ʼn foto opgelaai van my dogtertjie wat met haar worshond knus onder ʼn vereduvet ingekruip lê.

Die dinge wat ek saam met my in my hart dra, en wat my net soveel gevorm het soos dit Maroela gevorm het, is nie die televisiedekking of die groot rekords nie. Dis die tande wat in die afgelope vyf jaar gewissel is; die geselskap van kosbare kollegas; die dae wat ons nie kon ophou lag oor ʼn bisarre storie wat ons publiseer nie.

As ons saam met jou en ander Maroela-lesers om ʼn kombuistafel kon sit met ʼn sny melktert en ʼn koppie boeretroos, en “onthou jy nog”-stories oor die afgelope vyf jaar kon uitruil, weet ek watter tipe stories jy sal vertel. Dit sal nie die stories oor rekords en mylpale wees nie. Jy sal onthou van die keer toe ʼn storie op Maroela ʼn vrou gehelp het om haar verlore trouring terug te kry, of toe ʼn siek seuntjie, te danke aan mediadekking op Maroela, ʼn operasie kon kry om sy lewe te red. Ons sal saam lag oor die storie oor ʼn man wie se kop in sy wasmasjien vasgesit het, en ons sal stil raak as ons onthou oor hoeveel plaasaanvalle ons in die afgelope vyf jaar moes berig.

Ons sal verleë lag oor die kere wat ons mekaar met die vuis wou bydam oor dinge wat nou na kleinighede lyk. En dan sal ons eerder onthou van ons geselsies oor tradisionele resepte, oor Afrikaanse skrywers en oor rugby.

Die waarheid is, vyf jaar en 1 miljoen lesers beteken niks as dit nie mense se lewe geraak het nie.

Dankie tog dat ons vandag kan sê: ons glo ons het in vyf jaar ʼn verskil gemaak. Vir Afrikaans, vir Afrikaanssprekendes, en vir Suid-Afrika. Hopelik vir jou.

Dankie dat jy Maroela lees – nie oor die nuus gratis is nie, maar oor jy weet ouma se melktert proe nêrens anders heeltemal dieselfde nie.

Groetnis
Susan Lombaard
Redakteur: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Ronnie ·

Baie geluk. Tot ‘n groot mate is enige gratis diens ‘n ondankbare werk aangesien jy baie meer vergoed kan word in die handel. Baie dankie aan julle!

Pieta@Bethlehem ·

Susan, aan jou en die span – baie geluk en voorspoed vorentoe. Ek self lees omtrent 1 maal in 6 maande n koerant, en bly op datum met al die nuus. Weet nie eers meer of my TV werk nie!

Rynhardt ·

n Mens kan vandag meer mense se oe oopmaak met jul,rakende die storie agter die storie, waarvoor hoofstroommedia nie staan nie! Net jammer dat jul en ander instellings nie jul verskyning kon maak voor ’94 nie! Dan sou n mense baie mense se oe kon oopmaak rakende verradelike politici! SA sou dan heel anders vandag gewees het!Maar vandag kan n mens meer mense se oe oopmaak oor plaaslike en internasionale kwessies wat radio en hoofstroommedia nie wil dek nie.So in daai opsig kry maroela steun van my en leer jul ook meer van ons lesers m.b.t. dinge, plaaslik en internasionaal.n Wen wen kombinasie vir almal!

Theuns ·

Wragtie, vandag stem ek saam met jou. Ek sien jy raak ook partykeer “maroelaloos” oor Spraak Vryheid maar met n dop maroela kom ons weer reg vir die volgende rondte. Dankie dat jy deel van die debat is om n ander perspektief op die lewe te gee! Maroela het oulike mense, oulike koerant al laat ek en jy hulle so nou en dan rondskarrel om ons in hulle net te vang sodat ons nie ons self merdes val nie. Boere Groete.

Kaufman ·

Theuns dit is interessant om te sien hoe mens met iemand meestal wil stry maar nou en dan heeltemal saamstem.

RIANA BRITS ·

Baie geluk, met 5 jaar, hou ons ophoogte van die daaglikse nuus in ons land. Dit is van hoë gehalte, doen so voort.

Lorraine ·

Jul hou ons daagliks op hoogte van alle nuus. Dit is so lekker om elke dag gou vinnig te gaan kyk oor die nuus gebeure en net bietjie later deur die dag dan weer op te vang met hoogte punte. Sterkte vir die volgende 20 jaar +++.

Beesblaas ·

As ek iets op sosiale media sien wat verdag lyk, kyk ek eers of Maroela Media daaroor berig voor ek dit glo. Julle is eerlik, interresant en het sterk Christelikke inslag – hou dit so en baie geluk!!!

Jan Els ·

Baie geluk Maroela Media!
Ek is ook maar ‘n “nuwe leser” by julle. Ek was ‘n Netwerk24 intekenaar, maar persone soos Max du Preez, Pieter du Toit, Adriaan Basson en Piet Croucamp het die platform gekaap en vir hul eie agenda’s begin gebruik.
My voorspelling is dat Netwerk24, Beeld, Burger en Volksblad nie meer oor 10 jaar gaan bestaan nie. Dit plaas ‘n groot verantwoordelikheid op Maroela Media om die nuus in Afrikaans aan sy lesers te bring. Ek dink ons is in goeie hande.

Twakkie ·

En dit bly vir my ‘n raaisel waarom Netwerk24 dink goed-aangepaste Afrikaners wil die tipe venynige gifspoeg-snert lees wat die verbitterde randeiers na wie Jan Els hierbo verwys, skryf. As ‘n mens nie tussen jou “eie mense” tuis voel nie, kan jy met liefde kritiek lewer, mits jy ook oplossing kan voorstel. Maar om jou “eie mense” uit te kryt vir alles wat sleg is en by “ander” te probeer inkruip, gaan jou nêrens bring nie. Soos sommige van bogenoemde gaan jy uiteindelik nêrens welkom wees of tuishoort nie.

Elize Van Zyl ·

Susan, baie geluk aan jou en jou span! Julle is beslis n wen kombinasie!!!!
Hier by julle kry ek die nuus altyd eerste…..!!

Andries Cornelissen ·

Hallo Susan en die Maroela-span

Eerstens baie geluk met julle verjaarsdag en al die mylpale wat julle die afgelope 5 jaar bereik het. Julle het gewys Afrikaanse media behoort nie net aan een maatskappy nie en daar is plek vir ‘n veelheid van stemme. Die Afrikaanse gemeenskap is ryker omdat daar ‘n Maroela Media is. Ek sien uit na julle volgende vyf jaar, want dit kan net asemrowend wees as mens kyk na wat julle in die eerste 5 jaar vermag het. Ek klink ‘n glasie op julle!

Willie Maree ·

Baie geluk, Maroela is soos n koel oggendwind wat elke keer nuwe lewe in Afrikaans blaas. Dankie vir julle bydrae wat die Afrikaanssprekende gemeenskap steeds motiveer om ons pragtige taal verder uit te bou

Ansie Geldenhuys ·

Geluk Maroela. In ons huis vul Maroela die nuus van die dag vakuum! Ek is verslaaf aan Maroela en dis lekkerrrr!! Doen so voort Susan en span.

Ansie Geldenhuys ·

Baie geluk aan Maroela. In ons huis vul jul die nuusvakuum. Koop nie koerante nie. Ek is skaamteloos verslaaf aan Maroela en dis lekkerrr!! Susan en span hou so aan, asseblief

Ansie Geldenhuys ·

BAIE geluk aan Maroela. Jy vul die vakuum van nuustekort in ons huis. Ons koop nie eers ‘n koerant nie. Susan, mag jy en jou span nog baaaie 5we beleef. Ek is verslaaf aan Maroela en dis lekkerrrr!!!!!!

Lana Turner ·

Susan, dit is die mooiste mooi foto van jou. Jy lyk soos ‘n engel.

Melanie ·

Baie dankie vir die goeie beriggewing. Kan julle asb ook meer internasionale nuus en sake nuus oorweeg soos julle groei… Ons moet onsself in terme van ‘n breër internasionale en sakegemeenskap definieer. Doen so voort!

Jan Jooste ·

Baie geluk en baie dankie vir uitstekende werk. Voorspoed.

Jcwf ·

Vir my is Maroela ‘n moontlikheid om beter Afrikaans te leer en uit ‘n ander hoek insig te kry oor wat in Suid-Afrika gebeur en dit is baie interessant. (Ek is Nederlander en die VS is my tuiste). Baie dankie Maroela en baie geluk vir die toekoms,

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.